WAT VAN DIE UITVERKIESING?
BERTUS HANEKOM

Hoofstuk 6

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20.

Hoofstuk 6.
19 Desember 2007 om 22h20
Om die saak van die verlossing en verwerping nog duideliker te stel, die volgende: Veronderstel jy het ‘n ongeneeslike kwaal. ‘n Ongeneeslike kwaal is ‘n siekte wat, ten spyte van alle pogings in hierdie verband, nie genees kan word nie. ‘n Vreemdeling bring aan jou ‘n besoek en verseker jou dat jou siekte nie ongeneeslik is nie en dat hy medisyne besit wat jou gesond kan maak. Hy verseker jou verder dat alle ander persone met soortgelyke siektes wat die medisyne gebruik, genees is. Veronderstel jy kon werklik deur daardie middel gesond word, maar om een of ander rede weier jy om die medisyne te drink. Na ‘n rukkie sterf jy as gevolg van hierdie siekte. Nou is die vraag: Waarom het jy aan hierdie siekte gesterf? Jy het gesterf omdat jy hierdie siekte gehad het, of jy het gesterf omdat jy die medisyne wat jou gesond kon maak, nie gedrink het nie.
Net so: Julle ly almal geestelik aan so ‘n siekte wat ongeneeslik is. Niks kan julle van julle sondes genees nie. Hoe meer julle probeer, hoe erger word julle. En tog is hierdie siekte nie ongeneeslik nie. Daar is medisyne wat dit kan genees; ja, almal van julle wat dit drink word genees. Hierdie medisyne is Ek, julle hemelse Vader, wat aan julle almal aangebied word. Baie wil dit ook om een of ander rede nie drink nie en sterwe as sondaars sonder hoop en sonder My, dit wil sê sonder dat julle geestelik gesond word. Nou waarom het julle so gesterwe? Is dit omdat julle hierdie geestelike kwaal gehad het, of is dit omdat julle die medisyne wat julle kon genees het, nie gedrink het nie? Kyk, die antwoord is ewe duidelik; ja Ek sê: “Die antwoord is ewe duidelik.” Dit is omdat julle die medisyne naamlik Ek, julle Vader, verwerp het. Dus, julle mag almal My aanneem.
Voorwaar, as jy My aanneem as jou Verlosser en jy antwoord bevestigend, dan sal Ek vir jou sê: “Voor die grondlegging van die wêreld is jy opgeskryf vir die hemel.” Het Ek dan van opinie verander? Nee, Ek het nie, maar jy het verander. Kom, Ek sal aan julle verduidelik, Ek stuur vir Jona, die profeet na Ninevé met die boodskap: “Nog veertig dae dan word Ninevé verwoes.” Julle ken die verhaal, hoedat die hele stad hul in sak en as voor My verootmoedig het, en hoedat Ek die stad gespaar het. Was dit die waarheid wat Jona gespreek het? Ja, dit was! Kan Ek mense dan bedrieg? Dit tog nie. Het Ek dan verander? Nee, Ek is die onveranderlike. Waarom het Ek dan Ninevé gespaar, en hoe kan Ek, as Ek die Onveranderlike is? Omdat Ninevé verander het en nie Ek nie. En juis omdat Ek onveranderlik is kan Ek nie anders as om Ninevé te spaar nie. Die Ninevé oor wie die oordeel uitgespreek is, het nie meer bestaan nie. Deur hulle verootmoediging en bekering het Ninevé nuut geword. Net so, jy in hierdie geval, van wie Ek gesê het dat jy voor die grondlegging van die wêreld vir die hel opgeskryf is, bestaan nie meer nie. Deur jou bekering het jy ‘n nuwe mens geword. En hierdie nuwe mens is van voor die grondlegging van die wêreld in My uitverkies.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205