Openbaring 19 deur Judith de Beer

Openbaring 19

Woensdag, 13 Junie 2007 om 6h00

Graag wil Ek tot My liewe kinders spreek wat ondanks hierdie onstuimige donker tye met vrolike harte trou op My koms bly wag. In baie groot gevaar gaan jul veilig onder My beskerming staan, terwyl julle op `n nuwe volmaakte aarde wag.

Maar hoe treurig voel `n Vaderhart oor die verlies van miljoene kinders wat met vreesagtige harte, benoud op globale vernietiging wag. En al wat hul kortkom is `n enkele tree in die rigting van My uitgestrekte Hand wat liefdevol na hulle uitgehou word, vertrouend moet hulle die eie hand daarin plaas, sodat Ek hul beskermend in die kring van My Vaderarms kan trek waar geen kwaad hul ooit weer kan raak nie. Maar net soos Lot se vrou, kyk hierdie wêreldlinge hartseer en verlangend terug na hul wêreld vol skatte en hul harte versteen in `n dooie soutklont en vir ewig word hul vasgevang in `n dooie wêreld van materie. Vinnig hardloop die uurglas leeg en soos `n kaartehuis wat inval is hul kunsmatige wêreld besig om ineen te stort en in die chaos wat volg gaan stemme hartverskeurend na My roep en die stem wat hul versmaad het, sal stil wees.

Beangs sal hul na hul grootste vyand, die dood, loop soek en hom verdrietig smeek, “staan nader liewe vriend sodat ons jou kan omarm, in jou vergetelheid wil ons wegsink”. Maar laggend sal die dood wegdartel terwyl hy spottend vir hul sing:

“Jou dwaas, die dag wat jy die Lewenshand weggeklap het, het ek jou klaar omring

en in my ingewande is jy toe alreeds gebring,

waar jy ewig in berou jou tyd stadig deur gaan bring.”

Daarom spreek Ek nog eenmaal tot elke wêreldling. Vir oulaas hou Ek my hand van verlossing na julle uit, maak baie vinnig daarvan gebruik.





[terug]