Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 50

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Die sersant van die doeane ondervra die Heer. Hy gee die geselskap vrye deurtog. `n Belasting-invorderaar volg die Heer

200 Die sersant bevind hom egter nog heeltemal in Wenen en sien en hoor daardeur maar net wat by sy vermeende amp hoort. Hy word slegs ietwat meer beskeie, omdat al sy assistente hom in die steek gelaat het. Hy begewe hom na My toe en vra wie Ek is, hoe Ek heet en of Ek geen pas besit nie.

[2] Ek sê vir hom: “Ons kom regstreeks uit die hoogste hemele. Ek is Christus, die Heer, en het nou hierheen gekom om die dooies op te wek, die verlorenes te soek en die siekes te genees. Almal wat van goeie wil is, sal `n groot heil ervaar”

[3] Die sersant, by wie nog enkele persone van die doeanepos hulleself voeg, sê: “Goed gespreek! Jy is nog die skerpsinnigste dwaas van al die voriges, wat hulle dwaasheid meer as dekmantel vir hulle geheime bedoelings gebruik om my te bedrieg. Ek is nou goed op hoogte en weet waaraan ek toe is, dus moet ek julle volgens die allerhoogste wil wel laat gaan. As die katolieke kerk op haar klerikale terrein toegestaan word om te doen en te maak wat hulle wil, dan mag ook `n kwesbare sersant hom nie meer verbaas as hy teenoor sekere vermomde Jesuïete en aflaatagente in allerlei gedaantes te staan kom nie. Spoedig sal die aflate en wonderwerke weer begin reën! Die Jakobsleer waar engele, apostels, die heilige maagd, ander heiliges en nie in die minste Christus Self op en af sal gaan, sal weer tussen hemel en aarde opgestel word, natuurlik vir geld en ander kosbare boetedoenings. Daarvoor is julle al die eerste bewys! Ja, ja, ons is goed op hoogte!

[4] Julle kan verder gaan. As ek vooraf geweet het deur welke gees julle gedryf word, dan het ek julle geen belemmering in die weg gelê nie, waartoe ek ook geheime instruksies gekry het. Die samestelling is werklik as geslaag te beskou, op Robert Blum en Leentjie van swart Max na, wat elke vrolike Wener in meerdere opsigte ken. Die egte Blum sal wel nie meer baie deur pyne gepla word nie, maar die uitvinding van `n pseudo-Blum is goed, want aan hierdie naam word in Wenen nog baie waarde geheg! Ook `n verklede barrikade-heldin is nie sleg vir julle doeleindes nie, want om vinke te vang het jy `n lieflike lokvoëltjie met `n heldhaftige klinkende naam nodig - die doel heilig immers elke middel! En jy is Christus, die Heer Self? O, dit is baie mooi. Wel, as sulke Christusse die Rooms-Katolieke kerk nie weer op haar goue bene sal help nie, dan... adieu pous en Rome en priesterdom!”

[5] Ek sê: “Vriend, Ek weet dat jy `n Protestant is. Jy oordeel nie onregverdig oor die Roomse Christendom nie, want dit is voor God `n gruwel in sy deur en deur heerssugtige strewe, wat egter geen resultaat meer sal oplewer nie. Maar My en My klein geselskap misken jy baie erg! Ek wil jou egter niks meer oplê nie, omdat jy vry is en glo en kan doen wat jy wil. Maar dit word jou nog `n keer gesê dat jy jou nou nie meer in die wêreld van die materie nie, maar werklik in die geesteswêreld bevind en dat alles wat jy buite My en My gevolg sien, niks anders is as `n leë verskyningsvorm nie, wat vir jou egter `n geestelike werklikheid sou kon word as jy jou by My sou aansluit. Maar jy is in jou hart nog te ver van My ryk verwyder en kan My daardeur in jou blindheid ook nie herken nie. Bly daarom waar en wat jy is, miskien sien ons mekaar later weer `n keer.”

[6] Die sersant sê: “Dit sal my redelik verheug, so nie in hierdie, dan miskien tog in `n ander wêreld. Ek wens julle origens sukses toe met julle verrigtinge in die residensiestad! Die nog steeds voortdurende beleëring sou wel eens gunstig kon wees vir julle onderneming. Daarom nogeens: Sukses en die beste groete aan Mariasell! Adieu!”

[7] Ons begewe ons nou sonder verdere probleme na die sentrum van die stad en die sersant met sy geselskap kyk ons agterna. Wanneer die ontvanger van die belastingkantoor ook daarby kom om te hoor hoe dit nou is met hierdie vreemde reisigers, sê die sersant: “Hulle is vermomde Jesuïete wat hulle voordoen as vrome sendelinge! Weet jy, sedert die kerk in ons dierbare Oostenryk weer vry is, het haar priesters die ou Jakobsleer weer terug gevind en haar regstreeks voor die hemel geplaas. Met die ou kerklike straf gaan dit weliswaar nie so vlot en met die goue boetedoening van die kruisvaarders ewemin, maar ons sal weldra van alle kante die aangenaamste ontroerende berigte kry oor indrukwekkende wonders!

[8] So was byvoorbeeld hierdie ses volgens eie getuienis niks meer of minder as Christus Self nie, wat nou alle siekes gesond sal maak, ensovoorts! Miskien help Hy ook die finansies van Rome weer orent? Die drie eerstes was Petrus, Paulus en Johannes, die evangelis. `n Beeldskone vroutjie het hulle ook onder hulle onder die naam Leentjie van swart Max, die barrikadeheldin! En slaan nou agteroor van verbasing: Ook Robert Blum! Wel, vind jy dit nie mooi nie? My manskappe, wat `n swak Roomse gees het, het daarvandaan weg gegaan en het my in die steek gelaat! Wel vriend, wat sê jy van hierdie aanwins uit die jaar 1848?”

