Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 44

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Skoonheid en prag van die middag. Onderrig oor die wese van liefde en wysheid

44 “Wel, julle het na alle kante rondgekyk en ontelbare en omvangryke heerlikhede van allerlei soorte gesien. Sê nou vir my wat julle, van die baie wat julle gesien het, die meeste aangespreek het. Julle sê: Beste vriend, ook aan jou is dit gegee om in ons innerlike te sien; wees daarom so goed en som vir ons die beste en mooiste wat ons gesien het, op. Goed dan, dit sal ek wel doen, want ek lees in julle oë en aan julle gesigte, wat julle van al dit wat julle aanskou het, die beste geval.

2 Dit was nie die eindelose groot, buitengewone pragtige, blinkende paleise wat julle die beste geval het nie. Ook die stede wat aan die rivier gelê het, het nie julle verdere belangstelling gewek nie. Maar daar, meer op die agtergrond, aan die oorkant van die rivier na die môre toe, het julle lieflike heuwels waarop klein, ietwat armoedige huise gestaan het, gesien. Daarna het julle die meeste gestaan en kyk.

3 Ek sê vir julle, as mens hier op wêreldse wyse volgens uiterlike skoonheid sou oordeel, dan sou mens kan sê: Liewe vriende, julle het slegte smaak. Maar wanneer ons geestelik oordeel, dan moet ek vir julle sê: Liewe vriende, julle het `n fyn neus en daarom is julle vermoede baie korrek dat daar agter hierdie klein lykende nedersettings nog iets veel meer verhewe skuil as wat hier met die eerste oogopslag te siene was.

4 Daarom sê julle ook heimlik vir julleself: Beste vriend en broer, as ons moes kies, dan sou ons wel honderd van die pragtige paleise wat ons hier gesien het, wou inruil vir een so `n huisie.

5 Julle het sekerlik geen ongelyk nie, maar desondanks verdien so `n pragtige paleis hier in hierdie omgewing tog ook ons aandag. Bekyk een maar net baie goed, en kyk hoe dit opgemaak is uit `n glansende wit gesteente en presies sewe verdiepings tel, waarvan elkeen die hoogte het van dertig el. Elke paleis het vier volledige voorgewels; in elke gewel is sewentig groot vensters, wat onderling sewe el uitmekaar lê. Uit elke venster straal lig soos die van die son, terwyl elke gewel rondom voor die stralende vensters langs is, en dat alle verdiepings versier is met `n suilegang wat straal asof hy van suiwer gepolyste, deursigtige goud is. Die dak van so `n paleis lyk asof dit met groot diamantplate bedek is. Rondom dié groot paleis is bowendien nog `n eweredige groot, pragtige tuin aangelê, waarin julle duisende pragtige, wonderbaarlike blomme en nogeens duisende van alle moontlike soorte heerlike vrugte­bome sien. Tussen die blomme en die vrugtebome sien julle piramides wat blink in alle kleure. Julle sien dat die toppe van die piramides versier is met groot, sterk stralende bolle. Bo-op hierdie bolle sien julle so-iets soos krone, wat punte het waaruit bronne ontspring en waarvan die water in die stralende lug omhoog spuit so ver julle oog reik. In hierdie stralelug word hierdie klein druppeltjies groter, waarna hulle dan in allerlei kleure en in die mooiste ordening weer majestueus langsaam in die tuin val, om daar in talryke heerlike hemelse geure op te los.

6 As julle julle oë nogeens bietjie meer inspan, sien julle ook in so `n tuin baie besonder mooi, lieflike salige mense van albei geslagte ronddwaal. Kyk, daar naby die ingang van hierdie pragtige tuin staan `n man. Hy is geklee in wit linne en dra `n blink kroon op sy hoof. Sy gesig is wit soos sneeu, sy hare is gekleur asof dit van goud is. Kyk net hoe pragtig is alles!

