Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 146

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die ontevrede leerlinge gaan alleen na die loofhuttefees. Die Heer gaan hulle in die geheim agterna

(Evangelie van Johannes 7:2-13)

146 In die oggend kom daar reeds baie Judeërs uit die hele omgewing agter Kapernaum daarheen om per skip oor see na Jerusalem te reis, omdat die loofhuttefees van die Judeërs voor die deur gestaan het. (Johannes 7:2) Vir die doel het daar ook van alle kante en plekke langs die see skepe hierheen gekom om die talle bedevaartgangers oor die see te vervoer.

[2] Na die oggendete gaan Ek ook saam met alle leerlinge na buite aan die see en ons kyk na die skepe en die talle pelgrims.  

[3] En gou kom die hoofman ook na My toe en sê: 'Heer, wat vind U van al hierdie blinde dwase? Vir baie geld gaan hulle daarheen om met baie moeite Hom te soek wat hier so baie naby hulle is!' 

[4] Ek sê: 'Hou op daaroor, ook vir hulle sal die tyd nog wel kom dat hulle oë geopen sal word! Maar tog trek daar ook `n aantal voor My op na Jerusalem, omdat hulle van mening is om My daar aan te tref.' 

[5] Toe die leerlinge, wat nou ook aangesteek word deur die reislus waarmee hulle van ouds af mee vertroud was, dit van My hoor, roep hulle na My: 'Maak U dan klaar om van hier na Jerusalem te gaan, en reis dan ook weer in Judea rond sodat U talle leerlinge ook U werke daar kan sien. (Johannes 7:3) Niemand doen tog iets in die verborgene as hy wil dat dit aan die hele wêreld bekend moet word nie; omdat U dit egter ook wil en U dade en werke ook daarvolgens is, maak U nou dan ook duidelik aan almal bekend!' (Johannes 7:4) 

[6] Die broers het dit maar net gesê omdat hulle geloof in My egter baie swak geword het. (Johannes 7:5)

[7] Menigeen sal hom nou afvra hoe dit moontlik was by die talle tekens en lesse. O, dit is by elke mens baie goed moontlik! Hy hoef homself maar net êrens op iets te laat voorstaan en hom in te beeld dit wat hy kan, of sy siel bevind haarself dadelik in `n twyfelagtige duisternis, waar maar net een of ander klein verdeemoediging haar sal kan uithelp. 

[8] En dit was dan ook hier by My broers die geval, waarom Ek hulle dus nie berispe nie, maar net sê: 'Julle het maklik gepraat! My tyd het nog nie gekom nie, - julle tyd is egter altyd daar! (Johannes 7: 6) Die wêreld kan julle nie haat omdat julle tot op hede nog nooit openlik teen haar getuig het dat haar werke sleg is nie; daarom het julle ook nog orals die tyd en `n gevaarlose weg. Maar vir My haat die wêreld allerweë, omdat Ek openlik getuig dat haar werke boos is. (Johannes 7:7)

[9] Maar as julle almal so feeslustig is, gaan dan net na die fees! Ek wil egter nog nie na dit fees gaan nie, want My tyd is nog nie vervul nie.' (Johannes 7:8)

[10] Toe kyk die broers mekaar aan en weet nie waaraan hulle toe was nie.

[11] Een sê: 'Laat ons gaan! Vanweë die vier tot vyf dae wat ons weg sal wees, sal niks gebeur nie!'

[12] `n Paar ander dink toe egter dat Ek hulle so-iets miskien tog sou kwalik neem en intussen êrens heen sou kon gaan waar Ek nie weer maklik teruggevind sou word nie; want hulle was nie van plan om My te verlaat nie. Ander meen weer dat dit tog raadsaam sou wees om te gaan, omdat mens dan self by hierdie geleentheid baie sou kon hoor van wat die mense nou oor My te sê gehad het. By hierdie mening sluit almal hulle aan en hulle besluit om net na die fees te gaan.  

