BOODSKAP AAN NALIZE OP 13 SEPTEMBER 2013

Skryf, Nalize, omdat EK IS wat EK IS jou opdrag gee. Skryf aan MY Volk in verdrukking en verstooiing. 'n Nuwe volk sal hulle wees oor 'n dag of twee (in die gees) wanneer Ek hulle bymekaarmaak soos 'n kudde wat teen die aand moet huiswaarts keer. Lukaas van Hout, MY Kneg, dra swaar aan wat Ek hom opgelê het, want sy taak is uitermate groot. Jou het Ek geroep vir ander werk, maar in My Liefde sal Ek ook julle bymekaarbring om in Gees te verenig as werkers wat die taak van Liefde oor My Volk opgeneem het. Nog 'n klein rukkie, dan sal julle mekaar herken en vind in My, want daarin lê seën en insig. Ek sal tussen julle wees en julle lei om te spreek wat Ek wil onder die wat Ek bymekaar geroep het as getuies. Laat jou vurige hart vir Waarheid en Goedheid Vrede vind in My Beloftes.
Die seen wat vir julle sal ontspring uit gedeelde boodskappe lê in die feit dat Ek, wat verlos, julle met My verenig. Julle sal op water loop sonder wantroue, want in dae wat kom sal My Volk geloof benodig en julle wat dit nou reeds uitleef, dra die Lig waarmee hulle moet kyk om nie in die donker te struikel nie.
Ek roep jou nou om weer op te staan as getuie, dissipel en werktuig met al jou nuwe kennis, om dit aan My Volk te wy daar waar Ek jou heen stuur. Maak My Volk jou huis en bring jou kinders met jou saam om te leer wat Liefde en geloof is. Ek sal jou klee, voed en versorg tot in die kleine as jy hierdie aanneem.
Hoe dan? vra jou hart My, want is jy nie jou man jou teenwoordigheid en diens verskuldig nie? Ja, MY Lief, EK IS jou man in hom wat jou gegee is. Deur hom versterk Ek jou en dra Ek jou, maar moenie jou kwel oor watter plig jy moet beklee nie, want die Lig sal val op jou take en almal sal verstaan waarom jy kies soos jy kies. EK IS. Amein. Hierdie woorde het Ek aan jou gegee om neer te skryf, sodat almal sal weet dat Ek jou gestuur het, wanneer jy na hulle gaan. Jy, as vrou, dra MY LIEFDE, wat sal versterk en genees, lei en red. Amein.




[terug]