DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 45

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 45
1 Jan. 2008 15:00
Ek is aangesê om na die rivier, ‘n ent onder ons huis, te gaan en daar in afsondering en stilte na Jahshua in die gees te kom. Jahshua het gesê dat ek weereens baie hard moes konsentreer en met my geestesoog die hele tyd op HOM gerig die hele tyd vir HOM moes kyk, omdat HY dan my aardse oog ook oop wil maak, sodat ek HOM in die vlees kan aanskou. Ek het dit gedoen en gesien dat Jahshua voor my staan en my hande vashou en agteruit loop. Hy het my gelei oor ‘n gebied wat ek nie eintlik kan beskryf nie. Dit was ‘n goudbruin oppervlak en ek het baie gesukkel om by Jahshua te bly, aangesien ek moeg geword het van die konsentrasie en inspanning van baie kyk. Maar HY het my aanhoudend aangepor om verder te gaan en nie te rus nie. Ek het bewus geword van twee engele wat aan weerskante van my geloop het en my ook gehelp het. Die een was my oorlede oupa. Ek het ook gesien dat die einde van die goudbruin oppervlak ‘n ent verder is en Jahshua het gesê dat as ek daardie eindstreep oor tree, ek HOM sal kan sien in die vlees ook. Ek het gesien dat die einde naby kom en het ‘n oomblik getwyfel, dadelik het ek weer terug geskuif verder van die streep. Jahshua het gesê dat ek nie moet twyfel nie, omdat dit my terugsit. HY het weer met my geloop en ek het oor die streep gegaan, maar nog steeds nie vir Jahshua met my aardse oog gesien nie. Jahshua het gesê dat ek dit nie nou sal kan verdra nie en dat HY aan my sal verskyn op ‘n baie onverwagse tyd en dan ook net vir ‘n vlietende sekonde. HY sal so met my werk tot ek HOM ‘n bietjie langer kan sien en dan heelwat later, die heeltyd kan aanskou. Ek het saam met Jahshua by die wenstreep gestaan en HY het aan my ‘n rooi roos en ‘n wit roos gegee. HY het gesê die rooi roos beteken liefde en die wit roos beteken reinheid. Die omgewing was van goud en Jahshua het gesê ek moet op my knieë gaan en kyk wat dit is wat so goud is. Dit was gras wat so pragtig was en dit het gelyk asof die gras “metalliek” goud was. Die gras lewe en lyk nie soos gras wat byvoorbeeld uit goud gegiet word nie. Ek het skielik weer getwyfel en die hele area en die rose het alles grasgroen geword. Ek kon nie meer die gras onderskei nie, en dit was net ‘n plat groen vlak. Jahshua het gesê dit staan vir geloof en dat dit so sal bly tot ek weer glo. Dit was bewys genoeg vir my en ek het geglo. Alles het weer na die vorige kleure teruggekeer.
 
Vader dikteer:
EK het MY kleine kind gelei na ‘n plek van goud en haar gewys dat daar ‘n ander wêreld lê waar sy MY sal kan sien. EK het haar egter blind gehou vir MY, omdat EK geweet het dat sy dit nie op daardie stadium sou kon verdra om MY met haar aardse oog hier reg voor haar te sien staan nie. Sy was teleurgesteld en het sommer ook dadelik begin twyfel in die egtheid van dit wat sy gesien het. MY kinders, EK sal julle nooit op ‘n dwaalspoor sit nie en sal julle veilig lei na ‘n land waar julle die goue gras sal kan sien. Dit beteken dat julle MY in die vlees sal kan sien. EK is die goue weg en julle moet op MY wandel. EK is die goue gras waarop my kneg gestaan het. Sy verstaan nog nie wat met haar gebeur het nie en wonder nog steeds oor dit alles omdat sy nog geen verandering in haarself opgemerk het nie. Maar sy hoef nie bevrees te wees nie, EK sal na haar kom wanneer sy dit die minste verwag en EK sal sorg dat sy MY net vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde te siene kry. So sal EK herhaaldelik aan haar verskyn met tussenposes totdat sy sterker is en MY vir ‘n bietjie langer kan aanskou. Sy sal so gewoond gemaak word tot sy MY later heeltemal kan aanskou. Dit sal nie so lank vat as wat sy dink nie en voor sy self weet is sy gereed om MY te kan sien. EK wil My kneg as voorbeeld vir julle almal gebruik, sodat julle ook daar kan kom waar sy nou is. Met liefde in julle harte moet julle na MY kom en aan MY vra om ook dieselfde in jou lewe te doen. EK sal dit vir ‘n ieder en elk moontlik maak, omdat EK julle liefhet en julle almal so na MY wil trek soos MY skryfkneg. Dit is nie onmoontlik nie en EK bewys aan julle dat dit moontlik is, terwyl jy nog in jou aardse liggaam is. Vrees nie, MY kinders, en vertrou ten volle op MY en julle sal ook so gelei word. EK het elkeen lief en wil hê dat julle die geestelike eenwording met MY sal bereik. Hierdie is alles stappe wat MY skryfkneg deurmaak in die eenwording met MY. So sal EK haar lei tot sy een is met MY en EK sal julle elke keer vertel hoe dit gedoen word, sodat julle dit ook kan bereik. Julle moet net glo. Dit is dan die verklaring van hierdie gebeurtenis van MY kneg.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205