Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 30

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

“En kyk, Ek laat die belofte van My Vader op u kom. Maar u moet in die stad bly totdat u beklee word met die krag uit die Hoogte.” (Lukas 24:49)

12 Februarie 1844 se aand

30 “En sien, Ek laat die belofte van My Vader op u kom. Maar u moet in die stad bly totdat u beklee word met die krag uit die Hoogte.”

2. Dié vers gee in sy letterlike betekenis al duidelik te kenne wat dit innerlik bevat en lyk in dié opsig soos `n vriendelike mens wat, so sou jy kon sê, sy hart op sy hand vir sy vriende aanbied, sodat iemand hom nie maklik sal misken en elkeen al op die eerste oogopslag kan raai wat hierdie vriendelike man in die mou voer nie.

3. Dieselfde is die geval met hierdie teks. Want as die Seun ten hemel gevaar het, kom die belofte van die Vader in alle volheid tot diegene wat in ware hoop vanuit die liefde, vol ongeduld op hierdie belofte wag.

4. Wat beteken die hemelvaart van die Seun egter, sodat die wagtendes en die getuies die belofte van die Vader daardeur kan ontvang? - Julle weet wat mens onder “Seun” moet verstaan, naamlik die Wysheid van die Vader. Die Seun kom dus in elke mens ooreen met dit, wat in elke mens aan die wysheid behoort. Aan die wysheid behoort die verstand, die rede, allerlei wetenskap en kennis.

5. Wat tot die wysheid behoort, moet tegelykertyd egter ook in elke mens `n verdeemoediging, as`t ware `n kruisiging, deurmaak, en moet dan as gedood in `n nuwe graf in die hart gelê word, weer daaruit opstaan en dan, terwyl hy hom geheel aan die Vader oorgee en opoffer, omhoog styg om één te word met die Vader.

6. Eers as dit gebeur het, openbaar die belofte van die Vader in die lewe van die mens, Wie die ewige lewe is. Dit noem ons die wedergeboorte.

7. Maar na hierdie wedergeboorte volg die doop met die gees van krag nie dadelik nie, soos ook niemand dadelik na die geboorte `n kind moet doop nie, maar minstens `n paar dae later - soos dit by die Judeërs ook op sy vroegste na die agtste, tiende of twaalfde dag gebruiklik was. Dan volg die besnydenisdoop baie later. So was ook hier aan die apostels en dissipels gesê dat hulle na My hemelvaart `n tyd lank in die stad moet saambly totdat die krag uit die Hoogte oor hulle uitgestort sal word.

8. Hierdie toestand moet elke mens ook in ag neem en hy moet ook nie na buite tree alvorens hy die doop van die gees ontvang het nie! Want hiersonder lyk die wedergebore gees soos `n swak kind wat wel in elke opsig rein soos `n engel is, maar gebrek het aan werksame krag en aan die daartoe noodsaaklike vrye oordeel.

9. U weet dat die neerdaling van die krag uit die Hoogte oor die dissipels en apostels op die tiende dag na die hemelvaart plaasgevind het. Wat wil dit sê? Dit beteken en bewys die volkome onderwerping van die Mosaïese tien gebooie aan die vry geworde lewe van die gees. Want die gees moet immers eers van alle bande en kettings vrygemaak word, voordat hy die gewaad van die goddelike krag uit die Hoogte kan aantrek.

10. Wanneer dit voltrek is, is hy `n heel nuwe skepsel uit die gees van die liefde en alle krag daaruit en kan dan eers in die volle krag van die goddelike liefde en erbarming werksaam word. Want eers deur so `n doop met die Heilige Gees uit die Hoogte, word die mens verlos van alle doodsbande en word één met en in Christus en kan dan ook sê: “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Nie meer is ek nou my ek nie, maar Christus Self is die ek in my!”

11. Daarom moet ook vooraf - soos reeds vroeër aangetoon – alles wat in die mens ooreenkom met die Seun, die weg van die Menseseun gaan, en vir elkeen geld onherroeplik: “Neem jou kruis op en volg My na, anders kan jy nie tot opstanding en tot hemelvaart na die Vader kom nie!”

12. Hier word vir ons saak weereens presies aangetoon dat geen mens deur veelsydige ontwikkeling van sy verstand met goed uitgeruste biblioteke en hoogdrawende professore tot wederge­boorte en tot doop met die Heilige Gees kan kom nie, maar alleen deur die deemoed en groot liefde van sy hart.

13. Hy moet alles wat hy van die wêreld het, tot op die laaste penning aan die wêreld teruggee, dus ook die hoogmoedig makende wetenskappe wat hy in sy kop het, anders sal dit met die wedergeboorte en die kragtige doop van sy gees baie droewig gestel wees.

14. Glo maar nie dat iemand, ook al het hy sy hele vermoë aan die armes gegee, dadelik daardeur die hemelryk sal binnegaan nie, ook al sou hy by homself dink en sê: “Heer! Wees net so barm­hartig teenoor my, soos wat ek dit was!” Wie so praat, mis nog taamlik baie van die Godsryk; want dan is Christus en hy nog nie één nie, maar duidelik twee, waarby die een die ander in sekere sin goedkoop voorwaardes stel.

15. Die armste onder die mense is altyd Ek. Duideliker gesê: By elke mens is die eintlike lewenskrag van sy hart die allerarmste en die mees behoeftige. Die moet eers nog ryklik begiftig word, as `n ander gawe na buite enige waarde wil hê; of jou hart moet heeltemal lewend word uit liefde tot My. Ekself moet jou hele liefde uitmaak; dan eers kan jy vanuit hierdie liefde waarlik verdienstelik werk vir die ewige lewe, omdat die verdienstelike slegs My toekom. Julle bly slegs gebruikers van My liefde, genade en erbarming. 

16. Solank iemand nog sê: “Ek was besig gewees en ek het gegee!”, is hy nog ver van diegene wat sê: “Ek was altyd `n lui en nuttelose kneg gewees!” en daarom is hy nog ver van My ryk verwyder. Slegs as hy dit waaragtig aan homself beken en sê: “Heer, My God en Vader! Ek is in alles niks, soos alle mense voor U niks is nie, maar U alleen is Alles in alles!”, dan is hy naby My ryk en het My ryk nader aan hom gekom.

17. Onthou dus goed wat daar alles vir julle gesê is, dan sal julle ook tot hemelvaart en tot doop met die Krag van My Gees kom; want ook na julle toe is nou die belofte van die Vader gestuur. Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205