Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 28

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Tog deur `n ander sondistriksgebied. Liefde, die oergrond van geloof en hoop en tewens die vrug van beide

28 Kyk, die berg loop nie so steil omhoog as wat dit daar van veraf lyk nie, want sulke berge lyk slegs van `n sekere afstand baie steil, maar in werklikheid is hulle by verre nie wat hulle lyk nie. Hulle beslaan egter `n des te groter oppervlak, omdat hulle slegs baie langsaam oploop; dit is ook noodsaaklik, sodat daar uit so 'n uitgestrekte bosgebied `n toereikende hoeveelheid groen lig kan kom, wat in die wit lig van die aangrensende ligrivier oorloop en die eteries versadigende deel kan opneem.

2 Want die wit lig van die rivier is nog heeltemal suiwer eteries, of as julle dit beter wil begryp, dit is op sigself eter wat nog niks anders in homself opgeneem het nie, maar desondanks in ongedeelde toestand alles in hom het, netsoos wat die water `n draer is van alles wat die aarde maar te bied het.

3 Die groen ligeter is egter in `n sekere sin hongerig, nadat hy feilloos alle ander eteriese stowwe verteer het, op die groene na, wat daarom ook `n uitstralende is. As gevolg van sy honger, word hy nou juis deur die wit kleur van die ligeter, wat afkomstig is uit die rivier, volkome versadig, dit wat dan in `n rooiagtige kleur tot uiting kom.

4 Iets soortgelyks kan julle ook veelvuldig op julle aarde vind; jy hoef maar na die meeste boomvrugte en ook na baie blomme te kyk. Hoe lyk hulle almal in `n onryp toestand? Groen; maar die groen, as `n hongerige kleursubstansie, versadig hom voortdurend met die wit lig van die son. En hoe uiter hy hom as hy volledig versadig is, wat die eintlike rypheid van die vrug aangee? Gewoonlik meestal deur `n min of meer rooiagtige kleur of tog in ieder geval deur `n kleur wat die naaste aan rooi kom, of selfs goed in haar oorgaan.

5 Op aarde is dit egter alles slegs onvolmaak voorhande, terwyl dit op `n sentrale son baie aktief tot uitdrukking kom. Julle sê nou; hoe gebeur dit wanneer die vrugte by ons op aarde, as dit ryp word, heeltemal blou word? So is daar ook `n hele spul blou blomme en ons weet nie op watter manier so 'n blou kleur van die rooi afgelei kan word nie. Ek sê vir julle; bekyk so 'n blou vrug (byvoorbeeld `n pruim) maar net baie goed, dan sal julle gou ontdek dat die blou kleur slegs `n maklik af te vee swam is; die hoofkleur is tog egter rooi.

6 Wanneer julle `n rooi vlak met baie fyn glaspoeier sou bestrooi, dan sou die vlak baie gou nie meer rooi nie, maar blouagtig lyk. Om hierdie saak egter nog beter in te sien, hoef julle slegs die sap uit so 'n blou vrug te haal, dan sal julle baie maklik ontdek dat die basis van blou volkome rooi is. Nog duideliker kan julle egter sien hoe by die môre- en aandrooi, die blou kleur van die lug by `n bepaalde beweging van die strale, maklik in die rooi oorgaan. Daarom kan die blou kleur dan ook net as `n wasige omhulling van die rooi gesien word.

7 Dit sien julle nog duideliker wanneer julle byvoorbeeld `n koringblom, wat tog seker volkome blou is, onder `n mikroskoop bekyk; julle sal dan uit so `n duisend aaneen gerygde kristalletjies baie dikwels die volkome rooi kleur sien oplig. Ek dink dat dit voldoende is om in te sien dat die versadiging tussen groen en wit altyd in rooi tot uitdrukking kom, soos dit deur die geloof gevoede en versadigde hoop volkome tot uitdrukking kom in die liefde, waarvan die ooreenkomstige kleur nou juis rooi is. Julle sou hierdie gang van sake nou weliswaar moet begryp en deursien, maar ek sien nou net dat daar by julle, wat dit betref, nog `n klein leemte aanwesig is, wat ons tydens ons bergbeklimming nog maklik sal kan opvul.

