Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 23

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 23

  1. Hierop stoot die Owerpriester die boek na My toe en sê: “Daar, lees dit en oortuig Jouself!”
  2. Ek neem toe die boek en gee dit vir die Regter en wys vir hom die plek aan wat hy moet lees en vra hom om dit hardop te lees, sodat niemand kon sê dat Ek die tekse tot My eie voordeel sou lees nie. Dit kon die Regter baie maklik doen, aangesien hy die meeste tale van die Oriënt magtig was en dus ook baie beter in staat was om die oud-Hebreeuse skrif te lees as al die tempelamptenare saam.
  3. Die Regter neem die boek en lees opgewonde soos volg daaruit: “Vir ons is `n Kind gebore, `n Seun is vir ons gegee, Wie se heerskappy op Sy skouers rus; en Sy Naam is Wonderbaarlik, Raadsman, Krag, Held, Ewige Vader, Vredevors, sodat Sy heerskappy groot kan word en die vrede sal geen einde hê op die troon van Dawid en in Sy koninkryk nie en dat Hy dit met oordeel en geregtigheid voorberei van nou af tot in ewigheid! Sulke dinge sal deur die Ywer van die Skeppingsleërmag gedoen word!” - Hierop vra die Regter die Owerpriester of die tekse goed gelees was.
  4. Met `n groot buiging bevestig die Owerpriester dit.
  5. Daarop gaan die Regter voort om in My Naam te praat en sê: “Daar het julle volgens my mening `n plek opgesoek wat volgens my soos geen ander van toepassing is op hierdie jong, dierbare en wyse Seun nie!
  6. Die maagd wat `n Seun sal baar, vir wie sy die naam ImmanuEl sal gee, dit het ons - ten minste volgens my subjektiewe insig - sodanig uiteengesit, dat daar by my nie meer die allergeringste twyfel bestaan dat hierdie Seun juis dié Seun is wat deur die profeet aangewys is vanuit die maagd, wat volgens julle eie bekentenis welbekend is, met die naam, glo ek, Maria.
  7. En indien ek my nie misgis nie, dan het hoofman Cornelius per geleentheid nie te lank gelede nie, vir my vertel van daardie wonderbaarlike geboorte van `n Seun in Bethlehem in `n leë skaapkraal, weens die tekort aan beter blyplek. Dit het met groot opgewondenheid en innerlike deelname vir daardie gedenkwaardige familie gebeur wat destyds swaar deur die noodlot getref was. Hy het dikwels navraag gedoen, maar sedert hulle vertrek uit Egipte, niks meer van hulle gehoor nie! Ongelukkig het hy as gevolg van staatsaangeleenthede na Tirus moes gaan, andersins sou hy baie beslis hier gewees het!
  8. Dus, rakende die profetiese geboorte van hierdie Seun, verstaan ons mekaar en kan daar voor die forum van die gesonde verstand beslis geen teenargument bestaan nie!
  9. Nou, dat Hy melk en heuning sal eet om die suiwere te kan verstaan en te kies en om die besoedeling te verwerp, kan ek vir my volgens die oud-Egiptiese manier `n ooreenkomstige beeld voorstel, wat vermoedelik - volgens my siening geoordeel - die volgende sê: “Hy sal vervul wees met die Liefde en Wysheid en sal wel dit wat waar, suiwer en goed is en dit wat besoedel is, herken!”
  10. Dat Hy, soos geen ander wyse of geleerde in die hele wêreld dit kan doen waarvan Hy vantevore vir julle die mees duidelikste bewyse gelewer het, toon dat Hy groot hoeveelhede van die geestelike heuning en (geestelike) botter in Hom het, soos wat Hy dit reeds meer as een keer vir julle wyses van die Tempel gewys het. Net so kan julle nog baie by Hom leer, maar Hy sekerlik niks van julle nie! En dit is voldoende bewys van hoeveel heuning en botter Hy alreeds tot nou toe opgeneem het!”
  11. Maar dit alles maak dit al hoe duideliker dat juis Hy dié Een is wat deur die ou profeet aangekondig is en wat die uit-die-maagd-gebore-ImmanuEl is en dat geen maagd van nou af ooit weer so `n Seun op hierdie aarde sal baar nie!
  12. Ek het in die groot Romeinse keiserryk nog nooit `n Seun van twaalf jaar ouderdom leer ken wat met Hom - afgesien van sy onbegryplike wondereienskappe - net verlangs kers sal kan vashou nie en daarom glo ek dat die tweede teks van die profeet wat julle self opgesoek het, net so goed op Hom van toepassing is as die eerste, wat Hy ook aanvanklik as `n sogenaamde eerste vraag aan julle gerig het.
