DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 21
21 Des.2007 06:12
Tussen julle en om julle is daar baie slange en julle kan dit nie sien nie, omdat julle geestesoë nog heeltemal toe is. EK lei julle veilig daardeur sonder dat een aan julle kan raak. EK is die EEN wat lei en julle veilig anderkant bring. Vertrou net op MY en gee alles in MY Hande oor en niks sal julle kan skaad nie. Nie eers ‘n bos vol slange nie. MY kinders, EK weet van alles om julle en sal nooit dat die bose om julle, naby julle kom nie. Daar is van julle wat al ‘n slegte gevoel gehad het as hy naby ‘n plek of persoon kom en dit is asof jou nekhare rys en jou maag saamtrek. MY kinders, dit is MY GEES in julle wat hierdie waarskuwings aan julle rig. Luister altyd daarna en moenie ‘n plek ingaan as jy dit baie duidelik voel nie. EK beskerm julle ook op so ‘n manier deur julle voor die tyd te waarsku teen alle gevare van watter aard ook al. Die bose haat julle met ‘n geweldige passie en sal julle vermink en vernietig as hulle dit kon doen, maar die wat op MY wag, sal nie deur die bose oorrompel kan word nie. Al probeer hulle vir ewig. Kyk na die “Dogter van Sion”. Hoeveel maal het EK hulle nie gewaarsku nie. Hulle sou al lankal verdelg gewees het, as EK hulle nie veilig deur die bos gelei het nie. Hoeveel maal het satan in al sy boosheid nie fel op hulle probeer neerkom nie en hy kon nog nooit slaag om hulle van hulle doel af te kry nie. Daar het al baie satans in die vorm van mense by die hekke ingestap en is net so vinnig weer daar uit, omdat MY GEES hulle gewaarsku het en hulle geluister het! Dink net ‘n bietjie hieroor na - julle is MY kinders van die lig en julle skyn in die wêreld (wat satan is) se oë. Dit grief die wêreld, want hulle wil voortgaan met hulle onheiligheid in die duisternis, omdat hulle dink dat niemand dit kan waarneem nie. Maar EK beskerm die gelowige wat MY liefhet en laat MY lig helder skyn sodat hulle verlos kan wees van die bose. Die bose haat julle en sal julle op enige manier en elke oomblik aanval. Oral waar julle is. Maar EK is orals teenwoordig en sal almal wat MY liefhet beskerm en dra. Niks sal hulle oorkom nie en veilig sal hulle aan die hemelse kus land - sonder enige letsel en sonder enige probleme. EK is met julle, MY kinders en bring aan julle die goeie boodskap dat die tyd nie meer vêr is nie. Dit is nie meer lank nie en ons is amper daar. Die pad wat julle nog moet stap is kort, maar buitengewoon swaar. Swaar in die opsig dat daar baie dinge in hierdie laaste entjie gaan gebeur wat almal se lewens heeltemal deurmekaar gaan jaag. Maar die wat op MY wag en MY liefhet sal nooit langs die pad omkom nie en sal veilig deur MY gelei en gedra word tot aan die kus van MY ryk. Vertrou maar net op MY en loop reg agter MY aan met jou hande in myne en niks sal jou kan skaad nie.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205