DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 36

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 36
29 Des.2007   16:40
Ek is weer op dieselfde berg waar ek saam met Jahshua na die stad gekyk het. Ons kyk weer na dieselfde stad. Daar waai ‘n ligte briesie en die son skyn warm. Jahshua sê dat ek moet oplet dat dit net die boom in die stad is wat roer in die wind. HY sê dat die wind SY sagte liefde is en dat niks behalwe die enigste boom daardeur geroer word nie. HY sê dat die boom ons is wat HOM baie liefhet en die geboue die is wat HOM nie liefhet nie. Hulle bemerk nie eers SY liefde en genade nie en is onaangeraak daardeur. Daar kom ‘n bui reën en maak alles nat. Na die reën kom die son uit en skyn weer helder. Die boom skitter in die sonlig omdat hy nat is van die druppels wat aan sy blare hang. Die geboue en ander dinge skitter glad nie en word gou droog. Vader sê dit is ook SY liefde en weereens herken die liefdeloses dit nie. Die boom, wat die is met liefde vir Vader, het SY liefde herken en skitter daardeur. Jahshua sê ook dat die boom HY is. Daar is ‘n deur in die muur om die stad en ek vra Jahshua wat dit beteken. HY sê dit is die enigste deur waardeur jy in die wêreld kan ingaan. Met ander woorde, die deur stel die liggaamlike geboorte voor en terwyl jy in die stad (op aarde) is moet jy sorg dat jy jou by die Boom kom skaar. Jy moet jou weg deur die stad baan tot jy by die Boom (Jahshua) kom. Dan sal jy ook gered word as die stad verbrand word.
 
Vader dikteer:
EK gee aan julle MY reine, ware liefde en daar is bittermin mense wat dit herken en ook terug beantwoord. Die meeste is so besig met hulle aardse fortuine dat hulle skaars MY liefde vir hulle opmerk. Maar MY boom, My enigste groen boom, merk dit en groei verder terwyl die stad onder hom besig is om te vergaan van onheil. Julle wat MY liefhet is die boom wat in MY liefde staan en julle gedy daarin. Die stad sal nie verder “groei” nie en sal in die dooie materie bly waarin hy is. Die kluistering is wat hulle verkies en sal dan nooit uit hulle hartsbegeerte verlos word nie. EK gee aan almal wat hulle graag wil hê. Julle, as MY reine boom, smag na MY liefde en EK sal dit aan julle gee. EK gee ook MY liefde aan die wêreldmens, maar hy merk dit nie en sal daarom aangaan in sy wêreld van woeker en winste. Laat die wat dood is en dit so verkies, dan maar so bly. Is dit ‘n onreg wat iemand aangedoen word as jy hom gee wat hy vra? Nee, volstrek nie. Ek gee aan julle alles wat julle van MY vra en aan hulle wat hulle wil hê. Hulle sien nie MY groot liefde daarin raak nie. As hulle MY liefde in alles raakgesien het, soos wat die boom MY liefde in die wind gemerk het, sou hulle hulleself ook aan MY kom gee het. Maar nou sien hulle niks en verkies dit so. Hoe baie maal het EK nie ook boodskappers uit die Hemel gestuur om hulle te bearbei nie? Die resultaat was dan altyd een van traak-my-nie-agtigheid. EK kan daar niks aan doen nie en dit is nie ongenadig van MY om sulke mense net te los waar hulle is nie. Maar Ek gaan voort met die wat wel MY liefde in die wind sien en MY barmhartigheid en seën in die reën. Met hulle gaan Ek aan en hulle sal groei en gedy in MY liefde. Dit is dan ook net regverdig van MY om die groen boom te verwyder voordat EK die stad wat van onheil oorloop verwoes. EK kan eerder ‘n nuwe plek vir die boom skep sodat hy sy saad kan laat groei in vrugbare grond. Daar is nie nou veel plek vir die boom nie en die wêreld en sy magte beplan dan ook om die boom met wortels en al af te kap en te verwyder. Dit sal nie geduld word nie en Ek sal MY boom self verplant en die wat die boom wil vernietig sal dan self vernietig word. Dit is MY liefde vir julle wat MY ook liefhet en deel wil wees van MY boom. Geen hand sal aan julle geslaan word nie. Julle sal wel voel dat daar ‘n aanslag teen julle gemaak word en dat daar planne teen julle beraam word, maar Ek sal ingryp en MY boom sal bly staan. Julle moet hierdie stuk met julle harte lees, dan sal julle verstaan wat EK hiermee wil sê. Die verstand sal nie verstaan wat EK probeer weergee aan julle nie en sal dit afmaak as die grootste bog wat bestaan, maar die wat die uit liefde vir MY lees, sal elke vorm van beeldspraak hierin baie goed verstaan. Dink na hieroor en jy sal dan weet of jy deel is van MY boom en of jy nog deel is van die stad. Maak jou weg na die boom en kom skaar jou by MY boom en jy sal bly leef terwyl die aarde wankel.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205