Openbaring 21 deur Judith de Beer

Openbaring 21

15 Junie 2007 om 20h30

Huidiglik is daar ‘n paar onder julle wat van ‘n dringendheid binne julleself bewus raak. ‘n Ongekende opgewondenheid heers in julle gees, terwyl jou hart skaam aan jou fluister “Ek weet ek is ook Sy kneg”. Omdat julle bang is om voorbarig te wees, onderdruk meeste van julle hierdie gevoel met ‘n te oordrewe nederigheid. Deemoed is wel van die grootste belang om as een van my dienare werksaam te kan word. Die tyd is egter nou ryp om My dapper en met ‘n bietjie waagmoed te nader en jouself as ‘n kleine kneg beskikbaar aan My te kom stel. Daar is wel ander met hope potensiaal wat hulleself vrypostig as leiers wil aanstel. Maar My guns gaan op die val wat My uit opregte liefde met hart en siel daar wil dien, waar ander nie voor kans sien nie. Bly dus met julle voete plat op die aarde, terwyl julle met die hand uitreik na die hoogste pieke in My ryk, en terwyl julle harte die onmeetlike dieptes van My liefde binnedring. Ja, julle, My uitverkore geliefdes, vir wie Ek ewighede gelede hierdie tyd en plek in gereedheid gebring het. Open daarom die heilige tempel in die sentrum van jou wese, sodat ek binne kan tree en julle deur My mag en krag diensbaar kan maak. Ek is die hoeksteen en julle die sluitstene en daarmee sê Ek, dat julle die kontakpunt tussen die gees en alle materie is. Saam sal julle een groot kommunikasie siel wees waardeur My Alomvattende Gees in al sy skeppings sal spreek. Maar as geliefde enkelinge sal Ek elk van julle, My kinders, volgens sy eie wese bemin. Die, op wie hierdie boodskap van toepassing is, sal My boodskap hierin baie goed verstaan.





[terug]