DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 26

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 26
25 Des. 2007 06:58
Ek sien dat ek in ‘n woestyn staan en daar groei absoluut niks nie. Dit is net sand waar jy kyk. Vader sê dat ek moet kyk wat gebeur en skielik is daar spuitfonteintjies wat orals opkom en in die lug in spuit. Die water loop eers nie baie vêr nie en word deur die grond opgeslurp maar later vloei die water die woestyn vol. Daar kom toe oral groenigheid op en later sien ek blommetjies en gras. Die gras word groter en ryper en later is dit ryp koring, gereed om geoes te word. Vader gee my ‘n sekel en sê dat ek die oes moet afhaal en ek begin werk, maar dit is verskriklik baie om te af te haal en ek is alleen. Orals is net duine en duine vol koring. Vader sê dat ek moet roep na mense om te kom help. Ek roep, maar daar kom niemand nie. Ek sien in die verte iemand aankom, maar hy lyk nie juis gewillig om te help nie. Toe roep Vader self en skielik is daar baie ander wat kom en my help. Daar lê koring op ‘n vloer en skielik is daar ‘n vlaag wind wat dit in die lug inwaai. Die kaf waai weg en net die suiwer koringkorrels bly oor. Vader sê dat ek later alles sal verstaan.
 
Vader dikteer: Hoe lieflik is die voete van hom wat die goeie boodskap bring en geseënd sal sy handewerk wees. EK stuur MY woord die wêreld in sodat almal dit kan hoor. Dit is nie moeilik verstaanbaar nie en niemand kan sê dat hy dit nie geweet het nie. EK roep almal om te kom en te drink uit MY fontein van lewende water. Daar is egter baie min wat wel kom drink, maar MY fontein hou aan loop totdat dit nie meer geabsorbeer kan word nie. MY kinders, niemand kan sê dat hy nog nooit van MY gehoor het nie en almal het MY al op ‘n manier waargeneem. EK het almal al geroep, maar bittermin reageer op MY woord. Nou het EK egter MY fonteine van lewende water heeltemal laat uitspuit, sodat hulle die hele woestyn benat en dit deur middel van MY openbaringe aan julle. Drink, sodat julle kan groei soos die gras en blomme. EK sal MY arbeiders onder julle almal instuur sodat hulle julle na veiligheid kan bring. EK sal nie een koringkorrel verlore laat gaan nie. Luister net na MY woorde en MY stem en julle sal ook in MY huis vergader word. EK sal julle dan almal as arbeiders kan uitstuur om te help met die insameling van die res van die oes. Die oes is baie en die arbeiders is min en die tyd is kort. Daar is nie meer baie tyd oor voordat die groot dag aan sal breek en die stoppels verbrand sal word nie. EK sal MY wind van reiniging onder julle instuur sodat alle onreinheid weggewaai sal word en julle as suiwer voor MY Aangesig sal wees. Gee julle self oor, sodat EK julle in veiligheid kan bring en julle reinig, omdat die voëls van die hemel julle sal oppik as julle nie na MY in veiligheid gebring word nie. Wees versigtig waar jy jouself heen begewe, omdat die roofdiere daarop uit is om julle van MY te roof, net soos wat die voëls van die hemel MY koringkorrels wil oppik. MY kinders, julle het nie ‘n idee hoe listig satan en sy bendes is nie en met elke misstap van julle, al is dit die kleinste ou misstappie in julle oë, sal hy julle bloeddorstig aanval en alle lewe uit julle uitsuig. Daarom is dit absoluut noodsaaklik om vir lewe en dood aan MY vas te hou en MY nie te los nie. Laat MY toe om jou in veiligheid te bring en moenie hardkoppig weier om gereinig te word nie, omdat daar niks onsuiwer by MY geduld word nie.
Geen swart roet kan naby MY kom nie en EK sal julle reinig as julle net gewillig is. Die reiniging geskied met sagte liefde en EK laat nie een van julle verlore gaan tydens die reiniging nie. Wees net geduldig in tye waarin jy swaar kry en wéet dat dit EK is wat reinig sonder om te stráf. EK straf julle nie, EK reinig julle van al julle sondes en vra dat julle, julleself daaraan oorgee en by MY alleen te kom skuiling soek. Die oomblik dat jy by MY kom skuiling soek, is die reiniging ook verby en het EK geslaag in die reinigingsproses. Jy is dan skoon soos ‘n blom in die oggenddou en niks kan jou meer besmet as jy gewillig by MY bly nie. Jy kan dan in MY arbeidsveld ingaan en MY oes insamel en na MY skuur bring waar EK MY oes sal reinig. MY kinders, werk want die tyd raak min. Gaan verrig arbeid in MY veld sodat julle broers nie verlore sal gaan nie. Kom as EK julle roep en julle sal die vrugte daarvan pluk, want EK betaal ‘n buitengewone groot loon vir julle arbeid in MY velde. EK gee die ewige lewe aan elkeen wat hom as arbeider aan MY kom bereidstel. Gee alles in jou vermoë en EK sal jou buitengewoon groot daarvoor beloon en jy sal nooit spyt wees nie, want EK is die beste werkgewer wat jy ooit sal kry. Julle sal juig as julle weet wat julle loon sal wees. Al wat jy sal moet doen, is om jouself bereid te verklaar en EK sal alles aan jou gee, sodat jy jou werk vir MY kan verrig. EK is Liefde en wil geeneen van MY kinders verlore laat gaan nie en sal daarom, almal wat bereid is, in diens neem, sodat die oes so gou as moontlik kan afkom voor die einde van hierdie verlossingsperiode aangebreek het. Dink daarom na of jy bereid is om in die son vir MY te gaan arbei en kom gee jouself ook aan MY gewillig oor om vir MY te werk. Die werk is ‘n bewys van naasteliefde, omdat jy weet dat jou naaste nog vassit in die wêreldse gemors en jy hulle daar wil gaan uithelp. EK sal julle in alles bystaan en julle sal nie moeg of mat raak nie. Tot op die einde sal julle werk en julle sal vreugde in julle arbeid vind en al kom die diewe en die rowers, sal julle met moed en sonder vrees voort arbei, omdat julle deur MY beskerm word. Dink na oor jouself en as jy bereid is om vir MY te kom werk, sal EK jou versterk sodat jy ook die land kan instap en begin.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205