DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 42

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 42
1 Jan. 2008 06:19
Ek staan met Jahshua en HY sê vir my om om my te kyk. Daar is hoë golwe om ons, maar in die middel waar ons staan, is dit kurkdroog. Die golwe is seker omtrent 15m hoog na alle kante toe. Jahshua vra my of daar enige uitkoms uit hierdie golwe is. Ek sê nee, nie na enige kant toe nie. HY tel my op en vaar reguit in die lug op. Net by HOM is daar uitkoms. HY sê dat ek weer om my moet kyk en ek sien dat ek in ‘n baie droë gebied is. Dit is ‘n baie uitgestrekte plat stuk aarde en daar groei niks nie. Daar is net klippe en dit is baie droog. Die son is baie warm en enige iets wat begin groei word onmiddellik verskroei. Jahshua vra my of ek hier deur sal kon loop en sê dat ek na my voete moet kyk. Ek het nie skoene aan nie en sê nee. Die plek is te vol klippe. Jahshua wys my en ek sien dat ek skielik die hele wapenrusting aan het en lyk soos ‘n Romeinse soldaat op pad slagveld toe. Ek sien dat daar op my rug spierwit vlerke uitgroei en ek kan vlieg. Jahshua sê ek moet rondvlieg en enige groen dingetjie na HOM bring. Ek sien ‘n baie klein groenigheidjie en ek grou die plantjie versigtig uit sodat daar nog van sy grond aan sy worteltjies vassit en hy nie heeltemal uitdroog nie. Jahshua vat die plantjie en plant hom tussen ander groen plante op ‘n ander plek en die ander plante buig terug sodat hy ook van die sonlig kan kry. Hy groei baie vinnig om net so groot soos die ander te word. Ek moet weer oor die dorre aarde vlieg en ek sien iemand daar lê wat amper dood is. Ek vat haar na Jahshua. Ek gee vir haar water uit ‘n kalbassie en sy kry bietjie lewe in haar oë. Ek sien dat sy ‘n wond op haar knie het en versorg die wond. Haar arm is ook snaaks gedraai en ek spalk die arm.
 
Vader dikteer:
Op hierdie aardbodem is daar verskillende plekke waar daar nie ‘n lewe moontlik is nie. Die dorre woestyn is een van daardie plekke. Net so is dit in die geesteswêreld onmoontlik om daar te leef. Die woestyn beteken dat daar baie geestelike armoede heers en dit is ‘n liefdelose area. MY kinders, julle moet ongelukkig op hierdie tydstip nog in die woestyn verkeer om ander wat daar vasgevang sit, uit te help. Julle is die redders in die woestyn, wat met MY krag ander te hulp snel. Wees gereed sodat EK jou enige tyd kan uitstuur en jy iemand wat amper dood is, kan gaan red. Die nuwe plantjies wat tussen die dorre droë klippe opkom, sal deur MY verwyder word, sodat hulle kan groei en gedy in MY lig en lewe. Julle moet julle almal bereid kom verklaar om MY arbeid te verrig en EK wil niemand dwing wat dit nie wil doen nie. Maar as jy jouself oorgee in MY diens, sal EK jou van alles voorsien wat jy nodig het om jou werk in die warm woestyn te kan verrig. EK het aan MY skryfkneg gesê dat sy siek mense of gewondes sal moet help tydens die groot stryd wat vir julle voorlê in hierdie land en EK sal aan haar alles gee. Sy weet niks van noodhulp af nie, maar EK sal haar alles skenk om mense te hulp te snel en hulle na MY te bring. So sal EK ook aan almal die gawes skenk wat hulle nodig het om arbeid te verrig in MY wingerd. Niemand wat met die bereidheid voor MY kom staan, sal afgekeur word nie en julle sal elkeen ‘n werkie kry om te doen, afgesien van die groot werk wat julle nog in MY wingerd ook moet verrig. Die werk in die wingerd is die heel belangrikste, omdat die siel van die een wat ly gered moet word. Die aardse lewe het geen doel as dit nie na MY lei nie. Iemand wat met sukses geleef het, is iemand wat MY leer ken het en nie iemand wat ‘n groot sakebedryf het nie. Dit is absoluut niks werd nie en sal nie eers deur MY as arbeid gereken word nie. Dit is arbeid in die wind, wat alles wegwaai. Laat MY toe om jou siel te verander deur MY kragvolle inwerking en moenie MY probeer keer, omdat jy jou aardse belange eerste stel nie. EK kom altyd eerste, omdat alles uit MY is. EK kan jou in alles seën, of EK kan dat jy alles verloor. Daarom moet jou lewe en strewe na MY wees en nie na jou aardse dinge nie. Jy leef dan in die woestyn en sal omkom van die dors en die vreeslike warm son. Maar as daar iemand in die woestyn is wat nog effense lewe in hom/haar het, sal EK MY arbeiders instuur om hom/haar te gaan haal. MY arbeiders sal in baie kwaai omstandighede te werk moet gaan, maar EK sal hulle krag gee, sodat die warm woestyn nie op hulle neerkom en hulle ook sonder krag op die grond neerval nie. Dit is wat EK doen vir die een wat bereid is om vir MY te werk. Onthou, dit moet gewillige werk wees en die arbeider word nooit gedwing nie. Kom, gee jouself ook aan MY oor sodat EK vir jou die nodige gee en jy vir MY en jou naaste wat nog in die woestyn lê, kan gaan arbei.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205