OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 11

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 11
15 Nov. 2007 om 06:00
Daarna was daar ‘n tyd dat Ek aan almal verskyn het wat MY liefgehad het en wie EK genees het en wat nie teenwoordig kon wees tydens die Groot Lig nie. Hulle almal het MY ook verwag, omdat Ek aan hulle gesê het dat EK weer na hulle sou kom en hulle het ook geweet dat die wêreld MY sou probeer uitwis. Hulle was almal vreeslik hartseer en het ook ‘n verlange na MY gehad wat nie beskryf kan word nie. Daarom het EK aan almal verskyn sodat hulle kon sien dat Ek MY woord gestand doen. Dit was ‘n blye weersiens en Ek moes hulle ook versterk vir die slegte tyd wat op hulle gewag het, nadat Ek opgevaar het na die hemele. Hulle was nie dit te wagte wat met hulle sou gebeur na MY opvaring nie. Daar was buitengewone woede in die hel omdat Ek oorwin het en Satan het sy volle magte opdrag gegee om in elke ontvanklike mens se hart te werk en daar het ‘n haat teenoor MY kinders ontbrand, wat ook nie aan julle beskryf kon word nie. Dit is vandag nog steeds so en omdat die tyd baie min is, is die aanslae soveel feller. In daardie tyd is daar dan ook met ‘n “moord en doodslag“ veldtog teen al MYNE begin. Dit was EK of die wêreld waaraan die mense ‘n keuse gehad het. Geen mens wat MY gekies het, is gespaar of uitgelos nie. Hulle moes almal vir MY ly. En die meeste het in liefde die lyding gedra en die oorwinning oor die dood behaal. Maar die wat bang was en dalk sou val, is deur My verlos van die aardse lewe, sodat hulle nie die verderf sou sien nie.Ek het begrip vir elke mens en weet wat hy kan dra en daarom bring EK dit dan oor sy lewe. Julle is baie bevoorreg om hierdie dinge te kan en mag hoor, omdat dit julle ook versterk vir die komende tyd. Julle voorgeslagte was nie só gelukkig nie en moes hulle swaarkry dra sonder die wete dat Ek die hele tyd daar was. Dis nie dat hulle My nie geken het, of onbewus van My bestaan was nie, dis net dat Ek vir hulle (in hulle eie oë) verborge was. Die wat MY regtig gesoek het – en daar was maar min in die geskiedenis van Suid Afrika - het hulle vertroosting in MY gevind, maar die wat MY nie gesoek het nie, het bang hulle rûe op MY en hulle volksgenote gedraai en veragtelike verraaiers geword. Die res van julle volk wat sou struikel weens ‘n te klein geloof in MY is deur My weggevat en na Die Vaderhuis gebring, waar EK hulle getroos teen My bors gehou het. Dit is nie te sê dat almal wat oorlede is tydens die Anglo-Boereoorlog, MY nie lief gehad het nie. Hulle was net onder ‘n wanindruk van MY, hulle Verlosser en Vriend. Hulle het MY gesoek in die Almag en bang het hulle MY aanbid en in oordrewe eerbied maar hulle het MY nie liefgehad soos EK wou gehad het nie. Dit is nou in ere herstel en julle sal eendag sien hoedat julle voorgeslagte MY nóu liefhet en My uit tere liefde gehoorsaam en nie uit vrees soos toe hulle op aarde was nie. Dit is hoekom Ek gesê het, in die boek Maak en Breek Hoofstuk 1, dat niemand MY liefgehad het nie en dat niemand vir MY opgestaan het nie. Die geloof was daar uit die vrees en nie uit liefde nie en dit is nie hoe EK dit wil hê nie. Daar kom nou weer ‘n verskriklike tyd vir julle en daarom sê EK al hierdie dinge aan julle, sodat julle MY kan leer ken en liefkry, sodat julle staande kan bly in die geloofstryd wat aan die kom is. Nét die wat My liefhet, sal dit kan maak tot op die einde en sal MY koms op die wolke aanskou, maar as jy MY nie liefhet nie, sal die las vir jou te swaar raak langs die pad en jy sal omkom en daarom sal EK nou weer almal wegvat wat kan struikel, sodat hulle gered kan word voor die tyd. Dit word deur die wêreldmens as wreed afgemaak en wat hulle nie verstaan nie, is dat Ek dit in liefde doen. Daar word niks deur My gedoen wat wreed is nie. Ek is nie wreed nie, soos julle self van kan getuig en daarom moet julle nie dat die bose julle anders oortuig nie. Die baie groot dood wat julle om julle sal aanskou, sal weens My grote liefde wees, omdat die mens nie geskape is om vir ewig op die aarde te bly nie. Julle is hier om julle voor te berei vir die lewe hierna en wat ‘n groot genade as EK mense uit hulle lewens verlos voordat hulle nog meer bedorwe kan raak as wat hulle reeds is. In die lewe hierna het hy dan ook ‘n kans om homself te verbeter en na MY te kom en dan kan hy nog gered word. Maar hier op aarde sou so ‘n mens dan net dieper en dieper in die verderf gestort gewees het, wat hy vir homself gemaak het. Dit is dan ook waarom Ek julle waarsku, sodat julle nou voor die geloofstryd julle krag by MY kom haal en deur MY sterk word om alles te kan dra en hanteer. Raak nóu Een met MY, sodat jy ander kan help wat nog ver van MY af staan en dalk sal val en hy homself in die verderf stort weens vrees vir die bose Antichris. Dit is My woorde aan julle wat Ek baie liefhet en EK sê nóu aan julle dat EK julle sál bystaan in die tyd wat kom en dat julle nie moet vrees nie, want die lewe en die dood is in MY hande. Elke mens moet een of ander tyd die tydelike met die ewige verwissel en dit maak nie saak hoe of wanneer nie. Niemand kan vir ewig lewe nie en iemand wat MY nou verloën het om sy lewe te red, kan sy lewe verloor oomblikke daarna in ‘n fratsongeluk en wat het hy dan? Daarom sê EK: “Staan vas”! want jy weet nooit wanneer EK jou uit jou aardse bestaan kom verlos nie en jy sal dalk te lig bevind word en My nie waardig nie en dan sal jy spyt wees. Maar soos julle altyd vir julle kinders sê: Spyt kom altyd te laat, nê. So sê Ek in alle liefde aan julle dat julle MY nóu moet liefkry, omdat die tyd min is en net die wat MY liefhet, sal vas soos ‘n rots bly staan, omdat hulle aan die Enigste Rots bly vasklou.
Amen.
NOTA deur Louise:
(Oom Dirk, in hoofstuk 11 word gepraat van JaHshua se hemelvaart as “opvaring”.Dit klink nie vir my reg nie, maar Vader se woorde aan my was: Los dit so, MY skryfkneg! Wat vir my partykeer nie reg klink nie mag ek nie verander nie en dit moet so bly. Groete Louise)
Louise

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205