DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 27
 25 Des. 2007 8:00
Ek loop langs Jahshua en die volgende oomblik vat HY my in ‘n diep gat in. Die gat loop vertikaal in die grond in af. Dit is donker daarbinne en ek sien dat daar verskillende kamers is. Die eerste kamer is effens verlig omdat die lig, wat van bo-af kom, dit bietjie meer helderder maak. Maar dit is soos sterk skemer in die eerste kamer. EK sien orals sit mense in die grootste armoede en vergaan. Hulle is baie vuil en vol sere en sit net voor hulle en staar. Hulle klere is gehawend. Ek vra vir Vader waarom HY hulle nie hier uithaal nie en Vader sê dat hulle self moet wil uitkom. HY dwing hulle nie. HY haal net die uit wat uit wil kom. Vader gee my ‘n kalbassie met water en sê dat ek dit moet gee aan die wat wil hê. Ek vra wie water wil hê, maar niemand antwoord eers nie. Net een man vat ‘n klein slukkie en sit weer terug teen die muur. Ons loop toe al dieper in die kamers in en daar lê nog mense rond. Hulle lyk erger as die eerste kamer se mense en sit nie meer nie, hulle lê. EK vra toe weer wie water wil hê en niemand antwoord nie. In elke kamer waarin ons gaan, lyk die mense slegter en in die diepste kamer waarin ons kom, is daar net mense wat al halfpad ontbind het. Sekere ledemate het glad nie meer vleis aan nie. Hulle lyk heeltemal dood. Daar is totale duisternis in die grot en net Jahshua verlig die weg sodat ek kan sien. Vader vat my toe na ‘n kamer waar daar iemand op sy sy lê en hy prewel die hele tyd: ”water, water”. Amper onhoorbaar. Ek vat die kalbassie na sy mond en Vader sê dat ek hom eers net ‘n klein slukkie moet gee. Hy vra nog en ek gee hom weer. Hy begin regop sit en lyk al beter. Ek vra hom of hy nie hier uit wil kom nie en hy sê dat hy wil. Ek help hom op en vat sy hand. Hy sê dat hy nie die uitgang kan vind nie en ek sê aan hom dat Jashua ons sal lei. Jashua loop voor en ek hou SY hand vas. Die man hou weer my hand vas en so loop ons toe tot buite.
 
Vader dikteer: Daar is nood en dood om julle en julle sien dit nie raak nie. Die geestelike nood is iets afgrysliks en my skryfkneg is nou tot in haar siel geskok. Dit is ‘n aaklige gesig en net die wat lewendig is, sal die nood kan raaksien. MY kinders, daar sit derduisende mense in die gat van die dood vasgevang en hulle besef dit nie. Hulle sit vasgevang in satan se fyn net waarin hy hulle gevang het. Hulle is salig onbewus daarvan en wil nie die water hê wat EK hulle deur julle aanbied nie. Selfs die mense wat “gelowige Christene” is, weet nie dat hulle nog in die gat sit nie. Deur nie MY woord aan te neem nie, bly hulle net daar waar hulle is en besef nie eers hulle omstandighede nie. EK kom by hulle en bied hulle die lewende water aan en sonder om eers notisie te neem, weier hulle om te drink. Wat gaan van hulle word as EK MY nie oor hulle ontferm nie? EK kan daaraan niks doen nie. Nie omdat EK te onmagtig is daarvoor nie, maar omdat EK niemand dwing nie. EK nooi uit en as iemand nie die uitnodiging aanvaar nie, sal EK hom nie dwing nie. Dit is sy eie keuse. Aanvaar hy die uitnodiging, dan kan hy uit die gat kom en deur MY bevry word, maar as hy weier, moet hy maar bly waar hy is. Dit is nie wreed van MY nie, MY kinders, omdat EK die hele tyd aanhou om MY water aan hulle te bied en hulle net gewillig ‘n slukkie moet neem. EK bevry die wat bevry wil word en het julle wat alreeds bevry is, nodig om weer in die gat af te daal, maar hierdie keer deur MY gestuur en met MY aan jou sy, sodat jy MY water aan hulle kan gee. Julle sal nie kan glo hoe sleg die siele daaruit sien nie. EK weet wie water wil hê en wie nie en daarom stuur EK julle net na die wat na MY water vra. My kinders, julle moet julleself bereidwillig verklaar om in die gat af te daal en die mense daaruit te gaan haal. Daar is baie min wat dit wil doen, maar EK belowe dat EK julle sal bystaan, sodat julle die uitgang sal vind en nie self daar in die duisternis verdwaal nie. Kom haal julle krag en lig by MY, want net EK het genoegsame lig om die pad daarbinne vir julle te verlig. Wees net gewillig, omdat EK julle ook nie dwing om MY werk te verrig nie. Julle sal wel deur My gelei word en niemand sal afvallig word of deur bose geeste beset word nie. EK beskerm julle en sal julle help sodat julle, julle naaste kan help om uit die duister gat uit te kan kom. Maar hou jou oog op MY en jy sal nie verdwaal nie. Hou MY hand vas en jy sal ander uitlei. Hoe kan jy iemand uitlei, as jy nog nie self die lig van MY ontvang het nie? Kan een blinde ‘n ander een lei? Kom na MY sodat EK jou kan lei en jy sal ander kan lei. Maar jy moet nederig genoeg wees om bereid te wees om weer in die diep gat in af te gaan, ter wille van jou naaste wat nog daar vasgevang sit. EK is die Een wat bevry en julle sal MY help as julle bereid is om MY te help. Wees MY troue arbeiders en EK sal julle nooit verlaat nie.
Amen
 
(My mede broers en susters,  dit laat my dink aan Jahshua wat ook na die diep put van die aarde neergedaal het om ons hier te kom verlos deur SY verblyf op aarde en die kruisiging. My hele wese ruk nou nog na dit wat ek gesien het. Louise)

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205