OP GOLGOTA
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 24

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60.

Hoofstuk 24
22 Nov. 2007 06:43
Daar was net een man wat MY tydens MY kruisiging gevolg het en dit was My Johannes. Al My ander dissipels het gevlug toe hulle Herder geslaan is en daarom het EK gesê dat die skape sal vlug as Die Herder geslaan word. Johannes het My tot op die einde gevolg, omdat hy MY bo alles liefgehad het en nie ‘n duit omgegee het vir sy eie lewe nie. Hy was ook bang en het gesorg dat hy op ‘n veilige afstand bly, maar het al hoe nader gekom, en het so naby gekom as wat hy toegelaat is deur My kruisigers en pynigers. EK wil hê dat julle ook in die aangesig van gevaar by MY sal bly. Omdat EK die dood oorwin het, sal julle niks hoef te vrees nie, want wat kan julle verloor? Gaan julle dood, is julle nog steeds in MY Hande en bly julle in julle aardse liggame is julle ook in My Hande en wat is die verskil? Die liggaamlike dood bring julle net gouer voor MY aangesig, waar julle MY kan sien en vir elkeen wat My liefhet bo alles, sal dit net ‘n plesier wees. Maar moenie dink dat julle nou moet gaan soek om doodgemaak te word ter wille van MY nie, omdat dit dan onverskillig is en aan selfmoord grens. Julle sal almal deur My gelei word in die tyd wat kom en EK sal julle uit groot gevare uit red en bevry van die drukkende hand wat julle dood wil druk. Johannes moes ook versigtig wees in sy volging van MY en kon daarom ook nie openlik tot heel voor bars nie, maar Ek het hom genoeg laat sien en hoor, sodat hy aan die ander kon gaan vertel wat presies gebeur het. Dit was vir hom ook angsvol en hy het met diepe berou gestaan en toekyk hoedat EK gegesel en gemartel is en hulpeloos het hy ook op ‘n stadium gevlug om weer later terug te keer om MY, sy Meester, te kom bystaan. Ek was elke oomblik by hom, al het dit nie so gelyk nie en het hom deur alles gedra, terwyl hy gedink het dat hy MY dra deur sy bystand. En dit is wat EK van julle ook vra - dra MY in julle harte en EK sal julle dra sonder dat julle daarvan weet. Julle sal net ondervind hoedat EK julle krag gee om verder te gaan, al is die pad hoe donker en steil en met dorings besaai. MY Liefde aan julle en julle liefde aan My sal die pad vergemaklik en verkort en met groot verbasing sal julle agterkom dat die pad ten einde geloop het as Ek julle kom haal. Met vreugde sal julle dan juig en jubel en saam met MY gaan na die mees wonderlike plek waarvan julle nie nou eers bewus is nie.As julle nou moet weet wat EK aan julle gee, wat selfs net ‘n bietjie vir MY gely het, sal julle alles met oorgawe doen en nie omgee of julle ook dieselfde lot as EK beërf vir julle getuienis op aarde nie. Julle sal nie omgee wát hulle met julle aardse liggame maak nie en daarom sê EK weereens aan julle dat julle álles in die stryd moet werp, sodat EK julle met vreugde kan kom haal. En wees getrou in alles wat Ek aan julle toevertrou het en vrees nie die dood nie, sodat julle nie sal val nie. EK het uit die dood herrys om almal wat in MY glo te kom red en verlos van sondebande en daarom moet julle nie bang wees as julle aardse lewens op die weegskaal geplaas word nie. Baie sal sterf ter wille van MY, maar daar sal ook ‘n getroue oorblyfsel wees wat EK op die wolke sal kom haal en wat die nuwe aarde sal beërwe. Dink nie dat díe wat sterf, nie getrou bevind is nie en daarom moes sterf nie, maar dit is hoe hulle met MY ooreengekom het, nog voor hulle aardse bestaan en sal ook hulle loon ontvang, want almal wat vir MY ly, word ryklik beloon en sal nooit