WOORD VAN JAHSHUA AAN NALIZE OP 20 OKTOBER TOT 3 NOVEMBER 2011

Woord aan Nalize, 20/10/2011

Weer hoor julle My Stem, My geliefdes. Ek weet julle leerskole is swaar en moeilik, maar Ek is met julle. Ek sal julle nie alleen laat om julle gronde alleen om te ploeg nie. Ek sal die krag gee en die implemente aanwys, waarmee julle julle harte moet bewerk om saad te saai en vrugbaar te bly. Ek sal die Water gee wat voed, sodat julle vinnig vrug kan dra, want ander het nodig om versterk te word deur julle vrugte. Julle vrugte kom van Bo, moenie dit vir die varke gooi nie. Bid en vra wie julle as hulp moet bystaan en Ek sal aan julle hulpbehoewendes aanwys wat sal ontwaak in My met die regte benadering. Wees vrolik. Wees lig, wees daar vir elkeen wat Ek oor jou pad stuur. Amein.

Word soos Ek, in die sin van die Woord. Bemoedig, bemin, bly hoopvol op vergroting van My Ryk, deur die terugkeer van verlore skape. Amein.

Waarde en weerloosheid lê naby aan mekaar. Ek is die waarde en sonder My is jy weerloos, tog, MET My is jy net so weerloos, want Ek is die Leier en neem die besluit oor jou voortbestaan op aarde. As jy egter My Wese opneem, is jy waardevol en daarom sal Ek jou behoed in jou weerloosheid. Vrees daarom niks, solank jy My ken nie, want Ek sal die waarde toevoeg wat nodig is om jou in die lewe te hou. Weerloosheid is nie `n bate of `n las nie, net `n eienskap tot groei. Weerbaarheid ontwikkel soos jy die berg Sion in jouself bestyg. Die vyand het nie mag oor die heiligheid van My Ryk nie, slegs oor duister. Verlaat daarom die duister en betree die Lig na My. Word waardevol in My Ryk. Amein. Met Liefde. Alles lê in jou wil om by My te wees.

Woord aan Nalize, 21/10/2011

Weer onsekerheid van julle af, want daaruit spruit hopeloosheid. As enigiets julle onseker laat voel, kom na My toe daarmee en bid dat Ek dit vir julle in helderheid sal ontsluit of die las van julle sal wegneem en dit sal voorwaar so wees. Ek is daar vir julle om met elke probleem by te staan as julle My deel maak van julle situasie. Ek sal julle blydskap en hoop laat ervaar as jy die kommer en eer aan My oorlaat. Al wat Ek vra is, beywer julle om die Liefde uit te leef en dit daardeur sterker in jou hart te laat ontvlam. Ek sal die talente toevoeg wat jy aan My bring. Wees verseker - die dag van oordeel is naby. Amein.

Ek bring aan julle die Woord om Lig in julle siele te bewerk. Daarsonder is jy op jou eie vermoëns aangewese, wat altyd eers die duister moet oorwin, voordat dit Lig bewerk. Ek kom julle hiermee tegemoet om die wedergeboorte sterker aan te trek, want dit is nodig, die tyd is min. Amein.

Word verlos van die wêreld in julle hart, deur oor en weer glimlagte en liefde uit te deel. Gee graag vir jou naaste, al is dit `n bossie blomme uit jou tuin, of `n bord kookkos waar die ander honger is. Ek seën dit in Liefde. Amein.

My Liefde is ewig en elke gawe wat Ek seën, word `n ewige seën. Jy sal vreugde daaruit put tot in lengte van dae en die ander party sal groei in My sagtheid, al lyk dit nie op die oog af so nie. Sien uit na geleenthede om so te handel dat jy deur My verbly word, maar moenie uitsluitlik daarvoor lewe nie. Onthou dat jou verhouding met My die fokus is en dat jy uit jou verhouding met My sal raaksien waar jy van hulp kan wees. Fokus op My en die Liefde. Amein.

Woord aan Nalize, 22/10/2011

Hiermee begin `n nuwe dag vir julle, My Bemindes. Ek staan julle by, maar staan nou opsy dat julle vir My kan kies. Sal jy as dit goed gaan, steeds jou hart aan My wy? Sal jy steeds beminning vergestalt deur naasteliefde? Ek gun jou die geleentheid. Neem die voorreg aan om babatreë in geloof te stap en steeds te groei, nader aan My. Ek laat jou nie alleen nie, maar bly net buite jou bereik vir `n oomblik, soos `n ouer wat die kind kans gee om te begin loop.

Hoekom so gou? Ja, na skaars `n week se saamgesels laat Ek reeds so `n groot sprong toe. Dit is reg en goed. Almal wat die pad met My stap, is reeds gereed in hulle harte vir die wonderwerke van geloof. Hierdie is een daarvan - deur te weet Ek hoor jou aan en laat jou nie val, sonder dat jy My naby jou ervaar. Glo en vertrou, want Ek, Jahshua, is trou aan My Woord. Amein.

