Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 81

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Derde toneel op die tragies-komiese podium

81 Kyk nou maar net na ons hemelse podium. Die wolke word donker, terwyl die glansende, groot ronde opening op die agtergrond, met die nou ook duister wordende “drie-eenheid”, steeds nouer word. Soos julle spoedig sal sien, sal daar van hierdie hele ligopening nouliks nog `n piepklein gaatjie oorbly. Let nou goed op alles wat daar te voorskyn sal kom.

2 Kyk, nou heers daar al volslae duisternis in hierdie hele hemelruimte en die rande van die wolke lyk asof dit gloei. Ook kan julle al van veraf `n dowwe gerommel hoor, soos van `n magtige onweer. Die kolossale drie-eenheid ver op die agtergrond word nou ook al “gloeiend van toorn” en uit die mond van die gerubyne begin dit te bliksem. Die onweer kom nader, en van agter die wolke kom vlamme tevoorskyn wat as kragtige bliksemflitse kriskras deur die wye ruimte skiet.

3 Hierdie toneel gaan met steeds meer vuur en donder gepaard. Soos julle kan sien en hoor, slaan magtige vlammebondels onder luide gekraak soos hael op hierdie hemelse blomakkertjie neer. Waar so `n bondel vlamme neerval, steek hy die materie aan die brand, waardeur die oplaaiende vuur steeds verder om hom heen gryp. Wat sê julle van hierdie toneel?

4 Ek het die vermoede dat dit julle ietwat benoud sal maak, omdat julle dit raadsaam sal vind om die derde toneel van die hopelose, hemelse skouspel nie tot die einde af te wag nie. Maar ek sê vir julle: Ons besit die mag om die vuur, wanneer ons maar wil, onmiddellik uit te doof. Daarom hoef ons ook gladnie vir die vuur bang te wees nie. Wat ons egter hierby kan doen, sal en moet ons doen, sodat ons die vuur met `n teenvuur beantwoord en aan die teenvuur sal ons teenstanders hulleself baie gevoelig brand. Sodra ons teenstanders dit sal bemerk, sal hulle tevoorskyn kom om te probeer om aan die vuur te ontkom. Ons vuur sal hulle egter gevange neem en die boosheid in hulle verteer. Eers dan sal hulle in staat wees om woorde wat heilsaam vir hulle is, van ons aan te neem.

5 En sien, ek gee nou `n teken met my hand en onmiddellik val daar massas wit vlammebondels deur die donkerrooi heen op die hemelse teaterpodium. Oral begin die vuur vreeslik te rook, en hoor julle nou die gehuil van ons hemelbewoners? Kyk, hoe daar al hele skares deur die vlamme heen na vore storm en om hulp roep, maar elke vlugtende word omgewe deur `n vlamme pilaar waaraan hy nie kan ontkom nie. Nou is die hele podium reeds vol en die hele, baie talryke brandende groep stort hulle na benede in die blomakkertjie. Nou kan julle ook sien, dat tussen die nog steeds oplaaiende bliksems, water stroom asof uit `n wolkbreuk na benede, wat ons brandende hemelbewoners baie verligting gee.

6 Julle sê nou wel: Liewe vriend en broer, dit is wel `n verskriklike manier van genees. Ek sê vir julle: Dit moet wel so wees, as hierdie ernstig siek mense genees wil word, want soortgelyke wesens behoort in geestelike opsig tot die “jiglyers” en hierdie kwaal kan slegs deur `n flink geestelike “vuurstoombad” genees word. Julle het tog ook stoombaddens op aarde, wat veral geneeskragtig vir jigaandoeninge is; waarom sou daar in die ryk van die geeste dan nie ook soortgelyke geestelike stoombaddens vir sulke gevalle wees nie? 

7 Ek sê vir julle: Daar bestaan op aarde geen enkele verskynings­vorm wat nie ook in die geesteryk op ooreenkomstige wyse te vinde sou wees nie. Daarom is ook die verskynsel lank nie so vreemd soos wat julle miskien aanvanklik gedink het nie. Julle moet die vuur nie vergelyk met julle aardse vuur nie, want hier beteken vuur, wanneer dit sigbaar word, niks anders as groot “ywer” nie. Soos wat julle dit gesien het, wil hierdie hemelbewoners in hulle groot ywer, wat `n produk van hulle waanidees en die daaruit voortkomende boosheid is, hulle as`t ware op ons wreek en ons op die vlug jaag.

