BOEK 3 - DIE BEKRAGTIGING
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 17

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35.

Hoofstuk 4

Lewe

Redding is nodig vir alle lewe op aarde, want die lewe waaruit julle krag put, het die dood tot gevolg, soos wat mot en roes alles laat vergaan. Hoe kon ‘n God dit bedink en in die ‘lewe’ roep? So vra menige kind buite My Liefdesorde. Indien die kinders nou gehelp word om My Liefde te verstaan deur lewe in alles te ondersoek en My vir die ewige nut daarvan te vra, sal hierdie onsinnige gedagte van die Kinders van My Liefde wyk. Ek het niks geskape om soos ‘n papier na ‘n enkele gebruik te vergaan nie. Die woorde wat op die papier van My Skepping geskryf word, gaan saam met daardie siel na elke volgende geestelike vlak. Hierdie is die lering wat nodig is vir My kindertjies om waarde tot hulle dade en denke toe te voeg. Hierdie wêreld vra: wat het jy in jou lewe vir die wêreld beteken of gedoen? Ek vra: wat het jy in jou aardse bestaan tot jou ewige bestaan toegevoeg? Het dit nut gehad vir My om jou na hierdie aarde te stuur om soveel tot jou beskikking te hê om ewig te ontwikkel? Wees daarom ingestel op ewige prestasies en nie die aardse prestasies in die klaskamers van My kindertjies nie. Help hulle daagliks om te verstaan en te dien in die plek van te onthou en te bewys. Niks hoef bewys te word as daar na die LEWE gekyk word nie. ‘n Baba bewys nie dat hy asem haal en jou nodig het nie, dit is bloot die lewe. ‘n Dier bewys nie dat dit in die omgewing is en skade gaan verrig nie, dit is die lewe. Die wind bewys nie dat dit ‘n sekere seisoen is en dat dit sy werk goed doen nie. Dit is die lewe.

Neem daarom die prestasie-bewyse uit My Kindertjies se leerskole en gee aan hulle die lewe terug. Dit beteken dat daar met vryheid moet leer uitgesien word na elke klas, elke ondersoek, elke bespreking en elke taak. Dit moet in die groter prentjie vir hulle sin maak dat dit die lewe se behoeftes is waaraan antwoord gegee moet word. Dit beteken dat daar nie idees oor die toekoms se werkloosheid of nood geskets moet word nie, maar dat afhanklikheid, nederigheid en diensbaarheid teenoor My Sorg hulle moet leer dat Ek alles wat Ek geskape het liefhet en WIL onderhou. Dit is die lewe. Ek skep lewe en dit is geduldig. Leer die kind dat take gekoppel word aan sy eie vermoëns en nie aan voorgeskrewe prestasies vir ‘n sekere ouderdom of skool nie. Help die kindjie om sy vermoëns te ontgin, op die maniere wat Ek in hierdie boek aan julle uitlê, sodat die kind groot treë op hierdie aarde neem vir sy ewige bestaan. Amein.

Die ondersoek van die lewe kan begin deur na die hande te kyk. Die wil om te beweeg, die verskeidenheid take wat verrig kan word daardeur, die sagtheid van vlees, die kern wat sterk bene nodig het, die naels as praktiese versiering, dit alles is ‘n deeglike studie van die lewe. Die vinger-afdruk, handafdruk en kullende skadu-beelde wat met hande gemaak word is alles deel van eienskappe van die lewe. Help die kind om dit te vergelyk met dinge wat werklik om hom gebeur. Leer dan die kind dat die hand versorging nodig het en opreg gebruik moet word. Niks mag My oneer aandoen nie. Leer die kind dat alles met ‘n keuse voor-af gaan. Die hande sal doen en dien soos wat gekies word om te dien. Die hande sal lyk soos wat die persoon kies om sy tyd te spandeer. Kies tyd saam met My in My dade van Liefde. Amein.

