DIE VERBORGENHEID
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 8

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40.

Hoofstuk 8
24 Jan.2008 06:52
Wat maak die grond vrugbaar? Julle almal sal sê dat dit die voedingstowwe daarbinne is wat die plant laat groei. Dis reg, ja, maar die plante kan nie net van daardie stowwe alleen groei nie. Gooi ‘n handvol kunsmis op ‘n saadjie en kyk of hy opkom. Hy sal nie, en as daar genoegsame water op hom val sal hy deur die kunsmis verbrand word. Dit is nie net die kunsmis of die toediener wat die plantjie laat groei nie. MY kinders, MY Hand is in alles en elke liewe saadjie wat opkom, sal deur MY wil opkom. Julle is geneig om julle grond baie ryk te maak deur die inwerking van mis en selfs kunsmis wat ‘n baie giftige stof is. Kunsmis laat die plant baie bose sieledeeltjies opneem en die plant is dan nie geskik vir menslike gebruik nie, al kom jy niks oor wanneer jy dit eet nie. Die kunsmis is propvol van die boosheid wat baie gekonsentreerd is en wanneer die plant dit dan opneem, groei hy baie vinnig en goed, maar die bose sieledeeltjies gaan sit in die vlees van die mens wat dit eet en hy word dan mettertyd baie siek. Baie van vandag se siektes is te wyte aan die oorbemesting van die grond met hierdie produkte wat julle op die rak koop. MY kinders, leef eenvoudig en plant julle groente met die stowwe wat EK aan julle voorsien het. Weet julle dat die gebruik van beesmis die grond verryk, maar nie vol bose sieledeeltjies maak nie? Die groente daarin gekweek is dan ook eerder geskik vir menslike gebruik. As jy so na die groente kyk, sal jy nie ‘n verskil met die oog opmerk nie, maar die geopende geestesoog sal die verskil raaksien. MY skepping is voorsien van sy eie maniere om die grond te verryk en daarom is dit noodsaaklik om op te let na wat EK doen. As EK nie kunsmis gebruik nie, moet julle dit liefs ook nie doen nie. Hierdie is maar net ‘n riglyn om julle voedsel so gesond as moontlik te verbou en ook om die grond daardeur te verryk. Julle weet nie wat met die aardbodem gebeur wanneer daar groot hoeveelhede van die kunsmis in die grond ingewerk word nie. Daardie gifstowwe of bose sieledeeltjies gaan dan in ‘n gekonsentreerde wyse die aardbodem in, en daar word dit herhaaldelik na onder gespoel, totdat dit in die ondergrondse water beland en daar kom dit weer tevoorskyn in die fonteine en bergwater wat julle dink, so rein is. Die hele aarde is al op so ‘n wyse vergiftig en dan praat EK nie eers van die gebruik van insek- en onkruiddoders nie. MY kinders, dink hoeveel van daardie gif gaan in die atmosfeer in deur gebruik te maak van spuitvliegtuie wat so oor die lande en boorde vlieg. Stel julle nou voor hoeveel van daardie gif julle, opgelos in die lug, inasem en ook die enorme impak wat dit het op die atmosfeer en julle suurstofryke berglug, is dan glad nie meer so vars en skoon as wat julle dink nie. Moenie MY aardbodem vernietig nie, al doen die res van die wêreld dit. MY kinders, dit is net ‘n aanduiding van hoe lief jy MY het, wanneer jy die aardbodem, wat MY skepping is, met respek behandel. Al die dinge wat EK nou met julle gedeel het, het ‘n inwerking op die mens se siel en daarom is die tyd waarin julle leef ook so buitengewoon boos. Miljoene mense is besig om hulle liggame te vergiftig deur die drink van koffie en soortgelyke dranke. Hoeveel mense eet nie ongesond nie en dan praat EK nie eers van die wat dink dat hulle gesond eet deur die eet van groente wat so deur die kunsmis besmet is nie. Voordat julle eet of drink, moet julle eers MY seën op alles vra en EK sal die bose sieledeeltjies teenwoordig in die kos vir julle onskadelik maak en hulle sal julle nie kan aanval nie. Julle sal ook sien hoe gesonder julle is wanneer julle MY seën oor alles vra. Moenie MY seën vra op die voedsel wat EK as onrein vir julle uitgewys het nie, vermy dit liewer. EK weet dat daar ‘n tyd sal kom waarin voedsel baie skaars sal wees en julle dan sal moet eet wat julle kry. In daardie tyd sal EK alles vir julle seën sodat julle dit kan eet, maar nou, terwyl voedsel nog nie skaars is nie, moet julle liewer net dit eet wat EK aan julle bekend gemaak het. Leef hiervolgens en jy sal gesond bly.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205