Woord aan Nalize 13/3 tot 18/3/2011

Stuk 24 – 13/3/2011

Wie is gereed om die Stem van die Almagtige in hul binneste te dra? Geen sterfling sal ooit gereed wees om die volheid daarvan te omvat nie, maar omdat Ek Barmhartig is, vra Ek, hou jou by My Woord en My Stem sal in jou weerklink. Jy hoef nie te kies om My Stem te hoor nie, want soos wat Ek aan jou hartsdeur klop, spreek Ek met jou deur die gewete. As jy egter jou eie kop volg en nie aan die gewete gehoor gee nie, sal die Stem (Gees) in jou stil word en jy kan dan maar weet jy het ‘n vleesmens geword ten spyte van jou ‘geloofslewe’. Dit is dan vals, want Ek is nie met jou nie.

‘n Geloofslewe moet lewend wees en bly. Dit moet groei. Wees Liefde en jy sal groei in die geloof, want deur aan Liefde gehoor te gee, oortree jy geen Woord nie en kan die Gees in jou woning maak.

Jou woning wat Ek vir jou berei het in die hiernamaals, sal lyk soos die een wat jy in jou binneste geskep het, tydens jou tyd op aarde. So jy koop of kies dit self deur My Bloed aan te neem oor jou of nie. Amein.

Ekself sal by jou woning maak as jy Ons Huis in jou daarvoor voorberei het en dit is die blye dag waarop elke mens moet wag. Amein.

Stuk 25 – 15/3/2011

Ek, as Heerser oor hemel en aarde, vra van elke mens om in hulle innerlike te keer en nederigheid daar te vind, dan sal Ek Barmhartig wees oor jou en jy Barmhartigheid kan beleef om uit te straal.

Wat is Barmhartigheid? Dis is die lot van die Liefde as dit met nederigheid gepaard gaan. Die Liefde sal alles opgee en bo haar stel. Die Liefde sal die ken van reg en verkeerd vergeet en heilig handel. Dus sal die Liefde Regverdigheid oor haarself toepas en Barmhartigheid oor die skepping en naastes. Die Liefde sal die eiendom van elkeen seën deur dit te gebruik tot My eer en rein agter te laat, soos dit ontvang is. Die Liefde sal die deur van werke open, sodat die hart handelinge kan lei, eerder as die verstand. Die Liefde sal die weë van Goedheid ondersoek en Wysheid afbid om dit as die nou weg te volg. Liefde sal die Weg van Saligheid vind deur Barmhartig te wees oor ellendiges, sowel as welgesteldes. Die Liefde sien nie die persoon aan nie, net die las op die lewende se hart. Die Liefde help daardie las verlig deur twee myl saam te stap in plaas van een. Die Liefde hou nooit op arbei of werk nie, want die Liefde vloei in alle skeure, voue en gebreke in en bring vreugde. Die Liefde IS, sodat Ek as Lig nooit uitgedoof word in My Skepping nie. Die Liefde is helder, sodat Ek gevind kan word tussen baie mense. Ek Is Liefde en daarom is die Liefde deur Barmhartigheid gelyk aan My. Het jy My in jouself gevind? Doen dan weg met die maatemmer (waaronder die Lig versteek word) en gee sonder mate of voorbehoud, alles wat Wys is, aan jou naaste in nood. As jou naaste nie aan jou kan gee nie, is hulle in nood. Ontvang net van My, dus as jy ‘n gawe van enige aard in ontvangs neem (fisies of in jou hart), dank My as Gewer en Voorsiener. Ek sal jou liefhê, solank as wat EK bestaan, daarom spreek Ek tot jou, liefling, dat jy My kan ken en saam met My kan bestaan. Amein.

Barmhartig is die een wat Sy naaste ophelp uit die stof en lewe blaas oor die grys, dood-koue hande. Barmhartig is die een wat die weg van Satan uitwys aan sy naaste, deur Liefde, en volhou in goeie werke, sodat die naaste eerder deur die vrugte van die Gees die werke van Liefde kan ontdek. Barmhartig is die sterke wat die las van die naaste, sonder sug of steun die hoof kan bied en Lig laat skyn in daardie duister. Barmhartigheid is ‘n seën oor die aarde en daarom sal Abraham se nageslag ‘n seën vir die aarde bly – want Ek was barmhartig oor hulle lot en daarom kan hulle deur die Barmhartigheid aan hulle bewys, die Lig dra van die ware kerk – die kerk in die hart van elke lewende. Die ware heiligheid kom net daar voor, soos die ware kliptafels net in die Verbondsark voorgekom het en niemand dit mag gesien het, behalwe die hoëpriester nie. Laat jou hoëpriester vir jou ‘n lewende entiteit in jouself bly, sodat jy daagliks herinner kan word aan die wette in jou Ark (hart), want net daardeur, sal jy en jou gesin deur die vernietiging van alles om jou, behoue bly (as jy in jou hart in die Verbondsark se heiligheid bly). Dit is jou binnekamer. Dit is jou redding en daaruit vloei jou Barmhartigheid. Amein.

Ewig, Liefde, Amein.

Stuk 26 – 15/3/2011

Liefde is die begin en Barmhartigheid die einde van elke lewende wese. Ek ken die siel en weet wanneer om nuwe omstandighede te bring, sodat die siel nie verlore sal gaan nie, of wanneer om die siel met My te verenig, omdat alle of genoeg laste deur die siel beleef is en oorwin is deur die Liefde. Ek is elke tree met jou, as jy My daar wil hê en as dit nie die geval is nie, sorg Ek steeds dat die siel My kan vind. Amein.

