JESUS LEER ONS OOR DIE DRIE-EENHEID

Verklarings oor die Drie-Eenheid vanuit die “Nuwe Openbaring van Johannes” deur Jakob Lorber.
BOEK 1 – HOOFSTUK 21


Die Heer gee vir Nikodémus nadere insig oor sy menswording. Wie nie in die Heer glo nie, is alreeds geoordeel.
[Johannes 3: 16-21]


16 Want so lief het JaHWeH die wêreld gehad dat HY SY eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die Ewige Lewe kan hê.
21 Ek sê: “Ek sê vir jou: God is Liefde en die Seun is Sy Wysheid. En so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun, dit is Sy ewige uitgaande Wysheid in hierdie wêreld gegee het sodat almal wat in Hom mag glo, nie verlore mag gaan nie, maar die Ewige Lewe sal ontvang. – Sê vir My, verstaan jy dit ook nie?”
[2] Sê Nikodémus: “Ek kry die gevoel dat ek dit verstaan, maar dan verstaan ek dit werklik nie. As ek net kon weet waar die Seun van die Adam inpas, dan sal ek verstaan. U het ook gepraat van God se eniggebore Seun, wat deur die Liefde vir die wêreld gegee is. Is die ‘Seun van Adam’ en ‘God se eniggebore Seun’ een en dieselfde persoon?”
[3] Ek sê: “Kyk hier, Ek het `n kop, `n lyf en hande en voete. Die kop, die lyf, die hande en voete is Vlees, en hierdie Vlees is die Seun van Adam, want wat vlees is, kom van die vlees, maar in die Seun van Adam wat Vlees is, woon God se Wysheid en dit is God se eniggebore Seun. Nie God se eniggebore Seun, maar slegs die Seun van Adam sal, soos die brons Moses-slang in die wildernis, verhoog word en baie sal aanstoot neem daaroor. Daardie wat nie aanstoot sal neem en sal glo en vashou aan Sy Naam, aan hulle sal Hy mag gee om kinders van God genoem te word en hulle lewe en koninkryk sal vir ewig wees.
17 Want God het SY Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
[4] Jy moet nie die oordeel van die wêreld verwag nie, soos byvoorbeeld oorloë vloede of selfs vuur uit die hemele wat alle heidene sal verteer nie. Want waarlik, God het nie Sy eniggebore Seun (goddelike Wysheid) in die wêreld gestuur (in die menslike vlees) om hierdie wêreld te oordeel (te vernietig) nie, maar om haar ten volle te red, dit is sodat ook die vlees nie mag verderwe nie, maar sal opstaan in die Ewige Lewe saam met die gees (Onder vlees moet in hierdie geval nie soseer die fisiese vlees beskou word nie, maar eerder die vleeslike begeertes van die siel). Ewenwel, om hierdie toestand te verkry, moet die materiële gesindheid van verhewenheid in die vlees vernietig word deur geloof, naamlik geloof in die Seun van Adam dat Hy in die wêreld gekom het, gebore van ewigheid vanuit God, sodat almal wat glo en vashou in Sy Naam, die Ewige Lewe sal hê.
18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
[5] Wie ookal, of hy `n Judeër of `n ongelowige is, en in Hom sal glo, sal nooit, ooit geoordeel word en tot niet gaan nie, maar die een wat aanstoot sal neem in die Seun van Adam en nie in Hom gaan glo nie, is alreeds geoordeel. Want die feit dat hy nie wil en nie kan glo nie omdat sy gevoel van verhewenheid veroorsaak dat hy aanstoot neem vir die Naam en natuur van die Seun van Adam, is alreeds so `n man se oordeel. Verstaan jy dit nou? Ek het dit nou baie duidelik aangebied.”

BOEK 4 HOOFSTUK 110

Die doop. Die drie-eenheid in God en die mens

110 Cyrenius vra: "Heer, ek glo alles wat U, o Heer, onderrig; beteken dit dan dat ek gedoop is?"
[2] Ek sê: "Nee, jy is weliswaar nog nie gedoop nie, maar dit is nie waaroor dit nou hier gaan nie! Want wie glo soos jy, beste vriend, is in die gees so goed as gedoop en wel met alle seëninge van die doop.
[3] Die Judeërs het wel die besnydenis, wat `n voorloper is van die doop en wat op sigself en vir My geen enkele waarde het as die besnedene nie ook terselfdertyd `n besnede hart het nie. Ek bedoel met `n besnede hart `n gereinigde en met alle liefde vervulde hart, wat meer werd is as alle besnydenisse vanaf Moses tot en met nou. Na die besnydenis het die waterdoop van Johannes `n tyd lank gekom, wat deur sy leerlinge (dissipels) voortgesit word. Hierdie doop beteken op sigself egter ook niks as die verlangde boetedoening dit nie reeds voorafgaan het nie, of tog heel seker daarop sal volg nie.
[4] Wie hulle dus met water laat doop met die ernstige voorneme om hulle te verbeter, begaan daarmee geen fout nie; hulle moet net nie glo dat die water hulle hart sal reinig en hulle siel sal versterk nie. Dít gebeur slegs deur die eie, algeheel vrye wil; die water bewerkstellig net `n teken wat aandui dat die wil, wat die lewende water is van die gees, nou die siel op gelyke wyse van die sonde gereinig het soos wat die natuurlike water die kop en die res van die liggaam van stof en andersoortige onreinhede reinig.
[5] Wie die waterdoop daadwerklik ondergaan het, is volkome gedoop, as die wil tydens of reeds vóór die doophandeling in die hart van die dopeling sy werk gedoen het. As dit nie die geval is nie, dan het die waterdoop in sigself ook nie die minste waarde nie, en bewerkstellig geen seën van die materie, en nog minder die een of ander wyding daarvan nie.
[6] So ook het die waterdoop by onmondige kinders heeltemal geen waarde nie, behalwe net die van `n uiterlike teken van opname in `n goeie gemeente, en dat die kind die een of ander naam kry wat vir die lewe van die siel duidelik nie die geringste waarde het nie, behalwe slegs `n uiterlike, staatkundige waarde. Daarom sou `n mens die kind ook sonder die besnydenis en sonder die waterdoop van Johannes `n naam kon gee, en dit sou vir My heeltemal geen verskil maak nie; want nie die naam wy die siel van `n mens nie, maar slegs die vrye, goeie wil om na beste wete sy lewe lank goed te handel. Iedere naam kan deur die wil en die handel gewy word; maar omgekeerd is dit onmoontlik en nooit die geval nie.
