DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 33

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 33
28 Des. 2007 20:24
Ek sien Jahshua staan op ‘n baie hoë berg en HY vra my of ek by HOM wil kom staan. Ek is die volgende oomblik by HOM op die berg en HY vra my wat ek sien. Ek sien ‘n dorre laagte en ‘n stad. Dit lyk soos ‘n ou stad uit die Bybelse tyd. Daar is net een groen boom in die stad. Die groen boom word uit die stad gehaal en op ‘n ander plek wes van die stad verplant. Terselfdertyd slaan die stad aan die brand aan die oostekant. Jahshua vra my of ek weet wat dit beteken en ek sê ek vermoed dit het betrekking op die aarde en die mense wat HY gaan kom haal en na die nuwe aarde neem. Jahshua sê dat ek nog baie onryp is om al die dinge te verstaan wat HY my wys. Ek verstaan dit gedeeltelik met my hart en teveel met my verstand. HY sê dat ek meer liefde vir HOM moet hê, dan sal ek alles beter verstaan.
 
Vader dikteer:
Julle is MY kinders wat EK weer gaan kom haal en wegvoer na MY nuwe aarde wat EK vir julle gaan berei. Julle sal bly wees as julle weet wat EK vir julle gaan doen en julle sal alles in die stryd werp om dit te kan bereik wat EK julle op die hart druk. Wees nie dom nie en luister na MY stem as EK julle iets aansê om te doen, omdat EK alleen weet waarom EK dit sê. Wees getrou sodat jy deel kan wees van MY groen boom wat verplant gaan word voor die einde van die aarde aanbreek. Die stad wat agter gaan bly gaan tot as verbrand en almal wat nie daar uit wil kom nie, sal saam met die stad tot niet gaan. MY kinders, die stad beteken die wêreld en wêreldse begeertes. Lê dit af en kom na MY, sodat julle rein gemaak kan word en julle nie saam met die onreine stad verbrand word nie. Die wêreldse mense wil weereens nie luister na die roep van MY boodskappers nie en sal soos die stede van Sodom en Gomorra verbrand tot elke onreinheid vernietig is. Julle moet julle by MYNE kom skaar en EK sal julle uitred in die dag van nood. EK sal julle nie aan julle lot oorlaat soos die wat nie na MY stem wil luister nie. Julle sal julle in MY arms bevind die oomblik dat die aarde begin brand en met vreugde sal julle die lewe hierna ingaan en wag op MY nuwe aarde wat EK vir julle gaan berei. EK sal julle na ‘n plek neem wat EK spesiaal vir julle berei het en wat vir julle wag. Julle sal dan daar vertoef totdat Ek klaar is met die voorbereiding van die nuwe aarde. EK sal aan julle wonderlike dinge toon en julle sal geluksalig leef terwyl julle die nuwe aarde inwag. Gaan MY tegemoet in julle liefde en Ek sal julle bewaar, sodat julle ook op MY nuwe aarde kan wees. Daar is wel sekeres onder julle wat nie op MY nuwe aarde gaan wees nie, maar julle sal julle nageslag op die nuwe aarde kom leer en in MY Wysheid inwy. Dit sal vir ‘n ieder en elk wonderlik wees, maak nie saak waar jy op daardie oomblik is nie. MY oorvloedige seëninge sal op almal rus. Streef net na MY, sodat jy salig kan wees en MY kan beërwe en jy sal vreugde vind in jou lewe op die nuwe aarde of in die ryk wat EK berei het vir die wat vooruit gaan. EK sal MY groen boom op die regte plek plant waar hy gelukkig sal wees met MY saam met HOM.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205