7 Sy velkleur kom baie mooi uit teen die stralende rooi garnering van sy gewaad en die gordel om sy lendene, glinster hy nie asof hy uit baie sterretjies bestaan nie? En kyk nou, daar kom juis `n vroulike gees na die ingang van die tuin; hoe geval sy julle?

8 Julle sê: Vriend, by die aanblik van die wese raak mens heeltemal buite jou sinne; werklik, so-iets volmaak kan `n sterflike mens, sonder akute gevaar vir sy lewe, nie eens aanskou nie, laat staan oordink! Die byna meer as hemelse skoonheid van dié vroulike geeswese gaan werklik alle menslike begrippe te bowe! Wat `n eindelose verhewe soet vriendelikheid op haar gesig; welke onmeetlike sagte vorm en wat `n pragtige gelaatskleur! Die glansende, weelderige ligblonde hare, op die bonatuurlike mooi hoof `n skitterende kroon soos van die pragtigste diamante, die glansende hemelsbloue gewaad met ligrooi garnering; Ag hoe harmonies en mooi is alles tog nie! Ons sien ook die een arm waarbo die pragtige gewaad deur middel van `n allermooiste sierspeld in plooie bymekaar gehou word. Wat `n ronding en harmonie in hierdie arm! Dit lyk so sag as `n milde sug van die mooiste môrerooi in die lente! En, o beste vriend, behalwe haar arm, sien ons van hierdie engelevrou ook nog haar voet en haar been tot bo die knie. Waarlik, so `n skouspel is selfs vir `n geeste­like oog te veel, want die harmoniese sagtheid en volmaaktheid is immers met geen pen te beskryf nie. Waarlik, alleen vir God is dit moontlik om so `n onuitspreeklike harmonie te skep! Bowendien beste vriend, sien ons op die glansende agtergrond nog `n hele klomp sulke hemelse heerlikhede. Werklik, om in so `n geselskap `n gelukkige medebroeder te wees, sou tog `n bietjie te veel saligheid wees!

9 Ja, liewe vriende, daar is eindeloos baie sulke heerlikhede hier; daarom vra ek julle nogeens: Hoe geval so `n paleis julle nou? Julle krap julle bietjie agter die ore, wat volgens my wil sê: Beste vriend, by nadere aanskoue het ons eintlik niks meer teen so `n paleis aan te bring nie, as ons dit vergelyk met die huise daar op die heuwel aan die oorkant van die rivier! Ons sou met so `n saligheid, vanselfsprekend in die suiwer geestelike toestand wat daarvoor noodsaaklik is, in alle ewigheid tevrede wees, veral as ons so nou en dan ook die genade ten deel sou val om die Heer te sien. As dit egter nie die geval sou wees nie, dan sou ons sekerlik op ons woorde terugkom.

10 Ja geliefde vriende, soos wat dit nou met julle gaan by die aanblik van al hierdie heerlikhede, het dit al baie gebeur. Die verskil lê slegs hierin, dat julle hier vryblywend langs gekom het. Maar geeste wat hier aankom, staan werklik hier nog `n hele sware beproewing te wagte waarin hulle hulle hulleself verloënend, moet waarmaak, wanneer hulle van hier af oor die rivier na die heuwelland met die eenvoudige huise wil kom.

11 Julle vra, wie is hierdie salige geeste wat die paleise bewoon eintlik en waar kom hulle vandaan? Dit is geeste, ten dele van arm, en ten dele ook van ryk families op aarde, wat mettertyd vanuit die reeds bekende aand hier aangekom het. `n Gedeelte van hulle is egter ook hier as gevolg van hulle geloof aan die Heer gebaseerde streng gereëlde en opregte lewenswyse op aarde. Verder dieper in die middag sou julle ook salige heidense geeste aantref wat op aarde trou volgens hulle geloof geleef het en in die geesteswêreld die geloof in die Heer bereidwillig aangeneem het.

