Openbaring 29 deur Judith de Beer

Openbaring 29

24 Junie 2007 om 22h00

In My antieke tye het daar ‘n baie besonderse vrou geleef wat oor ‘n baie vrugbare en ryk landstreek in die Suide van Afrika geheers het. Hierdie land en koninkryk was van die mees vrugbaarste en geseënste rykies ooit. Dit het egter voortdurend vir hierdie koningin bly voel of daar nog iets was, wat onvolkome was. Gedurigdeur was sy besig om haar ryk met die van ander koninkryke te vergelyk. Goud, koper en ivoor, asook allerhande handelaars was volop en so was ook die nuus wat hulle van oor groot dele van die wêreld na haar gebring het. Gerugte van die baie wyse en ryk Salomo was dan ook vinnig die middelpunt van haar totale belangstelling. So opgewonde soos ‘n kind wat op heerlike lekkernye wag, net so het sy in afwagting gelewe vir brokkies nuus, oor die koning van Israel. Dit was ook nie lank nie of daar was met groot voorsorg gereed gemaak om met ‘n baie groot karavaan belaai met die kosbaarste geskenke, die bykans onmoontlike lang tog, na die landstreek van koning Salomo te begin en gedetermineerd het hierdie betreklike jong koningin van Skeba, met haar groot gevolg, hierdie reis suksesvol afgehandel. Baie gevlei het die ietwat verwaande Salomo hierdie vrou vanuit die suide gasvry ontvang en soos ‘n onversadigbare spons het sy die vernuf waarmee hy sy land regeer het, asook die wyse waarop hy die regstelsel, weermag en handel behartig het, ingedrink en die infrastruktuur van sy stad het haar gefassineer. Ja alles het haar bekoor. Dit alles het sy met die fynste detail geabsorbeer en niks van sy wysheid het haar ontgaan nie en baie vinnig het sy tot die slotsom gekom wat die ware Wysheid agter Salomo se wysheid was en skalks het sy by haarself geglimlag en in haar hart het ‘n loflied soos ‘n fontein ontspring. En dit het as sulks gelui. “Groot, ja baie groot is die God van Israel wat orde en reg na Sy volk deur Salomo bring. Lief, ja baie lief het Hy hierdie volk “van Hom”. Die koningin van Skeba het haar antwoord gevind, tevrede en oorlaai met baie geskenke het sy terugwaarts gekeer. Maar haar mees kosbaarste geskenk was hierdie lied in haar hart, wat Sy saam met haar terug na die suidelike deel van Afrika gebring het, waar dit geheimsinnig in die stiltes van die eeue tot en met vandag behoue gebly het. Vanwaar dit in hierdie tyd van die tye, tot ‘’n getuienis van haar, weer klokhelder vanuit die suide van Afrika opklink: “Groot, ja baie groot is die God van Israel, wat orde en reg, ja ook vrede na Sy volk deur liefde en wysheid sal bring. Lief, ja baie lief het Hy hierdie volk van Hom”.





[terug]