Abba Vader aan Judith - Openbaring 10 tot 12

  

Openbaring 10

6 Junie om 07h30

My stem het gisteraand stil binne jou geword en hartseer het jy gedink dat Ek jou verlaat het. Dit is maar net nog ‘n paar dae wat jy van My stem binne jou hart bewus is en ‘n groot treurigheid het oor jou gekom nadat hierdie groot gevoel van verlies hom meester van jou gemaak het. Waar is U? het jy in jou hart uitgeroep en Ek het jou langsamerhand geantwoord: Ek is ‘n jaloerse God wat Myself nie sal laat deel met jou wêreldse gedagtes nie. Terwyl jy gisteraand hierdie diep drang binne jouself ondervind het om alleen met My jou Vader in die privaatheid van jou kamer, in die binnekamer van jou hart met My te kan praat, het jy verkies om ander se gevoelens te spaar en eerder ‘n video saam met hulle te kyk. Ek is nie ‘n skakelaar wat jy na eie willekeur kan aan- en afskakel nie. Jy het ‘n ver en moeilike pad gekom om ‘n sekere mate van suiwerheid te bereik, wat geweldig deur My barmhartigheid en genade aangevul is, sodat jy My stem in jou binneste kan hoor. Dit bly steeds jou vrye keuse om te besluit of jy My of die wêreld om jou wil aanhang. Ek is egter ‘n enige God wat My nie sal laat vermeng met dit wat van die wêreld is nie. Dit is waarom so baie My kwansuis hartstogtelik soek, maar nooit kan vind nie, deurdat hulle My met hulle wêreld van woeker en vermaak wil deel, waar Ek ‘n tweedehandse en minderwaardige posisie moet inneem en almal my ‘n twyfelagtige ou plekkie in ‘n besige skedule wil gee. Daarna heel ingenome by hulleself dink dat Ek nou moet hande klap oor die krummeltjies wat na My, hulle Vader, se kant toe geskiet word. Die tyd nader vinnig dat Ek die deure van My ark gaan sluit. Wie hierna tevergeefs daaraan gaan hamer en in benoudheid gaan uitroep: “Maak die deure vir ons oop sodat ons na binne kan kom. Het ons nie in U Naam dit en dat gedoen nie”, gaan van My die volgende bekende antwoord kry: “Gaan weg van My af. Ek ken julle nie”.

 

Openbaring 11

6 Junie om 09h30

Jou vraag vandag is of die pad na My hart deur die kennis of die liefde geskied. Jy wil ook sekerheid hê of hierdie werke wat deur jou hand geskied, in Engels vertaal moet word.

Ons begin vandag met jou tweede vraag eerste. Julle baie klein volkie is my volk wat as voorbeeld vir die hele wêreld sal dien. Self deur die enorme foute wat julle begaan het, sal dit ook as ‘n leerskool vir alle volkere dien. Daarom sê Ek weer: Verbly jou O Sion, die hart van jou wese sit in die Suidpunt van Afrika. My dag het naby gekom dat ek hierdie vertrapte klein weeskind by die hand gaan vat en met die genade van My liefde sal Ek Myself hom reinig. Onder My leiding sal hy in Gees en Waarheid oor my nuwe volmaakte aarde regeer. Sion, jy is my uitverkorene wat dwars oor die hele wêreld verteenwoordig is en in al jou onontbeerlike lede, sal jy as een koning onder die naam Melgisédek uit jou “HART” oor my volmaakte skepping regeer. Vertaal daarom hierdie werke ook in ander tale.

Wat jou eerste vraag betref: Om My ywerig deur die versameling van baie kennis te soek, sal vir jou van baie belang wees wanneer jy die dag by jou slotsom kom dat jy slegs deur die liefde die deur van My hart vir jou sal open. Hiermee het Ek jou ook klaar die antwoord oor die weg van die liefde gegee.

  

Openbaring 12

6 Junie om 14h30

Die woord binding word omtrent altyd met die woord okkulte in verbinding gebring. Maar Ek sê aan julle: Moet nooit `n binding op enigiemand bring deur enige vorm van manipulasie wat in hierdie dae Satan se magtigste werktuig is nie. Satan se naam kan in hierdie eeu met reg deur die woord manipulasie vervang word. Deur verskillende vorme van manipulasie beheer regerings mekaar oor en weer. Banke op hul beurt, manipuleer deur middel van effekte en valuta beheer, weer die regerings. Oorkoepelende gesondheidsorganisasies manipuleer en beheer geneesmiddels, entstowwe en verwante middele om sodoende weer beheer oor ander gebiede te verkry. Sterker state kraai koning, omdat hulle die alleenbeheerders van stapelvoedsel is en besluit wie en watter armoedige en honger land, wat en waar sal kry in ruil vir daardie land se onontginde grondstowwe. Deur die vruggebruik van hierdie stowwe, manipuleer hulle weer `n volgende land. Selfs die graan word in massaproduksie deur manipulasie gekweek. En so het almal, in `n wêreldwye netwerk, almal se slaaf geword. Satan, as die vors van hierdie wêreld, het dan ook sy doel deur manipulasie bereik en sy heerskappy wat besig is om sy top te bereik, is besig om ook sy voltooiing te nader. Ek self gaan die mat onder die ekonomie uitruk en met `n slag gaan dit wêreldwyd ineenstort om nooit weer in sy huidige gedaante op te staan nie. Daarom maak Ek My kinders daarop attent om nooit enige vorm van manipulasie, hetsy dit op `n eggenoot, kind, werknemer of wie ookal is, uit te oefen nie, omdat dit een van die grootste gruwels in die oë van My, julle Vader is.

 





[terug]