WOORD AAN NALIZE ROETS OP 24.03.14 TOT 4.04.14

Woord aan Nalize op 24/3/2014 (4h00)
Hiermee gee Ek, Jahweh, opdrag aan Nalize om my woorde aan haar neer te skryf, sodat elkeen wat wonder rus kan vind en kan fokus daarop om My Wil uit te voer en My te dien.
Ek, Jahweh, Jahruag, lewend vir julle in Jahshua het die jaar se einde bewerk as 'n simbool van verlossing tesame met die sewe dae van vas. Dit het reg geëindig en begin volgens My orde, aangesien vele gebeure die jaar se duur beinvloed het. Ek wil hê dat vandag die tweede Abib sal wees in julle boeke en dat die feeste sodanig van hier af bereken sal word. Wat Ek aan Lukaas gee om te verwoord is baie belangrik as voorbereiding van julle siele op die dae wat kom, want die einde van julle slawe-lewens het gekom. Ek bevry julle, deur barensnood ook dus in hierdie jaar van die vyand se houvas op julle. Soek My daarom elke dag van vroeg tot laat, so dikwels julle onthou, in julle binnekamers van julle harte, sodat EK julle vreugde en verlustiging kan bly in die sware dae wat gaan volg. Die Dawid en Salomo-leiers onder julle sal weer die lewe en toestande begaanbaar en leefbaar moet maak vir die oorlewendes, dus vra Ek erns en deursettingsvermoë van hulle om hulle daarin te lei. EK IS spreek hierdie woorde en voeg by dat Ek alleen die Almagtige is wat julle sal bymekaarmaak uit julle skuilplekke nadat die emmer bloed omgeval het. Moenie voor die tyd fokus op die eenheid en samekoms nie, want die tyd sal wel daarvoor aanbreek. Fokus eers op die herkenning van My Stem in julle harte en Ek sal julle versteek en in die arms van My engele vertroos wyl smarte oor die aarde rol. Amein.
Ek vind vreugde in julle behoefte om reg te handel en julle weë te rig volgens My Wil. Moet dus nie met suur gesigte die tye oordink en julle gemoed belas met donker oomblikke vol wanbegrip nie. Die wie die tye moet uitspreek en aankondigings maak sal wel die Lig in hulle harte ervaar, wat sake kan uitlê. Amein.
Elkeen het sy rol, doel en plig in My Ryk. Die rol van die helper is ewe nodig teenoor die rol van die bestuurder van menigte, net soos die priester net so nodig was soos die tempeldienaar. Wees blymoedig die een wat Ek jou nou oplê om te wees, want in die mate van jou sukses met een roeping onder siele, sal jy meer ontvang om oor rekenskap te gee. Amein.
Liefde vir julle is My dryfveer, soos Liefde teenoor My hele skepping. Die dae is lank sonder die skepping se beantwoording van My Liefde en Ek verlang daarna. Bekeer daarom vanaf hierdie vas, elke voedseldeel wat jy inneem om te help in die beantwoording van My Liefde, deur water en dus nederigheid daarmee te vermeng. Ek sal julle waters seën as julle dit daagliks aan My wy, want net Ek kan die storms stilmaak. Word nie oproerig, boos, liggeraak of stompsinnig nie. Word wakker en kalm, My wagters, want die Heiligdom binne julle is die rede vir die roeping. In julle midde is Ek, Amein. Jahshua, Amein.

Woord aan Nalize op 27/3/2014 (3:30am)
Ek, Jahshua, Jahweh, die Een wat alle lewe op aarde geformeer het wil hê dat ieder en elkeen wat toegewy is tot die herskepping van sieledele in Liefde hierdie boodskap hulle eie moet maak. Kyk op na My en vra My wat die les vir jou is daarin, want elkeen se les sal verskil. Amein.

1 - Lewe elke dag asof dit jou laaste dag is, in Liefde.
2 - Lewe met die oog op jou nagedagtenis op aarde.
3 - Lewe, want in die dood is lewe net 'n wens.
4 - Ywer, want in elke dag is daar net soveel krag jou gegun.
5 - Soek My, want Ek sal vir jou deure oopmaak wat jy nie verwag het of gedink het moontlik is nie.
6 - Lewe in oorgawe, sodat almal die gawe van Lewe deur jou kan waardeer.
7 - Onthou jy is My Beeld onder mense en HOE jy lewe vorm ander se persepsie van My.
8 - Dra My as jou embleem, deur goed te doen aan ander en geduld toe te pas in jou werke.
9 - Bly nederig, sodat Ek jou met 'n kleed kan oordek en dit jou sal bedek. Wees nie groter as die kleed, sodat dit jou in skaamte dompel nie. Amein.
Ek Jahshua WIL dat My geliefdes fokus op My, al bly hulle daagliks besig met harde arbeid in die vlees. Bly in gebed, soos in die vas-tyd, sodat jou hart verseël kan bly van die wêreld se sorge en verleiding. Mag die vlees julle geleentheid bly tot veredeling van julle siele en hoegenaamd nie die las tot verleiding en ondergang wat Satan dit maak om te wees nie. Amein.
Ek, Jahshua, julle Meester, nooi weer die skares van My volk, verstrooi oor die wêreld, om deel te word van die Liefde, as lewenswyse op aarde. Vele geloofsgroepe het reeds die neiging begin, maar verstaan nog nie die sieleleer rondom dit nie. Laat My voorbeeld in julle ander lei tot gesprekvoering daaroor en slegs dan mag julle My geheimenisse aan hulle openbaar. Amein.
Ek wil dat jy wat hier lees weer hierdie skryfstuk sal lees om elke woord jou eie te maak as versterking en herinnering, want die pad word nouer. Amein.
Hou vas aan My en bid My om Lig te werp op jou roeping, want net Ek kan dit aan jou openbaar. Amein.
Ek sal julle verlos, My Volk. Hou nie die tyd dop nie, want geeneen sal voorbereid wees op die uur wat Ek ingryp nie. As jou ankers egter in My en nie die Tyd lê nie, sal jy saam met My beweeg, soos Ek versoek. Amein .
Met Liefde gegee aan elkeen wat na My verlang. Amein.

Woord aan Nalize op 1/4/2014
Neem jou pen en skryf My Naam: JaHWeH, soos Ek jou van kleins af geleer het. Dit is die eenvoud en Liefde waarin Ek wil hê julle My moet aanroep. Bou jou geloof op daardie Naam en jy sal seën ontvang. Verder moet jy skryf JaHWèshua. Dit sal die naam wees wat jy verder moet gebruik in jou skryfwerk om My mense op My pad te lei. Amein.
JaHWeH roep in die wildernis: Dooie bene, beklee julle met vlees, want julle diens word benodig. Wees vir My 'n Volk en Ek sal julle Elohim wees. Wees vir My Liefde. Amein.
My erfdeel en oorblyfsel, verdubbel in getalle deur die geroepe beendere te ontvang as julle broers en susters. Weet hulle het nie 'n geskiedenis saam met My nie, maar wel 'n toekoms saam met My. Amein.

Woord aan Nalize op 4/4/2014
Ek, JaHWèshua spreek tot My Volk. Vergader in My Naam vir die Pasga, want daar sal Ek met julle wees om die brood te deel en elke Liefde wat verlang na My te voed. die ongesuurde brood by die fees is die teken van julle harte voor My, wat gereed is om My nuwe ewige orde binne te gaan en dit sal Ek aanneem en seën. Word gou gereed, want baie van julle besef nog nie die erns van die dag nie. Hierdie fees is die aankondiging van verandering, op julle verootmoediging. Amein.
JaHWèshua, Amein.  





[terug]