Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 123

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Goeie missie-toespraak van die vyf. Skroom om met sonde belaai voor die Heer te verskyn. Die genadeson van die Heer

273 Die vyf merk wel wat die dertig aangetrek het en sê dan uit een mond: “Vriende, ons almal staan in die lig en ons voete voel geen grond nie. Verder het ons ook hande, maar daar is vir hulle geen werk nie. Ons het oë waarmee ons sou kon sien as ons wou, maar ons het die hande voor die oë geplaas en het onsself daardeur blind gemaak, sodat ons niks kon sien van alle wonders, wat ons so ryklik omgeef nie. Ook het ons skerp ore om te hoor, maar ons het hulle dig toegestop, sodat die Woord van God nie tot ons harte kon deurdring en dit reinig en tot lewe bring voor God nie.

[2] Laat ons eers `n vaste grond onder ons voete soek. Hierdie grond is Jesus, die Christus Self en die korrekte begrip van Sy Woord! As ons ons voete eenmaal op hierdie grond gesit het en het ons onsself daarmee vertroud gemaak om ons daarop te beweeg, dan sal ons hande, oë en ore volop werk te doen kry en groot profyt daarvan trek.

[3] Die dertig sê: “Ja, maar waar is dan Jesus die Christus, die God en mens tegelyk dan? Eers moet Hy tog aanwesig wees! Om slegs in Hom te glo is `n ydele saak. Dit is vir die meeste onervare geeste al baie moeilik om die blinde geloof te bewaar, hoeveel moeiliker is dit dan wel nie vir ons, wat tog met baie ervarings hierdie wêreld “binnegekom” het nie. Toon Christus dus vir ons, dan sal ons alles van julle aanneem!

[4] Die vyf sê: “Kyk omlaag na die aarde; julle sal daarop `n heuwel ontdek. Op die top van hierdie heuwel bevind hom nou die Heer Jesus Heer Sebaot te midde van groot, oorgelukkige skares. Hierdie menigte, wat geheel en al uit engelegeeste bestaan, verdring hulle om Hom heen soos kinders om hulle vader en Hy spreek met hulle asof hulle suiwer broeders en susters vir Hom is. Gaan daarheen, oortuig julleself en kom terug; dan eers sal ons in staat wees om met julle te spreek oor die verdere wysheid van God.”

[5] Die dertig sê: “Maar hoe kan ons daar aankom sonder gevaar?” Die vyf sê: “Op die weg na die Heer is geen gevare nie, maar wel op die weg wat die gees van die Heer aflei. Daarom kan julle julleself sonder beskeidenheid of vrees daarheen begewe. Julle het nog nooit in die duisterste nag, ver van die Heer, vrees getoon nie. Hoe sou dit julle dan kan oorman in die nabyheid van Hom, wat julle die ewige lewe wil gee as julle dit maar net wil aanneem?”

[6] Die dertig sê: “Ja, alles goed en wel, as ons maar nie sulke growwe sondaars was nie; dit is ons egter wel en daarom is dit die vraag, of ons Sy teenwoordigheid sal kan verdra as Hy dit werklik is.” Die vyf sê: “Waar is dan hulle, wat ten opsigte van God kan sê: Heer, ons het nooit `n sonde teenoor U begaan nie en is dus volkome rein! Gee ons daarom die beloofde ewige beloning!

[7] Die dertig sê: “Ja, dit is wel waar, maar tog sit daar na ons mening nog `n geweldige kinkel in die kabel. Daar is wel baie, wat nou by God die grootste saligheid geniet terwyl hulle op aarde beslis nie heeltemal vry van sonde geleef het nie, maar hulle was tog sekerlik geen sulke groot sondaars as ons nie. En as hulle al gesondig het, dan het hulle tog seker opreg boete gedoen en het daardeur in `n toestand van heiligmakende genade gekom, waardeur hulle vervolgens as vriende van God salig geword het. Ons het egter in ons sonde gesterf en het hier as geeste nog volop verder gesondig. En nou sal ons dus somaar voor die Heer verskyn? O, daar kom niks van nie.

[8] Ons wil baie graag van julle leer hoe ons ons lewe as geeste moet inrig, sodat dit vir God welgevallig is. Maar in so `n sondige toestand voor die Heer verskyn, beteken gewoon om aan al ons sonde nog die grootste sonde van vermetelheid toe te voeg om dan verseker in die hel te beland. Nee, nee, vriende, dit word niks! As die man daar werklik die Heer is, sou ons tog begryplikerwys onmoontlik voor Hom kan verskyn. Is Hy dit egter nie, en is Hy ook geen besondere vriend van die Heer nie, dan sou dit vir ons sonder meer vergeefse moeite wees om na Hom toe te gaan. Daarom wil ons liewer hier in julle geselskap bly, totdat ons onsself waardiger voel om voor die Heer van alle lewe te verskyn.”

[9] Die vyf sê: “Julle verontskuldiging doen ons egte plesier aan. Doen wat julle wil, ons het naamlik van God slegs die reg gekry om te onderrig en raad te gee, maar mag nooit iemand dwing nie. Ons is egter van mening dat as ons, wat tog baie slegter is as die laaste gees in die omgewing van die Heer, julle nie veroordeel vanweë julle sonde nie, die Heer julle nog baie minder sal veroordeel as julle voor Hom skuld beken en Hom om vergewing sal smeek!” 

[10] Die dertig sê: “Julle kan ons maklik vergewe, omdat ons nooit teenoor julle gesondig het nie, maar dit lê anders voor die Heer, wat ons sonde deur en deur ken. Wanneer iemand op aarde by `n skuldeiser baie skulde het, dan het slegs hy die reg om die skuld kwyt te skeld. Die skuldenaar kan ten opsigte van elke ander mens `n baie agtenswaardige man wees, maar dit neem nie sy skuld ten opsigte van die een skuldeiser weg nie.

