Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 19

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Hoe die heerssug gestalte kry in die hiernamaals

19 Om die derde dal te bereik hoef ons wederom niks anders te doen as om hierdie effens hoër bergketting oor te gaan nie. Julle wil dit en kyk, ons is reeds bo. Kyk maar na benede, meer na die aand toe, en die eersgenoemde dorp sal julle blik nie ontgaan nie.

2 Julle sê: “Beste vriend en broer, behalwe enkele stewige hope grond, kan ons niks vind wat soos `n dorp lyk nie.” Tog sê ek vir julle: “Julle het dit goed gesien, want kyk maar so ver as wat julle kan, in die steeds nouer en duisterder wordende ravyn in, dan sal julle baie soortgelyke groot grondhope ontdek. Julle sê: Daarin kan tog niemand woon nie, in watter slegte omstandighede ookal. Ek sê egter vir julle: Wag maar rustig totdat ons die grondhope heeltemal bereik het, dan sal alles dadelik heel anders lyk. As julle wil, gaan ons na benede.

3 Wel, ons is al by die eerste grondhoop; wat sê julle daarvan? Julle haal julle skouers op, maar ek sê vir julle: Kom bietjie nader, maar nie al te naby nie, dan sal julle die skouerophaal wel laat. Julle vra waarom julle nie te naby aan so `n heel onskuldig lykende grondhoop mag kom nie. Ook daarop sal julle, as julle op die regte afstand sal wees, dadelik die gepaste antwoord kry. Kom nou maar bietjie nader!

4 Waarom spring julle so verskrik agteruit? Ek het tog vir julle gesê dat hierdie grondhope nie so leeg is as wat hulle op die eerste oogopslag gelyk het nie. Julle sê nou: In hemelsnaam! Wat is dit? Toe ons net `n paar tree nader aan hierdie grondhoop kom, steek `n aantal van die bekende giftige slange onmiddellik hulle koppe deur die klein onsigbare gate en sper hulle giftige bekke oop. Werklik, as ons nie so vinnig weggespring het nie, sou hulle hulleself sekerlik op ons gestort en ons kwaad aangedoen het. Is hierdie grondhope dan suiwer slangneste? Is hier nêrens iets wat soos mense lyk nie?

5 Ek sê vir julle: Om daaragter te kom, moet ons die grondhoop vanaf die noordekant bekyk, van waaruit hy ewenwel op die mees gevaarlike manier bereikbaar is. Daarom moet julle agter my aan loop en baie heimlik van agter my rug toekyk, dan sal julle wel die nodige te siene kry. Kom dus maar saam! Kyk, ons is al op die goeie plek. Let goed op, daar onder teen die grondhoop is `n gat soos wat dit by julle deur `n jakkals gegrawe word. Kyk maar goed na binne, dan sal julle dadelik iets heel anders sien. Maar as julle iets gesien het, al is dit hoe afskuwelik, dan moet julle julleself tog baie stil en rustig hou, want `n te heftige beweging of `n voortydige angsgeskreeu kan tot gevolg hê dat ons almal haastig op die vlug moet slaan.

6 Wel, het julle al na binne gekyk? Julle bevestig dit. Ja, so is dit wel genoeg. Voordat ons die saak sal bespreek, laat ons onsself so vinnig moontlik `n hele endjie van die hoop vandaan begewe, want in sy nabyheid is dit nie goed om te praat nie, omdat hierdie grondhoop baie duisende ore het en op sy hoede is. Daarom kan mens maar net op `n veilige afstand oor sy hoedanigheid spreek. Vertel my nou maar wat julle gesien het.

7 Julle sê: O beste vriend en broer, vreeslik, vreeslik! Ja, dit was afskuwelik om te sien! Op die agtergrond het ons `n wese hurkend gesien sit. Dit het gelyk soos `n aller afskuwelikste en verskriklikste draak. Hierdie draak het wel `n mensagtige kop gehad, maar in plaas van hare was daar `n ontelbare hoeveelheid giftige slange te sien, wat na alle kante gekronkel het en met hulle vurige oë rondgekyk het of daar ook `n buit of prooi in die omgewing van hulle huiweringwekkende woning sou kom.

8 Meer op die voorgrond, langs die wande, het ons weer baie ellendige menslike gestaltes gesien, wat aan hande en voete geketting was. `n Hele klomp vry slange het om hulle heen gekruip, hulle are oopgebyt en hulle bloed opgesuig. Die afskuwelike wese op die agtergrond het egter in sy slang omwonde regterhand `n gloeiende swaard en in die ander hand `n soort opgerolde skrifstuk gehad. `n Slang, wat om sy linkerarm gekronkel sit, blaai af en toe in die rol en gaan met haar tong oor die velle van die skrifstuk asof sy die monster op die agtergrond op iets heel besonders attent wil maak. Na so `n handeling het ons gesien hoe, vanuit `n donker agtergrond, verskeie baie ongelukkig lykende menslike wesens spoedig deur `n aantal slange na vore getrek word. Die op die agtergrond sittende monster swaai weldra met sy gloeiende swaard bo hulle, slaan enkeles in stukke en laat ander weer deur die slange, wat mensarms het, ketting en by die ander voeg. Dit het ons gesien; nie meer en nie minder nie.