[7] Toe Johannes gedoop het, het hulle na hom en ook na sy leerlinge kinders gebring om te doop, en hy het hulle dan ook gedoop as daar vir die kind gewetensvolle voogde instaan, wat plegtig beloof om vlytig alle sorg vir die geestelike opvoeding te dra. Nou, in hierdie geval kan `n kind ook wel vanweë die naam in water gedoop word; maar dié doop wy die siel en die liggaam van die kind nie langer as totdat die kind tot die ware kennis van God en homself en tot die gebruik van die vrye wil gekom het nie. Tot dié tyd moet die voog uiters gewetensvol daarvoor sorg dat die kind in ruim mate voorsien word met alles wat ter verkryging van die ware wyding nodig is - omdat die siel van die voog andersins alle verantwoording op hom gelaai kry.
[8] Dit is daarom beter om die waterdoop eers dan te laat verrig wanneer `n mens self in staat is om alle voorwaardes tot wyding van sy siel en sy liggaam vanuit eie insig en uit vrywillige selfbeskikking te vervul. Trouens is die waterdoop vir die wyding van die siel en die liggaam glad nie nodig nie, maar alleenlik die insig en die handeling volgens die korrekte kennis van die Waarheid uit God. As daar egter met water gedoop word, hoef dit nie spesifiek met Jordaanwater te gebeur vanweë die feit dat Johannes in die Jordaan gedoop het nie, maar dan is alle vars water goed daarvoor, fonteinwater egter tog beter as putwater omdat dit vir die liggaamlike gesondheid meer bevorderlik is as die minder skoon water uit die reënput.
[9] Die egte en vir My alleen-geldige doop, is dié met die vuur van die liefde tot My en die naaste, en met die lewende, vurige wil, en met die Heilige Gees van die ewige Waarheid uit God. Hierdie drie punte is dit wat in die hemel vir elkeen `n geldige getuienis gee. Dit is: die liefde, as die ware Vader; die wil, as die lewende en daadwerklike Woord of die Seun van die Vader; en ten slotte die Heilige Gees, as die korrekte begrip van die ewige en lewende waarheid uit God, maar dan lewend werksaam in die mens en alleenlik maar in die mens! Want wat nie in die mens is, en nie uit die algeheel eie wilsimpuls geskied nie, het vir die mens geen waarde nie, en omdat dit vir die mens geen waarde het en kan hê nie, daarom kan dit ook vir God geen waarde hê nie.
[10] Want God Self as sodanig beteken vir die mens só lank niks, totdat die mens God deur die leer leer ken het, en deur die liefde Sy wil algeheel sy eie maak, en deur die lewendige, vurige wil al sy doen en late geheel en al skik na die wil van die Allerhoogste, wat hy nou ken. Eers daardeur word God se ewebeeld lewend in die mens, en groei en deurdring weldra die hele wese van die mens. Onder dié omstandighede gebeur dit dan ook dat die mens na al die dieptes van die Godheid deurdring; want die ewebeeld van God in die mens is volkome gelyk aan die beeld van één en dieselfde God van ewigheid.
[11] As dít by die mens plaasvind, is alles in hom gewyd en is die ware doop van die geestelike wedergeboorte bereik. Deur dié doop word die mens dan `n egte vriend van God en is hy innerlik net so volmaak soos die hemelse Vader volmaak is. En Ek sê vir julle uitdruklik (a) dat julle almal met al julle kragte daarna moet strewe om ewe volmaak te word soos wat die Vader in die hemel volmaak is! Wie nie so volmaak word nie, kom nie tot die Seun van die Vader nie. ( a) Lev. 11:44; Lev. 19:02; Lk. 06:36).
[12] Wie is dan die Seun? Die Seun is die Liefde van die Vader. Hy is die Liefde der liefde, Hy is die Vuur en die Lig, Hy is die Seun van die Liefde of die Wysheid van die Vader. As die ewebeeld van die Vader dus in julle is, dan moet dit in alles net so volmaak word soos die ware Vader Self, omdat dit anders geen ewebeeld van die Vader sou wees nie; maar as dit as ewebeeld nie volmaak is nie, waar moet die mens dan die wysheid vandaan kry of hoe moet die mens dan tot ware Wysheid kom?
[13] Soos wat die Vader Homself altyd in My vind, so vind Ek Myself ook in die Vader, en so moet julle, julle in julleself vind, dan sal julle julleself daardeur ook in God vind en God sal Homself in julle vind. Soos wat Ek en die Vader één is, so moet julle ook eers in julleself één wees met die ewebeeld van die Vader in julle. As julle dít is, dan het julle ook met My en met die Ewige Vader één geword, omdat Ek en die Vader in My van ewigheid af volkome één is!”
[14] Toe sê die leerlinge: "Heer, dit verstaan ons nie! U lesse word moeilik! Ons vra U dringend of U Uself ook nou weer duideliker sou wou uitdruk!"
[l 5] Ek sê: "Verstaan ook julle dit dan nog steeds nie? Hoe lank sal Ek julle nog so moet verdra?! O, hoe gebrekkig is julle wese nog! Maar aan julle sal dit gegee word om die geheim van die Ryk van God op aarde te verstaan!
[16] Waar is dan die gedagtes van julle hart?! Meermale het Ek al dit aan julle verduidelik wie die Vader en wie die Seun is, dat Vader en Seun hulle in net so verhouding bevind as wat Liefde en Wysheid is, of soos warmte en lig. Ek het julle laat sien dat die lig sonder die warmte geen nut sou hê nie, maar ook dat warmte sonder lig geen are op die velde sou laat rypword nie. Ek het julle laat sien hoe uit warmte altyd lig ontstaan, omdat warmte die eerste teken van `n bepaalde aksie is; maar die verskyningsvorm van aksie is die lig, wat toeneem namate `n bepaalde, geordende aksie toeneem, en tog begryp julle nie die 'één-wees' van die Vader en die Seun en die 'één-wees' van julle met My nie!"
[17] Die leerlinge sê: "Heer, word daarom nie kwaad vir ons nie! Ons verstaan dit nou goed en wat uiteindelik nog daaraan mag kortkom, sal ons wel kan aanvul en volgens reg en billikheid probeer verkry!"
[18] Ek sê: "Ek weet goed dat dit sal gebeur; maar Ek sê dit aan julle omdat Ek merk dat dit vir julle meer gaan om vrae te stel as om kennis te bekom."

