Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 137

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Die grondreëls van die hernude instituut van die Essene

137 DIE MEESTER: "Jy sien dus dat aan die ander kant alles sigbaar word en ook moet word, omdat die tallose verskillende verenigings van geeste andersins onmoontlik sou kon bestaan. En nou is dit dus die vraag wat se aangesig iemand aan die ander kant sal stel, wat hier by die mense hoog in aansien gestaan het vanweë sy wonderbaarlike dade, en by wie aan die ander kant maar al te duidelik sigbaar word dat al sy wonderdade basies net gewone bedrog was; en al was die bedrog selfs hoe goed bedoel, hy was wel betaal en dit was as egte waarheid aan die blinde koper verkoop, en dit dikwels vir baie, baie geld!

[2] En kyk, presies so en nie anders was julle opwekkingsmetode wat julle tot nou toe gehanteer het, by name die van kinders! En wat julle maandeliks in die openbaar laat plaasvind het - dooies se opwekking in die bekende onderaardse, katakombe-agtige gewelwe is wel so `n opeenhoping van bedrog, dat dit eintlik te veel is om nog daaroor te praat; julle het selfs mense daarvoor in diens, wat één keer per maand in die daarvoor bestemde doodkiste moet gaan lê en maak asof hulle dood is, en op `n bekende bevelswoord van julle in die teenwoordigheid van die meer blindgelowige toeskouers uit die kiste moet opstaan en hulle dan ook dadelik op so `n manier moet versprei, dat niemand van die dikwels talryke toeskouers en bewonderaars hul kan vra hoe hulle voel nie, hoe hulle uiteindelik heet en waar hulle woon nie.

[3] Dit slinkse bedrog is te laag om verder nog één woord daaraan te bestee; maar omdat baie daardeur gebring word om aan julle `n gestorwe, dierbare kind toe te vertrou wat opnuut lewend gemaak moet word, kom dit tog aan die lig, en is dit baie geskik om julle ook aan die ander kant nog baie las te besorg.

[4] Maar soos wat gesê is, wat daar tot nou toe by julle gebeur het, wil en sal Ek op My skouers neem en alles goedmaak vir julle; maar in die toekoms mag daar in julle instituut tot geen enkele prys meer iets gevind word wat ook maar enigsins met bedrog te make het nie, as julle wil dat Ek daar, asof Ek persoonlik aanwesig is, voortdurend werkend in die gees aanwesig sal bly tot aan die einde van die tye van hierdie aarde.

[5] Daar moet volmaakte liefde en waarheid heers en nie die minste bedrog mag ooit daar voorkom nie, dan sal die instituut vir alle tye bly bestaan; en afgunstige en sleggesinde mense wat julle nou en dan vervolg, sal julle tog geen kwaad kan aandoen nie!

[6] Dit sal weliswaar in hierdie land ook nie lank meer bly bestaan nie, so ook nie My leer nie, want hierdie land sal vertrap word deur vyandige heidene; maar in Europa sal daar nogeens `n hoofvestiging kom van al hulle wat in My Naam sal glo en hoop, en dan sal julle ook in verskillende newe-institute verblyf vind, onder sommige maghebbers geliefd en baie gewaardeer, by ander slegs geduld; slegs enkele blindes sal julle uit hulle ryk stuur; maar hulle wat dit sal doen, sal sekerlik te kampe kry met probleme en nie maklik daarvan bevry word nie. Maar ook die state wat julle maar net sal duld, sal geen hoë welvaart hê nie.

[7] As `n seënryke gawe beloof Ek julle nou dat julle altyd waaragtige boumeesters sal bly, en waar mens julle eervol en met liefde sal opneem, sal die ryk `n goeie en houbare grondslag kry. Geen artse sal Ek in die toekoms van julle maak nie, maar bouers, wat orals met die stewigste edelstene die muur van `n nuwe, hemelse Jerusalem sal opbou en ook baie van die pragtigste wonings van hierdie stad, waar nou wel `n begin mee gemaak is, maar waaraan na hierdie eerste muur ewig verder gebou sal word.