9 Ek sê vir julle: Julle het baie goed gekyk en alles goed in julle opgeneem, maar julle sê nou: Beste vriend en broer, die boosheid, wat met die afskuwelike beeld getoon word, kan tog nie op aarde bestaan nie! Dan sê ek vir julle: Daar bestaan, met betrekking tot dié boosheid, nog onbegryplik erger dinge op aarde, as wat deur dié beeld getoon word! Raai maar net welke boosheid daar agter dié beeld skuil. Kyk, die beeld stem ooreen met die wêreldse tirannieke politiek van die heerssug. Alles wat op heerssug begin te lyk, kom innerlik ook heeltemal met die karakter van die beeld ooreen. Daaronder moet julle egter nie die wyse staatmanskap van regverdige, deur God gesalfde konings en regeerders verstaan nie, wat vanselfsprekend hulle volkere moet bewaak, sodat hulle mekaar deur hulle wedersydse kwaadaardigheid nie al te veel skade toebring of selfs heeltemal ten gronde rig nie. Onder dié beeld word alleen die helse sluheid verstaan waarmee mense van welke rang of stand ookal, hulle deur middel van die mees skandelike kruipery een of ander heersersposisie probeer verskaf. As hy een bemagtig het, dan verskuil hy hom weldra vir die buitewêreld, agter `n bedrieglike deemoed, soberheid en beskei­denheid. Maar hulle wonings is vol loerende slange, wat soos kruiperige, geslepe, geheime spioene lyk, wat met gespanne aandag na buite kyk of daar ook iets gevaarlik op die sogenaamde beskeidenheid afkom. Kom daar iets in die omgewing, dan word dit dadelik gegryp en heimlik en onopvallend na die sogenaamde beskeie eienaar van die huis gesleep. Dat dit met die buit in so `n beskeie woning nie al te goed gaan nie, het julle aan die hand van die beeld gesien. Die slange op sy hoof, in plaas van hare, beteken die rustelose strewe na steeds groter mag. Die gloeiende swaard in sy hand, wat deur `n slang omwonde is, beteken `n listig verkreë magsposisie, dit wil sê, een of ander amp of vak wat so `n heerssugtige iemand die reg gee om die toevertroude mag uit te oefen. Dat die swaard gloeiend is, gee die onverbiddelike strengheid of die wese van die tirannie aan. Dat sy hand met `n slang omwonde is, wil sê dat so `n swaard met groot sluheid gehanteer word. Die rol in sy linkerhand, wat ook deur `n slang omwonde is, tipeer die sluheid van so `n heerssugtige iemand, in wie se planne niemand insae mag hê nie, behalwe sy eie groot sluheid.

10 Dat julle vanuit die agtergrond mense gesien het wat deur slange na vore gesleep is, beteken dat die veelsydige sluheid van die tiran hulle gevange geneem het. Die groot slange met mensarms, wat die gevangenes in kettings slaan, is die ingehuurde handlangers van die tiran. Die ketting getuig egter van die volslae slaafse toestand van diegene wat onder die gesag van so iemand staan.

11 Nou het ons alles ontraaisel. Julle sê: Die beeld is wel waar, maar alles bymekaar geneem lyk dit tog al te oordrewe. Maar ek wil julle slegs opmerksaam maak op enkele voorbeelde, wat veral in julle huidige tyd in ruim mate op aarde aanwesig is. Daaruit kan julle baie maklik aflei of die beeld oordrewe is.

12 Sodat julle nie te lank hoef na te dink nie, maak ek julle in die eerste plek attent op al die boosaardige volksopruiers wat meestal uitgaan van `n hoë ideaal, maar na die uitvoering van hulle bose planne die grootste boewe van die mensdom geword het. Robespierre is nog lank nie die ergste onder die talloos baie wat die arme mensdom van die aarde liggaamlik en geestelik in `n onnoemlike ongeluk gestort het nie. En juis die werklik hels-sataniese politiek van daardie soort mense word maar oppervlakkig deur dié beeld weergegee.

13 As dit raadsaam sou gewees het om diegene in die dieper lêende grondhope vir julle te laat sien, werklik, julle kan my glo, by die eerste en die beste hoop, sou ook die koelbloedigste van julle, nie in staat gewees het om ook maar `n letter op papier te sit nie. Die soort dinge hoort tot die alleronderste en dus ook boosaar­digste hel. Vanaf die bergrug het julle gesien wat se enorme massas van sulke grondhope die afskuwekkende ravyn bevat. Daaroor kan ek julle maar net sê dat dit in elk van die grondhope tien keer erger gaan as in een van die vorige.

14 En dit is voldoende. Ek moet eerlik aan julle beken; slegs die allermagtigste engelgeeste, wat met alle moontlike krag, spesiaal deur die Heer daartoe toegerus is, kan onbeskadig deur dié dal gaan. Maar met julle sou ek nie eens tot by die derde grondhoop wil gaan nie. So lank `n dergelike heerssug slegs wêreldse dinge in die oog het, soos julle in hierdie eerste grondhoop gesien het, solank is dit, met inagneming van die nodige versigtigheid, ook nie vir die geestelike skadelik nie. Wanneer egter, wat by die tweede grondhoop al taamlik sterk die geval is, hierdie heerssug haar slangarms ook uitstrek na die geestelike, dan moet elke gees hom ook al baie goed in ag neem, wanneer hy so `n grondhoop sou nader! Daarom sal ons onsself tevrede stel met dit wat ons in dié dal gesien het. Die volgende keer sal ek julle op `n veilige en gunstig geleë heuwel bring, waarvandaan ons `n algemene oorsig van die veelvoudige situasies van veral hierdie noordelike streek sal kry. En dus genoeg vir vandag.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205