Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 89

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Twee rusdae te Kana

89 Na die beëindiging van die ontbyt sê Ek aan al die aanwesiges: ”Wie tuis iets te reël en te doen het, kan nou vir `n paar dae gaan; maar op die derde dag moet julle weer hier wees. Want Ek bly nou hier vir `n paar dae in Kana en sal Myself `n bietjie rus gun. Diegene wat te ver weg woon, kan hier bly, net soos diegene wat nie van My af weg wil gaan nie! Maar Ek sal gedurende hierdie twee dae niks onderrig of doen nie, maar - soos gesê - Ek sal slegs uitrus en vir julle almal tot die Vader bid”.

[2] Nou kom ook Maria en My vyf broers na My toe en vra My of hulle ook vir `n paar dae na Násaret mag gaan om daar die huishoudelike sake in orde te bring.

[3] Ek sê: “Ja, gaan en doen dit; want My leerlinge moet ook hulle wêreldse huishoudings in orde hê! Reël egter die huislike sake vas vir die komende paar jaar en verhuur die huis kosteloos aan `n arm persoon! Want julle as My broers en leerlinge mag in die toekoms van niemand rente of loon vra nie, maar slegs dit aanneem wat mense julle vrywillig sal gee!” Die broers en ook Maria beloof dit en vertrek na Násaret.

[4] Van die leerlinge wat My vanaf Betábara, waar Johannes doop, gevolg het, gaan slegs Thomas huistoe met die voorneme om daar nog meer volgelinge vir My te werf, wat hy dan ook doen. Maar onder hulle was ook `n sekere Judeër wat nie `n oorspronklike Galileër was nie, genaamd Iskariot, wat My later verraai het. Hy was tot op `n bepaalde oomblik die ywerigste van al My volgelinge. Hy tree op as rekenmeester, betaal oral alles en gedra homself `n bietjie soos kwartiermeester en leier op die plekke, waar Ek later heen getrek het. Maar hy weet hoe om in die geheim ook goeie munt te slaan uit My dade en leringe, en hierdie geldhonger maak hom uiteindelik tot die persoon wat hy geword het, naamlik `n verraaier van My! Petrus en die ander leerlinge wat My ook reeds vanaf Betábara gevolg het, bly egter.

[5] Petrus sê, toe Ek hom vra of hy nie ook vir `n paar dae huistoe wil gaan nie: ”Heer, slegs die dood of `n bevel uit U mond kan my van U skei! Ek het Thomas `n opdrag saamgegee vir my seun Markus dat hy hierheen moet kom, want omdat hy byna net so goed skryf as Matthéüs, kan hy goed gebruik word! Dit is dan ook al wat ek nou in my huishouding te reël het; vir alles anders sorg U immers, JaHWeH en my God!” Ek sê: “Nie so luid nie, My Simon Petrus; want Ons is hier nie in Sigar nie! Hier is sommiges, wat nog nie so ver is as jy nie, wat hulleself kan vererg. Daarom is dit voldoende as jy My van nou af aan “Heer” noem; die ander moet jy voorlopig in jou hart, wat aan My welbekend is, bewaar!”

[6] Petrus is dit hiermee eens en vra My of ons gedurende die twee dae in Kana heeltemal niks sal doen nie. Maar Ek sê: “Sekerlik nie; maar so inspannend soos in Sigar sal dit nie word nie! Ons is hier, in aardse terme gespreek, in ons eie vaderland en jy weet hoe baie `n profeet in sy eie land gewaardeer word! Daarom sal ons hier ook op ons eie gebied nie baie doen en leer nie; want waar die geloof ontbreek, daar is vir ons weinig werk. ons sal ons daarom hier, soos mens wel sê, `n paar dae lank laat bederf en ons `n bietjie meer voorberei op die komende tyd.”

[7] Na hierdie woorde kom Matthéüs en vra My of hy gedurende die twee dae hier dalk die een en ander moet opteken van wat hy in Sigar gesien en gehoor het.

[8] Ek sê egter: ”As jy iets wil doen, skryf dan die bergrede nog `n paar keer oor; daarvan moet dan hier in Kana by ons gasheer `n eksemplaar laat bly, en ons wil een agterlaat in Kapernaum; want ook daar sal ons verder nie baie gedoen kry nie!”

[9] Toe kom die gasheer en vra My wat Ek die middag wil eet. En Ek sê aan hom: ”Vriend, waarom so `n onnodige vraag? Voor die ontbyt het jy my immers ook niks gevra nie en dit het vir My goed gesmaak! So sal die middagmaal vir My ook smaak! Ek sê jou, elke spys wat gekruid is met die edele en liefdevolle hart van die gewer, smaak die beste, beter as die kosbaarste voedsel wat op tafels van selfsugtige swelgers skitter en met hulle ambergeur die sale vul.” Ons jonge gasheer was heel gelukkig met die antwoord en stel daarop met `n blye hart alles aan die werk om ons middagmaal so goed as moontlik te versorg.

[10] En so gaan hierdie twee dae verby met die hou van enkele goeie besprekings en veelvuldige besoeke van die kant van die inwoners uit hierdie kleine stad.

[11] Ook word etlike siekes slegs deur handoplegging genees en Ek wys aan `n goeie dokter daar, wat die geneeskrag deur die handoplegging nie kon begryp nie, `n groot aantal geneeskundige kruie en ander dinge waarmee hy voortaan die beste kure kon saamstel en waardeur hy `n eervolle naam verkry.

[12] Op die derde dag kom almal wat gedurende die twee dae huistoe gegaan het, behalwe moeder Maria en die vier oudste broers, weer terug en bring van al die kante nuwe leerlinge saam. Veral Thomas het `n besonder ryke visvangs gehad en het ook `n hoeveelheid gebraaide visse saamgebring; want hy weet dat Ek sulke visse graag eet.

[13] En ook die jonge Markus het baie groete gebring van sy vader Simon en daarby baie goeie gebraaide visse; en Iskariot het baie geld en baie lewe in die geselskap ingebring, want hy was baie lewendig en beweeglik en reël alles. Hy het baie welgevalle in My gevind en weet baie te vertel oor verskillende voorvalle wat hier en daar in die groot Romeinse ryk voorgekom het.

[14] Toe ons so bymekaar was, wil Ek gereed maak vir die verdere reis. Maar die gasheer versoek My om nog tot die aand te bly, omdat dit buite baie warm was. Ek bly toe tot die aand. Toe die son egter byna ondergaan, waarsku Ek die geselskap om hulleself reisvaardig te hou, omdat Ek van plan was om teen sonsondergang verder te gaan.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205