Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 193

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die gelykenis van die wynverbouers

193 Ek sê: “God het elke mens `n volkome vrye wil gegee en `n verstand en `n gewete wat altyd waarsku en teregwys; sonder hierdie drie sake sou die mens nie meer as `n dier gewees het nie.

[2] Maar ter beproewing van sy vrye wil het die mens ook die traagheid en die eieliefde aangebore in sy vlees, waarin die mens hom op hierdie wêreld die meeste behaaglik voel.

[3] Uit eie krag moet die mens leer om in te sien dat dit `n euwel is vir sy siel en hy moet dit met die middele wat aan hom deur God gegee is, net so lank bestry totdat hy `n volmaakte meester geword het oor al sy liggaamlike hartstogte en neigings. Maar dit vind die wellustige en trae mens te ongemaklik en onbehaaglik; hy laat hom liewer soveel moontlik verstrik in die nette van sy groeiende wellustige drifte en daardeur trek hy duisende met hom saam, omdat dit hulle ook behaag om hulle vlees in alle traagheid en wellus te baai.

[4] Maar wat is die bose gevolg daarvan? In plaas van haar uit die boeie van die materie los te maak, deur te handel netsoos God haar aangeraai het, en uiteindelik selfs die materiële in haar te vergeestelik en waaragtig lewend te raak, begeef die siel haar steeds dieper en dieper in die dood van haar materie.

[5] Wanneer dit by die mense eenmaal te algemeen begin te word, erbarm God Hom oor hulle en stuur hulle altyd op die regte oomblik mense wat hulle wakker skud. Maar as hulle met hulle werk begin, raak die vele trae mense rasend teenoor hulle, gaan hulle te lyf, mishandel en wurg hulle selfs in hulle blinde woede om weer verder te kan slaap in die traagheid, wat hulle vlees so behaag.

[6] Maar omdat God die mense nou juis maar net vir die ewige lewe geskape het en nie vir die ewige dood nie, bly Hy steeds maar allerlei boodskappers stuur om die trae en wellustige mense wakker te skud, sodat hulle sal opstaan om aan die ware werk te begin wat hulle siele sal lewend maak.

[7] Word daar nie na die waarskuwende profete geluister nie, maar word hulle steeds vervolg, dan stuur God spoedig ander en skerper omstandighede om hulle wakker te maak, netsoos slegte oeste, inflasie, oorloë, hongersnood en epidemies en nog baie ander plae.

[8] As die mense hulle bekeer en weer aktief word volgens die goddelike raad, neem God die plae spoedig weer weg; maar wanneer hulle hulle nie daaraan steur nie, het God nog wel groot wekkende middele in voorraad, en dit sien dan daaruit soos die sondvloed van Noag en die verwoesting van Sodom en Gomorra!

[9] As julle dus in julle sonde volhard tot die gegewe maat vol is, dan kan ook julle die laaste groot en verskriklike wekmiddele spoedig verwag. Ek het dit nou vir julle gesê, sodat julle My woorde goed vir julleself sal herinner wanneer dit oor julle sal kom.”

[10] Die tweetal sê: “Wat se boosheid doen ons dan dat daar so-iets oor ons moet kom?”

[11] Ek sê: “Wat julle doen en ook altyd gedoen het sal Ek julle nou dadelik in `n gelykenis duidelik maak, - luister daarom na My!

[12] Daar was `n wyse huisvader wat `n wingerd aangelê het en daar `n stewige omheining omheen gemaak het; bowendien grawe hy `n plek uit waar die druiwe gepars moes word en bou `n stewige toring daarbo waar baie mense in kon woon. Toe dit alles klaar was, gee hy alles aan die wynverbouers oor, nadat hulle hom vantevore trou, opregtheid, vlyt en ywer belowe het en hy hulle `n baie goeie loon belowe het waarmee die wynverbouers baie tevrede was. En omdat die huisvader nog vele ander sake moes doen, kon hy rustig deur die land reis, omdat hy alles uitstekend agtergelaat het.

[13] Toe die tyd van die oes nou aanbreek, stuur die huisvader sy knegte (profete en lerare) na die wingerd om die vrugte daar in ontvangs te neem. Maar toe die wynverbouers, wat die huisvader volledige trou, opregtheid, vlyt en ywer belowe het, die knegte sien, beraadslaag hulle as volg met mekaar: “Wel, ons is baie en dit sal nie moeilik wees om met die paar knegte van ons meester af te reken nie; dan kan ons die oes mooi onder mekaar verdeel!” Daarmee gaan al die bose wynverbouers akkoord en kry die knegte beet, wat deur hulle meester gestuur was om die vrugte in ontvangs te neem. Die een slaan hulle, die ander maak hulle dood en die derde stenig hulle.

