OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 39

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 39
30 Nov. 2007 09:06
Daar is nog baie dinge waarvan julle niks weet nie wat in en op hierdie aardbodem gebeur het en nog steeds gebeur. Een hiervan is die werking van My Gees in julle binneste. Nou sal julle vra: Waarom moet ons weet hoe U GEES werk? Ons is te klein en swak en nietig om enigiets van U Geestelik werking te verstaan. Maar omdat EK Liefde vir MY by julle bespeur sal EK dit aan julle duidelik maak sover dit moontlik is in julle aardse liggame. Hoe My GEES in elk van julle werk, is iets waaroor baie mense al gewonder het en daar is baie bespiegelinge. Julle sal moet erken dat EK wel besig is om onder julle volk te werk as julle net na elkeen kyk. Elke mens het ‘n ander siel en persoonlikheid, wat MY werking dan ook verskillend laat geskied. Sommiges het ‘n baie meer liefdevolle geaardheid as ander en kan daarom dan ook meer geleer word, omdat Ek liefde is. Die wat nie so ‘n liefdevolle geaardheid het nie, sal dan ook op ‘n ander manier deur MY geleer word. Dit is dan wanneer EK mense op so iemand se pad stuur om hom te leer om ander te help en by te staan. Die liefdevolles sal dan ook uit hulle eie uit mense help en het nie altyd nodig dat daar iemand spesiaal op hulle pad gestuur word nie. As daar iemand is wat baie ongeduldig is, stuur EK vir hom baie meer toetse in geduld as vir die meer geduldiges onder julle. Sou daar iemand wees wat My baie soek, sal EK MY dan ook anders aan hom openbaar as aan die een wat MY net wil ken in sy nood. EK het almal lief, net soos wat EK hulle gemaak het, en sal daarom met elkeen in die besonder werk op die manier wat EK nodig ag. Dit is hoekom julle nie vinger na mekaar moet wys nie, omdat daar baie dinge op julle pad kom wat deur MY gestuur is, en wat julle dinge moet leer. Moenie na iemand kyk en beoordelings fel omdat daar iets met hom gebeur het en hy deur My iets geleer word nie. EK moet partykeer iets oor iemand bring wat nie lekker is nie, en dan is almal baie geneig om te sê dat daardie persoon dit oorgekom het weens sy groot sonde teen MY. Dit is nie altyd die geval nie en julle moet liewer stilbly oor ‘n ander wat deur MY geleer word. Julle het almal swak punte wat uitgewerk moet word en deur MY werking sorg EK dat EK julle reinig. Pas dan liewer op dat jy nie die volgende persoon is wat deur MY geleer moet word op ‘n “slegter manier” as jou broer wat nou ‘n moeilike tyd deurgegaan het nie.
Daar was ‘n man wat altyd in MY weë gewandel het en My altyd gesoek het. EK het MYSELF dan ook aan hom openbaar in die vorm van drome. Hy het ook daarin geglo dat EK hom nooit sal los nie, maar het tog ‘n bietjie meer van homself gedink as wat nodig was, omdat hy MY al geken het, terwyl sy buurman MY nog nie geken het nie. Die buurman daarenteen was ‘n baie ongeduldige man met tye en het ook nie tot My gebid nie. Daar kom toe ‘n tyd dat EK moes ingryp omdat die man se siel op die afdraande pad was. EK het ‘n groot siekte oor sy enigste seun gebring wat hy baie liefgehad het, en in sy nood het hy gaan hulp soek by sy buurman wat hom aangesê het om direk na MY te kom om hulp. Hy het na MY gekom, maar was heeltemal ongelowig en het dit maar net gedoen uit radeloosheid. Die seun is na ‘n lang siekbed oorlede en die man was stukkend. Sy buurman het hom op sy foute gewys waarna hy huistoe is om homself heeltemal aan MY oor te gee. Daarna het nog baie ander duur lesse gevolg, tot EK hom heeltemal gereinig het en hy suiwer by MY voete kom staan het. EK het hom met MY GEES vervul en hy het ‘n baie groot werk vir MY gedoen. Die man aan wie EK MY eerste openbaar het in drome was stom verbaas dat Ek hom nie eerste met MY GEES vervul het nie, aangesien hy eerste na MY gesoek het, en was baie ongelukkig daaroor en het ‘n bietjie gekrenk in sy eer gevoel, omdat hy nie die voorste een was nie. Hy is deur My ook ‘n les geleer en dit was dat hy nie homself bo iemand anders moes verhef wat MY nog nie geken het nie. Julle is almal nog baie geneig om so te dink, en daarom wil EK aan julle wys dat julle in alle nederigheid na MY moet kom en julleself voor MY voete gooi, sodat EK julle ook so kan reinig soos die man wat baie vêr van My gestaan het. Hy is deur My begenadig, omdat hy nederig was en nie hoogmoedig geword het nie. Moenie dink dat EK iemand straf as daar iets slegs oor sy pad kom nie. Dit is MY manier om julle te reinig en julle sal net die voordele daarin sien wanneer EK klaar is met julle reiniging. Dit is weens MY groot Liefde vir julle dat EK julle skoon was sodat julle, gereinig deur MY bloed, styf teen MY bors vasgedruk kan word. EK kom weer op die wolke om julle almal te kom haal en wil nie dat daar een van julle agterbly nie en dit is dan ook die rede dat dinge oor jou pad kom. Julle verstaan dikwels nie waarom dit gebeur nie en dink dat EK julle verlaat het, maar EK is hier by julle om julle deur elke krisis te dra. Gee net alles aan My bekwame hande oor en dit sal vir julle ten goede meewerk, al lyk dit nie op hierdie stadium so nie. Die man wie se seun gesterf het, het ook nie gedink dat daar iets goeds uit kon kom nie, maar EK het hom gewys wat die voordele daarvan was dat hy sy seun verloor het en hy was dankbaar en het gejuig toe hy, met My verenig, kon sien hoe gelukkig sy seun was. Die swaar las wat hy moes dra, het dan ook gesorg dat hy en sy seun weer bymekaar was nadat hy ook deur My kom haal is. Sonder al die swaar was dit nie vir hom moontlik om daar te kom nie, aangesien hy nog teveel foute gehad het wat die pad vir hom baie langer sou gemaak het. Daarom sê EK dat julle die swaar pad moet aandurf wat EK julle toesê sodat julle, ten volle gereinig, na MY kan kom. EK gee nie dieselfde las aan almal nie en dikwels het een ‘n swaarder las as ‘n ander om te dra, maar dit kom weereens in by wat EK vroeër gesê het, dat mense se verskillende geaardhede, verskillende werkinge deur MY GEES tot gevolg het.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205