WAT VAN DIE UITVERKIESING?
BERTUS HANEKOM

Hoofstuk 1

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20.

Wat van die uitverkiesing?
Hoofstuk 1.
17 Desember 2007 om 21h30
Julle wil tot My spreek oor die heerlike en groot waarheid, die uitverkiesende genade van My. Elkeen wat in die Skrif glo, moet ook glo in die uitverkiesing, want die Skrif leer sonder enige twyfel dat julle in My uitverkies is voor die grondlegging van die wêreld.
Julle moet egter baie versigtig wees as julle gedagtes wissel oor dinge van die Skrif. Julle kan so maklik tot ‘n verkeerde vertolking van sekere Skrifwaarhede kom en dit dan voordra asof dit die boodskap van die Skrif is. Dit is om hierdie rede, glo Ek, dat daar soveel botsende opinies met betrekking tot die leer van die uitverkiesing bestaan. Die hele Bybel is My Woord, maar julle moet onthou: Die Bybel is geskryf in julle taal, anders sou julle My nooit verstaan het nie. Net so onmoontlik as wat dit is om al die water van die see in een beker te skep, net so onmoontlik sou dit vir julle wees om goddelike taal te begryp. In My wese en gedagtes is Ek ewig vir julle onbevatlik, want Ek is onbeperk. Julle is egter in julle kennis en gedagtes aan die beperkte onderhewig. Daarom kom Ek tot julle in beelde, gelykenisse en verduidelikings. Hierdie woorde kan egter nie aan die onbeperkte uitdrukking gee soos wat dit in die gedagtes van My bestaan nie en tog is dit ‘n troue weergawe van die waarheid en bly dit vir julle ‘n wonder. Julle moet uit die hele Skrif lewe en Skrif met Skrif vergelyk, om sodoende die volle bedoeling van die Skrif in soverre dit vir julle moontlik is, te snap. Ek herhaal: Om hierdie rede moet julle baie versigtig wees, want niemand van julle besit die volle waarheid nie.
Die woord, uitverkiesing, kan dan onmoontlik uitdrukking gee aan die hele bedoeling van die Heilige Gees. En tog is hierdie bedoeling duidelik genoeg vir julle om daaruit te verstaan wat Ek van julle verlang. Juis hier staan julle stil van verwondering dat die sondelose Ek wat in My wese onbeperk is, tot julle kan spreek in ‘n beperkte taal en dit sonder om te sondig, terwyl die Skrif nogtans die onfeilbare woord van My bly. Daar is veral twee vertolkings van die uitverkiesing wat deur die eeue heen die gedagtes van julle gevange geneem het.
Die eerste groep kan julle die volgelinge van die getalteorie noem. Hulle glo dat Ek aan die begin besluit het om ‘n bepaalde getal mense vir die Hemel te skep, of liewers, gebore te laat word en ‘n sekere getal vir die verderf te skep. Die wat My dan aanneem, gaan Hemel toe, en die wat verlore gaan, gaan hel toe. Hoe kan Ek bepaal dat iemand hel toe gaan, en terselfdertyd verklaar dat so iemand in die verderf is omdat hy My verwerp het? Hierdie teorie maak My tot die outeur van die sonde; dit gee aan My die skuld as jy verlore gaan, want Ek het dit so bepaal. Dit wil sê die wêreld is ‘n skaakbord, julle is die pionne daarop en Ek is die Skaakspeler. Hier het julle geen persoonlikheid nie en geen keuse nie. Jy dien My nie vrywilliglik nie, maar uit dwang.
Die uitspraak dat die Skrif sê julle is in die hel omdat jy My verwerp het, is dan bedrog. Dit maak die uitnodiging van die Evangelie tot ‘n bespotting en skilder My as ‘n wrede Tiran, wat redeloos en roekeloos die een vermoor en die ander laat lewe, en dan nog boonop lieg, en vir die wat verlore is, sê: “Julle wou My mos verwerp het.” Wat ‘n Godlasterlike vertolking van die uitverkiesing!
Die tweede groep weer is julle wat sê: Ek het julle geskape en op die aarde geplaas met alle moontlikhede om My te kies of te verwerp, dit wil sê met ‘n absolute vrye wil, die sondeval ten spyt. Die verlossing van julle hang alleen van julle self af, en Ek wag in angs en trane: “Sal julle My kies of nie?” Ek het dus nie bepaal wie verlore gaan nie, maar weet slegs omdat Ek alwetend is. Julle kan nou die genade van My verwerp of aanneem soos jy wil, My woord kan verval. Hierdie leer is uit die hel aangesteek. Dit is suiwer hoogmoed en opgeblasendheid wat hierdie selfverlossingsleer uit die Skrif probeer opbou het. Waarlik, as julle verlossing van julle self moes afhang, sou daar van sekerheid geen sprake kon wees nie. Dan is julle nog in julle sondes.
En tog beroep albei groepe hulle op die skrif. Die eerste groep sê dat die Skrif duidelik leer: “Kan ‘n Kussiet sy vel verander, of ‘n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewoond is om kwaad te doen” (Jeremia 13:23) Hier word dit tog duidelik geleer dat julle uit julself niks goeds kan doen nie, julself dus ook nie kan red nie. Verder Efesiërs 2:1 “En julle het Ek lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes.” Wat kan ‘n dooie tog doen? Niks!
Die tweede groep weer sê: As die ongeredde glad niks kan doen nie, dan kan die ongeredde ook geen verantwoordelikheid besit nie en kan van hom geen rekenskap geëis word nie. Tog leer die Skrif dat julle wel verantwoordelik gehou sal word vir jou dade. As jy aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe – en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose van sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe, maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered. En as die regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek ‘n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered. (Eségiël 33). Hier word die verantwoordelikheid van julle nadruklik geleer. Julle word tot rekenskap geroep. Dit is hier duidelik dat die sondaar deur sy sonde sal sterwe en nie dat hy sal sterwe omdat dit so bepaal is nie. Dit is al wat Ek nou wil sê.
Amen.

 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205