VIR DIE BEGINNER. DIE GELYKENISSE VAN JESUS
MARIETHA NEL

Hoofstuk 2

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6.

Hoofstuk 2
Sondag, 18 November 2007 om 19:41
MY kinders, nou is dit die gelykenis van die Goeie Herder;
EK IS die goeie Herder wat MY lewe afgelê het vir MY skape. EK het uit die Ligryk gekom en was vol van die GEES van die HERE. EK het in ‘n liggaam gekom net soos julle, as ‘n eenvoudige Herder wat SY skape liefhet.
MY liefde bestaan uit meer as wat julle dink. EK gee vir julle die boek; Maak en Breek, lees daarin van julle siele. Hier is ‘n kort verduideliking; Hoe dink julle, hoe en vir wat is julle geskep? EK het julle ewige tye gelede geskep uit MY liefde in MY liefde, en julle het MY verlaat en agter die ligdraer, wat toe vervul geword het van hoogmoed, aangeloop. Julle rebellie was teen die Heiligheid/Apartheid van GOD, en die toorn van die Geregtigheid het julle gegryp en opgebreek in stukke, so het julle in die dieptes van verskillende planete beland. Julle was in die hardste stowwe en julle lyding was vreeslik. Julle het julleself verdeemoedig en in sagter vorms oorgegaan en so het julle pyn verminder en julle sieledeeltjies het mekaar begin vind en begin verenig. Na die harde stowwe soos yster, allerhande metale en klip, het julle sieledeeltjies in die planteryk in vryer vorms oorgegaan, daarna na die diereryk. Julle het alles deurgegaan.
Toe al julle sieledeeltjies bymekaargekom het, is julle gebore as ‘n mensekind op aarde om MY Verlossing te kan smaak.
EK het gekom om julle, wat sover van MY, die Ewige Liefde, afgedwaal het, te kom versamel. Nou begryp julle ook MY liefde vir julle beter. EK het julle nooit verlaat in julle smart nie, EK het bly waak oor julle terugkeer. EK het julle dopgehou, en julle uit die nood gered toe julle reg was.
Nou kom ons by MY kruisoffer, baie gaan EK nie nou vertel nie, want julle is nie ryp genoeg daarvoor nie. Wag tot MY ander skryfkneg met MY boek oor Golgota klaar is.
Wat EK nou aan julle gaan sê is; EK het die vreeslikste pyne deurgemaak, die pyne wat EK gemartel is vir julle rebellie teen MY Heiligheid. EK moes julle skulde delg en vir julle die deur word waardeur julle na die VADER toe kan gaan. Sien julle MY allesoorheersende liefde vir julle? EK het gekom om julle te versamel, en julle wat in MY glo, sal nooit verlore gaan nie.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205