[11] Mens kan weliswaar hoop dat die skuldeiser die skuld uit barmhartigheid sal kwytskeld, maar die skuldenaar het nie die reg om so `n edelmoedige handeling te verlang nie. Hy is en bly solank skuldenaar totdat die skuld afbetaal is. Om hierdie rede kan ons dan ook maklik praat met julle, want julle is nie ons skuldeisers nie. Die Heer het egter die volste reg om ons met `n enorme vordering te konfronteer. Daarom sou dit wel eens baie moeiliker wees om met Hom te praat.”

[12] Op daardie oomblik staan Ek voor die dertig en wel op die bekende heuwel, waar hulle, sonder om dit te merk, saam met hulle lerare hiernatoe getrek het. Die dertig herken My dadelik en staan ineengetrek en bewend van angs voor My. Maar Ek sê eers vir die drie: “Julle het julle opdrag in die kleine goed volbring, daarom sal ook meer aan julle toevertrou word. Ook julle twee, wat julle eers na die drie aangesluit het, is in staat om in gelyke mate saam met hulle vir My dinge sorg te dra. Julle dertig staan egter weliswaar swaar by My in die kryt, maar omdat julle julle skuld trouhartig toegegee het, skeld Ek dit ook heeltemal kwyt vir julle! Gaan nou dan ook met die vyf saam en bewerk My wingerd; Ek sal julle dan gee wat julle toekom. Is julle tevrede daarmee?”

[13] Die dertig sê: “O Heer, God, Skepper en Vader van alle wesens, hoe oneindig groot moet U liefde en erbarming wees dat U ons groot sondaars selfs vra of ons daarmee tevrede is! O, beste Vader, ons is al baie tevrede dat U ons nie in die hel gewerp het nie, wat ons wel duisendmaal verdien het. Hoe sou ons dan nie met `n nog groter genade tevrede wees nie! Vir elke doudruppel op ons dorstende harte gee ons U, heilige Vader, al ons liefde en al ons dank!

[14] Welke hemel weeg op teen die feit dat ons swak oë U, ewige heilige Vader, aanskou het en dat ons ore die verhewe klank van U vaderstem verneem het! Daardeur is ons nou reeds so ryklik beloon, dat ons hierdie hoë beloning nooit as te nimmer meer deur ons toekomstige werksaamhede sal kan terugbetaal nie. Gee ons, O Vader, slegs voldoende daaglikse brood en ons het dan alles wat ons harte maar kan begeer. Laat slegs U heilige wil geskied!”

[15] Ek sê vir Robert: “Broeder, as daar sulke gaste na ons toe kom, mag brood en wyn nie ontbreek nie! Gaan en bring voldoende daarvan, sodat almal versterk kan word vir hulle amp. Die baie miljoene, wat hulle nou reeds oor die mees noordelike lande van die aarde begin te versprei, sal aan hulle toevertrou word.” 

[16] Robert sorg dadelik vir brood en wyn en Ekself deel dit uit aan hierdie (in totaal) vyf-en-dertig persone. Met `n dank vervulde gemoed eet hulle dit op en loof bowe al My groot goedheid, liefde, genade en erbarming.

[17] Ek sê: “Waarlik, so `n sondaar, wat opreg boete doen in sy hart en hom verdeemoedig, is vir My baie beter as nege-en-negentig regverdiges, wat geen boete nodig het nie, want die regverdige is regverdig uit angs en is bang om foute te maak. Die sondaar word egter geregverdig deur die boete wat hy doen uit liefde vir My!”

[18] Onder lofprysinge gaan die vyf-en-dertig nou weer weg, en begelei deur My seën, begin hulle vol goeie moed met hulle toevertroude werk. Nou kom die eerste drie ook vol agting na My toe en sê: “Heer, as U ons flink genoeg vind, sou ons ook in U almagtige Naam wil werk vir die welsyn van ons broeders. As dit U heilige wil is, laat ons dan ons broeders volg!”

[19] Ek sê: “Vriende, Ek dink dat julle ook niks by My tekort sal kom nie. Wag maar net. As Ek julle sal roep, sal julle ook volop te doen kry, maar nou moet ons nog ander dinge op hierdie heuwel afhandel. Die aardse Vrydag loop ten einde, die Sabbat nader en dan sal daar nog baie te besleg wees. 

[20] Die vyf-en-dertig bodes gaan aan die werk, waardeur dit al baie onrustig word in die luglae met die laer bewolking. Let op, want hierdie duistere geeste sal spoedig met hulle boosaardige werk begin, maar daar is al voor gesorg dat hulle hulleself nie te verderflik gaan gedra nie! Bokant hulle wag miljarde buitengewoon magtige vredesgeeste en hulle is redelik goed in staat om die grootste onrusstokers dadelik tot die orde te roep. Die berge sal julle weldra vertel hoe dit met hierdie bose geeste gaan. Wees egter nie bang nie, want in alle geeste wat hulle buite My orde bevind, is geen krag en nie die minste mag voorhande nie.”

[21] Die drie is nou volkome tevrede en prys My liefde, goedheid, wysheid en mag. Robert bring ook hierdie drie `n porsie brood en wyn om hulle te versterk vir die ewige lewe, maar hulle durf dit nie aanneem nie, totdat Ek dit hulle letterlik gebied om dit te doen. Toe hulle die brood en die wyn verorber het, voel hulle geweldig versterk en prys My bomatig.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205