DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 49

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 49
3 Jan. 2008 Die middag
Ek staan weereens by Jahshua en HY wys my iets groot en wit/geel. Ek kon eers nie sien wat dit was nie, maar kyk toe links en regs en sien dat dit ‘n baie groot bal is.Ek staan ook skielik saam met Jahshua op die bal. Die bal verander van kleur en word later groen. Ek begin agterkom dat dit die aarde is. Ek sien die skepping vanuit die lug en sien die see en bosse soos die Amasone oral op die aarde. Vader sê dat dit is hoe die aarde gelyk het in die tyd van Adam-hulle. Ongeskonde. Later begin die water opstoot en oordek groot gebiede, maar nie alles nie. Jahshua sê dat dit die sondvloed was. Ek sien dat die aarde weer normaal lyk, maar oral begin daar toe bruin/swart kolle uitslaan. Amper soos ‘n bedorwe vrug. Dit lyk of die aarde besig is om vrot te word. Jahshua vat my nader en ek sien op elke vrot kol ‘n ding soos ‘n olieboor of ‘n mynskag staan. Ek kry die indruk dat daar duisternis rondom die kolle is, sodat jy nie mooi kan sien wat werklik daar aangaan nie. Die water van die see en riviere, asook die wolke, word ‘n siek vuilgeel kleur. Ek staan weer saam met Jahshua op die aardbol en HY sê vir my dat die aarde binnekort blou gaan word en dit beteken dat daar vrede gaan heers. Maar eers moet die aarde vernuwe word.
 
Vader dikteer:
Soos julle almal weet was daar sekere prosesse waardeur die aarde moes gaan, voordat die aardbodem geskik was om mense te kon dra. Dit was dan die betekenis van die wit en geel kleure. EK het in MY alwysheid besluit om die plantegroei in groen te hul en dit was dan die rede dat alles groen gelyk het. MY kinders, julle sal nooit kan raai wat alles moes gebeur voordat julle hierop kon tuisgaan nie en menige wetenskaplike maak die grootste foute met hulle berekenings en wiskundige teorieë. EK alleen weet wat nodig was en hoeveel jaar dit geduur het en niemand wat op aarde leef kan eers die getal jare tel nie. Dit was onmeetlike tye en daar moes ongelooflik baie aanpassings gedoen word om julle hier te kan huisves. Daar is baie teorieë oor die diere wat geleef het in die oertye en baie is ook verkeerd. So word daar byvoorbeeld gespekuleer dat die dinosourusse miljoene jare gelede gelewe het. Dit is nie so nie en julle sal nog steeds lewende diere kry wat in die onherbergsame gebiede van Afrika rondloop en verwoesting saai sover hulle gaan. Daar is net geen mens om dit raak te sien nie en dit is hoe EK dit wil hê, omdat daardie dier ook sy doel op aarde het. Duisende bose geeste is saamgevat in daardie diere wat nog leef en sodra die mense hulle te siene kry, sal hulle doodgemaak word en die bose geeste sal dan vry wees om te maak wat hulle wil, terwyl hulle nou nog in ‘n liggaam gekluister is, waaruit hulle nie kan kom nie. EK hou hulle ook vas, sodat die diere nie kan kom en mense vernietig nie. Daar is wel al mense wat deur hulle opgevreet is en het ‘n wrede dood gesterf, maar hulle kan net bly waar EK hulle toelaat om te bly. In die tyd wat gaan kom, sal hulle egter meer vry kan rondbeweeg en hulle sal ook deel hê aan die verwoesting van die mensdom. Niemand sal die komende tyd vryspring wat oor die aarde gaan kom nie en daar sal baie doodgaan in die reiniging van die aardbodem. Miljoene is tans besig om te sterf weens die waterbesoedeling en niemand weet waarom daar allerhande pessiektes uitbreek nie. EK sê vir julle dat dit die skuld is van vooruitgang en dat die geldmagnate deeglik bewus daarvan is, maar hulle nie daaraan steur nie. Die gevolge van die boor van olie, mynbou en enige aanleg wat daartoe bydra om die aarde te vernietig en die skepping te skend, is enorm en die