Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 23

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

“Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk! (Mattheüs 23:24)

27 Januarie 1844 se aand

23 “Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!”

2. Dit is ook weer `n vers wat vir alle tye geld, en waarvan die betekenis netso voor die hand liggend is, soos wat dit die geval by die ander was.

3. Wie is die verblinde of blinde wegwysers? Dit is hulle wat op alle slakke (droes van smeltproses) sout plaas, of die haarklowers van die wet. Hulle reinig en kerm die hele dag daaroor; maar oor groot foute, waarvan die hele heil en die lewe van die mense afhang, weet hulle heeltemal niks vanaf nie, en as hulle dit al sou ken, sluit hulle, uit politieke oorwegings, `n ogie dig, asof dit heeltemal onbe­langrik sou wees.

4. Om dit so duidelik moontlik te maak, sal Ek `n paar voorbeelde gee! Ons sal van die klein tot die groot opklim, oftewel van die uitsondering tot die algemene.

5. Laat ons eers na `n huisgesin kyk. Die vader het kinders van beiderlei geslagte. Seuns in `n meer vermoënde gesin word naarstig tot studeer aangemaan en die meisies het diverse leer­meesters. Van hulle leer `n vreemde taal praat, skilder, musiek, en daarnaas spesifieke vroulike vaardighede.

6. Die seuns word voortdurend tot studie aangespoor. Hulle moet uitblink, anders swaai die lat; elke nalatigheid word skerp berispe en strafmaatreëls bly nie uit nie. Ook waak die mense daarvoor dat ook die ander sogenaamde welstandsnorme streng nageleef word en wee die seun wat dit ligsinnig sou oortree! Dag-in en dag-uit reën die vermanings, sowél van die vader, van die instrukteur, as van die leraar.

7. `n Mens sal vra: “Is dit dan verkeerd?” Ek kan niks anders antwoord nie as: Hier word muggies gesif, die kameel word egter ongemerk ingesluk.

8. Wat is die kameel hier? Die kameel is die studie en die beskaafde wêreldse opvoeding van `n jong mens. Hierdie ver­swelgde kameel laat die jong mens die laaste druppel verloor van alles wat `n geestelike lewe in hom kon wek. Daardeur word hy heeltemal aan die kaal wêreld uitgelewer.

9. So gaan dit ook met die meisies. Die streng moeder praat die hele dag, tot haar tong daarvan pyn; want die een dogter maak `n te groot steek, by die ander word êrens `n vlekkie ontdek, `n derde ken die les vir een of ander vak nie goed genoeg nie, en van `n ander sit die hare nie netjies nie. Kort en goed, elke verkeerde gedrag en nog baie meer van dergelike, nouliks merkbare foute lewer baie bitter verwyte op; die hele dag word daar gekorrigeer, vermaan en aangespoor.

10. Kyk, daar word ook weer muggies gesif; maar dat in die meisies met al die wêreldse beuselagtighede alle innerlike geestelike lewe gedood word, is die kameel wat sonder enige aarseling verswelg word.

11. Ek dink dat aan dié voorbeeld niks meer toegevoeg hoef te word nie, omdat dit vir homself spreek. Laat ons `n algemener voorbeeld neem:

12. Daar word deur die kerk, soos dit by julle funksioneer, skerp daarop toegesien, dat veral die laer bevolking die sogenaamde kerklike verordenings goed naleef, omdat die absolusie nie andersins aan hulle verleen word nie. Wie hulle daarby hou, sal by bepaalde geleenthede van kerklike kant geen besware ondervind nie. Op son- en feesdae word streng gepreek en iemand wat teen die kerkverordenings gesondig het, word die hellevuur na aan die skene gelê, en dit sal hom moeite kos om weer deur die kerk in genade aangeneem te word. By iemand wat ryk is, gaan dit wel ietwat makliker, maar vir die arme is dit nie beskore nie!

13. Hoe staan dit egter met die lewende verkondiging van My woord en met die handel daarvolgens? So: As `n Christen maar sy kerklike pligte vervul, mag hy teen baie van My gebooie sondig en kan hy daarvan verseker wees dat hy nie baie boete daarvoor sal hoef te doen nie.  

14. As hy maar kan aantoon dat hy die kerklike seremonies Sondagmôres bygewoon het, mag hy in die middag sonder enige beswaar speelhuise, kafees en dansgeleenthede besoek. Hy kan die hele nag speel, swelg, dans en hoereer; ook mag hy nog bedrieg, kwaadspreek, lieg, gierig wees en ander skade toebring, maar wel op polities verantwoordelike wyse.

15. Dit alles word hom by die volgende bieg, veral by `n diskrete biegvader, vir vyf Onse Vaders en “Wees gegroet” en verseker met `n betaalde mis, kwytgeskeld. As die biegling hom nog op `n aflaat kan beroep, dan gaan hy vlekkeloos soos `n son van die biegstoel na die heilige kommunie en daarvandaan as `n engel die kerk uit.

16. Wie sal in dié voorbeeld nie die sif van die muggies en die baie growwe verswelg van die kameel sien nie?

17. Ek wil beslis nie alle biegvaders oor een kam skeer nie, want daar is ook die wat dit op die goeie manier ernstig bedoel; maar in die algemeen is dit wel so.

18. Nikodemus het ook aan die fariseërs en skrifgeleerdes behoort, maar hy was `n uitsondering en geen muggiesiwwer en kameel­verswelger nie, want hy het My geken en My woord onderhou. Dit moet vir getroue biegvaders genoeg verontskuldiging wees. Nou gaan ons oor tot `n voorbeeld van groot algemene belang!

19. Die maghebbers van die wêreld vaardig baie, ja selfs `n skrikbarende hoeveelheid wette uit en oortreding daarvan opsetlik of per ongeluk, word streng volgens die artikels gestraf. Wat My wette betref, word dit slegs saam as staatswette opgeneem, wat kan dien om wêreldse aangeleenthede veilig te stel. Dit is by voorkeur die sewende, die vyfde en in `n duidelik boosaardige geval, die sesde gebod; in die ander sewe is die staat nie so baie geïnteresseerd nie, tensy politieke redes daartoe aanleiding gee. Dus bekommer die staat hom by die leiding van die volk besonder weinig of heeltemal nie oor My woord nie en sê: “Die ander laat ons maar aan die geestelikheid oor!”

20. Daar word dan van weerskante muggies gesif en duisende kamele verswelg, en die fariseërsgeslag sterf nooit uit nie; as mens hulle aan die een kant vang, kry die ander kant des te meer vryheid en wat `n mens ookal doen, meestal kom `n mens van die reën in die drup.

21. Die wêreld wil heers en om dit te bereik kan hulle alles gebruik. Goddelike en wêreldse wette word voor één karretjie gespan en moet die volk in die verderf trek.

22. Waarvoor het dit sin as die mens so beskaafd en gesagsgetrou geword het? Waarvoor het dit sin as `n staat, wêrelds gesien, die beste wetgewing het, as die hoofsaak daarby, waaroor dit in die geestelik lewe gaan, heeltemal buite beskouing gelaat word ?

23. Ek glo tog dat dit beter sou wees as iemand liggaamlik kreupel die ewige lewe binnegaan, as `n wêreldse beskaafde mens, die ewige dood in. 

24. Dit is onnodig om meer hieroor te sê. Let julle daarom nie te veel op die muggies nie, maar pas liewer op dat julle geen kamele insluk nie; dan sal julle die ewige lewe verwerf! Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205