BOEK 4 - HOOFSTUK 252

Die 'Vader' en die 'Seun' in Jesus

252 Ek sê: "Jy het baie goed gespreek! Die Vader is in alle oorvloed in My; maar Ek in My gedaante as mens is tog slegs `n seun van Hom en weet in My siel ook slegs maar dit, wat Hy aan My openbaar! Ek is wel die vlam van Sy Liefde, en My siel is die lig uit die vuur van die Liefde van die Vader; julle weet immers hoe die lig altyd en orals wonderbaarlik werk!
[2] Die son wat die lig uitstraal, het `n wonderbaarlike innerlike en sentrale inrigting, wat egter slegs aan die binneste van die son self bekend is. Die buitenste, wat alles lewendmakende lig is, weet niks van die binneste nie en dit laat ook nêrens `n beeld sien van die inwendige en sentrale inrigting van die son nie.
[3] Ja, die Vader is reeds van ewigheid in My, maar Sy innerlike openbaar Hom ook slegs maar in My siel, wanneer Hy dit Self wil. Tog weet Ek alles wat van ewigheid in die Vader was; maar die Vader het tog nog heelwat meer in Sy innerlike waarvan die Seun niks weet nie. En as Hy dit wil weet, dan moet ook Hy die Vader daarom vra!
[4] Maar weldra kom die uur, waarop die Vader in My ook met Sy diepste kern volledig één sal word met My, die enige Seun van die ewigheid, soos wat ook die Gees van die Vader in julle siele binnekort volledig één sal word met die siel wat nog in julle liggame sit. Dan eers sal alles vir julle sigbaar word deur die Gees van die Vader wat vir julle tot nou nog onmoontlik sigbaar gemaak sou kon word! En so weet die Vader in My nou nog heelwat meer, wat die Seun nie weet nie! - Begryp julle dit goed?"
[5] Nou sê enkele leerlinge: "Ag tog, dit is weer so `n onbegryplike les! Daaroor sou ons graag weer uitleg wil hê! Want wanneer U en die Vader één is, hoe kan die Vader in U dan meer weet as U! En tog is U volgens wat U daarna sê die Vader Self?! Ag, mag elkeen wat dit kan en wil, dit tog maar begryp - maar ons begryp dit nie! Dit word steeds onbegrypliker! Dit sal wel iets beteken, maar wat het ons daaraan? Ons begryp dit nie! Heer, ons vra U om dit helderder en duideliker te vertel, want hier het ons anders niks aan nie!"
[6] Ek sê: "O kinders, o kinders! Hoe lank sal Ek julle nog moet verdra totdat julle My sal verstaan?! Ek spreek nou soos `n mens vir julle mense en julle begryp die mens nie; hoe wil julle in die toekoms `n suiwer goddelike woord begryp?! Maar om julle daartoe tog bekwamer te maak, sal Ek dit nog ietwat duideliker uiteensit, luister dus baie goed na My!
[7] Stel julle onder die 'Vader' die eintlike liggaam van ons son voor, waarin alle voorwaardes voorhande is vir die voortdurende produsering van die, buitengewone sterk liggewende omhulsel wat vir julle sigbaar is. Die ligtende omhulsel om die sonliggaam is ongeveer dieselfde as wat die atmosferiese lug by die aarde is, wat ook die hele aarde `n paar duisend manshoogte hoog, gelykmatig omgewe en sodoende met die aarde, byvoorbeeld vanaf die maan gesien, `n taamlike sterk liggewende, groot, skynbare skyf vorm.
[8] Maar hoe word die lug van die aarde gevorm? Vanuit die inwendige lewensprosesse van die aarde! Bygevolg is die inwendige van die aarde eers vol lug en versamel haar slegs die oortollige, wat baie aansienlik is, steeds in gelyke mate om die aarde. Maar om voortdurend lug te produseer, moet in die binneste van die aarde `n ewigdurende vuur werksaam wees, wat veroorsaak word deur die groot aktiwiteit van die inwendige geeste.
[9] Stel dit julle nou so voor: Die sentrale vuur kom ooreen met wat Ek 'Vader' noem, en uit alle elemente wat deur die inwendige vuur opgelos word, word die lug geproduseer wat dan ooreenkom met wat ons 'siel' noem.
[10] Die vuur sou egter sonder die lug nie kon bestaan nie en die lug sou sonder die vuur nie geproduseer kon word nie. Die vuur is derhalwe ook lug en die lug is ook vuur: want die vlam is in werklikheid ook slegs maar lug waarvan die geeste uiters aktief is, en die lug is op sigself ook suiwer vuur, maar die geeste waaruit sy bestaan bevind haar in `n rustoestand. Sodoende is dit nou gemaklik te begryp dat in die grond van die saak vuur en lug één is. Maar solank die luggeeste nie tot `n bepaalde graad geaktiveer word nie, bly die lug steeds maar lug, en daarom is daar tussen die geaktiveerde vuurlug, synde vuur, en die nog rustige eintlike lug `n groot verskil,
[11] In die vuur self bevind haar die lig en sodoende, geestelik gesien, die suiwerste en hoogste wete en kennis; in die lug, wat deurdronge is met die lig van die vuur, is dan eweneens `n volledige wete en kennis aanwesig, egter duidelik in `n reeds baie geringer mate. Word die rustiger lug egter ook sodanig geaktiveer dat sy self vuur en lig word, dan is ook in haar orals die hoogste wete en kennis voorhande.
[12] Die aarde lyk daarom met hierdie inrigting van haar soos `n mens. Die binneste vuur is die liefdesgees van die aktiewe siel, en die lug kom ooreen met die siel, wat seker ook `n vuurgees kan wees as sy met die liefde van die gees, dit wil sê deur sy aktiwiteit, heeltemal deurdronge word, waardeur sy dan heeltemal één is met die gees! En dit word die siel deur die wedergeboorte van die gees.
[13] En kyk, presies dieselfde omstandighede vind julle in die son. Binne in haar is `n geweldige vuur, waarvan die ligkrag die ligsterkte van die uitwendige lig-atmosfeer onnoemlike baie kere oortref. Uit die lig ontwikkel daar voortdurend die suiwerste sonlig, en hierdie lug word self aan die oppervlakte van die son vuur en lig, egter in mindere mate as die vuur en die oorweldigende lig daarvan in die magtige sentrum van die son. Maar die buitenste sonlig-atmosfeer is derhalwe in wese tog geheel gelyk aan die vuur in die sentrum van die groot son! Sodra hy selfs sterk geaktiveer word, sal hy ook geheel gelyk wees aan die inwendige vuur.
[14] Wel, die binneste vuur van die son is dus dieselfde as die Vader in My, en Ek is die lig en ook die vuur wat voortdurend uitstroom uit die sentrale vuur, waardeur al die bestaande geskape word, leef en bestaan. So is ek dus in My huidige bestaan die uiterlike sigbare en na buite toe werksaam van die inwendige Vader in My, en op die wyse is alles van die Vader van My, en andersom alles van My van die Vader, en Ek en die Vader moet noodsaaklikergewys volkome één wees, slegs met die verskil, dat in die binneste vuur altyd `n dieper wete en kennis voorhande moet wees as in die uitwendige lig, wat slegs deur die innerlike vuur in die mate geaktiveer word waarvoor dit noodsaaklik is.
[15] Ek sou My egter ook op dieselfde wyse kon mee-aktiveer, maar dan was dit met julle gedaan, net soos wat dit met al die om hierdie son sirkelende hemelliggame gedaan sou wees, sodra die uitstralende lig-atmosfeer van die son die krag sou aanneem van die vuur en die lig van die binneste van die son. Die krag daarvan sou alle geeste in die uitgestrekte skeppingsruimte dermate aktiveer, dat hulle oombliklik verander sou word in `n oneindige, kolossale vuursee wat eenmaal alle materie sou oplos! Wel, die binneste van die sonmaterie is natuurlik so ingerig, dat dit die vuur kan verdra, en dit steeds maar voortdurend daarop stromende, geweldige waterstroom van die voortdurende kringloop - soos wat die bloedsomloop by die mens is - gee die vuur voortdurend werk om die lug te ontbind en opnuut te vorm en daaruit weer water te vorm, en dit kan daarom die eintlike sonliggaam nie aantas nie. Al word ook steeds `n deel daarvan opgelos, dan sorg die toestromende water weldra weer vir `n nuwe deel. Alles moet dus steeds ordelik bly verloop.
[16] As julle die beeld nou ietwat nader wil bestudeer, dan moet dit vir julle tog enigsins duidelik word, wie en wat eintlik die 'Vader' en wat die 'Seun' is, en wat die siel is en wat die gees in haar is! Sê My nou, of dit nog nie heeltemal duidelik is vir julle nie!"

BOEK 5 – HOOFSTUK 246

Kinders as voorbeelde vir die leerlinge. God as mens in Die Heer. Evangelie van Matthéüs. 18:10

246
[11] Maar, Petrus, vanweë jou vraag oor My Vader in die hemel, en oor hoe dit is dat Ek die een keer sê dat Hy in die hemel is, en `n ander keer dat Hy in My woon en één is met My, moet Ek egter met jou geheue geduld hê, omdat Ek andersins uiteindelik vir jou sou moes kwaad word!
[12] Wat die hemel is en waar hy is, het Ek vir julle en by name vir jou, onlangs nog presies op die berg getoon en volledig duidelik uitgelê; en ook oor die ondeelbare en onskeibare verhouding tussen My en My Vader het Ek al byna te veel en te dikwels gepraat, en kyk, nou weet jy alweer niks daarvan af nie!
[13] Is die Vader dan nie die Ewige Liefde in My nie? En waar Sy is en woon, is die hemel en die ware Ryk van God dan nie daar nie?
[14] Is Ek as Mens dan nie juis die Seun van hierdie Liefde wat in Myself woon, Wat alles wat bestaan en wat die oneindigheid vervul, sedert alle ewigheid geskape het nie? En omdat hierdie Ewige en Almagtige Godsliefde in My is, is Ek dan nie volledig één met Haar nie? Sê nou, of jy dit nog nie insien nie?”
[15] PETRUS sê: “Ja, ek sien dit nou sekerlik beter in as vroeër; maar tog is daar hierin `n aantal dinge wat, eerlik gesê, nog nie heeltemal duidelik is nie! En wat vir my nog nie so heeltemal duidelik is nie, is die volgende: Ek sien nog altyd nie in, waarom U die een keer van Uself sê dat U die Menseseun is, `n ander keer weer God se Seun, en weer `n ander keer dat U JaHWeH Self is! Wil U my hieroor nog `n klein lig gee, dit is goed vir ons almal; want ek glo egter dat niemand van ons dit goed verstaan nie!”
[16] EK sê: “Ook dit het Ek reeds by geleenthede waar Ek oor die lyding gespreek het wat My te wagte staan, baie duidelik belig; maar as iets julle nie minstens tien keer sodanig duidelik uitgelê word dat julle dit heeltemal met hande en voete kan verstaan nie, verstaan julle dit nie! Maar Ek sê dit dan nou tog nog `n keer vir julle:
[17] Nóg JaHWeH in My, nóg Ek as siel as Die se ewige Seun, maar slegs die liggaam as die Menseseun sal in Jerusalem gedood word, maar op die derde dag as volledig verheerlik opstaan en dan vir ewig één wees met Hom wat in My is en My alles openbaar wat Ek as Menseseun moet doen en spreek, en wat julle nog altyd nie volledig ken nie, ofskoon Hy al geruime tyd onder julle spreek en werk. En praat jy nou weer, Simon Juda!”

BOEK 6 – HOOFSTUK 200

Die wese van die Heer.
(Evangelie van Johannes 8:50-59)

