Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 53

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Verrassings in die skynhemel

53 Kyk nou, die hele geselskap bring hulle voorneme ten uitvoer en begewe hulle langs die muur omringde paleis. Maar let nou op, skielik sal `n beslissende toneel hom voordoen, want die geselskap sal spoedig voor `n kloof te staan kom wat tot by die tafel deurloop. Niemand sal in staat wees om `n voet oor die kloof te sit nie en as iemand omlaag kyk, sal `n ontsettend diep kloof hom aangaap.

2 Kyk, die geselskap kom op die aangewese plek aan; die welsprekende aanvoerder eerste. Nog enkele tree en hy deins terug en skreeu: Maar in godsnaam, wat is dit nou?! Hier, kom kyk net, dit is `n afgrond wat lynreg die hel in blyk te gaan! Nee, as ek ons tafeldienaar net weer teenkom, sal ek hom tog net duidelik te verstane gee hoe grondig hy tuis is in hierdie hemelse geografie. Het hy nie vooraf gesê, toe hy aan tafel agter my die wolkebodem ietwat losgewoel het, dat die grond van hierdie groot tuin oral netso stewig is nie? En nou sien ons, tot ons grootste verbasing, hierdie verskriklike kloof!

3 `n Ander uit die geselskap gaan na die spreker toe en sê baie gewigtig: Broer, nie so luid nie, want anders sou die tafeldienaar ook net aan jou kan sê dat jy nie goed tuis is in die Heilige Skrif nie. Kyk, nou weet ek om tog beter raad te verskaf. Dit is sekerlik die kloof waardeur die Ryk vrek indertyd in die hel met Abraham in die hemel gespreek het en hom vir `n druppel water en nog meer gesmeek het. Hierdie kloof het daarom sekerlik as ewige gedenkteken bewaar gebly. En aangesien ons nie oor die kloof kan heengaan nie, wat vir ons “salige geeste” wel ietwat sonderling klink, gaan ons maar weer op ons weg terug en sluip heel ongemerk weer aan tafel.

4 Die eerste spreker sê: Broer, jy het gelyk, dit sal verseker so wees. Daarom sê ek, net soos al die ander, om jou raad opsluit op te volg. Wel, die geselskap maak `n regsomkeer en gaan die weg terug. Maar kyk, andermaal doen `n heel fatale probleem homself voor: Ook agter hulle het `n kloof gevorm en sodoende staan ons arme geselskap nou as`t ware tussen twee vure en het nouliks `n enkele meters breë landtong waarlangs hulle na die tafel kan gaan.

5 Maar luister nou na wat ons woordvoerder sê wanneer hy die tweede kloof sien. Sy woorde lui: Oho, om God’s wil! Wat is dit vir `n hemelse skurkestreek? Gaan dit so in die hemel? Dit is tog niks anders as `n sluwe streek van ons lofwaardige tafeldienaar nie. Hy sou ons gesprek vanuit een of ander geheime skuilplek afgeluister het, en toe deur middel van geestelike towermiddele wat hom ten dienste staan, hierdie afgronde gevorm, en nou staan ons ten einde raad hier. Hy laat hom ook gladnie sien nie; ek dink dat hy, wat ons toestand betref, tog al van ver af lont moes geruik het. Werklik, as die lummel nou sou opdaag, sou ek my selfs, met my hemelse arms aan hom vergryp. Hierdie twee afgronde hier; dit is tog iets verskriklik. As ons nie so versigtig was nie, dan sou die een of ander verseker al, God weet waar, daar benede gelê het! Hy sê verder: Liewe vriende, en nou my hemelse broers en susters, ek het aanvanklik gesê, en ek bly daarby, dat hierdie hele hemel niks anders as foppery is nie. Die tafeldienaar het ons almal beduiwel; met ons wandeltog is ons saamgeneem en daardeur het al ons aardse verwagtings van die hemel in rook vervlieg. Die enigste wat nog ontbreek, is nog so `n klein afgrond dwars en ons sit almal mooi hemels in die knyp!

6 `n Ander sê aan hom: Broer, broer praat nie so luid nie! Het jy nooit die ou spreekwoord op aarde gehoor nie: As julle van die duiwel praat, trap julle op sy stert? Ons dienaar wat hom nou aangematig het om hierdie dubbele grap met ons uit te haal, sou stellig ook op die idee kan kom om nog `n streep deur ons tafel­rekening te trek. Daarom dink ek dat ons baie rustig en beskeie oor hierdie landtong na die tafel moet gaan, anders sou dit kan gebeur dat ons, saam met almal hier, `n klein hemelse hongerkuur sal moet ondergaan. Ek is van mening: Ook al kan mens eintlik nie in die hemel sondig nie, dat om eiemagtig te handel, miskien ook nie heeltemal korrek is nie. Dit sou bes moontlik wees dat daar in die hemel vir ongehoorsame hemelse geeste ook `n soort hemelse straf bestaan. Daarvan weet weliswaar geen sterfling iets nie, maar soos jy en julle almal weet, kon ons op aarde nooit iets konkreet oor die hemel te wete kom nie en daarom kan ons eers hier ietwat meer met die reëls wat daarvoor geld, vertroud raak. Ek is van mening dat ons hier, met die allerheiligste drie-eenheid voor oë, ietwat berou moet toon, sodat ons misstap vergewe mag word.