Die volgende studie sal die kind help om My te vind buite homself. Ontdek die lewenskrag in ‘n saadjie deur ontkieming te bestudeer. Ondersoek die nood van die saadjie in die ontkiemingsproses en die kwesbaarheid daarvan deur weers-omstandighede. Laat saadjies in verskillende toestande gelyk ontkiem en beskou die gevolg daarvan in gesprekke. Dit sal die kind help om verantwoordelikheid en voor-uit beplanning te oordink, sodat hy as versorger in My plek op hierdie aarde kan dien. Leer deur hierdie ondersoek die kind wat dit beteken om te heers met My, soos wat Ek aan Adam opgedra het. ‘n Verdere les hierin sal die ondersoek van volgroeide plante en hulle habitatte wees. Net sekere plante is geskik om in kleiner tuine te dien en selfs dan sal die heerser se sorg aangedui word deur die voorkoms van die plant. Sommige tuine word net aan sy eie lot oorgelaat en daar sal plante mekaar maklik verdring en selfs doodgaan. Sommige tuine word te veel gedruk in ‘n vorm in en daar sal oormatige betrokkenheid van die heerser ‘n willose toestand verbeeld. Leer My kleintjies dat Ek aan elkeen sy eie lewenskrag gun en net ingryp indien ‘n naaste bedreig word daardeur en dit die siel daardeur sal baat. Indien ‘n plant egter nie goed wil aard in die omstandighede waarin ek dit geplaas het nie, sal dit beter wees om dit te verwyder. Al hierdie waardevolle lesse oor waar en waarom lewe toegeken word en hoe om te beplan, lei en te rig, sal My kindertjies inlei in hemelse wyshede oor hulle siele en help om waardige leiers te wees vir My kinders. Amein.

Die sorg vir ‘n troeteldier is reeds genoem en dra by tot die eenheid met My Wese deur die kind se besef in die energie wat gepaard gaan met lewe. Lewe kan nie gekeer word of verander word nie, net gelei word en beëindig word. Dit is My taak om dit vir elke lewende wese te doen en so wil ek My kindertjies leer om dit ander toe te laat en in vreugde te seën deur die liefde en toewyding van ‘n troeteldier te leer verstaan. Ware vriendskappe kan daarmee belig word, deur waardes in die verhouding tussen kind en troeteldier te bespreek en die kind kans te gee om sy waardering of gevoel daaroor te verwoord. Die belangrikste les in die lewensaspek vir kinders is om te leer om nie voorskriftelik of agter-af te wees nie. Dit bring negatiewe gevolge vir al die betrokke siele. Slegs openlike vertroue en liefde sal alle verhoudings baat en help groei nader aan My. Amein.

Die lewe bestaan in alle vlakke van die omgewing rondom die kind, hetsy die tuiste, die klaskamer, die natuur en water oral om. Die kind se besef van lewe sal met alles groei in volwassenheid en dit is die taak van die opvoeder om in al die vrae bystand te bied om denke en liefde na My te wend. Maak die lewe ‘n werklike konsep deur ‘n afdeling in die klaskamer in te ruim waar al hierdie lewende dinge daagliks aandag geniet. Die lewe van plante, diere, mense en die weer is ‘n eenheid. Dit benodig die waarneming, betrokkenheid en sorg van die mens om sy lewensruimte in liefde te geniet. Daar moet beplan word hoe om prakties aan te trek, sodat diens vir die dag met toewyding kan geskied. Daar moet besluit word hoeveel kos en water is vir verskeie lewende dinge in die omgewing nodig om gelukkig te kan groei en gee. Daar moet diensbaar gevra word wat die mense se behoeftes is om hulle take te verlig en My Lig so in die omgewing te vergroot. Leer My kindertjies om Lig te bring onder al die lewe om hulle op hierdie manier. Leer hulle die vreugde daarin om dit daagliks te doen en help hulle om opruiming na take se waarde in die lang duur te beleef. Lig so die ordelike denke en vrede wat daarmee gepaard gaan uit. Amein.

