DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 6

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 6
14 Des. 2007 06:02
Wees nie bang of verskrik nie, MY liewe kinders, want julle Vader en Verlosser sal julle nooit verlaat nie. Hy sal julle dra en behoed. Julle Vader, waarmee Ek een is, sal julle nie verlaat op ‘n tyd dat jy Hom die nodigste het nie. Almal om julle kan julle verlaat, maar Ek bly getrou en sal altyd by julle wees. My skryfknegte was al baiekeer bang dat EK hulle verlaat het en vol vrees roep hulle dan na MY en wanneer EK hulle antwoord, is hulle weer bang dat dit hulle eie stemme is wat antwoord. Dit is inderwaarheid net Ek wat die hele tyd teenwoordig is by hulle en elkeen van julle wat MY nog nie kan hoor nie. EK sal vir ewig by jou bly, as jy MY bo alles kies en liefhet. EK sal julle elkeen kom besoek en met elkeen van julle praat, sodra julle ryp genoeg is daarvoor. Vrees niks om julle nie, omdat Ek alleen groot is en EK jou dra en bystaan. Wat kan gebeur wat so erg is dat EK nie daarvan bewus is nie? Wat kan gebeur dat EK van julle wyk? Niks! Omdat julle MY nie kan sien nie, dink julle baie keer dat EK nie hier is nie. Niks is verder verwyder van die waarheid nie en EK sal dit weer en weer aan julle sê. Vrees niks! O, MY liewe kinders, as julle maar weet hoe lief EK julle het, sal julle alles net so neergooi en reguit na MY hardloop en in MY arms in spring. Weet julle dat elke aardse vrees en bekommernis julle swaar maak, sodat julle nie met vrymoedigheid tot in MY arms kan hardloop nie? Swaar laste kniehalter julle so, dat julle moeisaam die pad na MY stap. Die pad wat eintlik so lig as moontlik moet wees. Gooi alles af wat pla en hardloop! EK is nie vêr nie en sal jou vang voor jy moeg kan word. In MY arms sal jy dan verder gedra word en niks sal jou ooit weer uit MY arms kan haal nie. Satan is te bang vir My en elke probleem het EK al klaar oorwin. Wees wenners in MY, omdat EK alles al klaar gewen het. Geen verloorders word by MY toegelaat nie, omdat dit beteken dat hulle hulleself aan die verloorder se kant geskaar het. En wie is die verloorder? Niemand anders as satan self nie. Hy is die verloorder en is baie woedend daaroor. Kyk maar net na ‘n slegte verloorder en hou hom dop. Hy sal kwaad word en met woede op die wenner toeslaan as hy kan. Dit is presies wat die duiwel ook nou doen. Hy slaan op julle toe, omdat julle wenners in MY is. Dit maak hom woedend en hy sal alles in sy vermoë doen om julle die onderspit te laat delf. Maar Ek is regverdig en staan julle ook by. EK los hom partykeer sodat julle getoets kan word, maar sal julle nooit verlaat en aan julle eie lot oorlaat nie. Dan kom daar ‘n dag dat julle heeltemal sonder smet is en dit nie meer nodig is vir toetse nie. Daardie dag is die dag dat EK heeltemal een met jou word en jy met MY verenig. Dit is die beste ding wat met jou kan gebeur hier op aarde. Dit is die wonderlikste gebeurtenis in iemand se lewe. Streef daarna sodat dit ook met elkeen van julle kan gebeur voor julle van hierdie aarde skei. EK help julle daarmee en hardloop julle tegemoet sodat die pad nie te ver vir julle raak nie. Dit moet julle lewe en strewe wees en enige iets anders moet ondergeskik wees daaraan. Almal van julle wat nou hier lees sal deur MY hulp een met MY word as dit jou begeerte is. Alles wat jy begeer, sal aan jou gegee word. Dit moet julle altyd onthou.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205