Weer en weer sal ons sulke oefeninge doen onder moeilike omstandighede, totdat julle, soos Ek, die sterwensuur kan tegemoet stap met alle eer aan die Een wat alles gemaak het, na Wie jy terugkeer. Amein.

Moenie faal nie, moenie terugkeer na jou eie beginpunt nie. Hou Liefde voor oë. Klein treë is die beste om My mee te vind. Amein.

Ek bemin julle en wag op julle om as kinders en geliefdes na My te kom - Hoe? Dit behels volle oorgawe van alles terwyl dit goed gaan. Amein.

Wag en sien. Ek is jou en elkeen wat My aanroep se Redder tot in ewigheid. Jahshua.

Woord aan Nalize, 31/10/2011

Jahshua spreek: Hou julle oë op My gerig, want spoedig breek die strafgerig oor hierdie land aan. Wees bly as Ek jou blydskap is, want vele gaan alle blydskap verloor. As Ek spreek sal sake geskied en My oomblik is byna hier, waarin die bevel sal uitgaan: gedaan met die smarte, My Volk. Ek sien hoe die bloed uit die aarde roep, maar hou geduld. Ek sal die Aanvoerder wees van alle teenvuur. Wag op My. Amein.

Vir My Lieflinge, hoor die stem van julle Herder, Jahweh, as julle Man, Jahshua: Wees nie naak nie, herhaal Ek. Gaan haal die linneklere uit jou kis, dit is regverdige dade en beklee jou welvoeglik voor My. Ek wil aan jou sy kan staan. Moenie wil wegkruip omdat jy ongeregtigheid doen nie. Raak ontslae van daardie verslete kleed, want lank genoeg het jy daarin geloop. Ek gee jou nog tyd om te bekeer. Doen selfondersoek en reinig jou hart van hoek tot kant. Ek wil jou bemin as My skone blom. Amein.

Woord aan Nalize, 1/11/2011

Jahshua, die Liefde, spreek met elkeen wat van goeie wil is: Laat jou lewe sonder My doelloos wees. Laat My toe om jou treë te rig en laat jou hande nie slap hang as Ek jou werk gee nie. Wat is werk van Bo? Dit is uitreiking na jou naaste en begin by jou huis. Dit is vervulling van noodsaaklike behoeftes van almal rondom jou. Dit is verwerkliking van My Liefde, deur Woord en daad aan almal wat dit nodig het. Wees bly - jy lewe dan in My!

Word vry van sonde deur te fokus op diensbaarheid. Elke asemteug en inspanning wat gewy word aan jou naaste, deur My Liefde, is gevrywaar van die Bose, want dit maak jou rein en die Bose kan nie voor reinheid standhou nie. Jou naaste is oral rondom jou. Ja, die wat is en lyk soos jy, maar ook jou volk wat gebrek het aan die Liefde bly jou naaste. Gaan in die môre uit jou huis met My nederigheid as bedekking en beoefen geduld waar jy met ander te doen het. Sagmoedigheid en barmhartigheid is dan die hoër ontwikkeling van naasteliefde. Leef dit!

Ek bring donker oor jou pad op stadiums, sodat jy vinniger kan vorder na hoër vlakke van naasteliefde. Gebruik jou kanse. Onthou, Ek ken jou hart en laat jou nie alleen in jou moeite nie. Ek sal jou hart beloon met groei en dankbaarheid en vreugde as jy jou Liefde aan My wy. Amein.

Woord aan Nalize, 3/11/2011

Hiermee gee Ek opdrag dat Nalize haar werk in My moet opneem: Elke dag met dagbreek, sal Ek haar laat ontwaak en aan haar Woord gee om te bring vir My Volk, maar net soos sy die opdrag moet opneem, is dit elke leser se plig om in gebed te gaan en My te vind as die dag breek. Bedoel Ek dit fisies, met elke sonsopkoms? Ja, maar ook op `n dieper, geestelike vlak: Elke oomblik in jou bestaan wat dit met jou "beter" gaan, soos dagbreek, moet jy My vind in jou hart en met My Liefde en rus verenig. Dan is jy in My orde en deel van My Skeppingsplan vir jou naaste, want dan sal jy skeppend in diens van jou naaste wees. Amein.

Vergewe elke oortreder wat jou sleg behandel het, vra dat Ek hulle sal onderrig in My Liefde en die las van verwyt en kwade gevoelens sal wyk.

Vra dat Ek, net soos met Israel van ouds, wagte op die mure sal aanstel om My Volk te lei in die komende stryd. Vra dat die see van verdrukking weer sal oopmaak op My bevel, dat My Volk verlos kan word deur ongeraak deur te trek en weer te vermenigvuldig onder My Hand van seën. Bid vir al hierdie dinge, sodat julle geloof sal versterk wanneer My bevel daarvoor uitgaan. Slegs met ware gebed kan Ek optree om wense te vervul, want sonder behoefte is daar tog geen vervulling. My Wil is vir My skepping om te floreer en daarvoor is beproewing deur elemente nodig, soos met enige saad wat ontkiem en groei. Laat My saad in julle hart op vrugbare grond val. Vind My daagliks in gebed. Amein.





[terug]