  13. Ja, in Hom is vir ons waarlik `n Kind van alle kinders gebore en `n Seun uit die skoot van die gode - soos ons Romeine sal sê - vir ons sterflike mense gegee, wie se onbegryplike heerskappy Hyself waarlik net op Sy eie skouers sal dra en waarvoor Hy geen helpers nodig het nie!
  14. Die profeet gee dan deur die opnoeming van name klaarblyklik net die eienskappe en sê nou self of daar een kortkom!
  15. Is Hy dan nie wonderbaarlik in Sy verstand, Sy spraak en Sy dade nie?!
  16. Watter wyse mens op aarde kan vir my meer wyse raad gee as hierdie ware en allersuiwerste Seun van God?!
  17. Dat Hy in elke opsig `n Almag besit, of dit nou gees of materie is, sal niemand wat Hom hoor praat en sien handel het, hopelik meer betwyfel nie!
  18. Deur Sy onverskrokke moed teenoor julle baie bekende hoogmoedige priesters, wat julle bo al die gode laat prys en aanbid, het Hy duidelik Sy onverskrokke heldhaftigheid aan die dag gelê!
  19. Soos wat Sy gees noodwendig ewig en een met die Gees van God is, het Hy voor julle op so `n duidelike wyse en met min woorde bewys dat `n mens werklik met die blindheid van alle nagte wat ooit op aarde voorgekom het, geslaan moet wees, om nie met die eerste oogopslag aan te voel waarvandaan hierdie wind begin waai het nie!
  20. Dat slegs Hy vir die mens die ware, lewendige, innerlike, vrede kan gee en dat Hy derhalwe ook alleen `n ware Vors van alle vorste op aarde is en vrede vir die mens op hierdie aarde kan bring soos geen ander vors nie, dit het ek alreeds beleef!
  21. Slegs Hy kan die ou siener- en herkenningsryk van Dawid, wat lank reeds deur julle vernietig is, weer lewendig maak en `n heerskappy stig waaraan alle vorste van die aarde, ten spyte van hulle septer en kroon, vir ewig onderdanig sal wees; want die ryk van die helderste herkenning is en bly steeds die magtigste op aarde en kan nooit geheel onderdruk word deur enige mag nie. Maar waar die Lig is en die alles-deurskynende werking daarvan, daar is ook `n ware oordeel en die mees uitgesproke, openlike Geregtigheid!
  22. En ten slotte word daar nog gesê: “En dit sal die Ywer van die Skeppingsleërmag doen.” Wie anders is JaHWeH van die Skeppingsleërmag as die Gees van God wat hierdie Seun deur en deur vervul het? - iets wat ek al van die eerste oomblik af raakgesien het! Hoekom het julle nie, aangesien dit tog vir julle klaarblyklik van meer betekenis moet wees, as vir my as `n ongelowige?!
  23. gode en o, al die orakel van die hele wêreld saam! Hoe verskriklik blind, dom en van harte besoedel moet julle wees dat julle dit nie op die eerste oogopslag kon insien en aanvoel van waar die wind begin het om te waai nie! Ek, `n ongelowige, moet vir julle sê dat dit so is!
  24. Wat sou daardie profeet wat sulke profesieë neergeskryf het oor julle duister halsstarrigheid sê indien hy weer sou opstaan en voor julle kom staan?
  25. Kry julle dan nie skaam wanneer julle nou dom en blind daar staan voor die oë van Hom, wie se wil vir julle julle verrotte bose lewe en julle duister heerskappy toelaat?! Kan Hy tog nie dieselfde met julle doen as wat Hy gister met die esel en die groot klip gedoen het nie?!
  26. Dan moet julle nog voor die hele wêreld dink wat reg is om te doen - hetsy voor `n God/God wat julle nie ken nie en waaraan julle nog nooit geglo het nie, of hetsy voor die wêreld waaraan almal baie vet geword het en daaraan dink om nog vetter te word, - terwyl `n werklike God/God voor julle staan, toegerus met al die eienskappe wat die menslike fantasie ooit van `n God kan uitdink, natuurlik op die mees verhewe manier!
  27. Nou wil ek tog graag van julle ou domkoppe weet hoe julle `n God vir julleself voorstel?! Julle moet tog `n soort begrip van Hom hê!? Praat - want nou beveel ek vir julle om my te antwoord!

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205