MEVROU, NA WIE SE BEELD IS U GESKAPE
VERSKEIE SKRYWERS

Hoofstuk 29

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

.

 

 

 

Hoofstuk 28

Vrou en dogter van Elohim, wie is jy?

DEEL 1 - Vrou van Elohim, wie is jy?

 

1 Wie is jy?

24 April 2009

Wie is jy? Wie is EK? Waar is jou begin en waar die van My? Amein.

Uit My Liefde het jy voortgekom, geskape deur My hand. As vrou het Ek jou geformeer en geplaas in hierdie land. In jou lewe is daar geen toeval, want Ek is in beheer. Amein.

Het jy al gedink oor die doel van jou lewe. Die waarom en hoekom van jou bestaan as geskape wese? Jy sal seker dadelik antwoord dat jy geskape is as vrou vir jou man of dat jy die een of ander beroep suksesvol moet beoefen, maar sou dit nou die eintlike rede wees? Elke skepper het tog aanspraak op dit wat hy geskape het, dit wil sê eienaarskap en die voorreg om dit wat geskep is tot sy voordeel te benut. As Ek dan jou Skepper en Formeerder is, hoeveel aanspraak het Ek op jou lewe, vrou van Elohim? Is dit net `n paar weggooi-oomblikke of het Ek jou volle aandag soos wat Ek as Skepper kan verwag?

Geskape uit My hand, behoort jy aan My, skone vrou, daarom dat Ek My met jou bemoei. Onafhanklik met vryheid van keuse het Ek jou gemaak as die kroon van My skepping. `n Vryheid om te kan kies wat jy wil en jou lewe daarvolgens in te rig. Weet egter dat jou keuse ook jou lot bepaal, want juis dit is waarom jy die kroon is van My skepping. Jy kan kies om My te dien of om voort te gaan op jou ou weë en dan nooit werklik deel word van My hemelse Koninkryk nie. Kies jy My, dan is daar veel te win en baie om voor te werk. Kies jy My teenstander, dan het ons niks meer om oor te praat nie. Daarom, soos Joshua van ouds, kies vandag wie jy wil dien. Kies jy My, doen dit met oorgawe en kom na My, want Ek wag om jou in My arms te vergader. Amein.

 

2 Wie is EK?

26 April 2009

Noudat ons aangeraak het wie jy is, wil Ek jou meer vertel oor wie Ek is. Ja, dis reg, Ek is die Almagtige Skepper van hemel en aarde. Die Elohim van Israel en jou Formeerder, maar ook is Ek die Oerbron van alles wat is. Alles wat is, het uit My voortgekom en is deur My in die lewe geroep. Niks het ontstaan sonder My nie en daarom is Ek ook die Onderhouer van alles.

Ek, as die Ewig Heilige, is ook Lig, Liefde en Lewe. Hierdie drie is deel van My Wese en kan, soos die Vader, Seun en Gees nie onafhanklik bestaan nie.

As ewige Lig is daar by My geen duisternis nie en is Ek ook dié Een wat jou, geliefde vrou, se pad verlig, indien jy My daarom sou vra. Net soos jou aardse Vader wil Ek ook hê dat julle My moet kom vra vir hulp. Watter vader weier hulp aan sy kinders? As jou aardse vader nie vir jou `n klip in die plek van `n vis sal gee nie, hoeveel te meer sal Ek, jou Hemelse Vader dit nie doen nie? Omdat Ek almagtig is en ook weet wat vir jou goed is, kan Ek egter nie altyd alles sonder meer toestaan nie, veral nie dinge wat skadelik sal wees vir jou siel se ontwikkeling nie. Ek laat ook soms toe dat slegte dinge met julle gebeur, want dit is My manier waarop Ek wil hê dat julle My moet soek. Wie soek sal vind, onthou! Maak My jou Lig en alle duisternis sal wyk, want geen duisternis kan standhou in My teenwoordigheid nie.