12 In die paleis hier voor ons woon siele wat al van oorsprong gelowige Christene was en wel uit die sekte van die Calviniste. Drie van hulle was ryk op aarde; hulle is hier juis nie die rykstes nie, maar behoort meer tot die dienende klasse. Beide die eerstes wat julle by die poort gesien het en nog daar sien, was op aarde baie arm. Hy was `n alpeherder in Switserland en sy was ook `n baie onaansienlike koeioppasster. Mettertyd het hierdie vrome herder die goeie Christelike eienskappe van die meisie geleer ken en hy het haar toe volgens sy erkenning tot vrou geneem. Die paar het hulle hele lewe lank baie kuis met mekaar geleef. Hulle het ook enkele kinders gehad; hulle was volgens hulle Christelike geloofs­oortuiging streng opgevoed en hierdie beginsels was dan deur vyf opeenvolgende geslagte trou in ag geneem. So sien julle dus iets wat selde hier voorkom, `n salige familie bloedverwante, bestaande uit ouers, kinders en kleinkinders. Beide van hulle wat julle gesien het, is dus die stamouers van die hele familie. Die drie onderge­skiktes in dié geselskap is weliswaar ook verwante van hierdie familie, maar hulle was mense wat hulle deur gelukkige aardse omstandighede op wêreldse gebied opgewerk en daardeur vernaam en ryk geword het. Deur so `n aardse rykdom en aardse aansien het hulle tydens hulle aardse lewe ook baie voordeel en luukse geniet, wat vir die ander arm geblewe familielede vreemd gebly het. Daarom moet hulle hier nou juis ook baie dinge ontbeer waarvan die armer familielede nou ten volle kan geniet. Desnieteenstaande is hulle hier, ook vir julle, so te sê tog onuit­spreeklik gelukkig, omdat hulle hulle wêreldse aansien en hulle rykdom merendeels vir goeie bedoelings gebruik het.

13 Ons wil egter, aangesien ons nou eenmaal hier is, tog aan beide van hulle voor hulle tuinpoort `n kort besoek bring, sodat julle bietjie kan sien welke geestelike gesindheid hulle het. Laat ons daarom maar net na hulle toe gaan. Kyk, hulle het ons al gesien en haas hulle na ons toe; maar soos julle sien, bly hulle nou skielik staan. Wat kan die oorsaak daarvan wees? Hulle vermoed nog iets sindelik in julle; daarom wil hulle liewer afwag totdat ons na hulle toe kom. Kyk nou, ons is by hulle en die besonder mooi man ontvang ons met die volgende woorde: Wees gegroet met die suiwerheid van die woord van die Heer! Mag ek, die geringste dienaar van dié huis, julle vra welke suiwer en goeie bedoelings julle hierheen gelei het?

14 Omdat julle nie in staat is om hier te spreek nie, moet ek in julle plek wel die woord voer. Liewe vriend, jou vraag is regverdig en uit die toon van jou woorde klink dit suiwer wysheid van die hemele, maar kyk, `n ding ontbreek daaraan en daardie een is die liefde! Jy het weliswaar jou huishouding baie goed in orde en julle hele, pragtige besit kom voort uit jou suiwer wysheid; maar kyk, `n sandkorreltjie in die ryk van die liefde van die Heer oortref al hierdie heerlikhede veelvuldig! Kyk, hulle wat hier by my is, is leerlinge in die liefde en ek is uit allerhoogste liefde vir hulle `n leier in Naam van die Heer. Erken en begryp ons vanuit dié gesigspunt. Sien, reinheid van sedes is `n pragtige deug en die regverdige is `n vriend van die Heer, maar as `n sondaar boete doen uit liefde vir die Heer, dan is dit vir Hom beter as nege-en-negentig mense soos jy, wat met alle reinheid van sedes nooit behoefte daaraan gehad het om boete te doen nie.