8 Maar hoe lyk die leemte? Kyk, julle begryp nog nie hoe die so-ewe uitgelegde onderlinge versadiging van die ligkleure op passende wyse ooreenstem met die verwantskap tussen geloof, hoop en liefde nie. Let dus op, ons sal die onderwerp van naderby belig. Die wit kleur stem ooreen met die geloof. Soos wat die wit kleur as allerfynste eteriese stof alle ander stowwe of kleure in homself dra, so dra ook die geloof, as fynste geestelike substansie, reeds al die oneindige van God se ryk en van die goddelike Wese in homself. Elke mens is egter soos hierdie berg wat met groenstralende bome begroei is, vanwaar die groen kleur van die hoop voortdurend uitstraal; en julle sal nie maklik iemand op die hele aarde vind sonder hoop nie, terwyl daar baie meer mense is sonder geloof en sonder liefde.

9 Maar die hoop teer homself onophoudelik uit en ontwikkel nooit een of ander krag as hy nie die korrekte voeding kry nie, dit wat julle op julle aarde uit baie morele en natuurlike voorbeelde meer as voldoende kan aflei.

10 As morele voorbeelde is alle moontlike grade en soorte van wanhoop toereikend om julle tot lering te dien, want elke soort wanhoop het beslis haar oorsprong in volledig uitgeteerde hoop. Daar is verskeie natuurlike voorbeelde voorhande.

11 Plaas net `n potplant vir `n lang tydperk in `n volslae donker plek. Bekyk hom dan so drie maande later en julle sal maar al te duidelik sien hoe die groen kleur in `n bleek, witgeel, dus in `n egte doodskleur oorgegaan het.

12 Dit spreek vanself dat mens hieronder slegs die kleur van die lewende plantewêreld, maar nie die kleur van die minerale moet verstaan nie, omdat hierdie kleur in die minerale as`t ware volkome gevange is en soos `n mens lyk wie se hoop heeltemal vergaan het en by wie ook sy hoop saam met homself gevange geneem is. Om die rede beland sulke mense in die hiernamaals dan ook meestal in `n donkergroen kleur, wat langsamerhand deur die insig dat hulle desbetreffende hoop nie gerealiseer kan word nie, oftewel in skimmelgrys of selfs in volkome swart oorgaan. Die laaste is eintlik heeltemal geen kleur meer en ook geen lig nie, maar `n volkome gebrek aan dit alles. Daarom is hier maar net sprake van die meer lewendige kleure van die plante.

13 Die groen kleur straal weliswaar haar groen uit en verteer al die ander van die eteriese kleurewêreld, maar dit is nou juis ook die karakteristieke van die hoop. Die hoop verteer ook alles met groot begeerte en ons kan ons geen groter veelvraat voorstel as juis die hoop nie. Hoe hoop `n mens dikwels nie alles deurmekaar heen nie, en in sy fantasie stel hy hom dit alles in die mees bontste kleure voor; dit word alles iets vanselfsprekends. Al hierdie beelde verteer hy voortdurend, slegs die hoop self verteer hy nie. Kom hy dan in `n situasie waarin selfs sy fantasie hom in die steek laat, dan is hy ook die allertreurigste daaraan toe, want dan plaas hy sy tande in sy eie hoop en verteer haar. Dit is dan die potplant in die volslae duister.

14 Maar hoe kan die hoop nou versadig word? Plaas die potplant maar weer in die wit sonlig, maar nie al te skielik nie, en dan sal die potplant weer groen begin te word. Waarom dan wel? Omdat hy buitengewoon honger geword het na `n egte versadiging.

15 Laat ons tot die ooreenstemmende morele aspek oorgaan. Wie laat hom liewer troos as `n bedroefde, dus iemand wat in sy hoop teleurgesteld is? Of, wie soek met meer verlange na `n reële troos, dus `n morele versadiging van `n uitgehongerde hoop, as juis iemand wat byna wanhopig geword het? Bring hom by die rivier van lig, en hy sal dan met volle teue dit in hom opneem wat hom op die eerste oogopslag die meeste aanspreek.

