BOEK 3 - DIE BEKRAGTIGING
DIE NUWE BYBEL

Hoofstuk 19

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35.

Hoofstuk 6

‘n Familie

Hiermee wil Ek julle begrip verbreed oor wat ‘n familie vir My beteken. Ek het reeds verduidelik dat ‘n familie se siele gekies en bymekaar gevoeg is vir die rede van sielsontwikkeling met die korrekte ondersteuning. Hoekom is dit dan dat sommige siele verworpe en soos ‘die swart skaap’ voel tussen die ander in die familie. Alles gaan oor lewenskeuses, ja, maar tog is daar ‘n onderliggende faktor waaraan nie gereeld gedink word nie. Die samestelling van elke siel begin deur die betrokkenheid van My by verwekking, maar dit gaan ook veel dieper. So vêr terug soos die val van Lucifer. Daar het elke siel ‘n sekere plek in sy skepping beklee en omdat daardie versoening deur hierdie lewe op aarde gedoen moet word, moet Ek daardie siele ook in die oorspronklike verwantskap verneder en saamvoeg om weer een te word, soos dit aanvanklik bedoel was. Die siele wat nie in ‘n familie pas nie na die afvallige kant, was duidelik die siele wat die ander gelei het in hulle dwase optrede en moet nou met Liefde weer gewen word vir My. Die siele wat uitgewerp word as die oordrewe gelowiges en ‘engeltjies wat guns by ander probeer wen’ was wel die siele wat saamgetrek was in die groot val, maar net as gevolg van verwantskap en nie eie wil nie. Ek wil al hierdie siele die kans gee om weer My Liefde te kies en daarmee een te word en daarom sal Ek die kans op ‘n regverdige manier aanbied. Vind daarom vrede met die familie waarin jy jou bevind, want dit gaan baie verder terug as die etlike jare wat jy reeds op aarde spandeer het. Amein.

Hoe moet die taak van bekering dan aangepak word? Ek is in elke liggaam ‘n stukkie krag, soos reeds verduidelik. Sodra die mens homself reeds aan My Wil oorgegee het en Ek die instrument van skepping kan gebruik, soos wat hemels beplan en in die lewe geroep is, kan Ek met My Krag wat deur die persoon werk wel die ander familielede se guns en liefde vir My wen. Hierdie hemelse krag kring vêr  verby die aardse bestaan uit, daarom is daar ‘n ewige kans om weer My Skepping met mekaar in My te verenig. Hoe harder elke siel egter werk aan die krag in sy vermoë om homself en ander nader aan My te bring, hoe groter kring hierdie krag uit om siele uit ander families ook by te staan in hulle taak. Ek wil hê dat julle hierdie les op die volgende manier aan My klein kindertjies moet uitbeeld en aanbied:

Neem ‘n waterplas en drup ‘n druppel water daarin. Die kringe van inval, sal uitkring tot die watervlak weer glad is. Dit is die neerplaas van ‘n siel in ‘n familie. Daar is baie rimpels in die familie tot die siel een geword het met die massa en almal weer tevrede is met die nuwe eenheid. So raak My Gees wat in die nuwe siel is een met die gees wat onder die familie heers en raak dit ‘n groter krag wat die familie tot hulle beskikking het om My tot diens te wees. Daarin lê die seën van vele nakomelinge. Dit kan egter net ‘n seën wees as daar op My Krag in die familie gefokus word, anders raak die Krag skraler en kan die water selfs opdroog. Daar is dan geen seën of eenheid in die familie oor nie. Dit is vêr van My Wil. Erken en verhoog My Krag in julle watermassa, deur julle aan My op te dra en te heilig. Amein.

Die volgende les is deur ‘n grasspriet te beskou, waaruit nuwe blare uit litte ontspring en opskiet om nuwe bossies gras te maak en wortel te skiet onder elke bossie. Hierdie gras is ‘n voorbeeld van hoe ‘n familie as deel van ‘n eenheid, tog afsonderlik as nuwe plant kan vermeerder met die lewenskrag wat van die oorspronklike familie af deurvloei vir ’n oneindigende voortplantingsvermoë solank as wat daar water en grond as voeding bestaan. Ek is die Lewegewer van hierdie grasplant en elke familie het die geleentheid om soos die grasplant een te wees met die vorige dele van die plant, sowel as met My wat die goeie, voedende grond onder die plant voorstel om sodoende gesonde vooruitgang van die plant te verseker. Amein.

