DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 9
16 Des. 2007 05:22
Laat julle harte altyd bly wees en wees vrolik in julle binneste. Glo dat EK by julle is. Wat kan daar dan wees wat julle nog ongelukkig maak? Elke ding wat julle ongelukkig maak, sal soos mis voor die son verdwyn as Ek met julle is. Kom tot die besef daarvan, MY liewe kinders, dat EK julle nooit kan verlaat nie. Dit is ‘n baie groot probleem by baie van julle waarvan EK julle wil bevry. As EK met julle is die hele tyd, kan niks verkeerd gaan nie. Alles wat dan met julle gebeur, sal dan net so wees soos wat Ek dit beplan het. Gee alles aan My oor en EK sal dit vir jou regmaak. Sonder dat jy ‘n vinger hoef te verroer, sal Ek dinge uit jou hande neem en dit vir jou ten goede laat meewerk. Vrees niks, MY liewe kinders en gaan julle weg met selfvertroue, omdat Ek met julle is. Daar is baie van julle wat nou hier lees wat nog steeds nadat julle gebid het, bekommerd bly en al sê julle dat julle alles in MY Hande oorgegee het, glo julle dit nog nie werklik nie. EK sal al julle probleme tot niet maak soos wat julle almal al van kan getuig. Maar elke keer as daar ‘n nuwe probleem sy kop uitsteek, is julle weer van voor af bang en bekommerd. Moenie wees nie, MY kinders! As julle geestesoë kon oopgaan en julle om julle kon sien, sou julle houtgerus die lewe deurgegaan het. Maar nou sien julle niks en dink dat EK nie by julle is nie. Hou aan om MY te vra om jou tot die besef te bring dat EK altyd naby is en glo dit. EK sal julle help om dit te besef, deurdat My GEES iets in jou binneste sal aanraak en jy MY bewustelik sal voel om jou en in jou. EK sal niemand aan sy lot oorlaat nie en sal julle oor elke hindernis help. Julle is te vergelyk met klein kindertjies wat bang is om ‘n donker kamer in te gaan. Hoe baie kere moes jy nie al jou bang kindjie sê dat daar niks te vrees is nie? Herhaaldelik moes jy hom/haar aanpor om die donker kamer sonder vrees in te gaan, terwyl jy geen vrees self het nie, want jy weet dat niks met hom/haar sal gebeur nie. Dit is hoe julle ook is. Hoe meer EK julle sê dat julle nie bekommerd hoef te wees nie, hoe meer vrees julle. Vrees bring die dood nader, MY lieflingskinders, en maak dat die satan ‘n houvas op jou kry. Dit is sy grootste wapen en hy gebruik dit altyd. Dit is waarom daar soveel “rillers” te kyke op die TV is. Hoeveel kinders en selfs grootmense is nie daardeur onherroeplik geskaad nie en sal nooit regkom behalwe deur MY nie? Enige vrees is sleg vir julle siele en julle moet dit oorwin deur MY hulp en bystand. Dink dag en nag aan MY en julle sal niks vrees nie, want julle sal MY dan die hele tyd by julle voel en niks sal julle dan meer kan bangmaak nie. EK het alles al oorwin. Van die lelikste satan tot die grootste probleem wat julle ontstel en daarom sê EK: ”Laat julle harte nie ontsteld word nie!” Die oomblik wanneer jy jou hart ontsteld laat word, dryf jy MY GEES na agter en trek jy die dood nader na jou en daaraan kan EK niks doen nie, omdat dit jou eie vrye wil is. En nou sê EK weer aan julle; dien MY gedurigdeur en julle sal nie vrees ken nie, MY kinders. Vrees sal vir julle iets onbekends wees en julle sal altyd bly wees, omdat satan julle dan nie meer kan ontstel nie. Die oomblik dat jy alles net so in MY Hande oorgegee het, sal alles vir jou reggemaak word op die regte tyd. Maar as jy MY gevra het, moet jy geduldig wees, want EK weet wanneer dit die regte tyd is om jou uit te red. Dit is baie keer goed vir jou siel om ‘n bietjie van ‘n probleem te hê, omdat EK jou geloof toets, of omdat jy iets moet leer. Dit is nie te sê dat jy nooit ‘n probleem sal hê nie, omdat dit alles uit MY Hande kom om jou te leer, maar as jy op verkeerde weë wandel en van MY afvallig begin word, sal al die probleme wat na jou kant toe kom , jou eie skuld wees. Alles wat op jou pad kom terwyl jy MY dien, is dinge wat EK toelaat, om te kyk of jy dit vir MY gee en om jou te leer om dit in MY Hande oor te gee. Vrees nie die toekoms nie, want dit is alreeds deur MY bepaal, nog lank voor jou geboorte en niks wat jy doen kan dit verander nie. Los alles net so vir MY en gaan jou gang met vrolikheid van gees. Dit is iets wat julle nou moet leer en EK sal julle dit leer deur ‘n paar dinge op jou weg te bring sodat jy kans kan hê om dit te beoefen. Wees net vir MY lief en dink altyddeur aan MY. Onthou, EK stap langs jou, voor jou, agter jou; Ek is bo en onder jou en nog die beste van alles, EK is binne jou en vorm ‘n beskermende lig om jou. Die bose herken daardie lig en MOET vlug, hulle kan nie anders nie. Dit is waarom EK sê dat julle gedurig aan MY moet dink want dan sal jou geestesoë oop gaan en jy sal self sien dat EK met jou is, MY liewe kind wat nou hier lees. Raak bevry van alle vrees. Dit sê EK aan julle wat op hierdie dag aan MY sal dink en MY wonderwerke sal besing.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205