8 Omdat die hemelse manier van werk nie daarop gerig is om kwaad met kwaad te vergeld nie, maar om aan diegene wat ons ten gronde wil rig, slegs goed te doen en diegene wat ons vervloek, te seën, kom ons hulle ook nie met `n soortgelyke vuur tegemoet nie, maar met `n “liefdesvuur”, wat na verhouding net so groot was as hulle “toornvuur” wat teen ons gerig was. Dit wil dan sê, om waaragtige, gloeiende kole te stapel op die hoof van ons teenstander. Dit sal hulle ook weldra insien, wanneer die “lewende water”, wat deur ons oor hulle uitgestort was, hulle voldoende sal oortuig.

9 Kyk nou, hierdie meer as duisendkoppige menigte hemel­bewoners skrompel nou tot haar vroeëre gedaante ineen, dit bewys dat hulle, as gevolg van hulle ywer, nou `n verdiende verdeemoediging ondergaan het. Ook die hele, voorheen nog sterk opgeblase hemel, skrompel nou ook tot sy vorige gedaante ineen. Die vuur doof uit, en ons hemelbewoners staan nou as`t ware heeltemal naak voor ons. Soos wat julle kan sien, oorval `n heilsame gevoel van skaamte hulle, dit wat altyd duidelik daarop wys dat die oorwonne sy dwaasheid en die daarmee verbinde onreg, uit homself begin insien.

10 Nou is hulle ook ryp om gewilliger as voorheen na my woorde te luister. Daarom wil ek dan ook dadelik die volgende vraag stel aan die man wat die naaste op die voorgrond staan, die voormalige “valse Petrus”, en sê dus: Kyk, jy, sogenaamde Petrus, ons is nog daar, want al jou hemelse magte en kragte kon niks teen ons uitrig nie, soos wat jy, net soos jou hele geselskap, duidelik kan sien. Sê my dus, vir wie beskou jy my nou? Is ek van benede of is ek tog “van bo”?

11 Die pseudoPetrus sê: Luister nou na my. Ek en die hele geselskap was en is nog met baie waanidees behep. Ons sien nou egter duidelik in dat dit met hierdie werklik hopelose hemel, waarin ons almal baie pynlik onder hande geneem was, wel totaal anders gestel moet wees. Ook sien ons in dat, wanneer soortgelyke tonele hulle in hierdie baie bedenklike hemel dikwels sou herhaal, dit netso goed vir `n eerste klas hel aangesien kan word en as hy dit nie is nie, dan tog ten minste vir `n goed onderhoude “vagevuur”. Daarom vra ek jou nou in die naam van al my broers, bevry ons, as dit vir jou moontlik is, uit hierdie werklik fatale hemel! Met die versoek lê ek ook my valse Petrusskap aan jou voete. Ek sien baie goed in en beken openlik uit die grond van my hart dat ek nie net as Petrus, nie deug nie en nooit gedeug het nie, maar ook dat ek nog veels te sleg en te dom is om selfs maar die geringste varkopasser te wees op een of ander geestelike weiveld, vooropgestel dat daar êrens in hierdie omgewing so `n besigheid bestaan.

12 Ek vra jou niks anders nie as om ons te bevry uit hierdie egte “kartonne hemel”! Waar jy my en ons almal ook maar wil plaas, daar sal ons die Heer selfs vir die maerste kos van ganser harte dien. Maar bespaar ons die “vagevuur” en die hel, want hoe vreeslik die vuur brand, het ons aan ons vel ondervind, weliswaar maar baie kort, maar so gevoelig, dat ons dit vir ewig sal onthou!

13 Nou sê ek: Nouja, hierdie taal geval my beter as die vorige. Wees daarom gekleed en volg ons na die “paradys” waar verskeie van julle broers reeds wag op `n gelyksoortige “verlossing”! Kyk nou, die naaktes is skielik met liggrys linnegewade geklee, en aangesien ons hierdie plek nou verlaat, kom hulle, wat God nou opreg loof en prysend, agter ons aan. Julle sê: Hierdie linne gewade lyk soos egte stewige, van tik* gemaakte militêre jasse en die hele stoet lyk soos `n armsalige militêre geleide. *(Tik: soort ongebleikte linne)

14 Ja liewe vriende, die kleding rig hom hier volgens die insig in die ware en die daaruit voortkomende goeie. Hoeveel waarheid en goedheid daar in hierdie geeste aanwesig was, het julle tog duidelik kon aflei uit hulle hemel en uit hulle handelswyse. Daarom is hierdie klere ook volkome by hulle toestand aangepas. Wat nou verder sal gebeur, sal ons by die volgende geleentheid baie goed te siene kry.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205