[8] En omdat julle nou My messelaars en vrye bouers is en Ek My stad met die deeglikste edelstene gebou wil hê, sal julle en jy, My vriend Roclus, nou wel sonder moeite insien, dat Ek geen gewone kalk-, sand- en bakstene kan gebruik nie; daaronder verstaan Ek dus allerlei op leuen en bedrog berustende werke, wat nie ewig kan bly bestaan nie. Slegs die suiwer waarheid, waaraan geen enkele smet kleef nie, is die diamant wat voortdurend en onwankelbaar kan standhou gedurende die hele ewigheid.

[9] Julle sal wel dikwels in die verleiding kom om julle anders voor te doen as wat julle ooreenkomstig die waarheid van julle gevoelens sal moet doen; laat julle veral nie daartoe verlei nie en lei nooit iemand om die bos nie, maar laat die volle waarheid spreek in alles wat julle sê en wat julle doen, dan sal julle ook steeds kan reken op My Barmhartigheid, Mag en Wysheid.

[10] Beloof nooit iets aan iemand wat jy later nie kan of om bepaalde redes nie wil nakom nie; want waarlik sê Ek vir julle: Niks is so bitter en lastig vir `n mens as `n gedane belofte wat later, sonder dat iets gesê word, nie nagekom word nie! Want as aan hom niks beloof was nie, het hy nie daarop gereken nie en sou hy iets anders onderneem het as dit waarmee jy hom hulp sou verskaf het, of wat andersins nuttig vir hom sou gewees het. Maar omdat hy vas vertrou het op die belofte wat jy aan hom gemaak het, maar waarby jy jou nie aan gehou het nie, het hy nou in `n wanhopige situasie tereggekom en sit hy nou treurig en teleurgesteld tussen twee stoele op die grond en verwens meestal vir jou wat hom deur jou beloftes in die grootste ongeluk gestort het.

[11] Wat julle dus aan iemand beloof het, daarby moet julle julleself hou, selfs al kos dit jou aardse lewe, omdat Ek andersins geen blywende lid van julle instituut kan wees nie! Bedink egter goed wie HY IS, wat julle die gebod gee! HY IS `n ewige Heer oor alles wat lewe en dood genoem word; en al sou Ek niks op hierdie wêreld vergeld nie, dan tog in elke geval wel dat iemand `n ander iets beloof het, maar hom dan om `n bepaalde, meestal selfsugtige rede, nie daarby gehou het nie!

[12] As iemand jou `n diens bewys het en jy gee hom nie die loon wat jy belowe het nie, begaan jy `n nog groter sonde as wanneer jy iemand sou besteel het! As hy sy werk maar half en sleg verrig het, kan jy hom wel daarop wys en sê dat hy die volgende keer nie meer so `n loon kan verwag as hy die werk, wat hy aangeneem het, nie met die nodige inset wil verrig nie; maar ook al het hy sy werk hoe laks gedoen, jy moet jou by jou woord hou, sodat hy kan sien dat die Gees van die volle Waarheid in jou leef en werk!

[13] Om hierdie rede help Ek ook vir julle om julle honderd-en-sewe dooie kinders in volle waarheid tot lewe te wek, sodat julle nie soos leuenaars en onbetroubare mense voor hulle te staan sal kom nie, aan wie julle met die hand op julle harte beloof het dat julle hulle gestorwe lieflinge sal kan opwek; maar julle moet in die vervolg in alle erns ag slaan daarop! Want alles wat julle sou doen of onderneem, wat in stryd is met hierdie raad van My, wat maklik gevolg kan word, sal baie onvermydelike slegte gevolge vir julle hê.

[14] Lyk dit vir iemand dalk te moeilik, omdat julle baie bedenklik begin rondkyk? Sê dit vir My dan hard en duidelik as julle dit nie met My eens is nie! Nou is ons nog persoonlik bymekaar en kan ons nog die een en ander verduidelik, wat in die vervolg natuurlik ietwat moeiliker sal wees, omdat ons mekaar dan waarskynlik nie so gou weer persoonlik sal ontmoet nie! Sê dit nou, Ek luister na julle?'


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205