200 Toe word die gelowige volk weer ongeduldig en sê: 'Heer, ons smeek U, jaag hierdie blinde dwase by U weg; want hulle steur U en ons! As hulle nie gou ophou nie, sal ons met geweld `n einde daaraan maak, want ons het vir U hier aangebly, ons wil U hoor en nie hierdie dom duisterlinge nie. Want `n kind in die wieg is heel dikwels al verstandiger as hierdie onsinnige dwase!
[2] Ons almal, so `n tweeduisend man, besef baie goed wat U en U goddelike sending beteken. Ons het baie goed gemerk wat U bedoel het toe U gesê het: 'Ek is nie alleen nie, maar die Vader is orals by My!' Maar hierdie domore merk dit nie en sal dit ewig nie merk dat die Vader en U één en dieselfde is nie, en dat U, wanneer U sê: 'Die Vader het My gestuur!' maar net die menslike, swak verstand te verstane wil gee dat U, Ewige, vir Uself `n liggaam geskape het om vir ons wurms van hierdie aarde in ons groot nood `n sigbare God, Leraar en Trooster te wees. U heilige liggaam is U Seun, en U is in Uself Vader vir ons arme sondaars en wurms van hierdie aarde!
[3] En hierdie dwase verstaan dit nie, terwyl hulle sê dat hulle alle profete op die punte van hulle vingers ken, wat tog uitdruklik genoeg in geure en kleure die tyd voorspel het waarin die Messias sal kom. En die tyd het nou heeltemal aangebreek; waarom sal die Beloofde dan nie gekom het nie?
[4] As die groot, van God se Gees vervulde sieners in hierdie huidige tyd ongeveer duisend jaar gelede, presies soos wat dit nou is, dit kon aankondig, en as hierdie tyd nou presies so gekom het soos dit vroeër beskrywe was, waarom sou die beloofde Messias dan juis in hierdie tyd weggebly het?! Maar Hy het ook nie weggebly nie, Hy is onder ons; ons het Hom gou en maklik herken!
[5] Maar hierdie blinde nakomelinge van hulle wat reeds in die woestyn aan die voet van die Sinai, terwyl JaHWeH op die berg onder bliksem en donder die heilige wette aan Moses gegee het, die goue kalf aanbid en JaHWeH nie geëer het nie - ofskoon Hy vlak voor hulle neus Sy wette verkondig hardop het, - is nou voor die aangesig van God nog dieselfde aanbidders van hulle goue kalf, en by al hulle matelose domheid tog nog brutaal genoeg om hulle selfs aan U, o Heer, te vergryp. O Heer, laat hulle gaan, en leer ons dat ons U beter en dieper kan ken - en ook ons ergste sonde wat ons so dikwels teenoor U begaan het!'
[6] Ek sê vir die volk: 'Hou julle rustig, want Ek moet immers ook vir hierdie mense sê wie Ek is, sodat hulle hulleself nie eendag sal kan verontskuldig dat dit nie vir hulle gesê was nie en dat hulle nie gewaarsku was nie! Ek het al vir hulle gesê dat Ek My eer nie soek nie, en by hierdie mense ook gladnie, en dat daar Eén is wat dit soek en oordeel. (Johannes 8, 50) Maar hierdie blinde en verkeerde soort (saad: vertaler) sal dit nooit insien en verstaan nie, totdat die byl aan hulle wortels gelê sal word. Daarom sê Ek egter nog eenmaal vir hulle: Waarlik, waarlik, as iemand My woord sal hou, sal hy die dood ewiglik nie sien nie' (Johannes 8, 51)
[7] Toe sê die Judeërs wat nou al heeltemal blind van woede was: 'Nou besef ons eers goed dat jy die duiwel in jou het! As jou woord gelyk is aan God se woord, dan was dit tog ook God se woord waaraan Abraham, Isak en Jakob en alle profete hulle gehou het, en tog het hulle almal gesterf! Is jou woord dan goddeliker as die van die Vader en die profete, sodat jy kan sê: 'Wie My woord sal hou, sal die dood in ewigheid nie smaak nie!'? (Johannes 8:52) Is jy dan meer as ons vader Abraham wat gesterf het, en die profete, wat almal gesterf het? Wie dink jy wel is jy?' (Johannes 8, 53)
[8] Ek sê: 'As Ek Myself sou eer, sou My eer geen waarde hê nie; maar dit is My Vader wat My eer, waarvan julle sê dat Hy julle God is. (Johannes 8, 54) Julle ken Hom egter nie, maar Ek ken Hom. En as Ek sou sê: 'Ek ken Hom nie!', sou Ek `n leuenaar wees, net soos julle dit sê dat Hy julle Vader is! Ek ken Hom egter werklik en hou dus Sy woord! (Johannes 8, 55)
[9] Ek sê julle egter nog iets, om julle te laat sien dat julle vader Abraham nie aan My onbekend is nie. Kyk, Abraham was bly dat hy My tyd op hierdie aarde sou sien! Julle sê wel dat Abraham gesterf het; maar Ek sê julle, dat hy ewenwel My tyd hier vanaf My eerste dag voortdurend gesien het, en baie vreugde daaraan beleef het (Johannes 8, 56); hy sien My tyd nog steeds en is bly!'
[10] Dit was vir die blinde Judeërs iets te ongeloofwaardig en hulle sê met wyd oopgesperde mond: 'Wat?! Jy is nog geen vyftig jaar oud nie en jy het Abraham gesien?' (Johannes 8, 57)
[11] Ek sê: 'Waarlik, waarlik, Ek sê vir julle: Ek was daar oneindig baie lank voor Abraham!' (Johannes 8, 58)
[12] Dit maak dat die Judeërs van woede bars. Hulle het geen woorde meer om hulle oorgrote verontwaardiging uit te druk nie. Toe buk hulle en raap los brokke klip op, waarvan daar genoeg in die tempel gelê het, omdat mense selde tyd aan die bodem bestee het, en wou dit na My gooi; maar Ek verberg My gou, word volledig onsigbaar en Ek verdwyn uit middel van die tempel toe Ek tussen hulle deurgaan. (Johannes 8, 59) Die leerlinge en Lasarus met die Romeine kom My baie gou agterna, en ons gaan vervolgens vinnig weer ons Olyfberg op.
[13] Maar in die tempel vind daar nou iets seldsaam plaas, wat hom tydens feesdae bykans nog nooit voorgedoen het nie. Die volk stort hulle op die Judeërs en begin hulle dermate in die noute te dryf dat daar soldate gaan haal moes word om die rus enigermate te herstel. Maar die volk laat hulle nouliks kalmeer en eis van die Romeinse soldate dat alle woedende Judeërs, wat die rus so geweldig versteur het, geboei aan die gereg oorgelewer moet word, wat dan - in elke geval pro forma - ook gebeur. Toe eers was die volk weer tevrede.
[14] Daarop gaan `n skrifgeleerde in die middel tussen die volk staan om hulle teen My op te steek; maar hy het nog geen tien woorde gesê nie of hy moes al die bene roer.

BOEK 6 – HOOFSTUK 230

Die drie-eenheid in God en mens

230 (Die Heer:) 'Maar wat julle nou sal hoor, moet julle voorlopig vir julleself hou en nie voortydig rugbaar maak nie! Wanneer die korrekte tyd egter daarvoor aangebreek het, sal julle dit deur My Gees, wat die eintlike Heilige Gees is, wel in julle self opmerk.
[2] Die Vader, Ek as Seun en die Heilige Gees is herkenbaar van ewigheid af één en dieselfde.
[3] Die Vader in My is die Ewige Liefde en as sodanig die oergrond en die eintlike oerstof van alle dinge, wat die hele ewige oneindigheid vervul.
[4] Ek as Seun, is die Lig en die Wysheid, wat voortkom uit die Vuur van die Ewige Liefde. Die kragtige Lig is die ewige, volmaaktste selfbewussyn en die helderste selfkennis van God en die ewige Woord in God, waardeur alles wat bestaan, gemaak is.
[5] Omdat dit alles meer eg gemaak moet word, is die magtige Wil van God nodig, en dit is dan die Heilige Gees in God, waardeur die werke en wesens hulle volledige bestaan kry. Die Heilige Gees is die groot uitgesproke woord 'EK IS!' - en dan is dit daar, wat die Liefde en die Wysheid in God ingesluit het.
[6] En kyk, dit alles bevind Hulleself nou in My: Die Liefde, die Wysheid en alle Mag! En daarom is daar maar één God, en dit is Ek, en Ek het maar net hier `n liggaam aangeneem om My aan julle mense van hierdie aarde, wat Ek volkome na My ewebeeld geskape het, uit die oersubstansie van My Liefde, in julle indiwidualiteit van naderby te kan openbaar, - soos wat dit juis nou die geval is.
[7] Dat julle egter ook die drie-eenheid in julle het, en wat heeltemal met My ooreenkom, sal julle dadelik so duidelik moontlik uitgelê word.
[8] Kyk, elke mens het liefde in hom en as gevolg van die liefde ook `n wil; want die liefde op sigself is `n begeerte en verlange, en in die begeerte en verlange lê nou juis die wil. Dit is ook eie aan alle plante en diere, en in `n sekerlik opsig ook aan die ander materie.
[9] Selfs die ruuste en mees onopgevoede mens het liefde en `n wil. Maar wat doen hy daarmee? Hy is maar net uit op die bevrediging van sy laagste en stoflikste behoeftes, wat homself instinkmatig uit sy growwe liefde in sy wil vertaal, waarvan sy verstand niks anders as `n flou vermoede opvang nie. Kyk maar net of die dade van sulke mense, nie baie slegter is as die van diere nie, by wie die liefde en die verlange deur `n beïnvloeding van bo gelei word!
[10] Maar baie anders staan dit met die liefde en haar wil (by die mense)* van wie die verstand `n helder lig geword het; dit skyn dan deur die liefde en haar wil, en daardeur deur die hele mens. Dan eers sorg die liefde vir die suiwer middele, sy orden die lig of die wysheid, en sy aktiveer die wil. As die mens egter, as ewebeeld van God, ook die moontlikheid in hom het, bestaan hy dan uit drie mense of is hy slegs één mens?' *(toegevoeg)
[11] Almal sê, en veral die oudleerlinge: 'Ons dank U, o Heer, dat U nou weereens so baie duidelik gepraat het; want dit is egter nie altyd U gewoonte om so te praat en te leer nie. Nou weet ons eers heeltemal hoe dit met die volkome eenheid van God staan, en U is dus dan tog baie volmaak God, soos wat ons dit al dikwels gedink het.'

