DIE BEVRYDING
LOUISE SNYDER/CHRISTINE BADENHORST

Hoofstuk 22

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51.

Hoofstuk 22
21 Des.2007 06:48
MY hele skepping bestaan nie net uit die aarde nie. Julle is bewus van baie ander planete om julle. MY Hand is groot en die foto’s wat julle daarvan sien is nie hoe dit regtig lyk nie. Dit is maar net hoe julle dit met julle aardse oë waarneem. Gaan kyk maar na die planeet Jupiter. Volgens die foto’s is Jupiter die planeet wat die hele tyd storms en orkane het, wat menslike verblyf daarop onmoontlik maak. EK wil julle egter sê dat daar die pragtigste mense op woon. Baie van julle wat nou hier lees het al hiervan gelees in My ander skryfknegte se geskrifte waarin EK dit al baie male verduidelik het. Ter wille van julle wat dit nog nie gelees het nie, sal EK dit weer herhaal. EK is die Skepper van die heelal en by MY is geen beperkings nie. Niemand kan ‘n streep trek en sê dat My Mag net tot hier gaan nie. EK kan alles doen wat EK wil en EK wil dat daar ook mense op daardie planete moet wees. Waarom dan nie? Wie gee die wetenskaplikes die reg om te beweer dat daar geen lewe op daardie planeet is, net omdat dit vir húlle onmoontlik lyk om daar te kan leef nie? Is hulle oë so goed dat hulle alles kan deurvors en deursien? Die feit dat hulle glo dat daar nie lewe op is nie, bewys dat hulle oë nog bottoe is. MY kindertjies, vir julle wat glo, wil EK alles wys en sal dit ook doen sodra julle geestesoë heeltemal oop is. Vertrou net en luister verder.Op die planeet Jupiter is daar nie so ‘n verskeidenheid van lewe soos op hierdie aarde nie en die lewe daar is baie meer beperk as hier. EK gee byvoorbeeld vir hulle net een tipe voedsel om van te leef en hulle eet net dit. Daar is niks anders wat eetbaar is vir hulle nie. Mens en dier eet dieselfde voedsel. Dit is baie meer geestelik as hier op aarde, in die sin dat hulle nie sulke liggame soos julle het nie. Hulle het ook hulle sorge daar en dit is glad nie ‘n beter plek as die aarde nie. Maar vir die mense wat daar woon, is dit ‘n baie lekker plek, net soos die aarde (MY skepping, nie die aardse nie) vir julle ‘n lekker plek is om op te woon. Die Jupiter-bewoners het ook ander gewoontes as julle en is nie so hartlik en gasvry soos wat MY kinders hier op aarde is nie. Elke een gaan maar net sy gang en lewe voort. Die planeet het ook dag en nag, maar dit vat baie langer vir die planeet om om te wentel en sy baan om die son te voltooi as die aarde. Die jare is daar dan baie langer as díe van die aarde. Geeneen sal dit daar kan oorleef sonder ‘n baie dik sambreel nie, sou julle daar kón kom wat natuurlik heeltemal onmoontlik is. Die son se strale is baie fel daar, nie omdat die planeet naby die son is nie. Inteendeel, die planeet is verder van die son af as die aarde van die son af. Die planeet het nie die beskermende osoonlaag en atmosfeer wat EK in MY Wysheid om hierdie aarde geplaas het om julle te beskerm nie. Sou een van julle daar kon kom, sou julle dadelik deur die skerp en giftige strale van die son verteer gewees het. Daarom is daardie mense ook toegerus met ander velle as julle en kan hulle maklik die hele Jupiterdag buite bly sonder om eens geskaad te raak. Die nagte is ook heelwat anders as hier by julle, al kan hulle ook die sterre waarneem. Die nagte verskil van julle s’n, deurdat hulle nie slaap soos julle nie. Hulle gaan hulle gang en is die hele tyd besig. Sonder om te rus bly hulle ook die hele tyd besig, omdat hulle liggame verskil van julle s’n. `n Sekere tyd word daar gerus en dan word die werk gestaak, maar die ruspouses is van korte duur. Selfs hulle huise is anders as julle s’n ingerig, omdat hulle nie probleme met die son en koue ondervind nie. Die bewoners van Jupiter is baie groter as julle en sal julle heeltemal oortref wat hulle krag aanbetref. Hulle is ook op hulle pad na MY en weet van My, maar weet ook dat hulle nie as My kinders gered kan wees as hulle nie die weg van die vlees gaan soos EK en soos julle nie. Die mense van Jupiter weet ook van al die strewe op hierdie aarde en is nie altyd lus om hulle gemaklike bestaan op te gee vir die swaar lewe op die aarde nie. Al werk hulle meer as julle en rus minder, is hulle werk veel ligter. Sonder My sal hulle nooit tot die besluit kom om hierheen te kom nie en dit is net My inwerking wat hulle dan daartoe dryf. EK dwing geeneen van hulle nie, maar hulle kan MY ook lief kry en wil daarom dan alles los om MY hier te kom vind. As hulle eers die besluit gemaak het om hierheen te kom, word hulle dan hier gebore as mensekinders op aarde wat hier tussen julle rondloop en ook op pad is na MY. Kyk om julle heen. Kan julle sien wie van watter planeet af kom, wie ligwesens is en wie nie van die aarde is nie, sonder om eers die mens te ken? Julle kan mekaar nie uitken nie, maar EK kan en het julle almal lief. EK het My lewe vir julle almal gegee en wil almal na MY trek sodat julle gered kan word. Die ligwesens is hier op aarde geplaas sodat hulle die wat van ander planete afkom en nie van hier is nie, kan bystaan, omdat hulle nog baie swak is teen die bose verleidings. MY kinders, leef nader aan My, sodat julle ander kan help in liefde, wat alles opgegee het om MY hier te kom soek. Julle wat MY alreeds gevind het, moet in deernis en liefde en baie geduld die ander help wat MY nog nie kan raaksien nie, omdat hulle baie sal verloor as hulle MY nie vind nie. Gee jouself vir die diens van jou naaste en wees nederig van hart, al weet jy dat jy van BO is. Strewe net vir MY en EK sal julle help met julle werk en julle sal die ander mense na MY kan lei, sodat EK hulle tot lewe kan wek.
Amen.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205