Ek is Liefde en het jou uit Liefde geskape. Ook het Ek aan jou `n naam gegee en by hierdie naam geroep, want jy is Myne, liefste jy. Vanuit My oneindige Liefde, het Ek as Verlosser na die wêreld gekom en mens geword om jou en elke ander te verlos en na My te trek. Ek het jou lief met `n ewige Liefde wat nooit verminder of sterf, want vanuit My het jy uitgegaan en Ek wil dat jy na My terugkeer. Die Liefde vergaan nimmermeer en is `n standhoudende fontein van lewende water waaruit jy kan put sonder geld en sonder prys, net maar jou hart as My heerlike spys. Het jy My gevind, vermeerder jou liefde vir My, deur My voortdurend op te soek. Deel die liefde ook uit deur naasteliefde te beoefen, want dit is deur te gee dat jy ontvang.

Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Wie in My bly, het die Ewige Lewe, want niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Bring al jou bekommernis en laste na My en Ek sal dit vir jou dra. Neem dan My juk op jou, want My juk is sag en My las is lig. Amein.

Vrou, geskape na My beeld van Goddelike Lig, Liefde en Lewe, dit is deel van jou doel op aarde om My beeld na ander uit te dra. Deur My elke dag te soek en in gebed met My te verkeer, sal jy hierdie beeld in jou vermeer. Sal My Lig in jou helder brand en na almal om jou skyn. Dan sal die liefde in jou bloei, terwyl jy dit uitdra na ander nog geboei, terwyl jy ook aan hul kan vertel, die weg tot Lewe. Amein.

Ek is Vader, Seun en Gees, en hierdie drie is EEN.

As Vader het Ek jou geformeer en as Seun het Ek jou verlos.

As Gees is Ek die liefdesvonk wat in jou is. Amein.

 

3 Hoe, waar en wanneer om My te soek

Geliefde in My, dit is in deemoed en nederigheid wat julle My moet soek. Ek is Liefde en in liefde sal jy My vind wanneer jy jou voor My verootmoedig. Op Golgota het Ek reeds die prys vir jou betaal, daarom kan jy met vrymoedigheid na My kom, want Ek wag op jou. Jou sondelas het Ek gedra en vir jou die weg gebaan na volkome verlossing in My. Kom en kom gou, want by My is daar rus en vrede vir jou. Neem jou kruis op en volg My, want My las is lig en My juk is sag. By My is daar geen lyding nie en is jy van kommer vry, gee net al jou laste vir My. Glo, vertrou en neem My verlossing aan, maak dit jou eie en jy sal vrede ervaar, ongekend van aard.

Waar om My te soek? Vir die wat My liefhet, is Ek orals, maar vir die wat My haat is Ek nêrens te vinde. Reeds voor My kruisiging het Ek gesê dat Ek nie woon in tempels wat met hande gemaak is nie. Ook is Ek nie `n Elohim van ver nie, maar van naby. Soek My in jou hart, jou allerheiligste skat, waar My Gees woon. Met `n onwrikbare geloof en vaste vertroue dat Ek binne-in jou is, sal jy My vind. Laat geen twyfel toe, want dit is `n teken van ongeloof. In jou hart is waar Ek met jou praat, met `n sagte stem en in liefde. Rig jou vrae daar en vind jou antwoorde. Ja, Ek praat ook met jou deur ander mense en deur My Woord, maar die sagte fluistering in jou hart kom uit `n ander oord!

Soek My as jy opstaan, as jy besig is met jou daaglikse take en as jy gaan lê in die aand. Soek My die hele dag, want Ek is met jou. Aan jou doen Ek My Woord gestand en hou jou in My reddende regterhand. Amein.

Vir jou het Ek gesterf en gered van verderf.

Daarom, kom na My, sodat Ek jou kan bevry

Jou sondelas het Ek gedra sonder dat jy daarom vra

In Liefde teer kyk Ek op jou neer en seën jou weer en weer.

Amein.