16 Hieruit kan dus duidelik afgelei word hoe die hoop deur die geloof steeds meer en ten slotte geheel en al werklik versadig kan word. `n Hongerige mens is verdrietig. Wil julle hom egter opvrolik, versadig hom dan en as hy versadig is, sal al die verdriet oor sy honger vervlieg wees. Blymoedigheid sal hom van sy gemoed meester maak en in hierdie blymoedigheid sal hy sy vriende met die grootste en dankbaarste liefde omvou.

17 Kyk, presies so gaan dit met die mens wat honger na waarheid of na die realisering van sy idees. Bring hom by die waaragtige rivier van lig en hy sal hom weldra daarin begewe en hom na hartelus en behoefte versadig. En as hy baie maklik en vinnig sal merk dat dit `n waaragtige versadiging is wat geskik is om al sy nog losse idees volkome te versadig, dan kry hy ook baie gou goeie moed en sal hy die groot gasheer so vinnig moontlik met die gloed van sy liefde omvou. Hierdie liefde is op sigself al `n uiting van volkome versadiging, oftewel; in die liefde is alles van die geloof en alles van die hoop in volmaak gerealiseerde rypheid en versadiging voorhande. En so is die liefde enersyds die deur die geloof volkome versadigde hoop, maar andersyds is dit, omrede sy die hoop en die geloof as versadig in haarself sluit, ook die oorsprong van beide. Julle sê: Hoe is dit moontlik? Ek dink dat daar nouliks iets meer natuurliker en begrypliker bestaan as dit.

18 Waaruit ontstaan `n boom? Julle sê: Uit `n pit. Waaruit kom die pit dan? Uit die boom, sê julle.

19 Wel, as dit so is, dan sal die pit tog vooraf alles wat die boom, waaruit sy voortgekom het, as grondoorsaak in homself moet bevat. Wanneer die boom egter weer `n nuwe boom uit `n pit wil laat groei, dan moet hy ook weer al sy eie in die pit neerslaan. 

20 Julle sou wel graag wil weet of die Heer eers die boom of eers die pit geskape het? Ek dink dat die geheim nou byna geopenbaar is. Sou die Heer die boom voor die pit geskape het, dan kan julle seker daarvan wees, dat Hy dit teenswoordig ook sou doen, want Hy verander absoluut nie Sy handelwyse nie. Hy doen nie vandag sus en môre so nie, want dan sou julle voortdurend soos by `n towerslag skielik ontstane bome sien. Julle sien egter voortdurend hoe elke boom opnuut geleidelik steeds stadig uitgroei en homself ontwikkel.

21 Hierdie gang van sake laat immers met meer lig as die van tien sonne tegelykertyd sien, dat die Heer nie nodig het om `n kant en klaar boom te skep nie, maar slegs die saadkorrel. Wanneer dit in die aarde val, ontwikkel hy homself en kry dan volkome die vorm van dit wat die Heer nou juis in die saadkorrel geplaas het. 

22 In die saadkorrel lê egter alweer die vermoë om homself uiteindelik terug te vind, en die boom self met sy hele werksaamheid is dan niks anders as `n doelmatige proses van pit na pit nie. Dit is na my mening dan ook baie meer korrek en verstandiger om aan te neem dat `n lyn die produk is van baie aanmekaar gerygde punte, wat daarom ook deur twee eindpunte begrens word, as die mens so dwaas sou wees om te dink die een punt die produk sou wees van `n inmekaar geskrompelde lyn wat aan beide kante (waarvan hy baie het) deur twee lyne begrens word.

23 Ek dink dat julle deur die voorbeelde maklik sal begryp dat die Heer die saadkorrel geskape het voor die boom, dit wil sê Hy skep beide weliswaar gelyktydig, maar die boom plaas Hy tegelykertyd onontwikkeld in die saadkorrel.

24 Presies so is die liefde sekerlik ook die oorsprong van alles en alles moet dan uiteindelik weer tot hierdie oorsprong terugkeer, as dit nie ten gronde wil gaan nie. - Ondertussen het ons die top van die berg bereik en daarom sal ons onsself ook dadelik dieper in ons nuwe distriksgebied waag.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205