BOEK 8 – HOOFSTUK 20, 24, 25, 26, 27

Oor die wette van die Heer

20
[15] Maar omdat Ek dit nou vir julle meedeel, moet julle nie dink dat Ek daarmee die deur Moses gegewe wet ophef nie; want dit is immers geheel en al dieselfde, wat Ek julle in sy oorspronklike suiwerheid teruggee. Slegs die ou, verroeste “moet” hef Ek op en Ek gee julle die ou volledige vryheid terug; en die werk om julle siele te verlos van die harde juk van die oordeel en van die eintlike Satan, aan julle reeds bekende vors van die nag en die duisternis, hou hoofsaaklik in gedagte dat julle van nou af aan nie meer onder enige dwingende wet uit My Naam sal staan nie.
[16] Soos Ek nou ook aan julle almal die volle vryheid vanuit Myself teruggegee het, moet julle dieselfde in My Naam ook aan julle broeders doen! Doop hulle in die Naam van My Ewige Liefde, wat die Vader is; in die Naam van die Woord, wat die vleesgeworde Seun van die Vader is, en in die Naam van Sy Gees van Waarheid, en wis daardeur in hulle die ou erflike kwaad uit, wat bestaan uit die, aan julle nou welbekende en verwenste “moet” van die wet! En nou vra Ek julle, of julle dit almal verstaan het.”

Die drie-eenheid in God en mens

24 Daar kom nou `n Fariseër na My toe en hy sê: “Heer en Leraar! In U betoog het U vir ons gesê dat U leerlinge wat U ware lewensleer sal verbrei, deur die oplê van hulle hande diegene sal doop wat U leer daadwerklik aangeneem het, dit wil sê, hulle versterk in die Naam van die Vader, wat die Liefde is, in die naam van die Woord, wat die Seun of wel die Wysheid van die Vader is, en in die naam van die Heilige Gees, wat die alles vermoënde wil van die Vader en van die Seun is.
[2] Ek dink egter dat baie geskilpunte maklik hierdeur kan ontstaan, wat voorkom kan word as U leerlinge almal wat gelowig geword het, slegs in U Naam of slegs in die Naam van die Vader sou doop; want met die drie, ofskoon hoogste en mees heilige benamings, kan mense wat minder goed van begrip is, in die toekoms dalk in drie afsonderlike gode begin glo, as drie goddelike persoonlikhede. So is met verloop van die tyd ook by die ou Egiptenare uit die oerou, suiwer geloof uit slegs één ware God `n groot aantal gode gemaak uit die baie eienskappe van JaHWeH. Vervolgens het die blinde fantasie van die mens dit verander in allerlei op homself bestaande en spesifiek werksame goddelike wesens, mense het tempels vir hulle gebou en hulle vervolgens ook spesiaal vereer, maar het daarby dermate diep weggesak in so `n ongehoorde materialisme dat mens aan die goddelike persoonlikhede, wat die mens hulle op hierdie manier voorstel, dikwels die mees triviale (niks betekende) menslike swakhede en verdorwe hartstogte kan toeskryf.
[3] Dit sou mettertyd, miskien na enkele eeue, ook weer die geval kan wees, wanneer dommer en meer verblinde mense hulle drie gode sou gaan voorstel, slegs op grond van die benamings wat by die doop gehoor word vir die allerhoogste begrippe. Dit sou dan ook seker nie meer lank duur voordat mense die drie aldus voorgestelde gode besonder sou gaan vereer in tempels wat spesiaal vir hulle gebou sal word. As dit egter gebeur, sal dit nie meer lank duur voordat die mens ook U leerlinge, wat die Naam leer ken het, en ook hulle opvolgers op dieselfde wyse sal gaan vereer en in hulle geboude tempels gaan aanbid. Na my mening sou dit die maklikste en blywend voorkom kan word as mens God slegs onder één naam aan die mense bekend sou maak. - Wat sê U daarvan?” 
[4] Ek sê: “Dit het jy baie goed en waar gesê; maar tog kan Ek nie nalaat om julle op die hart te druk om dit wél te doen nie; want met die drie benamings is die Wysheid van God as geheel verklaar en duidelik vir die mens voor oë gestel.
[5] Dit is waar dat in `n sekere sin, vir iemand wat minder goed van begrip is, `n soort drieledige goddelike persoonlikheid daarby na vore kom; maar om die diepste en mees innerlike waarheid in alle opsigte volledig getrou weer te gee, kan mens dit nie anders vertel as wat dit nou eenmaal so is nie.
[6] Kyk, die mens is heeltemal na God se ewebeeld geskape, en wie homself volkome wil ken, moet vir hom realiseer dat hy as een en dieselfde mens in feite ook uit drie persoonlikhede bestaan! Julle het ten eerste `n liggaam, voorsien van alle noodsaaklike sintuie en ander liggaamsdele, van baie groot tot nouliks denkbaar klein, wat vir `n vrye en selfstandige lewe nodig is. Die liggaam het ten behoewe van die ontwikkeling van die geestelike siel `n baie eie natuurlik lewe in hom, wat hom in alle opsigte van die geestelike sielelewe onderskei. Dit liggaam leef van materiële voeding, waaruit die bloed en die ander voedingsappe vir die verskillende onderdele van die liggaam gevorm word.
[7] Dit hart het spesiaal `n lewende meganisme in haar, waardeur sy voortdurend moet uitsit en dan weer saamtrek; daardeur word die bloed, wat die liggaam laat lewe, met die ander daaruit ontstane sappe na alle liggaamsdele gepomp. En deur die saamtrekkende beweging neem die hart die bloed ook weer in haar op, om dit met nuwe voedingstowwe te versadig en dit vervolgens opnuut na buite te pomp, om daar die mees uiteenlopende liggaamsdele saam te voed. In hierdie ontelbaar baie en mees uiteenlopende onderdele van die liggaam woon net soveel verskillende natuurgeeste wat die stowwe, wat aan hulle beantwoord en wat nodig is vir die voeding en instandhouding van die liggaamsdeel wat deur `n dergelike gees beheer word, uit die bloed te haal en dit vervolgens op te neem in die liggaamsdele wat deur hulle, dit wil sê deur die geeste self beheer word; so maak sy die hele liggaam kragtiger en sterker, en sonder hierdie voortdurende eie aktiwiteit van die hart sou die mens, wat sy liggaam aanbetref, geen uur lank lewe nie.
[8] Kyk, met hierdie lewensaktiwiteit het die siel heeltemal niks te maak nie; want die werksaamheid hou geen verband met die vrye wil van die siel nie, ewemin as met die eie werksaamheid van die longe, die lewer, die milt, die maag, die derms, die niere en so nog ontelbaar baie ander dele van haar liggaam; die siel ken hierdie glad nie en sy kan dan ook geen sorg daarvoor dra nie. Desondanks is die liggaam as geheel `n heilige persoonlikheid en een en dieselfde mens, en doen en handel asóf beide geheel dieselfde persoonlikheid is! Maar wie van julle kan dan sê dat liggaam en siel één enkele ding is!
[9] Beskou ons nou egter die siel self, dan sal ons sien dat dit ook op haarself `n geheel volkome mens is, wat substansieel geestelik eweneens in haarself en ten behoewe van haarself presies dieselfde onderdele het as die liggaam en hierdie in hoër, geestelike opsig ook net so gebruik as die liggaam sy materiële onderdele.
[10] Alhoewel die liggaam nou enersyds en die siel andersyds twee baie verskillende mense of persone voorstel, van wie elk van beide op sigself sy volkome individuele werksaamheid besit, kan jy hulle uiteindelik oor die hoe en waarom van die werksaamheid nie eens rekenskap gee nie en is jy in die lig van die eintlike doel van die lewe nietemin slegs één mens; sodoende kan niemand van homself of van iemand anders beweer dat hy nie `n individu, maar `n tweeledige mens is nie. Want die liggaam moet die siel dien, en die siel met haar verstand en wil weer die liggaam, en sodoende is die siel ewe verantwoordelik vir die handelinge, waarvoor sy die liggaam gebruik het, as vir haar hoogs eie handelinge, wat bestaan uit allerlei gedagtes, wense, verlange en begeertes.
[11] Wanneer ons die lewe van die siel as sodanig egter nog van naderby beskou, sal ons baie gou ontdek dat sy ook `n substansieel liggaamlike wese is, wat op haarself nie baie hoër staan as in die gunstigste geval die siel van byvoorbeeld `n aap nie. Sy besit weliswaar `n instinkmatige denkvermoë van `n ietwat hoër vlak as `n gewone dier, maar van `n verstand en `n hoër vrye beoordeling van die dinge en hulle onderlinge verband sou egter nooit sprake kan wees nie.
[12] Die hoër vermoë in die siel, wat eintlik die hoogste is, en aan God gelyk, kom voort uit `n suiwer essensiële, geestelike, derde mens, wat in die siel woon. Deur hom kan die ware van die valse en goeie van bose onderskei word, en kan sy openlik in alle voorstelbare rigtings dink en volkome vry “wil”, na gelang hy haar met haar vrye wil, ondersteun deur die gees, op die suiwer ware en goeie rig, maak sy haarself langsamerhand volkome gelyk aan die gees wat in haar woon, dus sterk, magtig en wys, en is dan soos in die gees wedergebore identiek daarmee.
[13] As dit die geval is, is die siel so goed as één wese met haar gees, soos ook die edeler liggaamsdele van `n volmaakte siel - wat eintlik bestaan uit die baie verskillende natuurgeeste in die liggaam - wat heeltemal oorgegaan het in die geestelike substansiële liggaam, wat jy die vlees van die siel kan noem, en gaan uiteindelik ook oor in die essensiële liggaam van die gees; waaronder die ware opstanding van die vlees verstaan moet word op die jongste, mees ware lewensdag van die siel, wat aanbreek wanneer `n mens volkome in die gees wedergebore word, hetsy reeds hier in die lewe of, wat ietwat meer moeite en tyd kos, aan die ander kant.
[14] Hoewel `n volledige in die gees wedergebore mens egter maar één volmaakte mens is, bestaan sy wese nietemin ewig uit `n op sigself goed te onderskeie drie-eenheid.
[15] Hoe dit kan wees, sal Ek julle baie helder uiteensit, luister dus goed!”