 

4 Mannin

‘Mannin, been van my gebeente en vlees van my vlees.’ So het Adam vir Eva genoem toe hy haar die eerste keer sien. So het jy, kosbare vrou, ook van My uitgegaan om in hierdie wêreld My verteenwoordiger te wees en `n hulp vir jou man. Aan jou het Ek die spesiale taak opgelê om kinders te baar en in My Naam op te voed. Weens jou sagtheid word jy die ‘swakkere’ genoem, tog straal jy van innerlike krag vanuit My, vir solank jy in My bly, en is mede-erfgenaam van My Barmhartigheid en Ryk. Wees daarom `n ywerige navolger van My Wet in die uitvoering van jou pligte as vrou en ondersteuner van jou man.

In `n deugsame vrou, soos in Spreuke 31, het Ek `n welbehae. `n Vrou wat in stilte en nederigheid vir My ywer in haar daaglikse take van onderhouding, bystand en onderrig. Soek My voortdurend in gebed, terwyl jy in liefde jou dagtake verrig, dan sal jy met wysheid handel en vir vele ander tot `n hulp en steun wees. Geduld en barmhartigheid word deel van jou, wanneer jy na ander minder bevoorregtes uitreik. Laat jou lewe van My getuig in jou daaglikse omgang met mense deur naasteliefde te beoefen en uit te leef. Hierdeur word nie net jou geloof versterk nie, maar word My beeld in jou uitgestraal om ander daarmee te omvou.

Bid sonder ophou, want die gebed van die regverdige dra veel krag. Bid vir jou man, kinders, volk en almal wat in nood verkeer, maar ook voortdurend vir jouself. Kom haal by My die krag vir elke dag se take en ook hierin sal Ek jou lei. Ek het mos aan jou die Trooster gegee om jou te leer en te lei in alle waarhede. Dra My beeld van Liefde, Vriendelikheid, Geduld en Barmhartigheid uit na almal om jou en jy sal as geseënd onder die vroue beskou word. Laat My lig deur jou skyn. Amein.

 

5 Vrou binne die Wet van Elohim

27 April 2009

Deur My kneg Moses is daar aan die volk van Israel tien Gebooie gegee as riglyn vir hul daaglikse lewe. Hierby is `n hele aantal insettinge en verordeninge toegevoeg. Aan Moses het Ek gesê dat dit `n afbeelding is van wat in die hemel is, en het ook die hemelse aan hom getoon. Dit is jou taak, geliefde vrou, om in jou innerlike na hierdie hemelse of geestelike betekenis van elke gebod te soek. Met die mate waarmee jy soek, sal jy vind en so jou skat in My Koninkryk vermeerder.

Ja, Ek weet jy vra dadelik: Wat van die offers? Nee, Ek was die hoogste offer. My vlees en Bloed het alle offers van bokke en stiere tot `n einde gebring. Die offer wat Ek nou verlang is `n berouvolle hart wat in liefde en deemoed My aangebied word. Hierin het Ek `n welbehae. Laat jou gebede die lieflike reukwerk wees wat jy daagliks in Gees en Waarheid vir My bring, terwyl die lofsange van jou hart My verbly as die skoonste tone vir My.

Amein.

Kom ons staan `n wyle stil by die eerste gebod: “JaHWeH jou Elohim (en Vader) is `n Enige Elohim en jy mag geen afgode voor Sy aangesig hê nie.” In wese beteken dit dat daar net Een Persoonlikheid is wat aanbid moet word. Vader, Seun en Gees is EEN. Dit wil ook sê dat niks en niemand aan My gelyk gestel mag word nie. Sou jy enige aardse bedrywigheid of persoon bo My stel, is jy besig met afgodery. Amein.

