Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 17

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die sfeer van die negende gees (Evangelie van Markus). Rondleiding in die eintlike geesteswêreld. Hoe die boosheid van die vleeslike liefde sigbaar word in die hiernamaals

17 Ook hierdie negende gees sal julle sien en spreek in sy sfeer. Hy sal julle na verskillende plekke lei, waar julle van alles wat vir julle tot nou toe nog vreemd was, sal sien en begryp. Daaruit sal julle ook baie van dit wat tot nou toe gesien was, in `n helderder lig kan aanskou.

2 Kyk, ons nuwe gasvrye vriend staan al daar; begewe julle daarom terstond in sy sfeer en volg maar sy instruksies op.

3 Julle bevind julle al in sy sfeer. Let dus op, wat hierdie nuwe gids julle gaan vertel. Hy sê: Beste vriende en broers, kom, kom saam met my om te sien wat die oneindig groot Vaderliefde alles bewerkstellig en hoe mild Hy oral is. Verheug julle bomate dat die Heer behae daarin skep om nuwe dinge aan julle gees te toon; want julle sal met eie oë aanskou, hoe ondeurgrondelik die weë van die Heer is en hoe onnaspeurlik die raadsbesluite van Sy oneindige ewige wysheid!

4 Kyk om julle heen so ver as wat julle geestelike oë maar reik en sê dan vir my wat daar alles voor julle oë verskyn. Ek sien wel dat julle deur die grootsheid van die skouspel in verleentheid gebring word, daar geen raad mee weet en nie weet waar om te begin nie! Daarom sal ek alles wat julle sien, duidelik in woorde beskryf.

5 In die rigting van die middernag sien julle `n taamlike kaal omgewing; hoë steil berge stapel hulle agtermekaar op en kyk soos dreigende regters neer op die pragtige vlaktes. Hier en daar tussen die berge en op die kleiner heuwels ontdek julle geboue wat lyk soos julle wonings op aarde; hier en daar, meer in die laagland staan ook `n klein kerkie. In die hoër sfere van hierdie berge sien julle grys wolke verbytrek en daarbo lyk die berge asof hulle uit suiwer sneeu en ys bestaan, ongeveer soos die hoë gletsers by julle op aarde. Verder sien julle dat hierdie hele noordelike omgewing deur `n groot en breë rivier afgesny is van die streek waarin ons onsself nou bevind.

6 Wanneer julle die loop van hierdie rivier volg, ontdek julle dat sy uit die omgewing tussen môre en middernag tevoorskyn kom en byna in die vorm van `n halwe sirkel tussen aand en middernag verder stroom. Haar water word tot geweldige golwe opgestu; daarom is daar slegs `n enkele gierbrug, of liewer gesê, `n deur die stroming aangedrewe skip, wat die oortog moontlik maak vir die bewoners, wat aan die oorkant van die rivier woon.

7 Julle sou graag wil weet wat se bewoners dit is? Dit kan ons gou te wete kom. Kom maar saam met my; die boot lê juis aan hierdie oewer en ons sal die rivier bykans moeiteloos kan oorsteek. Julle wil dit en kyk, ons is al aan die oewer van die rivier. Stap maar moedig in die bootjie en wees nie bang vir die skuimende golwe, nóg vir die donker diepte van die rivier nie. Ons sal die boot so goed stuur dat ook nie `n druppel daarin sal kom nie.

8 Wel, julle sit in die boot. Sien, die tog gaan beter as wat julle gedink het, want ons sit al in die middel van die rivier. Skrik maar nie vir die monsters wat hulle koppe bo die golwe uitsteek, en hulle bekke baie ver oopsper asof hulle hele wêrelde sou wil verslind nie. Want kyk, ons is byna daar en nou het ons dan ook die oorkant heeltemal bereik. Stap maar voor my aan land dan sal ek julle volg en tewens die boot aan die oewer vasmaak.

9 Kyk, ons is nou aan land. Daar taamlik diep in `n dal geleë sien julle `n vervuilde dorp. Laat ons daarheen gaan en kyk wat daar alles te sien is. Ons is al daar; hoe geval dit julle hier? Julle kry gewoonweg koue rillings daarvan. Ek sê vir julle, dit lyk nog goed, maar dit sal nog mooier word!