Ek is in alles wat lewe, maar ook die krag wat alles in stand hou. Sonder My sou ‘n klip nie sy vorm kon behou nie en grond nie op die aarde kon bly nie. Alles van die aarde vorm n eenheid met die aarde, omdat Ek dit so wil en die krag is wat dit aanmekaar hou. Ondersoek die omgewing saam met die kind en bespreek natuurkragte en verskynsels as gevolge van aardse omwentelinge. Dinge wat op een plek nie reg is nie, veroorsaak ‘n reaksie op ‘n ander plek en so gebeur dit ook in die siel. Siektes is die oorsaak van sekere dinge wat nie binne die regte orde gebeur het op ander plekke in die liggaam nie. Ek wil die orde wees in alle lewe, maar kan dit net wees as Ek daarom gevra word en toegelaat word binne die siel se lewensfeer. Wanneer daar deur gebed en vertroue na My gekeer word, kan Ek liggame, kragte en omgewings seën met vrede en groei. Help daarom mekaar om My as versorger aan te roep en bid om Wysheid in hoe die omgewing bestuur moet word en node aangevul moet word. Amein.

Die kind moet leer dat alle persone in die gemeenskap ‘n ewe groot taak in die sorg van die omgewing het deur gebed en vertroue en moet daarom teenwoordig wees tydens sulke gebede. Die verantwoordelikhede van die omgewing moet ook as ‘n tipe tabel of werkskaart aan die kind sigbaar gemaak word, sodat die orde en roetine en dus geduldige verantwoordelikheid van die inwoners ‘n sigbare beeld in die kind se gedagtewêreld bring. So kan die kind leer uitsien na My Groeiseisoene en die waarde van Oesseisoene begryp. Al die take in die voedsel voorsiening van die gemeenskap moet in ‘n geestelike sin aan die kind oorgedra word deur dit te vergelyk met fases van sy geestelike ontwikkeling. Die kringloop daarvan kan verduidelik word, as ‘n hoër vlak in die siel wat homself elke keer ontvou. Net soos wat die vordering elke jaar korter voel as in vorige, onervare jare, kan daar na die ewige gekyk word om te besef dat vreugde en vrede ‘n ‘ewige’ bestaan na ‘n oogwink laat lyk. Bespreek tyd en lewe in daardie verband, waar goeie seisoene tyd nutteloos laat voorkom, omdat daar oorgenoeg van alles is, maar slegte seisoene maak dat nood noodlottige gevolge kan meebring, omdat alles vir te lang tye sonder sorg gelaat is. Ek wil nie die swaarkry aan My kinders sien nie, Ek wil graag die ewige seën oor hulle uitroep, maar dit is teen die orde van hierdie bestaan om net in seën te lewe. Alle siele hier moet gedwing word tot hoër ontwikkeling en moeisame groei en daarom moet die moeilike omstandighede die siele help om My Krag te vra in tye van nood. Net daardeur sal hulle My toelaat om hulle te laat groei in dankbaarheid. My Krag toon aan die siel sy eie magteloosheid, onvolmaaktheid en nederigheid teenoor My Grootsheid. Ek laat dit egter nie oor ‘n lewe toe met ‘n septer en swaard nie, maar met geduldige gevolge om die siel te laat besef dat hy My moet soek met groter erns. Amein.

Hierdie is voldoende lesse oor die lewe op die vlak van ‘n kind. Ek wil dat die opvoeders ruim verwysings bymekaarvoeg in die onderrigsituasie om die kind die mooi en lewenskrag van die lewe te laat begryp. Die negatiewe lesse is nodig as terloopse verwysings, maar die gemoed van die kind moenie te veel tyd aan slegte gevolge spandeer nie. Eerder moet die vrye ontwikkeling van die kind soos ‘n lente-seisoen in die planteryk beskou word, waar baie water en sonlig en genoeg ruimte nodig is om die kind te laat groei soos wat die lewenskrag in die kind dit toelaat. Amein.

Ek seën hierdie kennis in die Kinders van My Liefde, sodat daar meer werk as lewende siele in My Ryk verrig kan word tydens hierdie laaste tye op aarde. My Kinders het nodig om mekaar te vind as Ligsirkels en daarmee vrede te vind in hulle bestaansdoel op aarde. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205