[13] Intussen lê die skip van Simon Juda (Petrus) egter aan die oewer, en hy kom na My toe en sê; 'Heer, laat ons dan alleen gaan! Binne hoogstens vyf dae is ons weer hier!'

[14] Toe sê Ek: 'Ek het julle alreeds gesê wat julle moet doen, gaan almal maar!'

[15] Nadat Ek dit vir hom gesê het, gaan hulle dadelik aan boord en voer af. Ek het egter nog hier in Galilea gebly. (Johannes 7:9)

[16] Maar toe al die broers al meer as halfpad was, oorval `n groot verdriet en berou hulle plotseling, sodat hulle weer wou terugkeer om My om vergewing te vra vir die smadelike woorde waarmee hulle by My aangekom het.

[17] En Petrus sê hardop: 'Heer, Heer, watter duiwel het ons dan hierdie keer so gek gemaak dat ons U kon verlaat? O, laat U nog eenmaal deur ons terugvind, ewige Seun en Vader in één persoon, dan sal ons U nooit weer so verlaat nie!'

[18] Johannes en Matthéüs huil en wou beslis terug; maar daar steek juis agter hulle rûe `n sterk wind op wat die skip met groot snelheid na die oewer aan die oorkant agter Tiberias dryf, waar die Jordaan die see verlaat het. Toe hulle daar aan land gaan, voel hulle so verlate dat hulle nouliks die moed gehad het om verder met die pad na Jerusalem te gaan.

[19] Maar Jakobus sê: 'Dat ons almal baie verkeerd gehandel het, daaraan is heeltemal geen twyfel nie; want die kragtige wind wat ons so gou hierheen gedryf het en juis opgesteek het toe ons berouvol wou terugkeer, is `n sprekende bewys daarvan dat Hy ons vir altyd van Hom af verstoot het. Ons dom, blinde osse wil Hom, die Alwyse en Almagtige gaan voorskryf wat Hy moet doen! O, wat se miserabele dwase is ons nie! Waar is die gemene Satan wat ons dan so gek gemaak het? Laat die mees ellendige dier van die diere hier kom, dan sal hy ondervind wat dit is om hom aan die vriende van die Heer te vergryp!' 

[20] Toe verskyn daar plotseling `n verligte gestalte, wat op `n baie ernstige toon vir hulle sê: 'Julle beskuldiging tref die verlore seun nie werklik nie, want julle eie oormoed het dit julle aangedoen. Kla julle daarom self aan, aan julle is baie barmhartigheid betoon, en laat hom met rus wat hierdie keer geen deel aan julle domheid het nie!'

[21] Daarop verdwyn die gestalte en die leerlinge sê: 'Heer, wees ons arme sondaars barmhartig en betoon medelye aan ons!'

[22] Vervolgens gaan hulle stil en rustig op die pad voort en kom, al taamlik laat in die aand, by die reeds bekende herbergier in die dal by Jerusalem aan. Toe hy hulle sien en herken, verskaf dit hom baie genoeë; maar toe hy My nie te midde van die broers aantref nie, word hy baie bedroef en vra hulle waarom Ek nie hierdie keer saam met hulle gekom het nie. 

[23] Toe sê Petrus: 'Kyk, vriend, ons wou na die fees gaan, sodat geen Judeër ons uiteindelik sou kon aanvryf dat ons Samaritane was nie. Maar die Heer wou hierdie keer nog nie saamgaan nie en het ons alleen laat gaan, omdat dit vir ons altyd tyd was maar vir Hom het die regte tyd nog nie gekom nie; en so is ons nou hier. Die Heer Self het egter in Galilea agtergebly, en wel nie ver van Kapernaum nie, waar Hy ons ook beslis weer sal verwag.'

[24] Die herbergier sê: 'Dit glo ek nouliks, want Hy is waaragtig ewig ondeurgrondelik in Sy geheime raadsbesluite! Oormôre is dit die groot Sabbat; wie weet of Hy nie nog na die tempel toe sal kom voordat ons die voorhof sal betree nie!'