deur MY verlaat word nie. Julle almal wat MY Woord bring en lees sal alles deurgaan in My Naam en MY volle beskerming geniet, want Ek is in volle beheer, al lewer hulle julle uit aan die marteling en pyniging van julle liggame. Terwyl julle gemartel word, sal EK kom en julle versterk en julle sal MY en MY engele sien wat julle beskerm teen die bose magte en wat julle pyn verlig. Dit is dan ook waarom baie mense wat vir My gemartel is, dit alles kon deurstaan sonder dat hulle MY verloën het. EK het aan hulle verskyn en hulle kon MY sien terwyl die bose hulle aan hulle vergryp het.
Maar sonder om aan die bose oor te gee, het hulle gejuig en MY Naam geloof, tot groot frustrasie van die bose mense wat hulle gepynig het. Maar hoe meer hulle geslaan of gepynig of selfs gestenig is, hoe meer het hulle hulle aan My oorgegee en EK het hulle in MY Vaderarms weggedra na veiligheid en rus waar hulle vandag nog is en julle bystaan en ondersteun, al is julle nie eers daarvan bewus nie. Hulle sal dit ook weer vir MY kom doen, as hulle die geleentheid kry en sal weer alles op die spel plaas, omdat hulle al weet wat die uiteinde is. Die loon is so groot omdat hulle MY beërf en sodoende ALLES beërf, want EK is alles. Julle sal nog juig te midde van groot gevaar en ten spyte van aardse omstandighede wat nie ten gunste van julle is nie, sal julle jubel en gelukkig wees. Die ongelowiges sal na julle kyk en met verbasing hulle koppe skud, omdat hulle nie kan verstaan dat julle gelukkig is in díe slegte omstandighede nie. En daardeur (deur julle lyding met blydskap) sal daar ook van hulle gered word wat nie sal kan glo dat daar nog geluk kan wees in ‘n slegte tyd nie. Maar Ek is julle Rotsvesting wat julle sal bewaar en beskerm, al dreig die vyand met die dood. Al maak hulle julle liggame dood, is julle nog steeds gered deur MY, omdat Satan nie ‘n houvas op julle siele kan hê nie. Een ding moet julle ook onthou en dit is dat, al ly jy nie vir MY nie, jy nog steeds sal moet sterf op die tyd dat Ek dit bepaal het en as jy jou eie lewe probeer red te tyde van die groot verdrukking, jy nog steeds sal moet sterf en voor My te staan kom, al is dit nie dadelik en deur groot lyding vir MY nie. Almal, groot en klein sal voor MY verskyn en Ek sal hom aan sy dade ken en hy sal geweeg word daaraan. En groot sal wees die teleurstelling as hy sien wat hy verbeur het, deurdat hy sy eie lewe probeer red het en MY verloën het. Maar aan die van julle wat nou al besluit het om MY te dien en sy aardse lewe as niks te reken, wil EK sê: Ek sal julle nooit verlaat nie. Ek beskerm julle, al word julle liggame geslaan ter wille van MY, julle siele sal hulle nie kan skaad of vat nie. En wat meer is, is dat jou lyding vir jou tot kroon en sieraad sal word, deurdat jy ander tot inkeer sal bring en hulle sal as jou handewerk gereken word en jy sal beloon word, omdat EK hulle sal red omdat jy nie weens selfsug ingegee het nie. Wees daarom nie bevrees nie, want EK neem alle lyding op My skouers, wat julle almal gelyk kan dra en julle sal EK in MY arms neem wat groot genoeg is om almal tegelyk vas te hou. Gee julle net aan My oor en EK sal julle dra en Huistoe neem op die regte tydstip vir julle bepaal. Alle lof en alle eer kom aan MY toe en neem geen lof van mense aan nie, al ly julle ook hoe. Onthou dat EK die EEN is wat julle die krag skenk om vir My te ly en aan te hou totdat julle tyd volbring is.
Al MY Liefde aan julle My kinders wat ryklik beloon sal word vir alles wat julle ter wille van MY verloor.
Amen

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205