10 Julle sê: Beste vriend en broer! Ons is al tevrede hiermee, want die buitengewone vieslike huise lyk soos die van `n afgebrande dorp in een of ander duistere uithoek van die aarde. Die mense wat ons hier sien, lyk so haweloos, dat mens hom op aarde moeilik iets haweloser kan voorstel. Daar kom so pas `n paar op ons af; die man is half naak. Die ontblote dele van sy liggaam is uitgeteer en vuil en op sy bors lyk dit asof hy `n brandwond het. Sy hare is vir meer as die helfte, asof deur vuur verskroei, ook die helfte van sy gesig lyk verbrand te wees. Sy begeleidster blyk `n vrou te wees. Heer, wat `n beklaenswaardige vroulike gestalte! Sy lyk asof sy werklik reeds drie jaar in die grond gelê het. Slegs oor haar skouers hang nog enkele vuil lappe, wat lyk asof hulle so pas uit `n teerput gehaal is. Haar ontblote voete lyk soos vleislose beendere en haar arms! Die een is `n halfverbrande skelet arm en die ander sit vol etter en swere, en haar hoof, wat `n gelaatsuitdrukking! Werklik, wie in staat is om `n ander karaktertrek as die van die dood daaruit te haal, die moet `n hoë graad van wysheid besit.

11 Ja, my beste vriende en broers, laat julle nie deur hierdie aanblik van wysie bring nie, want so lyk die bewoners van hierdie streek hier nog die beste en dit is nog maar die eerste begin van die groot ellende wat hierdie streek herberg. Maar laat ons onsself nou na die dorp self begewe, waar julle egte wonderbaarlike dinge sal sien. 

12 Daar staan die eerste huis al. Kyk net deur dié lae venstertjie na binne; wat sien julle daar? O, julle deins terug; wat is dan daar? Ek weet goed dat hier geen parfumerieë (reukwerk) is nie! Op die vloer van hierdie kamer sien julle half vergane menslike wesens, byme­kaar gehok en in hulle stinkende, half van hulle beendere afgevalle en verrotte vlees vroetel. Dit is weliswaar geen prysenswaardige aanblik nie, maar dit is nou eenmaal nie anders nie, want so uiter die vleeslike liefde hom hier.

13 Julle vra of hierdie wesens dan heeltemal verlore is? Julle weet tog hoe groot die liefde en ontferming van die Heer is. Kyk, die vlees, of beter gesê, die vleeslike lus, van al hierdie wesens moet heeltemal op die mees weersinwekkende wyse opgeteer word, voordat hulle in `n toestand kan kom waarin hulp vir hulle moontlik is.

14 Dink julle dat hierdie, van julle gesigspunt uit bekyk, hoogs ellendige wesens, ongelukkig voel in hierdie toestand? O, gladnie! As hulle ongelukkig gevoel het, dan sou hulle ook graag vinnig wou wegvlug, want elkeen het nog soveel krag, dat hy kan opstaan en hom verder stroomopwaarts begewe, want die water van die rivier het vir hulle `n suiwerende en genesende krag. Slegs die vleeslike genot is hulle element en daarom knaag dit so lank aan hulle vlees, totdat hulle heeltemal verteer is.

15 Julle vra: Het hierdie mense wel iets te ete en kan hulle nog een of ander voedsel tot hulle neem? Kom maar saam na die tweede huis en kyk deur die venster na binne, dan kry julle dadelik `n maaltyd te siene.

16 Wel, wat sien julle daar? Maar julle kan ook nie eens bly kyk nie! Waarom het julle dan so skielik van die venster weggespring? Ja kyk, dit bring die vleeslike lus ook saam met hom. Op aarde het julle `n gesegde wat lui: Hulle is so gek na mekaar dat hulle mekaar wel kan opeet! Daarom hoef julle ook nie so ontdaan te wees nie, as julle gesien het hoe die bewoners van dié huis mekaar se weggerotte lappe vlees, wat vol maaiers en wurms sit, opeet. So moet die vlees verteer, as die vonkie van hulle beter gees ooit nog wil vrykom.

17 Nou vra julle weer of hierdie ongelukkige wesens niks te doen het nie. Ook dit sal ons sien. Daar is alweer `n ander huis. Kyk maar deur die halfvergane venster na binne, dan sal julle dadelik sien waarmee die bewoners van dié huis besig is. Maar julle vlug alweer weg van die venster. Wat is dit dan wat julle so vinnig van die venster verdryf het? Is dit dan so-iets besonders as mens in die korrekte lig sien hoe die bewoners van dié huis uit die stinkende slyk op die grond halfvergane lappe vlees opvis en dit om hulle kaal boude wikkel, en as hulle dan een of ander geraamte met dergelike etterende lappe vlees omwikkel het, dadelik weer aan die sinlike geslagsgemeenskap dink en alle moontlike moeite doen om hulle nog enige wellustige vleeslike genot te verskaf? 

18 Waarom is julle dan so verbaas oor dié skouspel? Gaan dit dan beter daar op aarde? Julle moet maar, menige teder vlees wat op aarde soveel opsien baar, net met geestelike oë bekyk, dan sou julle nog heelwat groter wondere aanskou as hier!