7 Die woordvoerder sê: Beste broer, ek kan jou geen ongelyk gee nie, maar vir my kom dit voor dat die omstandighede hier lyk soos die in die verdigsels van die ou Romeine oor `n sogenaamde Scylla en Charybdis*, daarom is ek van mening dat daar by hierdie vormgewing van die hemel van geen enkele kant veel te wen sal wees nie. Moet ons hier bly, dan staan ewige honger ons kennelik te wagte; kom ons by die tafel, dan wil dit weer sê, ewig bly sit en ewig eet en drink. Ek sou sê, wie van julle sin het om weer terug te gaan na die tafel, laat hom in ieder geval sy geluk beproef, mits hy nie by `n dwarskloof uitkom nie. Ek bly hier en gaan geen tree verder voordat die tafeldienaar terugkom nie, soos hy dit belowe het, en my `n bevredigende verklaring oor die ontstaan van hierdie klowe gegee het nie.

*(Scylla en Charybdis, in die Griekse mitologie, is twee seemonsters wat woon in die teenoorgestelde kante van `n nou seestraat en is die personifikasie van die gevare van navigasie naby die rotse en werwelstrome. Scylla was `n aaklige kreatuur van twaalf voet lank en het ses lang nekke gehad, elkeen dra `n kop met drie rye tande, waarmee sy enige prooi verslind wat naby haar kom; sy lewe in `n grot in `n rotsbank. Oorkant die seestraat, teenoor haar, was `n baie groot vyeboom waaronder Charybdis, die draaikolk, haar bevind het en suig die water van die see op, en spoeg dit uit, drie keer `n dag, en verswelg enigiets wat naby kom - Vertaler.)

8 Kyk nou, `n groep gaan via die landtong en loop sonder probleme deur. By nadere ondersoek wil ons woordvoerder egter nou tog eerder die groep agterna gaan. Hy begewe hom nou ook met die geselskap wat by hom agtergebly het, op die weg. Maar kyk, hy vind inderdaad op sy pad die vooraf vermoede dwars uitloper waar hy nie oorheen kan spring nie. Luister hoe hierdie hemelbewoner in kragtige bewoordinge oor hierdie hemelse gebeurtenis begin uit te vaar en sê: Nou, daar het julle dit! Soos ek al gedink het; dit is vir my tog `n hemel, julle sou julle geen beter kan wens nie! Liewe broers en vriende, dit is nou die sogenaamde hemelse vreugde! Ek moet eerlik beken dat ek my nie kan herinner, dat ek my ooit, solank ek op aarde geleef het, in `n groter en fataler verleentheid bevind het, as in dié oord van saligheid nie.

9 As ek nou nog terugdink aan alles wat ek op aarde gedoen het om hierdie hemel te verdien! Hoe dikwels ek wel gevas het; hoeveel honderde, ja duisende rosekranse ek gebid het; hoeveel misse ek betaal het en by hoeveel ek self met volle aandag aanwesig was; hoeveel armes ek my hele lewe lank te ete gegee het, terwyl ek self `n arm boer was...! Ja, ek moet opreg beken dat ek my op aarde vir hierdie hemel gewoonweg die vel oor die ore laat trek het. En nou geniet ek, en julle almal, die veelbelowende loon en wel op die deur drie afgronde begrensde vierkante plekkie, vanwaar ons die heilige drie-eenheid weliswaar kan aanskou tot ons oë hulle begewe, maar waarby ons onsself nie mag verroer nie, omdat ons andersins baie gou daar benede sal lê, God weet waar! Dit ontbreek nog maar net dat die klein vierkante stukkie hemelland langsamerhand in die afgrond begin te sak. Dan sou daar by God tog niks anders oorbly as dat ons op goeie geluk saam na benede sak nie, God weet waarheen, of ons sou ons teen wil en dank op die muur moet begewe en daarop tussen twee afgronde moet balanseer, mits die muur nie ook nog saam na benede sak nie. Nee, beste vriende, as ek nou dink aan die werklik moeisame weg waarlangs die priester ons op `n, volgens my, ietwat verdagte manier gelei het, nadat ons in die geestelike wêreld aangekom het, en wat se inspanning dit ons nie gekos het, voordat ons die goue hemelpoort bereik het, dan kan ek van louter ergernis wel uitmekaar plof, want daar benede sal dit met ons tog heelwat beter gaan as hier!