Die aktiwiteite van die drie liggame van die mens

25 (Die Heer:) “As julle maar `n bietjie sal oplet, sal julle aan elke tasbare en bestaande ding `n drievoudigheid opmerk wat onderskei kan word. Die eerste wat in die oog spring is natuurlik die uiterlike vorm; want daarsonder sou geen tasbare ding denkbaar gewees het nie. En as dit eers eenmaal bestaan, is die tweede natuurlik die inhoud van die bestaande dinge; want sonder inhoud sou jy ook gladnie bestaan nie en sou jy ook geen vorm of uiterlike gestalte hê nie. Wat is nou die derde, wat by `n tasbare en bestaande ding net so noodsaaklik is as die eerste en die tweede? Kyk, dit is `n inwendige krag in elke ding, wat die inhoud van die tasbare en bestaande dinge op `n bepaalde wyse bymekaar hou en die eintlike wese daarvan uitmaak. En omdat hierdie krag die inhoud en derhalwe ook die uiterlike vorm van die tasbare en bestaande dinge uitmaak, is sy ook die oorspronklike wese van alle bestaan, van watter aard dit ookal mag wees, en sonder hierdie krag sou daar ewemin `n wese of `n tasbare ding denkbaar gewees het netso sonder die inhoud of sonder `n uiterlike vorm.
[2] Julle sien nou dat die genoemde drie dele op sigself goed te onderskei is, omdat die uiterlike vorm nie sy inhoud en die inhoud nie die bepalende krag self is nie. En tog is die drie genoemde dele volledig één; want as daar geen krag sou wees nie, sou daar ook geen inhoud en sekerlik ook geen vorm wees nie.
[3] Laat ons nou weer teruggaan na ons siel! Die siel moet nou eenmaal, vanweë `n sekere en bepaalde bestaan, `n uiterlike vorm hê, naamlik die van `n mens. Die uiterlike vorm is sodoende dit wat ons die liggaam of ook die vlees noem, hetsy nog materieel of vergeestelik substansieel, dit is hierby om`t ewe.
[4] Wanneer die siel nou, wat haar vorm betref, as mens bestaan, sal sy ook, een met die vorm, `n ooreenkomstige inhoud hê. Hierdie inhoud of wel die inwendige liggaam is die wese wat haar lewe gee, dus die siel self.
[5] En as alles daar is, dan is ook die krag daar, wat die hele siel bepaal, en dit is die gees wat uiteindelik alles in alles is, aangesien daar sonder hierdie gees onmoontlik `n soliede substansie en daarsonder ook geen liggaam en derhalwe ook geen uiterlike vorm sou wees nie.
[6] Hoewel die drie te onderskeie persoonlikhede as geheel slegs één wese is, moet elkeen tog apart benoem en onderskei word.
[7] In die gees, oftewel die ewige essensie, woon die liefde, as die alles tot standbringende krag, die hoogste intelligensie en lewende vaste wil; dit alles bymekaar bring die substansie van die siel voort en gee haar die vorm oftewel die wese van die liggaam.
[8] As die siel of die mens dus eenmaal daar is, ooreenkomstig die wil en die intelligensie van die gees, trek die gees homself diep in die sentrum terug en gee die nou bestaande siel volgens haar diepste innerlike wil en intelligensie aan haar `n geskeie vrye wil en `n vrye as`t ware selfstandige intelligensie; en die siel kan dan deels deur uiterlike waarnemingsintuie en deels deur `n innerlike opnemingsvermoë dit so vir haar toe-eien en vervolmaak as sou hierdie volkome vry intelligensie haar eie werk wees.
[9] Ten gevolge van hierdie noodsaaklikerwys so gevormde toestand, waarin sy as`t ware geskei voel van haar gees, is die siel in staat om sowel `n uiterlike as `n innerlike openbaring te ontvang. As sy dit ontvang, aanneem en daarvolgens handel, begin sy daardeur ook één te word met haar gees en gaan daardeur dan ook steeds meer in die onbeperkte vryheid van die gees oor, sowel ten aansien van die intelligensie en die wilsvryheid, ooreenkomstig die verligtende intelligensie, asook in die krag en die mag om alles te kan bewerkstellig wat sy erken en wil.
[10] Daaraan kan julle weer sien dat die siel, as die in lewende substansie veranderde gedagte van die gees, wat eintlik die gees self is, tog in sekere sin beskou kan word as iets wat as tweede uit die gees voortgekom het, sonder om daarom iets anders te wees as die gees self.
[11] Dat die siel ten slotte as `n individu sigbaar word, beklee met `n uiterlike liggaam wat in `n sekere sin as die derde persoonlikheid verskyn, laat die daaglikse ervaring julle sien. Die liggaam is vir die siel `n uiterlike openbaring van haar diep innerlike gees en het ten doel om die intelligensie en die vrye wil van die siel wat na buite keer, te beperk, om dan eers die innerlike onbeperktheid van die intelligensie, van die wil en die ware krag daarvan te soek en dit te vind, en daardeur as `n oneindige verheerlikte en volkome selfstandige individu één te word met die innerlike gees, wat die enigste is wat eg bestaan en werksaam is in die mens.
[12] Omdat julle nou deur hierdie verklaring van My hopelik duidelik sal insien hoe `n mens, op sigself beskou, net soos op `n laer vlak ook elke ander ding, uit `n sekere te onderskeie drieledigheid bestaan, sal ons tot besluit van hierdie hoogs belangrike toeligting oorgaan na die drie-enige wese van God self, sodat julle helder en duidelik sal insien waarom Ek julle, vanweë die hoër en innerlike lewende waarheid, met klem moes aanraai om die mense wat in My glo en My leer mettertyd aangeneem het, in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees te doop, dit wil sê, te versterk.
[13] Luister dus weer goed na wat julle nou uit My mond sal verneem, om dit heeltemal volkome waarheidsgetrou volledig te maak!
[14] Kyk, soos julle ook almal baie goed weet, sê en verklaar die boek van die profete dat Ek, Jesus, die Messias - ook Menseseun genoem - die ware God is, hoewel Hy met verskillende name, naamlik as Vader, Seun en Heilige Gees, aangedui en benoem word! En tog is God maar één persoonlike majesteit in die hoogs volmaakte vorm van `n mens.
[15] Soos julle nou ook goed weet, is die siel, haar uiterlike liggaam en haar diep innerlike gees sodanig verenig dat sy slegs één wese of uiteindelik één individuele substansie uitmaak, maar hulle vorm is tog ten opsigte van mekaar `n goed te onderskeie drieledigheid; so is ook Vader, Seun en Gees so verenig, soos die geskrifte van die ou vaders en profete, wat Ek so flussies genoem het, dit leer.
[16] Dawid het eens die wens uitgespreek dat sy siel, sy liggaam en sy gees in die oë van God onberispelik bevind mag word. Wanneer die woorde van die ou, wyse koning egter so lui, sou mens dan ook nie kan vra: Wat? Bestaan die mens dan uit drie persone of uit drie mense? As dit egter by die mens al nie kan opgaan nie, by wie die splitsing van die drie, vanweë sy ontwikkeling en ware lewensvoleinding, noodsaaklikerwys tog duidelik voelbaar bestaan - hoe sou God dan, wat in Homself ewig geheel en al volmaak slegs Eén is, in drie verskillende persone of selfs in drie gode verdeel kan word?”