19 Julle vra: Het hierdie arme wesens dan heeltemal geen begrip van die Heer en ook heeltemal geen verlange na Hom nie? Gaan dan maar net `n stukkie verder. Kyk, daar staan iets op `n heuwel wat lyk soos die smerige ruïne van `n bedehuis. Ons sal daarheen gaan; wie weet wat se merkwaardige dinge ons nie daarbinne sal ontdek nie! Kyk, hier agter die berg is `n reeds ietwat vervalle poort. Ons hoef maar na binne te kyk en op julle vraag sal ons die passende antwoord onmiddellik kry. Wel, hier slaan julle byna agteroor van skrik! Wat se wonderlike ding het julle dan ontdek?  

20 Julle kan nouliks asemhaal, laat staan praat! Julle moenie altyd so reageer nie, anders sal hierdie wandeling nie so vinnig ten einde kom nie. Wat julle hier gesien het, is nie meer en nie minder as volkome natuurlik nie. Dink maar net na; die sinnelike (perverse) en begerige mens dra tog so-iets oral saam met hom. Ook wanneer hy `n bedehuis binnegaan, kan hy sien wat hy wil, en sy perverse liefde sal voortdurend aktief wees daarby. Elke voorwerp word deur haar gekleur volgens haar geaardheid. En so sal aan elke voorwerp, wat `n op perversie beluste mens bekyk het, ook so `n weersinwekkende liefde geestelik te siene wees. Op grond hiervan het julle in dié bedehuis op die plek van die altaar, ook niks anders as net geslagsdele van albei geslagte gesien nie. Ook `n baie power onooglike kruisbeeldjie wat daar geplaas was, is aan alle kante met sulke lusvoorwerpe behang en versier. Binne het julle selfs enkele mense gesien wat hulle, soos in `n museum, in dié bedehuis voortsleep en as`t ware heeltemal opgaan in die aanblik van bogenoemde kunsvoorwerpe en hulle daarin verlustig.

21 Vind julle dit dalk oordrewe? Ek sê vir julle: Dit is nie in die minste oordrewe nie, maar dit is die suiwer, nugtere waarheid. Want daar is by julle op aarde tog baie mense wie so nou en dan wel aan die Heer dink, veral wanneer hulle `n beeld wat uit hout gesny is, van Hom sien wat Hom egter slegs grof materieel voorstel; maar hoe lank duur so `n herinnering? Slegs `n blik op `n vroutjie wat vir hom, op die een of ander manier aantreklik is, en die herinnering aan die Heer, sal netsoos Sy beeld, met allerlei bekoorlike liggaamsdele behang en verwewe wees! Op aarde word so-iets deur die vel verberg, maar vir die gees is dit alles oop en bloot te sien.

22 Julle vra: Beste vriend, daar dieper in hierdie smerige vallei is nog baie soortgelyke bedroewende vervalle huise; is dit dalk `n voortsetting van hierdie vleeslike lofwaardighede?

23 Het julle nog sin om die volgende huis te bekyk? Julle skud julle hoof en daarom sal ek julle dan ook nie verder rondlei nie, maar ek sê kortliks vir julle dat julle geen beter nie, maar steeds net erger dinge te siene sal kry. So sou julle byvoorbeeld in die volgende huis reeds alle moontlik maniere van seunskendery sien. Sou julle nog verder gaan, dan sou julle sien hoe jong meisies deur sinlike manne tot ontug verlei en gedwing word. Maar omdat die aanblik van verdere vleeslike gruwels julle egter meer sou skaad as baat, is dit dan ook beter dat julle nie so-iets sien nie!

24 Ek moet julle wel sê dat, hoe verder `n mens daar binnedring, jy die mense daar, in die hoedanigheid van, uiterlik, in sekere sin steeds gevulder en vollediger gevorm sien as die wat daar verder stroomopwaarts is. Dit is omdat diegene wie hulle stroomopwaarts bevind, al meer ontmasker en van hulle vlees ontdaan is, as diegene wat meer landinwaarts woon.

25 Kyk net daar, diep in daardie vuil dal, daar sien julle selfs meer huise wat aan die brand staan. Julle vra: Wat beteken dit? Dit beteken dat hierdie vleeslike lus ontaard het in kwaadaardigheid wat lyk soos jaloesie by julle op aarde. In so `n huis mag julle nie na binne kyk nie, want `n dergelike aanblik sou julle, as julle nie daarop voorberei is nie, die lewe kos! Sodoende het ons in dié ravyn dan ook niks meer te soek nie en daarom sal ons die volgende keer na `n ander dorp gaan. Ons sal sien hoe dit daar gaan. Ek sê vir julle: Verwag maar nie te veel daarvan nie, want daar sal ons nog baie ander dinge te siene kry. En dus laat ons dit nou hierby!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205