DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 38

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 38
31 Des. 2007 03:58
Ek is by Jahshua en vra vir HOM of ek HOM werklik sien en of dit nie net my verbeelding is nie. Ek sien Hom skielik nie meer voor my nie en hoor Hom direk agter my praat. Toe ek omkyk, is ek verbaas om te sien dat HY nie direk agter my is nie, maar op ‘n hoë berg baie ver van my. HY sê dat ek na HOM moet kom. Ek is skielik digby HOM. HY is so mooi en dit lyk of daar duisende silwer sterretjies oral op HOM is. Van bo tot onder en selfs Jahshua se kleed blink van die sterretjies. HY is so eenvoudig en vriendelik en daar is niks aan HOM wat jou laat dink dat HY beter is as ander nie. Maar HY is net liefde en dit straal uit HOM uit. HY sê dat ek na onder moet kyk. Ek kry die idee dat ons op ‘n baie hoë bergreeks is, amper soos die Drakensberge. En Jahshua sê dat ons baie hoog is. Tussen twee berge is ‘n gelykte wat baie groen is en die omgewing is pragtig. Die gelykte is baie hoog bo seespieël. Daar is ‘n skip op die gelykte en ek wonder of dit Noag se ark is, want dit is ‘n outydse skip, maar lyk nie soos die prentjies van die ark wat ek al gesien het nie. Jahshua sê dat dit nie Noag se ark is nie, maar dat dit netsowel kon gewees het. Daar klim mense uit en ek sien dis baie bekendes wat Jahshua aanbid. Hulle is baie gelukkig en hulle maak orals klein vuurtjies en braai vleis. Orals is rook wat opgaan. Hulle sing vir Vader ‘n bekende lied wat ons self sing, -“Kom sing ‘n nuwe lied vir HOM” is die lied se naam. Later sien ek eenvoudige berghuisies met rook uit die skoorstene. Daar heers ‘n atmosfeer van geluk en vrede. Toe loop ek en Jahshua tussen die huisies deur en my een kind kom na Jahshua toe aangehardloop en HY tel hom op. Ek word gesê om alles te kom tik.
 
Vader dikteer:
Julle wat MY liefhet sal in MY ark na veiligheid gebring word. Terwyl die storms om julle sal slaan en die hordes mekaar en díe wat MY haat, sal uitmoor, sal MY ark met julle almal in veiligheid land op die bestemming wat EK julle aanwys. Julle sal daar in geluk leef vir ‘n tyd en daar sal MY vrede oor julle heers. Met geluk sal julle julle weg gaan sonder dat die een hoef te vrees dat die ander hom skade sal bring, en julle sal bymekaar woon tot EK tussen julle inkom en daar onder julle rondloop soos ‘n broer tussen sy medebroers. Julle sal weet wie EK is en sal bly wees dat EK dit aan julle gedoen het. Vrees nie die barbare wat op julle sal afstorm nie, want julle is veilig en geborge in MY ark. Julle sal veilig by julle bestemming aankom. EK sal julle leier en aanvoerder wees. Wees net vol vertroue in MY en gaan jou gang sonder vrees. EK het nog nooit iemand wat in MY vertroue het, versaak nie. Dit sal nou ook so wees. Elke mens wat in nederigheid en liefde na MY sal kom, sal deur MY bewaar en beskerm word, maar wee die een wat MY bespot en sy bed by die ander nasies gemaak het. Hy sal inderhaas vlug om nie vêr te kom nie. MY ark se deur sal gesluit wees, want EK roep al lank voor die tyd. Die ongehoorsames en meinediges sal nie wegkom nie, want EK wil hierdie land suiwer, sodat EK hier kan kom woon saam met julle en julle MY sal sien en herken. Dit is ‘n belofte. Het EK al ooit ‘n belofte gemaak wat EK nie gestand gedoen het nie? Kyk na die sterretjies oral op MY. Dit is ‘n aanduiding dat EK waar en eg is en dat EK niemand sal verlaat nie. Net soos wat die sterre aan die hemel flikker en elke aand daar is, so sal EK ook by julle wees. Elke sekonde van die dag en nag. MY skryfkneg het MY nog nooit gesien met sterretjies wat op MY blink nie en was dan ook verseker dat sy MY werklik sien. Julle moet MY glo, sonder dat EK altyd vir julle ‘n bewys moet gee van MY teenwoordigheid. Glo onvoorwaardelik, dan sal julle loon soveel groter wees. Dink nie dat alles wat hier neergetik word, net sommer versinsels uit iemand se verbeelding is nie. Dit is die waarheid en deel van MY plan om julle almal na MY te laat soek, soos wat MY skryfkneg na MY gesoek het. Julle sal almal dit kan regkry wat EK haar laat regkry het, as julle MY baie liefhet en MY elke sekonde van die dag kom soek. EK sal dan tussen julle almal wees en julle sal MY kan aanskou en ook die wonders wat EK vir julle gaan doen, daar waar EK julle gaan vergader. Julle sal juig en bly wees en aan MY lof bring. Julle almal sal MY met offers uit die hart loof en prys en niemand sal die ander beswadder of skade toebring nie. Dit sal julle almal beleef wat MY opreg liefhet. En daar sal EK na julle kom en tussen julle wees. Daar sal die grootste vreugde en vrede heers. Julle diamante sal skitter in die son en MY volk sal vir MY gereinig wees, sodat EK daar by julle kan wees en julle MY kan aanskou sonder om te beswyk. Geen onreinheid sal daar kan standhou nie, omdat onreinheid nie naby MY kan kom nie. Reinig jouself van al jou sondes en jy sal ook daar saam met jou mede-volksgenote kan vergader. Mense, as julle weet wat EK vir julle berei het en wat nog vir julle voorlê, sal julle nie meer tyd verspil aan aardse dinge wat jou niks in die sak sal bring nie. Gee alles in MY hande oor en EK sal jou lewe rig. EK sal voorsien in al jou behoeftes, sonder dat jy jouself moeg werk. EK sê nie dat jy geen aardse arbeid meer mag verrig nie, maar wat EK vra, is dat jy alles van jou af sal werp wat onnodig is en waaraan jy vasklou omdat jy meen dit vir jou ‘n groter inkomste kan inbring. Doen net die nodigste en moenie jou tyd en aandag aan wêreldse nietighede meer wy nie. Kom onvoorwaardelik na MY en EK sal aan jou, jou daaglikse brood en arbeid gee. Jy sal uit MY hande uit eet. Gaan toets MY en kyk of EK dit nie sal doen nie. Maar jy moet ook bereid wees om van jou aardse gemak ook af te sien. Jy kan nie aan jou gees werk in die grootste gemak nie, want dan word jy gemaksugtig en wil nie meer van jou liggaam skei nie. Wees tevrede met eenvoud en jy sal voortleef sonder om aan jou liggaam gekluister te wees.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205