15 En jy, rein vrou van hierdie rein man, jou lewenswandel was werklik soos die van `n allerreinste ster, en `n nooit geskende kuisheid was jou weg na dié heerlike ryk! Maar in die ewige môre woon baie vrouens wat maar al te dikwels teen hulle vlees gesondig het. Maar hierdie sondaresse het hulle skuld ingesien, hulle berouvol verdeemoedig voor die Heer en het toe in groot liefde vir Hom ontbrand, sodat hulle niks anders meer soek nie as om soveel genade van Hom te ontvang dat Hy hom oor hulle sou mag ontferm, en hulle na hulle dood sou mag opneem by die aller­minste gronde, en dat hulle hulle mag verheug oor Sy oneindige erbarming! En kyk, hulle woon nou in die ewige môre allersalig en voortdurend in geselskap van die Heer! Waarlik, heerlik en buiten­gewoon skitterend is alles hier, maar die allerkleinste strooihut in die ryk waar die Heer woon, het oneindig meer waarde as al hierdie prag!

16 Kyk net, hoe dié paar nou met die hand op die hart eenstemmig sê: O magtige vriende van die Heer, julle het ons met weinig woorde oneindig baie gesê. Ons het weliswaar al baie lank die vermoede gehad dat daar nog iets hoër en meer verhewe moet wees as dit wat hier is, maar ons het nie die weg geken nie, want ons wysheid was in staat om die mees verhewene hier tot stand te bring. Nou weet ons dat dit alles slegs toegelaat was, sodat ons daaruit die liefde steeds meer sou mag erken. Sê ons daarom wat ons moet doen om slegs `n druppel van die egte, waaragtige liefde waardig te word. 

17 Nou sê ek aan hulle: Liewe vriend en jy liewe vriendin, het julle nooit gehoor wat die Heer aan die ryk jongeling gesê het nie: “Gee alles weg en volg My!” En het julle nie in die Boek gelees waarin die Heer `n ewig geldende vergelyking getrek het, toe vooraan in die tempel `n regverdige fariseër aan die Heer sy dade, volkome volgens die wet van Moses, kenbaar gemaak het, terwyl tegelyk­ertyd, heeltemal agter in die tempel, `n arme sondaar hom van berou op sy bors geslaan en gesê het: “O Heer, ek is nie waardig om my oë na U heiligdom op te hef nie!” Wie van beide het die Heer hier geregverdig? Julle sê: Die deemoedige sondaar. Kyk, hieruit kan julle die eintlike weg na die Heer nou baie maklik vind. Handel dus ook so, want die Woord van die Heer geld ook ten volle in die hemele en wel vir alle ewighede!

18 En verder: Voor Hom bestaan daar niks wat rein is of regverdig nie, want Hy alleen is rein, regverdig, goed en barmhartig! Beskou julle nie as volmaak nie, maar doen wat die sondaar in die tempel gedoen het en wat `n welbekende medegekruisigde van die Heer gedoen het, en dan eers sal julle die ware regverdiging vind, wat bestaan uit die enige liefde tot die Heer. Word arm, ja word volkome arm, sodat julle ryk mag word in die liefde van die Heer!

19 Kyk, nou staan die paar op en keer wenend terug. En kyk hoe almal hulle voor die paleis versamel en aandagtig na die stam­ouerpaar luister. Kyk hoe hulle almal hulle sierade aflê en ook hulle pragtige klere verwissel vir baie armoedige kleding en hoe die stamouerpaar al hierdie heerlikhede aan die drie armstes oordra. Soos wat julle kan sien, haas `n groot geselskap van honderde mense hulle nou na buite, na ons toe.

20 Julle vra: Maar beste vriend, wat sal ons met hulle doen? Maar ek sê vir julle: Maak maar geen sorge daaroor nie; julle sal by hierdie geleentheid `n waarlik hemelse skouspel te siene kry, waarby, soos wat julle gewoond is om te sê, byna hoor en sien sal vergaan! Maar so `n skouspel sal ons eers die volgende keer te siene kry. En hiermee is dit genoeg vir vandag.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205