Reg deur die Bybel het jy al gelees van name wat verander het en die betekenis daarvan. Hieruit is dit duidelik dat `n naam belangrik is en ook kenmerke bevat van die persoon se karakter. Dieselfde geld vir My Naam en aangesien Ek as Menseseun na die aarde gekom het ‘in die Naam van My Vader’, het Ek bekend gestaan as JaHWèshua, verkort as JaHshua en beteken: JaHWeH Verlos. As Seun van Hebreeuse ouers uit die stam van Juda, sou hulle tog geen Griekse naam aan My gegee het nie, maar in gehoorsaamheid aan Elohim (JaHWeH) se opdrag, Sy Naam aan Sy Seun gegee het. Liefste vrou, Ek sien jou kommer en vraag dat jy grootgeword het met die naam Jesus en ook so tot My bid. Nee, almal wat My in opregtheid en liefde só ken, is nie verdoem of verlore nie, want deur vertalings en insprake van My teenstander het My Naam verlore geraak. Maar noudat jy weet, watter Naam verkies jy? In die gebruik van My Naam lê groot krag, daarom mag daar nie ligtelik mee omgegaan word nie. Kom soek My in die binnekamer van jou hart en Ek lei jou op die weg van geestelike waarhede en geestelike dieptes, aan jou nog onbekend. In elk van hierdie gebooie is daar veel te ontdek.

By die tien Gebooie van Moses is ook die twee liefdesgebooie van: Liefde tot Elohim en liefde tot jou naaste. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete. Uit Liefde is dit gegee en in liefde moet dit beoefen word. Hê My lief met jou hele hart, siel, verstand en al jou kragte; wat beteken dat jy My eerste moet stel in jou lewe. Rig jou hart en wese na My, terwyl jy jou dagtake outomaties uitoefen. Hê jou naaste lief, soos jouself in daad en in waarheid, dáárin is Ek te vinde. In opregtheid en nederigheid moet julle mekaar dien, want die een wat sê dat hy My liefhet en sy naaste haat, oortree die gebod van ‘jy mag geen valse getuienis lewer nie’ en is `n leuenaar. Leef die liefdesgebooie en My beeld in jou sal gestalte vind. Jou lig sal skyn in `n wêreld vol bedrog en onmin.

Amein.

 

6 Jou doel op aarde?

Regdeur die Bybel het Ek in My Alwyse Barmhartigheid verskeie vroue geroep en gelei in belangrike take wat hulle vir My moes verrig. Net so is daar ook vir jou `n baie spesiale opdrag wat jy net by My kan kry. Kom ons gebruik `n paar vroue as voorbeeld:

Sarah wat in groot eerbied en nederigheid haar man ‘my heer’ genoem het, is uitverkies om op hoë ouderdom vir Isak te baar. Met hom is `n ewige verbond bevestig en is hy `n stamvader van My uitverkore volk deur wie My Woord en Wet uitgedra word.

Verstote Lea met die dowwe oë het haar groot hartseer en verlange gedra en geweet dat sy die nie-geliefde was. Tog het Ek haar in genade en barmhartigheid aangesien en geseën met ses seuns, stam­vaders van Israel, en `n dogter. Dit was eers na die dood van haar suster Ragel dat haar man hom na haar gekeer het. Met lydsaamheid het sy haar las gedra en die seën daarvoor ontvang.

Hanna het, toe haar moederskoot gesluit bly, haarself verdeemoedig en in gebed en smeking na My gekom. Ek het haar opregtheid aangesien en aan haar Samuel gegee – een van die grootste profete en priesters vir My volk. Ook het Hanna haar gelofte aan My gestand gedoen en hom aan My teruggegee, iets wat vir `n moeder nie maklik is nie, maar haar gelofte het sy betaal, ten koste van haarself.

Debora was `n vrou van innerlike krag en sterkte wat sy van My ontvang het, omdat sy My geken en liefgehad het. Ek het haar geseën om as profetes en rigter my volk te lei. Wees ook jy `n Debora en soek My in al jou weë en jy sal vele na My lei.