Het jy My gevind? Waaraan kan jy dit meet in jouself? Ja, daar is vlakke waarop jy kan sê jy My verseker meer of beter gevind het as ‘n vorige bestaansvlak, maar hoe bepaal jy werklik hoe ver jy nog moet vorder om My te ken? Ek sê vir jou, as die laaste vraag by jou opkom, het jy opgehou ywer. Dit mag nie gebeur nie. Lê jou onsekerheid in alles af en VERTROU. Deur vertroue sal jy veel beter vorder in nederigheid as deur die verstandsvrae wat spruit uit hoogmoed. Amein.

Ek is Liefde, wees soos Ek. Amein.

Stuk 27 – 16/3/2011

Weer spreek Ek, as Maker oor die vryheid van Wil. Wie is daar om na My te keer met ‘n rein hart? Is enigiemand in staat daartoe om vry te wees in die Liefde, Ja, Ek spreek: Almal kan. Wil enigiemand? Wat bedoel Ek met vryheid? Om te maak soos jy wil? Nee, maar om te skep na My Beeld, naamlik heiligheid in elke fasset van My. Amein.

Wees wakker om nie te faal in die toetse wat deur naasteliefde op jou pad gelê word nie, want dit ís die tweede grootste gebod. Amein.

Word wys deur die Liefde as Lig in jou te vind. Daardeur ontbrand die hele hart en wese. Berei die weg vir jou naaste om My te vind, deur jou eie selfverloëning. Wees Goed, want Ek is Goed, netsoveel soos Heilig. Amein.

Wees goed vir ander, al verdien hulle dit nie. Wees sag met ander, al is jy die enigste wat slaag daarin. Wees vol Liefde, sodat dit die ander se siel kan voed, voordat verleiding deur die vyand gebruik word om die siel te voed. Amein.

Stuk 28 – 17/3/2011

Wee dié wat in onguns by My wil leef. Hulle lot is swaar en hartseer, want hulle mis My Barmhartigheid. Ek kan dit net uitdeel aan dié wat dit wil ontvang. Wees dankbaar vir dit wat Ek as Barmhartige El en Vader aan jou bied, want anders kon Ek net sowel jou bestaan eindig. Dit ís net uit My Barmhartigheid wat jy daagliks leef. Gebruik dit tot My eer en vermeerder só jou talente. Amein. Ek is Liefde en wil jou laat leef, omdat jy vir My ‘n vreugde is. Laat My ook jou vreugde wees. Amein.

Stuk 29 – 17/3/2011

Wie is daar wat weet wat Ek vir My Volk beplan? Wie kan sê hy ken die tye en die lot van My geliefdes? Seker sal dit eers die geval wees as Wysheid die mense onderrig het en die tyd vir alles aangebreek het.

Hoe kan My Liefde uitgebeeld word? Deur toepassing van Geregtigheid en Ootmoed? Nee, deur omskepping van bestaansruimtes van duister na Lig, Ja. Hoe word dit bereik? Deur te fokus op die Beskermheer en Sy genade en net só genadig te wees met almal rondom. Ook om nie terug te staan vir Sy Liefde nie, maar om dit die aarde van almal rondom jou te laat deurbreek deur Goed te doen, selfs aan dié wat jou vervloek. Die wêreld ken My nie, maar hulle kan júlle ken, daarom moet hulle My deur julle leerken. Wees ‘n toonbeeld van My Wese wat skep, omvorm, versorg en dien, maar laat die gramskap en grimmigheid aan My oor, want net Ek weet hoe om dit met genade toe te pas. Amein.

Laat elkeen wat wonder oor die werke wat Ek dikteer, na My toe kom in hulle harte en Ek sal dit aan hulle duidelik maak. Ek sal hulle harte reinig om te begryp dat My Woord altyd waar is. Amein. Met Liefde uit die ewigheid. Amein.

Stuk 30 – 18/3/2011

Met die eerste oogopslag is dit raar om Woord te lees wat waar en eg uit My is, tog is dit moontlik om meer daarvan te ontvang as meer hulle daarvoor beywer. Waarvoor beywer jy jou? Is die ewigheid en jou toekomstige lot daar, jou doel? Wees dan rein, soos wat jy sal wees as jy nie meer die vuil vleeslikheid het om aan gehoor te gee nie. Leef deur jou hart, dit wil sê, laat jou innerlike jou lei om te leef, moenie aan die vlees se begeerlikhede en luste toegee nie. As jy eers die verskil só tussen die vlees en die siel ontdek, kan jy die GEES in jou ontdek en dit jou vertroueling maak. Dan is jy nie ver daarvan om te verstaan hoe die LIEFDE in jou, die WYSHEID in jou voed en dit LEWE bring in jou weë en werke nie. Dan is dit maar ‘n kort tyd voor jy die WIL aan die dag lê om sake te hanteer en deur te voer en jou te hou by al die vorige eienskappe. As jy die ontleding van ‘n handeling só kan begryp kan jy die Godheid se bestaan ontdek deur insig in die Liefde, Lig en Lewe en kan jy saam groei na die Godheid, wat elke eienskap volmaak toepas, voordat ‘n saak oorgeneem of afgehandel word deur ‘n volgende eienskap. Hoe ontdek jy elke eienskap om hierdie groei te bewerk? Deur die wedergeboorte te beleef as die Wil om stap vir stap met My te verenig, want dít bring Kennis en Wysheid uit die Hoogte. Amein.





[terug]