Woord aan Nalize, 4/11/2011

Woord aan Nalize, 4/11/2011

Ek begin hierdie dag vir elkeen. Ek sal dit seën en die Krag wees agter elke moeite. Vind net jou vreugde in My. Wat moet jy doen om vry te wees van wêreldse sake en net op My te fokus? Hoe sal jy dit regkry om die Krag wat van My na jou stroom te benut?

Bly in jou hart besig met lof aan My. Bly blymoedig dat Ek jou situasie ken en wel die las dra vir jou. Elke oomblik wat jy My vergeet, kan `n golf van negatiwiteit jou omstoot en jy weer in as neerval en niks werd voel voor My nie. Raak nie moedeloos nie. Jy is na My Beeld geskape en daarom wil Ek jou oprig om langs My te kan staan. Ek het jou lief, My kind en My vrou.

Waar pas jy in? Beteken jou identiteit vir jou genoeg om na My te soek in jou hart? As wat is jy beklee voor My? Verander jou dade of herkoms wie jy is? Ja, jou hart verraai alles, My Liefling. As jy My gevind het as Beskermer, Wetgewer en Heiland, is Ek `n Vaderfiguur vir jou en alles gaan rustig voort met jou dienswyse, maar as jy My Woord jou eie gemaak het in Liefde en om elke hoek en draai gesoek het na waar Ek te vind is, as jy oor My getuig het voor jou naaste oor My wonders en vreugde daarin gevind het, as jy My blydskap oor groei in die skepping en jou naaste se liefde tot My beleef het, het jy die posisie as Liefling en kameraad ingeneem teenoor My. Ek kan dan met jou geheime deel oor ander se harte en die skepping se lot. Ek kan jou dan teen My Bors nadertrek en jou met Krag van Bo vul dat jou gebed lewend word. Ek en jy word dan stuk-stuk een. Volkome eenwording tussen Ons vergroot die verlossingskrag van die hemele in die Skepping en daarom is jy My blydskap as jy My so kon vind. Amein.

Woord aan Nalize, 5/11/2011

Wanneer sal die Volk hulle harte by My hou? Selfs in die geskiedenis het dit nooit vir lank gebeur nie. In goeie en slegte tye tel die vlees meer as die gees en elkeen is skuldig daaraan, anders was die volkome wedergeboorte al bereik.

Ontwaak in die gees deur nie op die vlees se behoefte ingestel te wees nie - versorg die vlees soos `n kleed of `n kind, maar onthou dat die behoeftes net tydelik is, want soos `n kind, sal die behoeftes verander soos die wind waai. Die gees se behoefte bly egter lewend en groei. Die rigting van groei, word bepaal deur die hart se oriëntasie. As jy ingestel is op die aardse, sal jou behoefte na vryheid en/of rigiede lewenswyse groter wees. As jy egter ingestel is op My nabyheid en sorg, sal jy verkwik word deur My Liefde. Ek sal jou inlei daarin om ander onder jou vlerk te neem en hulle smagting na My te stil. Wees bly, watter kant toe jy ookal neig, dat Ek daar is om dit te beantwoord. Ek sal jou help om in beide te groei, dat jy ander deur My Liefde, vryheid kan laat beleef. Wees nie besorg oor die oordeelsdag as jy dit kon regkry om die vlees as middel tot geestelike doel te gebruik nie, maar bid om My hulp en insig as jy nog nie verstaan dat geloof rondom die wen van siele tot die Liefde draai nie. Ek wil alles aan jou duidelik maak en gebed is My sleutel tot jou hart. Amein. Met Liefde, Jahshua. 

Woord aan Nalize, 5-6/11/2011

Weer is die volk onder bespreking en Ek maak dit `n onderrigsessie tot verheldering van julle siele. Moet jouself nooit distansieer van 'My Volk' as versamelwoord nie, want met die volk is verbonde en `n huwelik gesluit. As jy vervreemd is van My volk, ontken jy al My beloftes en lewende werking. Al waarop jy dan kan fokus, is genesing en vrywording van onderdrukking. Ek sal jou daarmee help as Ek jou Redder in jou hart is, maar Ek begeer om jou nader aan My te laat groei. Die verbonde, wette en feeste is middele om die Volk My rus en blydskap te laat ervaar om saam met hulle te lewe. Dit is nie die rede vir Ons saamwees nie, want die rede bly My Liefde, maar dit bewerk groei in die Liefde as dit met die hart uitgevoer word. Moet `n 'Liefling' dit saam met `n 'kind' herdenk? Ja, die Liefling ken die diepere betekenis van sake, wyl die kind hom net in die vleeslike verbly, maar beide se vreugde is reukwerk voor My aangesig, want dit is die beste waartoe die siel in staat is. Dit maak ook nie saak hoeveel die 'liefling' weet van My wee nie. Die 'kind' gaan nie blydskap daarin hê om dit te hoor of ter harte te neem, solank hy/sy nie die volwassenheid van gees bereik het om dit hulle eie te maak nie. Bly daarom by My, die Liefde, en jy sal gemeensaamheid met alle naastes maklik bemeester. Begryp net waarin die siel vreugde vind en hoe hy dan opreg sy dankbaarheid teenoor My uitleef. Amein.

Ek deel die vreugde van siele op alle vlakke en seën hulle opregtheid om diensbaar te wees. Amein





[terug]