Rut het alles wat vir haar bekend was verlaat, haar skoonmoeder bygestaan en boweal My aangeneem as haar enigste Elohim en Verlosser. In eenvoud het sy haarself nie geag nie en saam met die armes are opgetel. Haar loon was meer as waarvoor sy gevra het en was deel van My geslagsregister op aarde!

In `n vreemde koningshuis, met heidense gebruike en gewoontes, het Ester haar geloof en vertroue in haar Elohim behou en nooit haar waardes opgegee nie. Toe haar volk die dood in die oë staar, het sy gevas en gebid en was sy bereid om haar eie lewe te gee om voor die koning te verskyn en haar pleidooi aan hom te rig. Daar is geen groter liefde as wanneer iemand sy lewe vir sy naaste gee nie!

Maria wie se geloof haar gered het toe sy uit groot liefde My gesalf en met haar hare My voete afgedroog het. So is daar ook vele vroue in julle volksgeskiedenis van wie geleer kan word. Saam met die positiewe is daar egter altyd die negatiewe teenpool. Delila, die verleidster, ook die twisgierige vrou, die owerspelige vrou, die vrou wat met lis vir eie gewin haar man beïnvloed om die verkeerde besluite te neem en nog vele ander.

Maar jy, uitverkore vrou, bestudeer hierdie vroue se karaktereienskappe. Neem die positiewe en maak dit jou eie. Kyk na die negatiewe en die gevolge daarvan, wan dit uit jou lewe sodat die vrugte van die Gees deel kan word van jou wese. Met My hulp sal jy liefde, vrede, blydskap, vriendelikheid, lydsaamheid, geduld en selfbeheersing ervaar. Vervul so jou doel om met My te verenig, sodat Ek in en deur jou kan werk. Hoe meer jy My opsoek, hoe duideliker word My beeld in jou en hoe helderder sal jou lig skyn. Klee jou met My wapenrusting en trek die skoene van bereidwilligheid aan en Ek sal jou lei op die weg wat jy moet gaan.

Amein.

 

7 Wees nederig, want Ek is nederig

28 April 2009

Lucifer was, as die eerste geskape wese, `n engel van die Lig. Ook hy was na My beeld en gelykenis geskape en daar was geen wese soos hy nie. Weens sy skoonheid en mag het hy hoogmoedig geword en wou homself met My, die ewige Skepper, gelykstel. In My Koninkryk het `n rebellie ontstaan en is `n derde van die engele saam met hom op die aarde gewerp en so het hy my teenstander en teenpool geword. As gevolg van sy val uit die hoogte en sy hoogmoed is hy op die aarde gekluister. Omdat My Wese Liefde is en slegs liefde met My verenig kan word, kan selfs Lucifer na my terugkeer indien hy hom sou bekeer en die pad van nederigheid volg. Alle geskape wesens het egter `n eie wil met `n vryheid van keuse. Omdat Lucifer gekies het om teen My te sondig, moet hy weer uit eie keuse na My terugkeer.

Ek, JaHshua, het na die aarde gekom om aan die mensdom die weg terug na die Vader te toon. Ek het mens geword en moes dus ook alle menslike swakhede oorkom. In eenvoud het Ek grootgeword, alle ver­soekinge moes Ek weerstaan en het Ek My dissipels se voete gewas, ook as teken van My nederigheid. Ek het onder die armes gewoon en gewerk, want baie rykes was te hoogmoedig om na My te luister.

Hoogmoed is `n gruwel in My oë, daarom sal geen persoon wat hoog­moedig is, My Koninkryk sien nie. Ook was My leer dat julle mekaar moet voorgaan in naasteliefde en eerbetoon, want wie eerste is, sal laaste wees en wie laaste is, sal eerste wees. Hoogmoed bestaan nie net daarin wanneer iemand dink hy is beter as `n ander nie of dat sy besittings meer, beter of mooier is as dié van sy naaste nie. `n Ander gevaarlike vorm van hoogmoed waarvan mense nie altyd bewus is nie is, geestelike hoogmoed. Dit is wanneer `n persoon dink dat hy minder sonde as `n ander doen en dit is hoekom Ek gesê het; ‘laat dié een wat sonder sonde is, die eerste klip gooi’

Het jy, liewe vrou, hoogmoed in jou? Kom vra My en Ek sal dit aan jou openbaar. Streef daarna om nederig te wees, want Ek is nederig. Volg My voorbeeld na en bewandel My weg, dan sal jy oorwin.