[25] Petrus sê: 'By God is alle dinge sekerlik moontlik, maar dit is iets wat ek nou weer nouliks glo. Maar nou eers, beste vriend, - kan ons vandag onderdak by jou kry?' 

[26] Die herbergier sê: 'O sekerlik; want by my is daar nog genoeg ruimte! Uit groot liefde en agting vir julle en ook vir my Heer en Leraar gee ek alles gratis aan julle solank julle maar by my wil bly!' 

[27] Daarop word daar dadelik vir `n goeie aandete gesorg; maar geeneen van die broers het veel begeerte om te eet en te drink nie, want in hulle hart voel hulle nog steeds die brandende wroeging oor hulle gedrag teenoor My in Kapernaum.

[28] Na die maaltyd vertel hulle die herbergier baie oor My reise en op die manier bly hulle bykans die hele nag wakker; en deur oor My te praat het hulle dit ook minder moeilik gehad. Eers teen die oggend slaap hulle in en word gou wakker. Hierdie dag bring hulle nog halfpad by die herbergier deur, die ander helfte egter in Bethanië by Lasarus, wat My ook baie gemis het; maar die talle verhale oor My dade en lesse tydens My reise in groot-Galilea vervang enigsins My aanwesigheid.

[29] Nadat, soos wat egter nou vertel word, My broers na die fees vertrek het, gaan Ek `n dag later ook op pad na Jerusalem, vertel niemand egter waarheen Ek gaan nie, hoewel die herbergier en die hoofman My dringend daarna gevra het; want Ek Self wou dit nie rugbaar laat word dat Ek ook in die geheim na Jerusalem na die fees sou gaan nie. (Johannes 7:10) Ek gaan dan ook slegs oor afgeleë paaie en het slegs - heel begryplik - `n baie kort tyd vir hierdie reis nodig gehad.

[30] Op die dag van die fees, toe al My leerlinge en broers, wat vroeg op die tempelplein aangekom het, deur Judeërs, wat My goed ken, opgemerk word, dink hierdie Judeërs toe: 'Aha, dit is immers die leerlinge van die Nasarener! Dan sal Hy Self ook wel hier wees!'

[31] En daarom soek hulle My links en regs en vra verskillende leerlinge waar Ek tog wel was. (Johannes 7:11)

[32] En die leerlinge sê: 'Die keer weet ons nie waar Hy is nie; want ons het alleen na die fees gegaan en Hy het êrens in Galilea agtergebly.'

[33] Toe begin die Judeërs hewig onder mekaar te mompel, en mense opper heelwat verskillende menings en vrae betreffende My persoon. 

[34] Baie sê: 'Hierdie man is baie vroom, en God het hom alle gawes van die profete geskenk soos eens aan Moses, en slegs Hy is geskik om ons van die juk van die heidene te verlos!'

[35] Ander sê: 'As Hy dit was, dan hoef hy nie bang te gewees het vir die Fariseërs en Skrifgeleerdes nie, en kon hy na die fees gekom het en ons eers duidelik uitgelê het wat hy eintlik wil! Maar soos bekend, is hy meer `n vriend van die Romeine en die Grieke, en daarom kan Hy by ons Judeërs nie baie aanhang vind nie.'

[36] `n Ander weer kom daarby en sê - maar natuurlik nie te hard nie: 'Ag wat, hy is niks anders as `n verloopte Esseen nie, in die besit van alle toorkunste, en hy verlei die volk op `n baie netjiese manier!'

[37] Niemand durf egter te openlik iets teen My te laat hoor nie, uit angs vir al die Judeërs wat vas in My geglo en op My gehoop het. (Johannes 7:13)

[38] Maar te midde van die druk feesgewoel en die bedwelmde en onsinnige volk gaan Ek, deur niemand herken en opgemerk nie, die tempel binne.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205