[9] Daarop sê die belastinggaarder: “My beste vriend, hierdie gebeurtenis is op die eerste oogopslag wel ietwat grapperig, maar daar sit eintlik, soos my innerlike gevoel my sê, tog iets baie wesenlik daarin. Ek sal wel toegee dat die sekulêre by die weer bereikte vryheid van die kerk, nou sal probeer om `n wesenlike volksbygeloof `n nuwe lewe in te blaas, maar op hierdie manier, vriend, sal hulle dit wel agterweë laat! Ek is sekerlik geen vriend van die sekulêre nie, maar ek glo goed dat niemand hulle sal verwerdig om saam te doen aan sulke dinge nie, selfs wanneer hy aansienlike voordele daarvan sou kon verwag.

[10] Ek dink baie anders oor hierdie gebeurtenis: Of hierdie ses vermomde hoë persoonlikhede, dan wel werklik diegene is waarvoor hulle hulleself uitgegee het. Eerlik gesê, my hele lewensgeskiedenis hier in “Wenen” kom my tog ietwat vreemd voor, en dit bring my steeds meer tot die vermoede dat ek myself, óf in `n droomlewe bevind, óf deur `n eienaardige vorm van misleiding gepla word. So het ek byvoorbeeld, sedert ongeveer twee jaar gelede, ook nie `n boerewa gesien nie, en ewemin `n perdekoets, wat tog baie vreemd is. Ook kom hier baie min mense verby, en is daar ook geen sprake meer van die inbring van lewensmiddele nie. Gewoonlik word daar seldsame, aan my totaal onbekende wortels en kruie, en verder gerookte wolwe, vosse en klein bere verby gedra en nog `n hele spul ander dom dinge, sodat mens gewoonweg daaroor moet lag. Daarvoor kan ek van niemand belastings hef nie, omdat dergelike dinge op geen enkele belastingtabel voorkom nie. Hou ek iemand daarvoor aan, dan gee hy my glad geen antwoord nie en gaan onversteurbaar verder. Ek kom egter ook gladnie op die idee dat ek iemand moet aanhou nie. 

[11] Laaste keer kyk ek ingedagte voor my uit en sien enkele treë voor my `n groot goudstuk op die grond lê. Ek haas my daarheen om dit op te raap. Toe ek op die plek kom, het die goudstuk verdwyn en in plaas daarvan lê daar `n vertrapte, gitswart slang. Ek wou haar met my stok wegslinger, maar ek het haar nouliks aangeraak of sy verander in `n lelike roofvoël, wat op dieselfde oomblik, waarop ek die betowerde slang wou wegslinger, wegvlieg. Laaste keer beleef ek ook `n buitengewone verskyning: Ek kyk deur die venster na buite, en dit reën lekker. Toe val dit my eers op dat ek in die twee jaar geen reën of sneeu gesien het nie. Ek loop vinnig na buite om my `n bietjie te laat natreën, maar opeens was daar geen spoor meer van reën te ontdek nie! Ek begin toe na te dink oor die eienaardige van die weersomstandighede. Dit het my werklik merkwaardig voorgekom, dat ek hier nog nooit `n son gesien het en nie eens weet waar ons die lig vandaan kry nie. Of het jy al eens `n egte nag meegemaak, of `n winter, lente, somer of herfs? Alles bly hier steeds in dieselfde toestand en dit val ons gladnie op dat dinge hier so eienaardig is nie!

[12] Deur hierdie voorvalle moet ek wel glo dat ons onsself inderdaad nie meer op die werklike aarde bevind nie, maar al liggaamlik gesterwe het. En verder, dat die ses manne tog dit kan wees waarvoor hulle hulleself uitgegee het. Weet jy wat, ek sal hulle agterna gaan! By hulle moet ek duidelikheid kry!” 

[13] Die sersant sê: “Wag, dan gaan ek ook saam met jou!” Beide begewe hulle dadelik op die pad en kom ons ylings agterna. 

[14] Toe hulle by ons aankom op pad na die huis, waar ons eers Petrus na binne laat gaan het om die siekes te genees, sê die belastinggaarder: “Mees agtenswaardige vriende en in die besonder U, oerwyse uit Nasaret, U spraak het my opgeval en het my sodanig getref dat verskillende ander dinge my daar begin opval. Tegelykertyd, in julle teenwoordigheid, het so `n merkwaardig weldadige gevoel my deurstroom, dat ek my nouliks kon bedwing om julle dadelik te volg. Ek het weliswaar `n rukkie teen die gevoel gestry, en het dan as verskoning my pligte as beampte aangevoer, maar my gevoel het baie sterk gesê: Watter keiserlikheid, watter koninklikheid! As God jou roep, dan is dit vir ewig gedaan met keiser en koning!” En deur hierdie stem in my gemoed het ek die doeanekantoor dadelik die rug toegekeer, het my innerlike drang gevolg en is nou by julle, beste vriende! Staan my nou toe dat ek ten minste so lank by julle mag bly, totdat ek deur julle goedheid en wysheid so baie insig kan kry, dat ek weet waar en wat ek eintlik hier is. Is dit werklikheid of miskien net `n ewige droom? Leef ek nog op aarde? Ek betwyfel dit steeds meer. As julle daartoe in staat is, steek dan `n klein liggie aan in my harspan!”  


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205