Amein.

 

8 Laat die kindertjies na My toe kom

28 April 2009

Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie. Amein.

Geseënd is elkeen wat `n kindjie in My Naam ontvang, want hy ontvang nie net My nie, maar ook My Vader wat My gestuur het. Amein.

Kinders, `n las of `n vreugde? Vir baie mense is kinders die spil waarom hulle lewe draai en vir ander weer is kinders `n las. Elke kind wat in hierdie wêreld die lig sien, se lewe is deur My beplan, daarom is elke kind wat vir `n ouerpaar gebore word, `n geskenk uit My hand. Baie min ouers besef egter die verantwoordelikheid van kinderopvoeding. Dit behels nie net die liggaamlike versorging nie, maar veral die ontwikkeling van die siel en die gees.

In vandag se gejaagde lewe word baie geld en moeite gespandeer aan die verstandelike ontwikkeling van kinders. Ouers is in kompetisie met mekaar oor hoe vinnig kinders ontwikkel en hoe slim hulle kinders dan nou is, alles net vir eie eer. Reeds as baba is `n kind ingestel op sy eie behoeftes en is die vleeslike al wat vir hom belangrik is. Dit is wel bekend dat die grondslag van `n kind se lewe gelê word binne die eerste sewe jaar van sy lewe en hier speel veral jy, liewe moeder, `n deurslag­gewende rol. Menige ouers skuif die versorging van klein kinders op ander af, terwyl hul verkies om Mammon te dien en vergeet van My beloftes. Het Ek nie gesê julle is meer werd as die lelies van die veld en die voëls van die hemel en dat Ek weet wat julle nodig het, nog voordat julle vra nie?

My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie en daarom het My orde ook `n hemelse grondslag. Wysheid van die wêreld is dwaasheid by Elohim! Daarom liefste mamma, leer jou kind eers innerlike lewensbeginsels soos in My Woord vervat, voordat daar klem gelê word op verstandelike ontwikkeling. `n Kind wat in liefde geleer het om gehoorsaam te wees, sy emosies te beheer, vriendelik en onderdanig te wees, is ook nederig, het vrede in homself en leer enige skoolaktiwiteite maklik en vinnig. Wanneer die verstand eerste ontwikkel word, bring dit hoogmoed en `n hoë eiedunk mee, wat teenstrydig is met My leer en wat nie maklik weer af te lê is nie.

Mamma, leer jou kind reeds as hy begin verstaan van My. Laat hy met My grootword en leer hom om My in alles te sien, dat alles met `n doel geskape is, ook hy. Maak My deel van sy daaglikse ervarings en hy sal geen moeite ondervind om My stem in hom te hoor en te erken nie. Hou hom besig met dinge wat goed is vir die ontwikkeling van sy siel. Deur heeldag voor die TV of rekenaar te sit, kry hulle geen liggaamlike oefening nie, maar sien en beleef dinge wat hulle negatief beïnvloed. Selfs kinderprogramme is vol oorlog, moord en doodslag. Dit vernietig die liefde en leer hulle die pad van selfregverdiging, ongesonde eieliefde en hoogmoed. Dit is alles eienskappe van Lucifer, waardeur hy poog om almal wat aan My behoort, tot `n val te bring, want, ‘wie met die swaard lewe, sal deur die swaard omkom’.