[14] Toe dit die huisvader ter ore kom, word hy boos en stuur daar nogmaals knegte heen, maar nou `n groter aantal as die eerste keer. En sien, die wynverbouers oorweldig hulle ook en doen met hulle dieselfde as wat hulle met die eerste gedoen het.

[15] Toe die huisvader ook dit hoor, word hy egter verdrietig en oorweeg by homself of hy met sy wynverbouers `n streng oordeel moes hou, en of hy vanweë sy groot goedheid en geduld nog `n keer sou probeer om sy wynverbouers aan te sit tot die vrywillige oorhandiging van sy vrugte. Hy spreek by homself: “Ek weet wat ek sal doen! Ek gaan my enigste seun daarheen stuur! Vir hom sal hulle ontsag hê en doen ooreenkomstig sy geregverdigde versoek!

[16] Maar toe die wynverbouers die seun sien, praat hulle onder mekaar: “Dit is die erfgenaam! Kom, laat ons hom ook doodmaak, dan kom ons daardeur in die besit van sy erfgoed!” En hulle gryp hom vas, sit hom buite die wingerd en dood hom daar ter plaatse. -[17] En wat dink julle: Wat sal die meester van die wingerd met die bose wynverbouers doen wanneer hy daarna self na hulle toe sal kom, vergesel van groot mag?

[18] Toe sê die tweetal: “Hy sal die booswigte almal wreed om die lewe bring en sy wingerd verseker toevertrou aan ander wynverbouers, wat hom die vrugte op tyd sal oorhandig!”

[19] Ek sê: “Die keer het julle goed en waar geoordeel; maar weet julle ook dat onder die wingerd die gemeente (kerk) verstaan moet word, wat God as die genoemde huisvader deur Moses opgerig het? En dat julle, priesters, die slegte so juis genoemde wynverbouers is, en dat die knegte die vele profete is wat God aan julle gestuur het, en dat Ek nou die Erfgenaam van die Vader is, waaroor julle nou dag in en dag uit beraadslaag, hoe julle Hom kan gryp, Hom uit sy eiendom kan sit en ook kan doodmaak, sodat julle dan ongestoord op Sy troon kan heers en die vrugte van die wingerd onder mekaar kan verdeel?”

[20] Daarop sê die tweetal: “Waar is dan diegene wat Jou, as Jy waaragtig die erfgenaam is, wil doodmaak? Ons het nie hierheen gekom om Jou gevange te neem en dood te maak nie, maar ons het gekom om ernstig te ondersoek of Jy wel ooreenkomstig die volle waarheid die Een is wat aan ons belowe was. Ons moet op die drempel van die ou kerkdeur die wag hou, sodat in hierdie wonderwerk sugtende tyd, waarin die Essene en ook ander towenaars hulle goeie oes insamel, nie ook hier `n valse Messias binnesluip en die blinde en liggelowige volk met sy valse leer en wonderdade betower en verlei nie. En wie derhalwe nie ons vuurproef deurstaan nie, is `n indringer en `n bedrieër, en ons het die reg om hom beet te pak en na buite te gooi.

[21] As jy die ware Messias is, - waarom erger dit Jou dan wanneer ons Jou in die teenwoordigheid van die volk op die proef stel? As ons tot die bevinding kom dat aan jou geen enkele bedrog, van welke soort dan ook, kleef nie, sal ons Jou ook voor die hele volk as die Een voorstel wie Jy Jouself aan ons voorgestel het; maar toe ontdek ons met ons skerpsinnigheid dat dit maar net Jyself is wat beweer dat Jy iets besonders is - byvoorbeeld vanweë Jou geheime towery, - dan is dit ons plig, wat deur God opgelê is om Jou as `n bedrieër en godslasteraar te verstoot en Jou volgens die wet te straf. Maar hoe kan Jy ons, as ons so optree, vergelyk met die slegte wynverbouers en ons daardeur voor die hele volk verdag maak?”

[22] Ek sê: “Omdat Ek alle redes daartoe het en geen vrees het vir julle nie! Maar Ek sal die rede vir julle nog nader toelig: netsoos julle nou is en netsoos julle jul nou gedra, was dit ook reeds lank gelede die geval. Ook diegene wat toe geleef het (julle voorgangers), het hulleself steeds as die volledig regmatige wagters en werkers van God se wingerd beskou; maar, hoe en waar hulle ook gewerk het, het hulle die vrugte vir hulleself gehou en het die wet van God verdraai en selfs verwissel vir `n wêreldse wet tot hulle eie wêreldse voordeel.