10 Kyk, `n ander stoot ons spreker aan, wys met sy vinger na die dwarskloof en maak hom daarop attent hoe daar so pas `n groot stuk na benede gesink het. Ons woordvoerder trek hom ietwat terug en sê baie bedremmeld: Nou, wat het ek gesê, ons sal sekerlik nog soos ruiters op die muur te sit kom. Werklik, as ek vanuit my rotsvaste geloof nie verseker sou weet dat mens vanuit die hemel tog sekerlik nie meer in die hel gewerp kan word nie, dan sou ek by die armsalige hemelse lewe moet beweer dat alles hier doeltreffend voorberei is vir so `n prysenswaardige rit. Ek dink dat ons dadelik op die muur kan afstuur, want mens kan nie weet hoeveel ruimte daar na `n uiteindelike tweede breuk sal oorbly nie. Is ons egter eenmaal op die muur, dan laat ons onsself daar agterwaarts afgly totdat ons buite die fatale vierkant is, vervolgens probeer ons by die uitgangspoort van die hemel te kom, waarna ons dan oor die reeds bekende lang, moeisame weg weer terug­gaan. God moet ons slegs soveel erbarming en geluk gee dat die muur ons nie sal faal nie. Ek is van mening dat ons op die manier wel in staat sal wees om heelhuids uit hierdie haglike situasie te kom.

11 Kyk, na hierdie woorde gaan elkeen vinnig na die muur. Die muur word bereik, maar is helaas ietwat te hoog om daarop te kan klim. Daarom vorm ons geselskap nou lewende lere en neem die muur as te ware stormenderhand in.

12 Hulle het hul uiteindelik na bo gewerk, maar as die laaste man na bo getrek word, begin die muur om te buig en ons eerste woordvoerder sê: Beste vriende, moet nie moed verloor nie! God, die Heer sy alle eer; nou moet ons maar sien waar ons sal beland! Dit is vir my alles om`t ewe, want dit is nou duidelik dat, met uitson­dering van die goddelike drie-eenheid, wat ons nog steeds sien, hierdie hemel suiwer bedrog is. Ons agtenswaardige tafeldienaar laat hom gladnie meer sien nie en hoewel hy ons stellig belowe het om terug te kom, laat hy ons lelik in hierdie allerhoogste hemelse nood sit. En kyk nou, ons halfhangende stuk muur het nou afge­breek en ons gaan saam na benede, God weet waarheen!

13 Nou gaan ook ons saam en luister tydens die tog na ons spreker. Sy geselskap lyk wanhopig; slegs ons spreker gee nie moed op nie. Hy troos sy lotgenote so goed hy kan en sê: Liewe broers, sug maar nie daaroor nie; die Heer wil tog steeds die aller­beste vir die mens hê. Ons kan nie weet waarvoor hierdie reis goed is nie. Miskien gaan ons nou by hierdie geleentheid `n waaragtige, geestelike, buitengewone interessante hemelreis maak en nader kennis maak met die baie laer lêende sterrehemel, en miskien gebeur dit dat ons selfs in `n vreemde, mooi wêreld beland. Ek sê maar: Laat die Heer se wil geskied! Doodgaan kan ons nie; dit sal stellig met ons beter gaan as in die hemel daarbo. Dit sou wel heel beroerd wees as ons die hele ewigheid deur so moes bly val, maar dit sou tog nouliks aangeneem kan word, want dan moet selfs, die voor ons alles nóg steeds sigbare drie-eenheid, slegs `n geestelike meteorologiese verskynsel wees. Ons moet egter al baie diep benede wees, want die hele beeld van die drie-eenheid word uiters klein. Nee, beste vriende, dit mag dan wees soos dit is, maar ek is tog ontsettend benoud waar ons na hierdie geestelike lugreis sal beland.

14 Kyk, iemand uit die geselskap maak die spreker daarop attent dat hy benede, heel in die diepte, `n geweldige groot plas water sien. Die spreker sien dit nou ook en sê: Vir so `n onderlaag sal ons stuk muur sekerlik geen beskerming van betekenis bied nie, maar dit maak vir my nou alles niks meer saak nie, want onder sulke omstandighede het ek werklik genoeg van die lewe! En so mag kom wat wil, water of geen water, dit is vir my alles om`t ewe! En kyk nou, die hele geselskap bereik die wateroppervlak; hulle stukkie muur verander in `n bootjie, waarin die hele geselskap nou ongedeerd is. Die wind begin te waai en die bootjie vaar oor die golwe.

15 In die rigting tussen môre en middag duik so pas, asof dit uit die water omhoog styg, `n pragtige, uitgestrekte land op en ons spreker sê aan sy geselskap: Ek het julle tog gesê dat ons aan die vorige hemel nie veel verloor het nie. God, die Heer sy alle lof en dank vir hierdie wonderbare redding! Ook ons fraai tafeldienaar is alles vergewe; maar as ek hom net weer teenkom, sal ek hom tog net goed die leviete wil lees! Kyk nou, die bootjie nader die land, maar kyk net beter, daar aan die oewer staan ons welbekende tafeldienaar ons snelvarende geselskap en afwag. Ook ons spreker moet hom nou wel herken, want hy kyk stomverbaas na die oewer. Wat verder daar gaan gebeur, sal ons die volgende keer in oënskou neem.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205