aarde sal nie meer langer vir die bewoners ‘n veilige plek kan wees nie. Daar is duisende mense wat omkom aan longkanker wat hulle deur die mynbou opgedoen het. Velprobleme, pessiektes en vele meer kan direk daaraan toegeskryf word. MY kinders, hê geen deel aan die vernietiging van MY skepping nie en kom na MY, sodat EK julle kan dra in MY groot Vaderarms. Kom uit Babilon en EK sal vir julle sorg. Moenie julle liggame met die pessiektes besmet wat oral rondgaan nie. Deur nie ag te slaan op MY woord nie, word julle besmet en sal baie moeilik daarvan gesond kom. EK sal die aarde kom reinig, sodat julle weer in veiligheid sal kan woon en daar sal nie een siekte wees nie. Nie eers griep of ‘n verkoue nie. Deurdat julle net op MY vertrou vir julle inkomste, sal julle geseënd wees en sal julle dan nie deel hê aan die besoedeling van die aarde nie. Daar is ‘n verskil tussen die bewerking van die aarde en die omwerking van die aarde. Die bewerking geskied soos wat EK dit aan julle voorgeskryf het en behels die bewerking van grond om ‘n oes daaruit te kry sodat julle kan eet. Maar die omwerking van grond is ‘n groot euwel omdat daar giftige gasse diep in die aarde uitkom wat dan daartoe bydra dat mense siek word en bome doodgaan. MY kinders, julle weet nie wat werklik gebeur nie en die geldwolwe weerhou al hierdie inligting aan julle, terwyl hulle dit lankal weet, maar net op winsbejag uit is. Dit skeel hulle min of mense pigmentasieprobleme opdoen en hulle het regtig nie ‘n saak met die mynwerker of die oliewerker nie. Die skyn van veiligheid wat hulle julle voor oë hou is maar net om hulle finansieel te beskerm en is glad nie omdat hulle omgee vir hulle werknemers nie. Maar daar sal ‘n einde gemaak word aan die goedkoop manier wat hulle met menselewens omgaan en EK sal hulle met hulle eie bose siektes tref en daar sal vir hulle geen genesing wees nie. Bly aan MY klou en Ek sal julle almal help, sodat julle op ‘n nuwe gereinigde aardbodem kan leef in die grootste vreugde en vrede saam met MY, Jahshua, julle Verlosser en Skepper van alles. EK sal julle in MY Vaderarms kom haal en julle na veiligheid dra, terwyl die aardbodem gaan kreun onder die reiniging van MY hand. Daar sal ‘n geween wees en ‘n gekners van tande wanneer EK kom om die aarde te reinig en die geldmagnate sal saam met hulle geld in die diepte van die aarde verdwyn om vir ‘n baie lang ruk daar te sit in die grootste pyn. Dit sal hulle loon wees, omdat hulle MY skepping die grootste pyn aangedoen het. Hulle wat glo dat daar nie ‘n God is nie, sal tot die groot skok kom en sal dan bid vir genade, maar MY stem sal stil wees, net soos hulle stemme stil was vir elke hongerige wat kom aanklop het om hulp. MY stem sal stil wees soos hulle stem stil was vir elke weduwee wat haar man verloor het weens hulle ongeregtigheid en MY stem sal stil wees soos hulle stemme stil was vir elke kind wat sy pa verloor het. So harteloos soos wat hulle was, so harteloos sal EK hulle behandel en sal hulle net gee wat hulle altyd wou gehad het. EK sal elkeen begenadig wat voor daardie tyd na MY kom en vergifnis vra en as EK sien dat hy werklik sy lewe verbeter en hom op die versorging van armes toespits, sal hy ook deur MY gehelp word in die tyd van nood. Julle wat MY liefhet, het niks te vrees nie en Ek spoor julle tot groter liefde aan. MY liefling kinders, bewys liefde en genade aan ander, sodat EK dieselfde aan julle kan bewys. Dit wat jy saai, sal jy maai en jy sal kry wat jy aan ‘n ander gedoen het en daarom wil EK julle aanraai om in die grootste liefde te leef. Hierdie is ‘n waarskuwing aan almal wat MY nie liefhet nie en ‘n aansporing aan die wat MY liefhet.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205