[23] Toe stuur God profete na hulle toe, en hulle vervolg hulle te vuur en te swaard deur hulle voor die volk steeds as valse profete te verklaar en elkeen wat die leer van die profete aangeneem het en daarvolgens geleef het, verklaar hulle as wetsoortreders en godslasteraars.

[24] Eers honderd jaar later word die profete, wat deur hulle toenmalige priesters vervolg was, erken as ware profete en word daar gedenktekens vir hulle opgerig, wat julle vandag, tot die dag nog, maar net uit skynbare eerbied, jaarliks witkalk; maar aan die woord van die profete glo julle nou netso min as die toenmalige priesters in daardie tyd daaraan geglo het. En netsoos hulle die ou profete vervolg het, so vervolg julle nou die profete wat na julle gestuur is, verklaar hulle as valse profete, verstoot hulle en maak hulle dood!

[25] En wanneer julle dit doen - wat julle nie kan ontken nie, - het Ek dit dan nie by die reg wanneer Ek julle gelykstel aan die slegte wynverbouers nie, wat die meester van die wingerd wel wreed om die lewe sal bring volgens julle eie oordeel nie?! Wagters is julle wel, maar dan van die soort wat wag hou voor `n rowershool!

[26] Wat kan die welgevalle van God, aan wie julle nog nooit geglo het nie, julle skeel? Slegs julle eer voor die wêreld is vir julle belangrik, omdat dit julle baie goud, silwer en edelstene oplewer, en ook nog die eerste en die beste van alles die land se opbrengs. Want as julle aan God sou geglo het, sou julle julleself ook aan Sy wette gehou het, waarin staan: “Jy sal nie begeer wat van jou naaste is nie!” en: “Jy sal nie doodslaan nie!” Maar julle begeer en neem dadelik alles wat van julle naaste is en wat hy vir homself in die sweet van sy aangesig verwerf het. En wie nie vir julle wil gee wat julle verlang nie, vervolg julle nog erger as hongerige wolwe `n lam; en diegene wat julle, omdat hy daartoe deur God opgewek is, waarsku dat julle verkeerd optree, word deur julle gegryp en gedood.

[27] Dat julle so optree en nie anders nie, weet nie net Ek nie, maar elke mens weet dit nou al en mense ween en kla oor julle niks ontsiende hardheid. Op die skouers van die arme mense lê julle ondraaglike laste, maar self raak julle dit met geen vinger aan nie!

[28] Sê hier aan die volk of Moses of `n ander profeet julle ooit `n wet gegee het op grond waarvan julle jul so brutaal en gewetenloos mag gedra ! Waar staan geskryf dat julle jul die besittings van weduwees en wese mag toeëien in ruil vir lang gebede, wat julle hulle beloof? En wanneer het Moses beveel om waaragtige profete as vals te verklaar, hulle te vervolg en te dood?!

[29] En wanneer julle al hierdie dinge doen - wat julle nooit kan ontken nie, - is dit tog vir elkeen oorduidelik dat julle die slegte wynverbouers is waaroor Ek gespreek het!”

[30] Nou word die twee fariseërs en ook die ander woedend, omdat Ek hulle dit voor oë hou, en die volk sê: “Ja, ja, U spreek die volle waarheid! So is dit en absoluut nie anders nie!”

[31] Toe die volk dit luid uitspreek, sê die tweetal dreigend: “Sê ons, wie is Jy wel, dat Jy dit waag om ons dit in die teenwoordigheid van die volk reg in die gesig te sê! Ken Jy nie ons regte en ons mag nie? Hoe lank wil Jy nog ons geduld op die proef stel?”

[32] Ek sê: “Ek Is Hy wat nou met julle spreek; Ek het werklik nie die minste vrees vir julle mag nie, omdat julle ingebeelde reg voor God en alle eerlike mense die hoogste onreg is. Maar wat die geduld betref, kon julle eerder vra hoe lank Ek nog die geduld sal kan opbring, wat julle dink Ek het, want aan My is alle gesag en mag gegee in die hemel en op aarde. My wil kan julle in die verderf en in die vuur van My toorn stort; maar julle kan My niks aandoen nie, omdat Ek julle baie vroeër in die verderf kan stort as wat julle in staat is om My ook maar met één vinger kwaad te doen. Ja, wanneer Ek vanweë julle te groot boosheid, sal toelaat dat julle jul snode hand aan My slaan, dan het ook die dag van julle oordeel en ondergang gekom!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205