Openbaring 44 deur Judith de Beer

Openbaring 44

10 Julie om 5h00

Julle mense eer mekaar oor die een of ander onsinnige prestasie, posisie of bloot die hoeveelheid geld wat `n persoon tot sy beskikking het. Sekere mense word so deur die media en samelewing oor iets onsinnig vereer en tot halfgode verhef, dat die mensdom die ligsinnige lewenstyle van hierdie idole, soos papegaaie naboots. Ja selfs die kosbaarheid van die mens se bestaan, word aan etikette gemeet wat op verganklike klere verskyn.

Onvervangbare, kosbare tyd, gaan vir ewig deur hierdie soort van ydelheid verlore. Daar is slegs `n baie kort aardse lewe aan julle toegestaan, om die keuse te kan maak, wat die res van julle geestelike bestaan gaan bepaal.

Vir my kinders het Ek in my onmeetlike hemelse woning, ondenkbaar baie salige ordes en skeppinge voorberei, waar hulle as goddelike erfgename en instandhouers, werksaam gaan wees. Omdat alle lewe uit My onsterflik is, sal ook die onsuksesvolle lewe wat hier op aarde eindig, vir ewig bly voortbestaan en passief sal dit in `n ewige, nie-werksame orde tot stilstand kom. Maar met volle bewussyn sal hierdie siele bly voortbestaan om in sinsbedrog en `n illusie, die lewe as `n hallusinasie ewiglik en tevergeefs na te jaag, wat niks anders as die ewige dood op sigself sal wees nie. As oneindige geeste, is julle in nietige liggame op hierdie aarde gebore, om as onbegrensde geeste, julle toets in `n begrensde liggaam te kom aflĂȘ. Omdat dit vir die mens onmoontlik geraak het om hierdie kloutjie by die oor uit te bring, het Ek, met my menswording op aarde, julle te hulp gesnel, om nie net `n voorbeeld nie, maar ook `n suiwer leerstelling te bring, sodat dit vir julle weer moontlik kon wees, om julle pad terug na die Vaderhuis te vind. Maar helaas het hierdie leer so verdraaid geraak, dat die wegwyser die pad nie meer noukeurig kon aanwys nie. Maar in My wysheid het Ek weereens vir die mens `n alternatiewe kortpad na die volmaakte ewigheid voorberei en dit is deur middel van die liefde. Indien elke mens op hierdie aarde sy hand na slegs een sondaar sou uitsteek, om hom in liefde op te help, om sodoende ook sy weg suksesvol te kan volbring, sou hierdie aarde reeds `n volmaakte hemel op sigself gewees het.





[terug]