Nog iets wat die hoogmoed en eie ek aanblaas, is `n oormaat speelgoed. Dit wek die begeerte om te wil hê, altyd beter en meer. Baie gou raak kinders in kompetisie met mekaar en ontstaan die begeerte na `n ander se goed. Speelgoed word ook deur die bose gebruik om kinders aan te val. Drogbeelde en buiteruimtelike wesens soos `spiderman' en `batman' is genoeg om enige kind slapelose nagte te besorg. Bowendien is sulke dinge nie deel van My skepping nie, want alles wat Ek geskape het, was goed, baie goed. Amein.

Kinders, leer deur die ouers se voorbeeld. Laat die liefde ongeveins wees, want die huwelik tussen man en vrou is die weerspieëling van My huwelik met My volk. `n Kind wat deur die liefde geleer word, sal weet om die liefde te leef en so die sleutel tot My vind.

Amein.

 

9 Lelies van die veld

29 April 2009

Kyk na die lelies van die veld, hulle arbei nie en hulle spin nie, tog is hulle met heerlikheid beklee. Amein.

Reeds op aarde het Ek gesê dat Ek nie woon in tempels wat met hande gemaak is nie. Ook het Ek na My liggaam verwys as die tempel wat Ek sou afbreek en in drie dae weer opbou. Die mens is geskape na My beeld; liggaam, siel en gees. Jou liggaam is dus die voorhof van jou tempel, jou siel, die heilige, en jou gees, jou allerheiligste, en dis hier waar jy My vind – in jou hart.

Hoe, liefste vrou, klee jy jou tempel? Rein, deur jou skaamte en vroulikheid te bedek, of ontbloot vir elke oog om hom te kan vergryp? Baie klere is vandag daarop ingestel om die liggaam te beklemtoon, maar dit hoef nie in jou smaak te val nie. Skaamtelose ontbloting van die liggaam kom uit die diepste put van die hel, want daardeur word toegegee aan die begeerlikheid van die vlees. Wie na die vlees wandel, sal aan sy siel skade ly, want die vlees begeer teen die gees. Amein.

Jou liggaam, geliefde, is die houer vir jou siel en gees. Hê jou liggaam lief met die regte liefde, want sonder die regte maat van eieliefde kan jy ook nie vir My of jou naaste liefhê nie. Voed, klee en versorg jou liggaam sonder die oormaat van eieliefde wat ook eersug aanwakker. Deur te veel mooi klere, grimering, mode- en skoonheidskompetisies, word dogtertjies reeds op `n jong ouderdom hieraan blootgestel. Hul leer om te let op die materiële en ly dikwels gebrek aan geestelike kwaliteite. Hoogmoed, eie ek en eersug vier hoogty en is, hoe ouer `n persoon word, baie moeilik af te lê. Dit wat `n kind leer as hy klein is, bepaal grootliks die res van sy lewe. Wil jy jou dogtertjie blootstel en `n oop teiken maak vir Satan om sy kloue in haar te slaan? Wees vir haar die voorbeeld deur jou liggaam te respekteer as My tempel waarin Ek woon en maak van haar `n goddelike voorbeeld vir ander.

Amein.

 

10 Vrou, wees aan jou eie man onderdanig, soos aan My

30 April 2009

Vrou, wees aan jou eie man onderdanig, soos aan My. Amein.

Die huwelik tussen man en vrou is `n heilige verordening deur My ingestel. Dit is `n verbond tussen man en vrou waartoe beide hulle verbind tot die ‘gee en neem’ met My Woord as grondslag daarvan. Wanneer iets heilig is, word dit apart gestel en as verhewe beskou bo die res. So is dit ook met die huwelik tussen man en vrou wat deur My bevestig is. Daarom moet die huwelik geëer en gerespekteer word.

Soos in Paulus se geskrifte, is die man, as eersgeskapene, die hoof van die huis en Ek die hoof van die man. Dit is My orde en daarom moet elke vrou aan haar man die nodige eerbied betoon. Aan die mens het Ek die opdrag gegee om die aarde te bewoon, dit te bewerk en te bewaar – dit maak jou, geliefde vrou, mede-heerser van My skepping. Heers saam met jou man as sy maat en hulp soos Ek julle gemaak het. Amein.