Die volgende beginsel is te vind in die son wat net bedags strale op die aardbodem gooi. So is elke familie wat met hulle teenwoordigheid ‘n goddelike uitstraling laat, maar wanneer die geleentheid verby is, sal die uitstraling ook nie meer te beleef wees nie. Tog wek die herinnering daarvan ‘n vooruitsig van opgewondenheid oor die volgende belewenis in mekaar se teenwoordigheid. Laat elke familie dus so ‘n voorstelling van My Lig en Liefde wees, dat die belewenis saam met mekaar ‘n blye, geseënde geleentheid is. Amein.

Die les oor die ewige sielseenheid tussen familielede is ‘n heelwat moeiliker les en daarom vir ‘n ouer kind bedoel (rondom nege-jarige ouderdom). Hier sal dit gepas wees om na My aardse lewe te verwys waar Ek neergedaal het as ‘n kind tussen mense wat baie suiwer van hart en werke was. Nie een van hulle het ‘n kind in gedagte gehad nie, want hulle toewyding aan My Wil was so sterk dat hulle mekaar se belange die hoogste geag het, wat hier veiligheid en versorging beteken het. So ‘n toewyding vra Ek onder My kinders as families. Dit is die hoogste eer vir ‘n familie as daar niemand in die familie swaar kry en van nood ondergaan nie, want dan het almal mekaar se belange op die hart gedra.

Hierdie familie wat My ontvang het, het egter na die eerste ontnugtering van ‘n nuweling om voor te sorg, hulle uiterste bes gedoen om die nuweling ook te omvou met beskerming en sorg. Liefde het glad nie by hulle ontbreek nie, hoewel hulle nie werklik begryp het, Wie aan hulle toevertrou was nie. Ek het daardie ouerpaar vir My aardse bestaan gekies, omdat hulle ware knegte van My was in die tyd voor die aardse skepping, een met My Wese en dus maklik te heilig in hierdie aardse bestaan. Die deurtog van die aardse pad, soos wat die Israeliete deur die geopende waters die land Kanaän moes inbeweeg, is presies wat hierdie paar moes deurgaan om hulle Liefde met My te verenig. Geloof, vertroue, heilige verseëling en vernederende laagtes is die weg vir ‘n ware Kind van My om die beloofde Kanaän te mag beërf. Amein.

Indien hierdie les voorgehou word met die verduideliking dat laer siele ook die omringende laer omstanders uit hulle vorige bestaan as familielede ontvang, sal daar beter begrip vir die opwaartse ontwikkeling en heilige doel van die aardse bestaan wees by die kind. Stel aards en laer geestesvlakke voor deur die materiële ydelheid wat slegte lewenswyses as uitgangspunt het. Stel die hemelse voor deur My aardse lewe wat nederig, sonder enige besit en gewyd aan die diens en seën van My naastes en volksgenote was. Dit is wat Ek van elke kind van My Liefde vra. Geen verwerping van die ander is aanvaarbaar voor My aangesig nie. Selfs nie eers totale verkeerde wandel regverdig verwerping in die familie nie. Gebed en sorg in die mate waarin die siel tot bekering aangespoor sal word, is uiters belangrik. Ek wil dat al My Kinders op hierdie aarde soos die lelies van die veld gevoed en geklee sal wees met sorg na liggaam en siel en sal daarom in elke familie iemand van sterk genoeg aard gee om die ander so te bedien, maar vra genoeg nederigheid van daardie persoon om die ander te aanvaar vir die krag wat hulle reeds ontgin het en in Liefde te help dra tot die hele familie weer soos water ‘n groot eenheid voor My word. Selfs in die hiernamaals word voortgegaan met die wen van siele wat mekaar ken en nie. Amein.

Ek wil ook dat My Kindertjies kyk na die herkoms van families uit vroeëre geslagte en hoe dit by mekaar aansluit in die huidige tyd as oorlewering vir hulle eie nageslagte. Maak daarom ‘n voorstelling van ‘n familieboom soos wat julle dit ken, maar wel van onder na bo en dui aan dat die boonste geslagte nader aan My sal kan lewe as hulle dit so kies, omdat hulle van die fyner siele van die boom is en hoër kan reik. Die krag van die boom bly egter eie aan sy soort en vloei voort van die oorsprong tot in alle sade wat weer nuwe bome sal bewerk. Hierdie boom is geanker in My Krag en kan slegs bly lewe indien My Krag gebruik word om dit te voed. Ek wil dat die bome uitspruit om meer en groter te word en nuwe, vars groeipunte mee te bring. Amein.