Die wese van God

26 (Die Heer:) “Luister! Wanneer God as Skepper van alle wesens, maar nietemin te onderskei van alle ander wesens wat deur Hom geskape is, sekerlik ewig was, is en sal wees, is dit dan vir Hom `n onwrikbare noodsaaklikheid om in die bepaalde oersentrum te bly? Wanneer dit al aan die mens gegee is om homself selfs met sy liggaam vry in alle rigtings te beweeg en nog baie meer met sy gees, hoe sou God in Sy onbeperkte vryheid Homself dan moet beperk in dit waarin Hy selfs Sy skepsele die volste vryheid gee? Ek sê vir julle: Die goddelike oneindigheid het in alles die mag om Homself eweneens eindeloos vry te beweeg! Vir Haar kom dus seker ook die reg toe om Haar heerlikheid met `n stoflike liggaam te omhul om vir die mens wat deur Haar geskape is, Self ook as `n ewige geheel en al volmaakte mens sigbaar en begryplik aanwesig te wees.
[2] Maar die eindelose Heerlikheid van God het nie die mag, en kan dit ook onmoontlik hê, om buite Haarself ander, volledig aan Haar gelyke godhede te skep nie; want as Sy dit sou kan doen, sou Sy buite die een oneindige ruimte ook nog ander oneindige ruimtes kan skep, waarvan elke ook maar enigsins helder denkende mens reeds van `n afstand kan sien dat dit die louterste onsin is. Want wanneer die een ruimte in alle denkbare rigtings oneindig is, waar sou dan `n tweede ewe oneindige ruimte moet begin?
[3] `n Tweede volmaakte God met die volste oneindige heerlikheid is sodoende ewemin denkbaar as `n tweede oneindige ruimte, en so kan julle nou dus duidelik sien dat Ek, wat nou net soos julle ook as `n Menseseun in die vlees leef, geen tweede, maar slegs één en dieselfde God is, wat Ek vóór alle skepsele van ewigheid was en ook in alle ewigheid sal bly. Ek kan dus niks in stryd met My ewige heerlikheid doen nie, maar ten behoewe daarvan alles.
[4] As Ek buite My nog twee Gode sou skep, soos ook byvoorbeeld die Seun en die Heilige Gees, sodat beide individueel van My onderskei sou wees, dan sou hulle onvermydelik aanspraak moet maak op al My onbeperkte mag, waarsonder geen God denkbaar is nie, ewemin as wat `n mens hulleself `n tweede of selfs derde oneindige ruimte kan voorstel wat op `n bepaalde manier opgedeel is en waarvan die dele onderling beperk is. As dit egter wel denkbaar sou wees, hoe sou dit dan gestel wees met God se soewereiniteit, waarvan daar tog maar één kan wees?
[5] Daar kan egter maar één so `n eindelose goddelike hoogste gesag bestaan! Want sou daar drie van bestaan, dan sou God se eindelose eenheidsryk versplinter wees, en die bestaan daarvan sou ewe ondenkbaar en onmoontlik wees as die bestaan van drie oneindige ruimtes naas mekaar.
[6] Die eenheidsryk van die éen God kan ewig bestaan, omdat slegs Hy alleen die enigste Koning en Heer daarvan is, soos dit ook wel geskrywe staan in die boeke van die profete, wat uit die mond van God geprofeteer het: “God sal Sy heerlikheid aan niemand anders gee nie” (Jesaja 42:8). Want alleen Ek, die Messias, is die enige God! Mense, engele, heerskappye en magte, ja alle dinge in die hemel en op alle aardes (planete) het altyd voor My gebuig en sal ook in ewigheid alleen voor My buig en nooit voor iemand anders nie, soos die kosmiese skeppingsruimtes, wat alles in julle oë so eindeloos lyk, deur die éen oneindige skeppingsruimte verslind word en daarmee vergeleke totaal verwaarloos lyk.
[7] Wanneer onder die Naam Vader, Seun en Heilige Gees net één op Haarself staande God, die één oerwese, verstaan sou moet word, en mens in plaas daarvan een van die Vader onderskeie Seun en eweso `n onderskeie Heilige Gees sou moet aanneem - wat se God sou die Vader dan moet wees?
[8] Wanneer, volgens die boeke van die profete, wat die mense deur hulle growwe, deur hul selfveroorsaakte onverstand nie begryp nie, die Vader die Seun met alle mag en heerskappy in die hemel en op alle aardes en wêrelde beklee en Hom die Heilige Gees as medewerker gegee het om die nuwe leer uit die hemele, wat julle nou gegee is, te wy en te bewaak, waaroor slegs die Seun, wat Ek is, die leiding het, soos ook oor alle ander dinge, dan vra Ek julle: Wat se God dink julle dan dat die Vader is? Kan julle eintlik wel nog `n God in Hom sien?
[9] En sou julle daar in julle materieel-menslike blindheid nog een kan voorstel, dan sou julle Hom onteenseglik as oorbodig en passief moet voorstel, aangesien julle tog duidelik moet insien dat Hy onder dergelike omstandighede niks meer tot stand sal kan bring en ook oor niks meer sou kan regeer nie. Julle sou julle op die duistere menslike manier wel moet voorstel dat God die Vader wel vanweë Sy hoë leeftyd, net soos die ou koning Farao in Egipte, wat die regering aan Josef oorgedra het, nou eweso vanweë Sy swakheid en vermoeidheid Sy regering vir ewig aan die Seun oorgedra het, om so geheel werkloos Sy rus te kan geniet!
[10] Kan julle wel vir julleself voorstel dat die Vader oud geword het, en dat Hy Sy werk nou wil neerlê, omdat Hy nou behalwe Homself, `n Seun het, in alle opsigte ewe almagtig as Hy, en verder nog `n ewe almagtige Heilige Gees het wat Hy uit Homself en Sy Seun laat ontstaan het, en dat Hy nou aan beide die hele regering wil oordra, terwyl Hyself aftree?
[11] O, hoe buitengewoon heidens dom, onnosel en blind sou die menslike verstand moet wees, om tot so `n dergelike waansin te verval!
[12] As daar `n Seun en `n Heilige Gees bestaan wat te onderskei is van die Vader en buite Hom bestaan, soos ook dit by engele en mense die geval is, dan kan julle niks anders wees as Sy skepsele nie, omdat hulle hul wese, al is dit hoe volmaak, nie uit hulself as gevolg van hulle hoogs eie en ewige magsvolkomendheid gekry het nie, maar alleen van die een Skepper.
[13] Hoe kan daar egter `n volledige, goddelike verwantskap of `n wesenlike eenheid bestaan tussen `n gees sónder liggaam en vorm, en `n gees mét liggaam en vorm? Kan van die Seun, wat `n liggaamlike persoon is en, soos ook julle sien, `n liggaam het, gesê word dat Hy in die Vader is, wanneer die Vader geen liggaam, geen gestalte en geen vorm het nie? Of kan die liggaams-, gestalte- en vormlose oneindige Vader in die Seun wees?
[14] Bowendien: wanneer die Heilige Gees, `n van die Vader en die Seun uitgaande, derde, op sigself staande persoon is, hoe kan die persoon dan dieselfde eienskappe as beide hê en netso ewig wees? Of kan dit wat sy bestaan van `n ander ontvang, gelyk wees aan dit wat sy bestaan ewig uit homself het? Kan die ewigheid ooit gelyk wees aan die altyd vlugtige tyd, of `n beperkte ruimte aan die oneindigheid?
[15] Ook al kan mens aanneem dat alle tye van die tyd in die ewigheid vervat is, beweeg en verander, dan kan mens egter onmoontlik dink en beweer dat die tyd, hoe lank dit ookal duur, die ewigheid omvat; soos wat mens ook wel kan dink en beweer dat die eindelose oerruimte alle ruimtes, wat hoe groot ookal, ten slotte tog begrens is, seker wel kan bevat, maar hierdie laaste onmoontlik die oerruimte kan bevat.
[16] Wanneer die Heilige Gees dus werklik soos ook `n ander skepsel as `n op sigself staande wese sou uitgaan van die Vader en die Seun, dan sou hy klaarblyklik `n God van die tyd en nie van die ewigheid wees nie! Een so `n dergelike God sou dan egter, soos ook al die tydelike, mettertyd kan ophou om te bestaan! Maar as dit so sou wees, wie sou dan aan alle mense en engele `n ewige bestaan kan gee en dit in stand hou?!
[17] Sodat hierdie hoogs belangrike saak egter nog helderder en duideliker vir julle word, gaan ons nog verder op die onderwerp in en julle luister na My!”