In My Ryk is die siel van man en vrou egter gelyk, daarom moet elkeen sy eie heil bewerk. Deur die huwelik word man en vrou een, `n eenheid wat net in My bewerk kan word. Daarom, soek eers na My en My Koninkryk en alle ander dinge word jou toegevoeg. Maak My jou eerste Liefde, die Rots waarop jy bou en jy sal vind dat ook jou huwelik aan hierdie Rots geanker is.

Laat die liefde ongeveins wees, want dit bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles. Laat jou liefde lankmoedig en vriendelik wees, want dan sal jy nie opgeblase wees of kwaad met kwaad wil vergeld nie. Liefde is die grondslag van My Woord en ook jou huwelik. Bemin die liefde, leef die liefde en word die liefde. Daarin lê die sleutel tot elke man, ook na My.

Opregte liefde handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie en is ontdaan van enige vorm van onkuisheid waarin slegs die eie genot in selfsug en uit eieliefde nagejaag word. Laat die gemeenskap uit liefde en in reinheid geskied, daardeur sal julle `n goddelike vrug voortbring. Amein.

`n Liefdevolle huwelik in My Naam is die fondasie vir gelukkige kinders, want dit is hier waar hulle leer om My te eer. Laat jou liefdesbeker oorloop en jou lig skyn op jou man en kinders, maar ook na almal om jou heen. Daardeur sal jy as vrou en moeder vervuld wees en vir almal wees tot seën.

Amein.

 

11 Jou Maker is jou Man

Jou Maker is jou Man. Amein.

Die dag toe jy jou geliefde ontmoet en wéét, ‘hy’s die man vir my’, het jy met verlange uitgesien na die huwelik en met groot verwagting en hoop alles in gereedheid gebring. `n Huwelik deur My geseën, is die teëbeeld van My huwelik met My volk en jy, geliefde in My, is deel daarvan. Net só moet jy alles in gereedheid kry, want jou Bruidegom kom! Amein.

Vul jou lamp, skone maagd, met liefdesolie vir My. Deel hierdie liefde uit as liefdesdade vir jou naaste en voel hoe jou beker oorloop en jou lig helder skyn. Ek is jou Liefde, Wysheid en Krag. Kom na My en Ek vul jou elke dag. Kom koop van My sonder geld en sonder prys, bring net jou hart as My heerlike spys. By My is daar Wysheid en Krag onbeperk, gee My net jou tyd en liefde in dié se plek.

Amein.

 

 

 

12 My Liefde vir jou

My Liefde vir jou is ewig getrou,

daarop sal jy altyd kan bou.

My Liefde vir jou is skoon en rein,

geheel ongeveins, My roosmaryn.

My Liefde vir jou is jou anker,

al sou almal om jou wankel.

My Liefde vir jou sal jou omvou

soos `n sagte bries in die môredou.

My Liefde vir jou sal nimmer taan,

al sal jy soms struikel op jou baan.

My Liefde vir jou sal jou dra,

as jy maar net daarom vra.

My Liefde vir jou is die mooiste rooi,

want ook jy het jou in liefde getooi.

My Liefde vir jou, My vrou,

is jou warmte in die winterkou.

My Liefde vir jou, My roosmarynblom,

is dit waarmee jy ander gaan verstom.

My Liefde vir jou is polsend in My hart,

want jy sal vir ewig wees My skat.

Amein.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

DEEL 2 - Dogter van Elohim, wie is jy?

Geskape deur My hand,

dogter in hierdie land.

Rein en ongeskond’

in die vroeë môrestond.

Teen die middag te ontluik

as My strale jou omsluit.

Tot wasdom sal jy groei,

in volheid vir My bloei,

as Ek na jou toe kom

en jy net vir My blom.

Amein.
 

 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205