Hierdie bome se oorsprong is veel verder terug as die ontstaan van hierdie aarde. Elke siel wat deel vorm van die skepping wat nou as ‘n boom voorgestel word, was voorheen deel van dieselfde groep, maar in ‘n ander vorm van groei. Hierdie groei het My Krag geneem as middelpunt en uitgekring in al die kleure waaraan daar gedink kan word tot ‘’n blomvormige lewenspunt waaruit nuwe klanke en geure gespruit het. Elke blomvormige lewenspunt het unieke werke in stand gehou en samewerking tussen die sieledele het die skoonheid van die lewende organisme hoog gehou. Net soos wat daardie bestaan van die lewenspunt in een oomblik almal omvat het, is die bestaan van daardie lewenspunt nou ‘n uitgerekte geleentheid oor baie jare met dieselfde sieledele as lewenspunt daarin. Apartgestelde lewens van ander volke is daarom gegee, sodat hierdie lewenspunte nie vertroebel sal word met die werke wat daaruit moes vloei nie. Elke volk en stam het sy eie werke voor My wat hom diensbaar maak vir ‘n sekere doel. Amein.

Ek wil dat My kindertjies hierdie deel maak van hulle begripswêreld van vroeg af, om sodoende die nodige waardering en liefde vir elke familie se wese te ontwikkel. Blootstelling aan ander families is goed onder leiding van die ouers en opvoeders, maar ‘n kind is nog nie gereed om ander families op hul eie te beleef en die belewenis gesond te verwerk nie. Hou dus die kindjie onder jou sorg tot op ‘n laat ouderdom, voordat daar vryheid van saamwees as individue toegelaat word. Amein.

Ek heg hierdie eenheid weer saam op hierdie aarde om die diens wat Ek deur hulle bedoel het, weer ‘n kans op lewe te gee en sodoende die volmaakte Eenheid van My Wese weer heel te maak. Indien die familie in geloof en liefde diensbaar word, sal hulle in die ewige tye wat voorlê weer ‘n oorvloed van My krag beleef. Amein.

Die voorstelling van hierdie krag wat families besit kan geïllustreer word deur die ondersoek van ‘n byekorf waarvan daar vele op aarde bestaan. Die versameling van die soet nektar is die enkelinge se pogings om krag bymekaar te maak op hulle eie in hierdie lewe. Die berging van die verwerkte nektar in die vorming van heuning is die uitleef van die krag wat hulle iewers gevind het en ‘n nalatenskap daarmee bied. Die lê van eiers deur die koninginby, is My krag wat Ek aan die familie gee om weer nuwe bye (samewerkers) in die vooruitgang van die byekorf te ontvang. Geen selfsug onder hulle, maak dat die kolonie kan swerf en voortplant en ‘n diens lewer waar hulle ook al gaan, onder instruksie van die koninginby. Elkeen doen sy deel en gee sy kragte tot voordeel van die hele kolonie se voortbestaan en tog is elke kolonie se taak uniek ten opsigte van die ligging en diens wat hulle in ‘n gebied doen. Amein.

‘n Verdere voorstelling van ‘n familie se krag wat uit My vloei is die bestudering van swaeltjies wat as ‘n groep migreer en so die voortbestaan van die families verseker, maar op hul eie onder My sorg lewe in ‘n gebied waar hulle heen gelei word. Elkeen dra ook sorg in die voortbestaan van hulle geslagte, maar is ‘n eenheid sonder om mekaar te benadeel. Amein.

Hierdie kennis van familie-werking wat die voortbestaan van die hele groep beïnvloed is uitermate belangrik in die tye waarin julle leef, aangesien satan hard werk daaraan om die familie-verwantskappe te skaad en op te breek. Indien hy slaag in sy doel, is daar geen krag wat bou op die vorige gawes om die skepping mee te laat vorder nie. Elke krag toestroming van My af is dan van korte duur om ‘n enkele ydel werk tot stand te kon bring en weer ‘n leemte te laat. Soek jou taak as deel van die eenheid van jou familie, want daarin lê geheimenisse opgesluit oor die werk wat die familie voor My moet verrig. Amein.

Hierdie kennis oor families moet op ‘n eenvoudige manier aan My kindertjies oorgedra word, sodat hulle waardering, liefde en toewyding ontwikkel om een te wees met almal om hulle in familie-verband. Selfs die ‘sondaars’ in families moet weer ingetrek word deur liefdesdade om van hulle verkeerde weë te bekeer. Net My Liefde as krag sal dit bewerk en daarom moet gebed die manier wees om dit te beredder. Moenie uit jou eie die ander partye nader nie. Gee dit aan My en bid My Krag en heling oor jou geliefdes, want dit is die lewende Krag wat die eenheid sal bewerk. Amein.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205