Die Heer as Seun

27 (Die Heer:) “As die Seun sedert ewigheid daar was, hoe kon Hy dan verwek word? En wanneer die Heilige Gees ook sedert ewigheid daar was, hoe kon Hy dan van die Vader en die Seun uitgaan en Sy oorsprong daarin hê? Wanneer die deur julle aangevoegde drie goddelike persone, waarvan die latere mense maklik drie gode sou kan maak, volgens julle alle drie ewig, dit wil sê sonder begin is, dan kon die één dus nie aan die ander die begin van sy bestaan gegee het nie! 
[2] Ek is, soos wat Ek ook nou by julle is as `n mens in die vlees, die Seun en is nooit deur iemand anders as alleen deur Myself verwek nie en is derhalwe My hoogs eie Vader van ewigheid. Waar sou die Vader anders kan wees as in die Seun, en waar die Seun anders as in die Vader, dus slegs één God en Vader in één persoon?
[3] Die liggaam van My is daarom die verheerlikte gestalte van die Vader ten behoewe van die mense en engele, sodat Ek `n begryplike en sigbare God vir hulle kan wees, en julle kan My nou sien, na My luister en met My praat en daarby tog in die lewe bly! Want voorheen was dit so dat niemand God kon sien en in die lewe kon bly nie. Ek is nou in alle opsigte God. In My is die Vader, en die krag wat, ooreenkomstig My liefde, wysheid en almagtige wil, van My uitgaan en die ewig eindelose ruimte allerweë vervul en ook oral werksaam is, is die Heilige Gees.
[4] Soos julle My nou ook as Elohimmens by julle sien, is Ek met My hele oersentraalwese beslis volkome en onverdeeld in julle midde, hier in hierdie eetsaal op die Olyfberg, en bevind My dus as hoogs ware God en Mens tegelyk nêrens anders nie, nie op hierdie aarde en nog minder op `n ander (planeet); maar deur die krag wat van My uitgaan, wat die Heilige Gees is, vervul Ek tog alle hemele en die aardsmateriële en eindelose ruimte met My werksaamheid. Ek sien alles daarin, van die grootste tot die kleinste, ken alles, weet alles, bepaal alles en skep, lei en regeer alles. 
[5] As julle dit nou duidelik uit My mond weet, sal julle ook begryp om watter rede julle die mense wat in My glo en ook volgens My leer sal handel, nadat dit aan hulle bekend gemaak is, die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees moet versterk deur hulle die hande op te lê.
[6] As julle nou die rede begryp, sal julle ook insien dat die mens, as hulle waaragtig en waar deur julle onderrig word, nie maklik op die idee sal kom om drie, persoonlik op homself staande, gode aan te neem nie, omdat julle die drie eienskappe genoem het. Maar Ek druk julle dan ook ten seerste op die hart dat julle die mense oral `n egte en waarheidsgetroue lig sal gee; want waar dit daaraan sal ontbreek, sal die mens maklik en vinnig verkrummel en oorgaan tot allerlei dwaallere, en dan sal dit moeilik wees om hulle op die weg van die volle waarheid te bring.
[7] Dat daar egter ondanks al julle trou tog valse leraars en profete sal opstaan wat baie mense sal mislei, sal julle wel nie kan verhinder nie en dit sal julle ook nie as skuld aangereken word nie, ewemin as dat `n boer, wat suiwer koring op sy akker saai, waartussen sy vyand snags onkruid strooi, tot sonde gereken kan word as die onkruid op sy akker tussen die koring woeker en die goeie graan verswak.
[8] Dit is weliswaar die wens van My liefde dat alle mense van hierdie aarde die ligte weg van die waarheid sal betree en so die ewige lewe tegemoet sal gaan; maar omdat Ek, om redes wat Ek julle al genoem het, My almag volledig moet terugtrek, is elke mens volkome vry en kan hy uiteindelik glo en doen wat hy self wil.
[9] Wanneer julle My leer verder versprei, kan julle die beste die verstand en daarmee die gemoed van die mense bewerk. Want waar die verstand en die gemoed eenmaal deurdring is, daar word die geloof deur die goeie wil lewend en met sukses werksaam; - sonder die korrekte verligting van verstand en gemoed bestaan die geloof slegs uit `n stom en blinde aanneem van een of ander outoriteit wat hy gehoor het. So `n geloof is egter so goed as geen geloof nie; dit wek die gemoed nie op tot vrywillige en die hart gelukkig makende werksaamheid en is dan ook dood, omdat dit sonder vrye, vreugde verwekkende werke is. 
[10] Werke wat die mens verrig onder van buite af opgelegde dwang het vir die siel geen waarde nie, aangesien dit die siel nie opwek nie, maar terneerdruk, omdat dit nie vrywillig met vreugde uit innerlike oortuiging volbring word nie, maar slegs uit angs vir die straf waarmee gedreig word, terwyl mens heimlik ergernis, gramskap en woede voel.
[11] Wanneer Ek al vir julle sê dat julle net so volmaak in insig en suiwer liefde moet wees as die Vader in die hemel, dan moet julle leerlinge dit ook wees! Daarom sê Ek vir julle ook nog die volgende: “Ondersoek alles goed vooraf, en behou dan die goeie en ware!”
[12] Wat Ek julle nou aanraai om vir julleself in ag te neem, moet julle ook julle toekomstige leerlinge aanraai! Ek sou nou baie goed van julle kan verlang dat julle sonder verdere verklarings van My glo wat Ek julle sê en aanraai om dit te doen, want die tekens wat Ek voor julle oë gedoen het, het My tog seker die gesag verleen dat julle gedwing sal word om My te glo; maar so `n afgedwonge geloof is nog lank geen innerlike lig van die siel nie, en wek haar nie blymoedig op tot dade nie.
[13] Dat dit inderdaad so is, bewys julle deur julle voortdurende vrae, en daardeur erken julle openlik dat geloof, slegs op grond van gesag, die siel te min lig bied, en die gebrek daaraan word eers in julle deur My verklarings opgehef. Soos julle ook nou naas alle tekens en leringe wat Ek gegee het, nog steeds duidelike verklarings verlang, wat ook heilsaam vir julle is, so sal julle leerlinge dit ook van julle verlang, en julle moet nie suinig daarmee wees as julle die optrede van die valse profete optimaal wil teengaan nie! 
[14] Julle sal ook tekens doen, en die valses sal met behulp van allerlei bedrog dieselfde doen, en daarom sal die tekens wat deur julle verrig word, steeds `n magtiger bewys vorm vir die egtheid van die leer wat deur julle aan die volk verkondig word; maar wat julle deur middel van verligtende woorde in die verstand en die gemoed van die mens sal inprent, sal `n ewige onuitwisbare, lewende bewys van die waarheid van die leer uit My hemele bly. So `n helder begrypte waarheid sal julle en julle leerlinge dan eers volkome vry maak. - En nou het Ek weer baie onthul en julle baie lig gegee, en daarom vra Ek julle nogmaals of julle dit ook goed begryp het.”
[15] Almal sê: “Ja, Heer en Leraar, dit het ons nou baie goed begryp; want nou het U weer eens baie vry en openlik gespreek!”

EINDE VAN VERKLARING UIT DIE JOHANNES EVANGELIE

Lees ook in verder Boek 11 - Bertha Dudde oor Die Drie-Eenheid

http://www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php?action=show&id=14





[terug]