Geheime van die Natuur
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 15

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45.

3. Die vlieg as bewaarder van die ewewig van die lugelektrisiteit.

Een van die baie wonders van hierdie diertjie lê in sy bestemming en in die manier waarop hy aan die bestemming voldoen. In die hele skepping bestaan niks, wat meer as twee polariteite het nie, naamlik `n bevestigende (positiewe) en `n ontkennende (negatiewe). En so is daar ook maar net `n bo en `n onder, wat teenoor mekaar staan: want die middel is niks anders as `n verbinding tussen bo en onder nie. Net so is daar ook `n buite en `n binne, materie en gees, goed en kwaad, die ware en die valse. Wanneer daar dus sprake is van die doel van die bestaan van `n wese, dan kan hy dit nie verder uitstrek as tot by een van hierdie twee pole nie. Laat ons nou eens sien waarvoor die vlieg alles deug!

 

Ons sal eers die buitenste pool (die negatiewe) neem. Dit sal elkeen opval dat so `n diertjie in die winter baie selde te sien is, terwyl dit in die warm somer oral wemel van hierdie klein gevleuelde bewoners van die lug. Ons sal dadelik weer `n nuwe wonder aan ons diertjie ontdek! Waarom die vlieg vol haartjies en punte sit, het ons al verklaar. Dit is egter nie die enigste rede waarom hierdie diertjie so behaard en stekelrig is nie.

Deur die insuig van die elektrisiteit, op die reeds bekende wyse, word die diertjie so lig dat hy bykans geen gewig meer het nie, en daarom maklik deur sy klein vlerke deur die lug gedra kan word.

Waarom moet die vlieg, hoe warmer dit is, ook des te vinniger heen en weer vlieg?

Hierdie baie miljoene vlieë is bestem om die sogenaamde elektriese vuur, wat te ryklik uit die son gestroom het, te verbruik en te verswak, sodat dit nie vanself deur oorlading ontsteek en daardeur `n hele wêreld sou vernietig nie! Want hierdie elektriese fluïdum (gas) is, as positiewe pool, `n buitengewone kragtige vuur. Solank die negatiewe elektrisiteit van `n aardbol in ewewig is met die positiewe wat uit die strale van die son ontwikkeld word, is daar geen ontsteking van die positiewe elektrisiteit moontlik nie. Wanneer die laaste egter, al is dit maar `n duisendste deel, die negatiewe oortref, dan kan `n ontsteking nie meer teëgehou word nie.

Hoe word so `n katastrofe nou voorkom?

Kyk maar na ons diertjies, hoe vlytig hulle in alle rigtings heen en weer skiet en tydens hulle vinnige vlug die oormaat van die positiewe elektrisiteit in hulleself opsuig, waar die polariteit onmiddellik verander word. Want hierdie diertjies verbruik die positiewe op hierdie manier soos suurstof. Die negatiewe deel word egter uitgeasem, soos wat die mens die stikstof van die ingesuigde lug uitasem, sodra die longe die suurstof as voeding vir die bloed daaruit opgeneem het.  

Op `n hete somerdag sit `n enkele vlieg soveel positiewe elektrisiteit in haarself om, dat, as dit moontlik sou wees om dit in `n houer te versamel, dit in staat sou wees om `n hele berg in as te verander.

 

So is dit ook met die hoeveelheid lug wat `n mens per dag in- en uitasem; wanneer dit sou vlam vat, sou die hele Europa dermate verwoes word, dat niemand meer sou kon sien dat dit ooit daar was nie. Maar sodat dit nie te fabelagtig in die ore klink nie, wil Ek wys op die onbeduidende oorsaak (dit is in natuurlike opsig gesien) van `n groot aardbewing wat onlangs oor die helfte van die aardbodem gevoel was en ook nog daar buite. Die oorsaak daarvan was slegs duisend kubieke voet ingesluite lug wat deur uiterlike druk omstandighede ontsteek was! Neem aan, dat `n mens, deur vier maal asem te haal, `n kubieke voet lug omsit, bedink hoe dikwels `n mens op `n dag asemhaal en `n mens sal verbaas staan oor die volume lug wat slegs een mens per dag omgesit het. As `n mens dit aan die voorafgaande toets, is dit nie verbasend dat Ek deur die lug, wat `n mens daagliks in- en uitasem, die hele Europa as moontlik verwoesbaar voorstel nie. Dus hoef julle ook nie te verbaas wees oor dit wat Ek gesê het oor die elektrisiteit wat `n vlieg in een dag omsit nie. Maar as een vlieg al soveel verrig, wat sal miljoene dan nie verrig nie?

Tog is dit slegs `n newefunksie van hierdie diertjie en is dit nie die grootste wonder nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205