DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 30

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 30
27 Des.2007 06:40
Ek is saam met Jahshua naby die see en HY wys my die son wat op die oppervlak van die see weerkaats. HY sê dat HY die son is en die see, die mense. Jahshua wys my hoedat die see die weerkaatsing van die son opbreek dat dit nie ‘n ronde sirkel is nie. Die son se vorm word die hele tyd deur die beroering van die see misvorm en verbreek. Jahshua sê dat dit net so gaan met SY woord wat HY na die aarde stuur. Dit word altyd verdraai en verkeerd verkondig, maar in die water dring die sonstrale tog deur en gaan diep in. Die woord van Vader bereik, ongeag die verdraaide vorm, tog die mense se harte. Daar kom ‘n groot walvis en swem deur die weerkaatsing van die son en breek dit op in miljoene stukkies wat oral weerkaats. Vader sê dat al kom daar vertalers wat SY woord heeltemal verkeerd weergee, die son (SY woord) ook die mense tref, omdat die miljoene klein stukkies tog op iemand weerkaats en hom tref. Vader sê dat die satan nooit SY woord heeltemal kan vernietig nie en dat die Woord weer na sy oorspronklike vorm bly terugkeer. So keer Vader weer terug met die openbaring van die suiwer leer en die mense sal dit tog kry, al probeer satan ook wat.
 
Vader dikteer:
In MY tyd op aarde het die mense ‘n heel verwronge idee van MY gehad en min mense het nog in ‘n liefdevolle Vader geglo. Satan het MY Beeld heeltemal probeer opbreek en mense het nie meer geweet wie EK was nie. Maar EK het na die aarde gekom om MY Beeld weer hier te kom herstel, sodat MY lig in die mense, wat van goeie wil was, se harte kon skyn. Selfs die wat nie van goeie wil was nie, is deur MY lig getref en omvorm tot die mooiste mense, net soos wat die lig op iets weerkaats en dit pragtig maak. Julle is ook weer na baie jare aan die neus gelei en het hopeloos verkeerde leerstellings in julle gehad. Niemand het meer die suiwer waarheid geken nie en almal het verkeerde vertalings gelees en was ook onder die verkeerde indruk van MY. EK het egter weer teruggekeer in die vorm van MY nuwe openbarings en sal MY Beeld ook weer hier kom herstel. Baie van julle wat nou hier lees, het altyd gedink dat EK straf en half ongenadiglik op iemand neerkom, omdat daar so baie siektes in die omloop is. Julle het gedink as iemand kanker kry of ‘n ander gevreesde siekte, dit die straf is wat EK hom oplê vir een of ander sonde. Dit is ‘n verkeerde stelling, omdat EK niemand oordeel nie. MY Woord oordeel die mense, omdat hulle nie na MY Woord luister nie. Dit is nie EK wat hulle straf nie. EK het nie gekom om die mense te oordeel met MY nuwe openbarings nie, maar om hulle die regte weg aan te wys. Die satan het al klaar weer sy kloue in MY openbarings ook probeer slaan en daar word baie onwaarhede oor MY skryfknegte versprei wat direk uit die satan se bek kom. Hulle is mense net soos julle, wat MY net baie ernstig kom soek het. EK het hulle gebruik nadat hulle hulleself gewillig verklaar het. EK het hulle nie gedwing nie. Dit was uit groot liefde vir MY dat hulle hulleself vir MY diens aangebied het. Daar kan niks verkeerd uit hulle pen uitkom nie, aangesien hulle MY dien en baie liefhet. EK dikteer en hulle skryf net neer. Hoe kan hulle verkeerde dinge neertik as hulle net na MY stem luister? EK sê nie dat hulle volmaak is nie, maar hulle probeer so na aan MY leef as moontlik en EK is die hele tyd in hulle nabyheid. Hulle wil net MY wil doen en sal dit doen solank hulle by MY bly. Elke een wat by MY bly, sal die waarheid van MY ontvang, maar sodra hy weg van MY gaan en sondes doen wat direk teen MY opdragte ingaan, sal EK MYSELF ook onttrek van hom/haar en EK sal nie MY Woord aan hom/haar gee nie. Wanneer EK by MY knegte is en hulle MY gehoorsaam, sal hulle niks verkeerd meer doen nie en dit geld vir enige ander persoon ook, nie net MY skryfknegte nie. Hulle hele wil is net om MY te dien en hoe kan hulle dan verkeerde dinge doen as hulle net MY wil doen? Elke ding wat hulle doen word eers aan MY gevra en EK sal nooit die verkeerde antwoord aan hulle of enigiemand anders gee nie. Al probeer die satan ook om MY beeld af te kraak deur MY skryfknegte sleg te maak, sal MY Woord tog seëvier en dit sal tog mense wat van goeie wil is, in die hart tref, net soos die strale van die son nog steeds die water deurdring, al word die beeld van die son op die oppervlak van die see opgebreek. EK het julle onvoorwaardelik lief en stuur julle daarom weer MY Woord vanuit die hoogte, sodat julle die regte beeld van MY kan hê. Hoe kan ‘n mens iemand liefhê wat net straf uitdeel? Dit was die beeld wat baie van MY gehad het en EK het dit kom regstel deur MY nuwe openbaringe aan julle te stuur. As julle dit aanneem, sal julle MY liefkry soos MY skryfknegte MY liefgekry het en dit sal vir julle die grootste seëninge bring. Wees net vir MY lief en EK sal julle nooit die verkeerde ingee nie, al probeer die wêreldsee alles om MY Woord af te takel. Die reine Brood sal aan MY ware kinders herhaaldelik gegee word en hulle sal daardeur gevoed word, sodat hulle kan groei tot pragtige bome wat vir MY sal vrug dra, al word die son langs hulle opgebreek in derduisende stukkies. Hulle sal groei, omdat hulle MY liefde in hulle harte dra. EK sal elke een wat MY liefhet se geestesoog open om MY te kan sien in die helderste kleure en die lig sal nooit weer vir hulle opgebreek word nie, omdat hulle die suiwere waarheid in hulle binneste ronddra. Glo net dat dit EK is wat deur MY skryfknegte tot julle spreek en julle sal almal MY liefde daardeur ondervind en leer ken.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205